Jesaja in Handelinge

Vandag is daar net ’n paar gedeeltes om te lees.  Probeer dus elkeen in sy konteks lees.

Hier is die gedeeltes – weereens kronologies soos die in die boek Jesaja voorkom:

Jesaja Handelinge Kort beskrywing
6:9-10 28:26, 27 Paulus is in Rome en maak – soos Jesus – die profesie van Jesaja, dat die Jode nie sal luister nie, op die ongelowige Jode van toepassing
49:6 13:47 Paulus en Barnabas neem die beskrywing van die roeping van die dienaar van die Here as ’n opdrag aan hulleself om die evangelie na die heidense nasies te neem.  Let op hoe bly die heidene daaroor is, en hoe suur die Jode reageer.  Dit funksioneer dus as ‘n soort roepingsteks vir hulle.
53:7-8 8:32, 33 Die Etiopiese amptenaar lees die gedeelte oor die Lydende dienaar van die Here en vra vir Filippus om dit vir hom uit te lê.  Filippus bedien dan die evangelie van Jesus Christus aan die hand van dié gedeelte.
55:3 13:34 Paulus en Barnabas gebruik Jesaja se beklemtoning van God se betroubaarheid – Hy kom sy beloftes na – en pas dit toe op die opstanding van Jesus – God het Jesus opgewek.
66:1-2 7:49, 50 Stefanus spaar nie sy Joodse aanklaers nie, en wys hulle op hulle eie heilige boek, Jesaja, wat sê dat God nie in ’n tempel wat met hande gebou is, kan bly nie. Hulle hardkoppigheid ken egter geen perke nie, en hulle wil nie na die lewende Here luister nie, soos Hy nou in Jesus geopenbaar is nie, eerder hulle tradisies in stand hou.

’n Paar opmerkings:

  1. Lukas haal interessant genoeg in beide sy evangelie en die Handelinge meer uit die tweede deel van Jesaja aan as uit die eerste deel.  Ek wil nie veel daarin lees nie, maar die temas van die Lydende Dienaar van die Here, en die opdrag om ’n lig vir die nasies te wees, pas natuurlik baie goed in by die 2 reisverhale wat hy skryf – in die evangelie van Lukas, die reis van die platteland na Jerusalem waar die Lydende Dienaar van die Here, Jesus, die hoogste prys betaal, en in die Handelinge, die reis van Jerusalem na die wêreld (Rome) waar gelowiges ’n lig vir die nasies is tot vandag toe nog.
  2. Die onbegrip van ongelowiges, en nog dieper van dié wat dink hulle glo, is ’n baie groot werklikheid.  Jesus moes daarmee rekening hou, en het ook doelbewus gelykenisse gebruik, om nie sy pêrels vir die swyne te gooi nie.  Paulus moes gedurig daarmee rekening hou, en in ’n sekere sin sorg dit dat hy by sy eintlike roeping uitkom, om die evangelie aan die heidense nasies te verkondig.  God is aan die werk, selfs in die onbegrip van mense, om sy plan uit te werk.  En eerder as om daarteen te stry of mense te verkwalik, moet ’n mens God se hand daarin probeer raaksien en daarop reageer.
View all posts in this series

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: