Jesaja 65 – Terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor

Jesaja gee met hierdie laaste twee hoofstukke, hoofstuk 65 tot 66, die Here se boodskap aan die volk weer, waarmee Hy ook die gebed van Jesaja, wat hy namens die volk gebid het, antwoord.

En die antwoord in hoofstuk 65 is twee-ledig.

  1. Daar sal steeds oordeel wees vir dié wat aanhou om te sondig, maar vir dié wat na Sy wil vra, sal ‘n heerlike toekoms aanbreek – 65:1-16.
  2. Die heerlike toekoms word in eskatologiese trekke geskets as die skep van ‘n nuwe hemel en aarde – 65:17-25.

Oordeel en ‘n heerlike toekoms

65:1-5: Let op hoe God se antwoord beurtelings fokus op die oordeel wat Hy gaan voltrek op dié wat aanhou sondig, sowel as die genade wat Hy gaan bewys aan dié wat na Hom luister.  Om die waarheid te sê, regdeur is luister nogal ‘n sleutel element om God se optrede te verstaan.  Dié wat aanhou sondig, luister doelbewus nie na God nie.  God steek sy hande na hulle toe uit, maar hulle beledig Hom deur liewer soos heidene aan afgode te offer en tussen die grafte na die dooies te luister.  Daarbenewens kom hulle sy voorskrifte nie na nie (varkvleis) en weier dat God naby hulle kom.  Dit is waarom God se toorn oor hulle ontvlam.

65:6-10: God gaan hulle dus straf, en gee wat hulle verdien, terwyl Hy Hom sal ontferm oor die druiwetrosse wat nog sap het – ‘n metafoor vir die oorblyfsel uit Juda – en hulle sal uitkies om die land weer in besit te neem.  By die Saronvlakte na die weste toe sal weer met kleinvee geboer word en by die Akorlaagte na die ooste toe (Dooie See) sal weer lêplek wees vir beeste.

65:11-16: Maar dié wat afvallig geword het van die Here, Hom vergeet het, en offers bring vir Gad en Meni (blykbaar Kanaänitiese geluksgode ), dat dié hulle lot kan bepaal, sal met die dood gestraf word.  Weereens is hulle nie-luister na God, en die uitleen van hulle ore vir ander geluksgode, die motivering vir God se oordeel oor hulle.  Daarom sal God dit met hulle laat sleg gaan (honger ly, dors ly, teleurgestel word, skreeu van pyn, huil van hartseer), terwyl Hy vir sy dienaars sal sorg en ‘n nuwe toekoms sal verseker.

Let op hoe God se verhoring van gebede gekoppel word aan die verhouding waarin Hy met iemand staan: “Elkeen in die land wat om voorspoed bid, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is” (65:16).

Heerlike toekoms

65:17-25: God skep ‘n nuwe hemel en aarde om opnuut bly te kan wees oor sy mense en saam met hulle te leef sonder dat daar rampe of ‘n einde weens ouderdom sal wees.  Let op hoe hierdie nuwe toekoms verandering op alle vlakke belowe:

  • LEWENSVREUGDE: vreugde onder alle inwoners, geen smart of nood, geen kindersterftes, ‘n lang lewe vir almal (100-jariges is jonk!),
  • ARBEIDSVREUGDE: eie druiwe eet, self die vrug van handewerk geniet, nie tevergeefs vermoei nie;
  • VEILIGHEID: veilige huise, veiligheid van rampe, veiligheid as volk, veiligheid tussen diere in die natuur, niks verkeerds word gedoen nie, niks word vernietig nie;

Vreugde en veiligheid – dít is die substansie van die nuwe hemel en nuwe aarde! Hoe wens ek dat dit kan aanbreek, dat ek en my mense vreugde en veiligheid kan ervaar, en dat dit ‘n wêreldfenomeen sou wees.  O hoe wens ek dit nie ook vir Japan wat in dié tyd swaarkry en uiterse smart en onveiligheid ervaar na die skrikwekkende aardbewing, tsunami en al die vernietigende naskokke en ander nagevolge  van die gebeure daar (kern reaktors, elektrisiteitsvoorsiening, water).

Gebedsverhoring

Die wyse waarop die Here hier Jesaja se gebed beantwoord, het natuurlik ook betekenis vir ons eie ervaring van gebedsverhoring.  Wat my tref is die volgende:

  • God wil goed doen, selfs aan dié mense wat Hom nie soek nie. Hy sal uit sy pad gaan om hulle te bereik.  Ons kan ook daarvoor bid.  Selfs in God se oordeel kan daar uitkoms wees, vir dié wat hulle op Hom beroep.  Rut is hiervan ‘n voorbeeld.  Vergelyk my bydrae daaroor: Jesaja 15-17 – Dit kerm in my binneste.  God is nie ’n ontoeganklike afsydige wese nie.
  • God oordeel diegene wat Hom ken, maar Hom nie langer wil erken en na Hom luister nie. Vir ‘n Jeremia het die Here nie verniet eenmaal net voor die ballingskap van die 6de eeu vC gesê nie, selfs al sal die groot intersessors, Moses en Samuel, vra dat Ek my oordeel afwend, sal Ek dit nie doen nie (Jer 15:1).  Daar kom ‘n tyd wat ‘n positiewe antwoord op gebed nie meer gegee kan of sal word nie.  God is nie ‘n onaktiewe wese nie.  Hy tree op waar sy eer in gedrang kom.
  • God doen goed aan mense wat na Hom luister en Hom dien.  Hy antwoord hul gebede.  Daarvan getuig Jesaja hier, en vele ander gedeeltes in die Bybel (vgl bv net Elia in 1 Konings 18-19 en die gevolgtrekking van Jakobus daarop in Jak 5:16-18).  Dit is ook die ervaring van gelowiges regdeur die eeue.  Dit beteken nie dat ‘n mens alles kry presies soos jy dit vra nie, al gebeur dit meer as wat die meeste ongelowiges wil erken. Dit beteken ook nie dat jy alle leed en pyn en lyding gespaar word nie.  Dit sou ‘n tipiese voorspoedsteologie jou belowe, wat egter nie deur Christene se ervarings deur die eeue bevestig word nie.  Lees maar net Hebreërs 11 daaroor.  God is nie ‘n outomatiese slotmasjien wat jou gee net wat jy vra nie.  Hy is soos ‘n pa of ‘n ma wat binne ‘n verhouding vir ons gee wat ons nodig het binne die groter plan wat Hy met die wêreld het.  Die kuns is om nie net vir Hom so goed as moontlik te leer ken en dien nie, maar ook jou behoeftes en begeertes met oorleg na Hom te bring (Fil 4:6-7).  Dan gee Hy vrede in jou hart en jou gedagtes, maak nie saak wat die uitkoms van die gebed is nie.

Jy kan meer oor die onderwerp van gebed lees in my opsomming van die Andrew Murray pryswenner boek (2009) van Vincent Brümmer: What are we doing when we pray? Ek het ook na aanleiding van sy boek ’n kort artikel geskryf oor gebed: Gebed is noodsaaklik,maar nie genoegsaam nie ….

En jy kan ook kyk na my ander bydraes oor Jesaja wat onder andere oor gebed handel: ·  Jesaja 30-31 – Julle krag lê in stil vertroue en gebed ·  Jesaja 36 – Stilwees en vertroue teen ‘n oormag ·  Jesaja 37 – Gebed en vertroue beweeg God tot optrede ·  Jesaja 38 – God sien ons trane raak EN doen iets daaraan.

Nuwe Testament

Die Nuwe Testament sluit by 5 van Jesaja se gedagtes uit hierdie hoofstuk aan:

  • Paulus wy in Romeine 10:20 op voetspoor van Jesaja se gedagtes in Jes 65:1 uit oor God se genade wat nie net aan Israel (Jesaja se punt) bekend gemaak is nie, maar ook aan die nasies (Paulus se uitbreiding daarvan), selfs al het hulle nie daarvoor gesoek nie.  Dit is ‘n wonderlike tekening van God se karakter – Hy sorg dat mense van Hom kennis neem.
  • Paulus erken daarteenoor in Romeine 10:21 dat Israel ongelukkig hulle eie kop gevolg het, en die verdiende loon daarvoor gekry het.  Dit doen hy op voetspoor van Jes 65:2.
  • Paulus praat ook op soortgelyke wyse as Jesaja oor sy werk wat nie tevergeefs sal wees nie, hoewel hy dit meer persoonlik interpreteer terwyl Jesaja die volk se werk in gedagte het – kyk na Fil 2:16 en vergelyk dit met Jes 65:23.
  • Petrus en Johannes sluit onderskeidelik in 2 Pet 3:13 en Open 21:1 aan by die gedagte van ‘n nuwe hemel en aarde waarvan Jes 65:17 vertel.
  • Johannes praat in Open 21:4 op soortgelyke wyse as Jesaja in Jes 65:19 daaroor dat smart en benoudheid sal verdwyn in die nuwe Jerusalem.
View all posts in this series

gebed, Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: