Jesaja 24-27 – Van tragedie na triomf
Dit word geskryf in taal wat herinner aan die ander apokaliptiese gedeeltes in die Bybel (Daniël, profetiese redes in die evangelies en Openbaring). Apokalips beteken “om die sluier te lig” en kan daarom ook met die woord openbaring vertaal word.
Dit sluit die wonderlike heilsboodskap in dat God aan die einde ’n feesmaal vir die volke sal voorberei, hoewel dit steeds sommige se vernietiging sal insluit, soos bv. Moab (25), maar deurgaans ’n totale lotsverandering vir sy volk inhou (26-27).
Hoofstuk 24
24:1-13: Die hele aarde is in die profeet se oog. Die voorkoms verander – verwoes, geplunder, verdroog, vergaan, en dit sluit die hemel in: 1) omdat die aarde verontreinig is deur sy inwoners deur ongehoorsaam te wees aan God se voorskrifte en die verbond met Hom verbreek is en 2) omdat die inwoners die magte in die hemel aanbid het en nie vir God nie (:21). In ontstellende taal word vertel dat ’n vloek die aarde sal verteer en die inwoners vir hulle sonde sal laat boet – min mense sal oorbly.
Dit gee ’n mens ’n perspektief op hoe God werk met ongehoorsame mense. Waar Hy nie gedien word nie, verontreinig dit figuurlik gesproke die land, sodat die land net gereinig kan word deur die inwoners op een of ander manier te straf of weg te dryf. Dit het reeds só met die Kanaäniete gebeur (Lev 18:25) en word nou hier in die vooruitsig gestel vir al die volke van die aarde, weens die grootskaalse minagting van God en sy gebod (24:5).
Wingerde verdroog, wyn word skaars, vrolikheid verander in versugtinge, selfs musiek word stil (vgl Open 18:22 waar dit ook van die mense in Babilon-[Rome] gesê word – laat my dink aan die liedjie van Don Mclean The day the music died waar hy die dood van drie musikante, Buddy Holly, Ritchie Valens, en The Big Bopper in 1959 verwoord). Daar is geen vreugde meer nie en die inwoners is verstrooi. En alle sosiale en ekonomiese lae van die samelewing word geraak.
Die oordeel sluit in dat die stad (:12) afgebreek en onbewoonbaar word met afgebreekte stadspoorte. Hierdie stad kan óf met ’n wêreldstad verbind word (soos Babilon vir Rome staan in Openbaring) óf met ’n stad in Moab (kyk 25:12). Indien dit eersgenoemde is, kan dié gedeelte (24-27) eintlik die “verhaal van twee stede” genoem word, waar die wêreldstad (24) met Jerusalem (26) gekontrasteer word. Indien dit die laasgenoemde interpretasie sou wees, die hoofstad van Moab, staan hulle egter eintlik steeds as ’n simbool van die ander stede van die wêreld se opstand teenoor God. Beide interpretasies maak dus sin.
24:14-16a: Die oorblyfsel van die mense regoor die aarde – let op hoe van die weste, die ooste en die eilande gepraat word – sal na die oordeel voltrek is, bly wees en God se mag en regverdigheid besing.
24:16b-23: Die profeet word egter nie deur die blydskap van sy eie boodskap meegevoer nie, omdat dit hom so seermaak om dit te moet verkondig, Hy ervaar dat hy wegkwyn daardeur. Maar hy besef dat troueloosheid onafwendbaar deur God gestraf moet word. Daar is geen wegkomkans nie.
Let op hoe hy weereens kosmies praat oor die tragedie wat mense gaan tref, amper soos dit was in Noag se tyd. Wolkbreuke en aardbewings lei die verwoesting in wat so groot is dat die aarde in stukke breek en heen en weer waggel en wankel, slinger en heen en weer wieg. Klink amper asof dit verwys na ’n soort wentelbaan van die aarde, hoewel dit natuurlik metaforiese taal is.
Terloops, die Grieke – onder ander Pythagoras uit die 5de eeu v C, en Plato en Aristoteles na hom – hoewel ’n bietjie later as Jesaja se geskrifte, het al van vroeg af van die aarde as ’n bolvormige sfeer gepraat. Eratosthenes het die omtrek in die 3de eeu uitgewerk en was net 5% uit met wat ons vandag weet! Nie almal het dus gedink die aarde is plat nie – gebruik dus die pre-moderne kategorie met omsigtigheid!
Ook die magte in die hemel word gestraf. Dit verwys heel moontlik na die hemelliggame wat deur die omringende volke aanbid is, en deur Deut 4:19 verbied is. Daniël praat waarskynlik ook van hierdie magte in die gedaante van “astrale” engele wat ‘n invloed uitoefen op die aarde deur mense se aanbidding van hulle (vgl ook Ef 6:12).
Die konings op die aarde word ook gestraf en deur die regering van God self vervang. Geen wonder nie dat een van Jesus se hoofboodskappe was dat God se koninkryk in Hom ‘n aanvang geneem het! God verenig alle mense onder Sy heerskappy met die Een wat Hy daarvoor uitgekies en aangestel het, Immanuel, God-met-ons.
Hoofstuk 25
Hoofstuk 25 fokus op twee gevolge van die verwoesting van hoofstuk 24: 1) oorlog hou op – 25:1-5 – en 2) die Here word deur almal geëer by ‘n feesmaal wat Hy voorberei – 25:6-12.
25:1-5: Let op dat dit in praise-and-worship taal geskryf is. God se beplanning (Wonderbare Raadsman – 9:5) en beskerming (Ewige Vader – 9:5) word geloof wat tot die staking van oorlog lei. Jesaja se beelde is regtig verbluffend. Of dit nou hy was of sy volgelinge of wie ook al, ‘n meester digter-skrywer is aan die woord.
25:6-12: Die lof gaan oor in ‘n feesmaal waarna alle volkere uitgenooi is, behalwe Moab.
Let op hoe die doek van onbegrip verwyder word. Die meeste kommentare interpreteer dit eerder as ‘n doek van hartseer oor die wêreldwye oordeel, na aanleiding van Dawid wat sy kop met ‘n doek toegemaak het in sy smart – 2 Sam 15:30 – en wat nou weggeneem word en die konteks wat praat van trane wat verwyder word.
Daar is egter vir my baie raakpunte in hierdie doek met die sluier waarna Paulus verwys wat die Jode verhinder om die waarheid in die Skrifte raak te sien. Dié sluier word verwyder, sê Paulus, wanneer die glans van Christus van sy mense af weerkaats word na die wêreld en hulle in ons lewenswandel Christus duidelik kan sien – 2 Kor 3 (jy kan meer daaroor lees in my bydrae: 2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld). Daarom kies ek vir die interpretasie van doek van onbegrip, wat ook inpas met die versluierde boodskap wat Jesaja se roeping inhou – Jes 6. ‘n Mens vind ‘n soortgelyke interpretasie in Jes 29:10-11 wat my vermoede hier versterk.
Die dood word ook vernietig (vgl 1 Kor 15, Open 20-21 bv.) en God se volk in ere herstel wat tot ‘n erkenning van God se getrouheid sal dien.
Die enigste wars noot is die oordeel oor Moab waarmee steeds volhard word. Aan die een kant blyk dit dat die sonde van Num 22-24, waar Moab Israel se Intog in die Beloofde Land probeer stuit het, steeds teen hulle tel. Aan die ander kant is hulle eintlik ‘n simbool van alle nasies wat hulle in hoogmoed teen God verset.
Let weereens op na die treffende – hoewel natuurlik ook uiters tragiese – beelde waarmee dit beskryf word. Dit gebeur weens hulle trots (of hoogmoed – soos van Moab in Jes 16:6 gesê word, en reeds ook aangeroer is as die een ding wat alle volke tot ‘n val sal bring en hulle die heil van God sal laat ontbeer – Jes 2:6-22. Vergelyk ook Jer 48:26 wat dieselfde motief onderstreep: “Moab het hom groot gehou teen die Here”). Hoogmoed bly die een ding wat God nooit mee vrede sal maak nie.
Hoofstuk 26 en 27
Hoofstuk 26-27 besing in drie dele die verlossing wat God se volk beleef: 1) gefokus op die oorwinning wat vir hulle behaal is deur God – 26:1-15 – 2) gefokus op die opstanding uit die dood wat moontlik word deur God se krag – 26:16-21 – en 3) die moeisame vestiging van die volk as die wingerd van die Here wie se vrugte vir die aarde bedoel is (Jes 5 se tragedie word in ‘n triomf omskep!) – hfst 27.
26:1-15: Die eerste deel van die perikoop is in die vorm van ‘n pelgrimslied geskrywe. Let op die wisselwerking tussen verlossing en vertroue in vers 1-3. In dié vertroue moet volhard word, ‘n sleutelboodskap van Jesaja. Om die waarheid te sê, daaraan moet selfs in gevaar en oordeel volhard word. Dit bring veiligheid en beskerming – vers 4-6.
Let ook op dat dié vertroue insluit om regverdig te lewe (:7). Selfs God se oordeel teen die nasies is immers gemik daarop om die belang van geregtigheid te onderstreep (:9b), al steur hulle hul nie daaraan nie (:12-15).
26:16-21: Om God aan te roep, is die begin van die lewe, beide in goeie as in slegte tye. Waar ‘n mens jou toevlug tot God neem, vind jy dit, al is daar ook oordeel aangekondig oor die mense van wie jy deel is (Rut, die Moabiet, is ‘n glinsterende voorbeeld daarvan).
Hierdie gedeelte is in die vorm van ‘n skuldbelydenis geskrywe, wat lei tot die verstommende geloofsbelydenis dat daar opstanding uit die dood moontlik is – ‘n skaars perspektief in die OT (vgl Job 19:25-27; Ps 16:9-11; 49:15-16; Dan 12:2). Dit word aan God se krag toegeskryf. Die laaste verse – 20-21 – is moeilik om te interpreteer, maar dra waarskynlik die boodskap oor van ‘n wagtydperk voordat dit ‘n werklikheid raak.
27:1-13: Jesaja 5 se tragedie – God se wingerd wat suur druiwe voortgebring het – word in ‘n triomf omskep deurdat die Here daarvoor sorg sodat die aarde vol sal word van hulle vrugte (:6).
Die gedeelte word ‘n apokaliptiese betekenis gegee deur die verwysing na die Leviatan, die monster van die see, wat hier in vers 1 as ‘n vinnige, kronkelende slang beskrywe, en deur die Here doodgemaak word. Hierdie mitologiese monster – die Kanaäniete het van Lotan gepraat – is ‘n simbool vir al die magte wat teen God opstaan (vgl 24:21 – vgl ook die draak waarvan in Open 12 gepraat word).[2]
Let ook op na die voorwaardelike toon wat Jesaja aan hierdie heilsaankondiging gee. Die volk van die Here sal sy beskerming en versorging geniet AS hulle by God kom skuil en met Hom vrede maak (:4b-5) Dan sal die aarde vol word van hulle vrugte (:6).
‘n Onderskeid word getref tussen die manier wat God sy volk straf teenoor sy straf vir ander volke (vers 7-9). God straf sy volk met die hoop dat hulle sal luister, en is baie gou om, as dit gebeur, hulle met Hom te versoen. Bekering lei tot Bevestiging. Verset lei tot Vernietiging.
Jesaja keer terug na die werklikheid van die verwoesting, en wyt dit aan die volk se gebrek aan begrip van wat God doen (:11 – vgl Jes 1:3), wat hoewel dit tot ‘n tyd van ongenade sal lei, nie God se einddoel sal verydel nie, dat Israel – weliswaar één-één (oorblyfsel-motief) – terug sal kom na sy heilige berg in Jerusalem om Hom te aanbid. Ons kry dieselfde gedagtes in die NT se hantering van die eindtyd in Matt 24:31; 1 Kor 15:52; 1 Tess 4:16, toegepas op gelowiges verspreid oor die aarde.
Lees meer oor Paulus se perspektief oor die Jode in my bydrae daaroor: Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word.
[1] Die woord ha-aretz wat hier in vers 1,3,4,6 ens. met aarde vertaal word, kan ook land beteken. ’n Mens lei die betekenis af uit die konteks. Watts (Word kommentaar) kies om dit met land te vertaal wat beteken alles wat Jesaja sê in hoofstuk 24-27 word meesal van toepassing gemaak op die land Juda, en nie op die aarde nie. Dit beteken ook dat die hoofstukke nie apokalipties is nie. Ek stry nie graag met hom nie – uitstekende kommentator! – maar dink die konteks regverdig om hier van die aarde te praat, bv.: vers 4 se kontras tussen “hemel en aarde”; vers 14-16 waar duidelik die hele aarde bedoel word; vers 21 se verwysing na konings van die aarde.
[2] Watts verbind die Leviatan aan Tirus (hfst. 23), maar dit is omdat hy nie ’n apokaliptiese siening aanvaar vir hierdie hoofstukke nie. Daarom moet hy aarde as die land vertaal in hfst. 24, en hierdie duidelike mitologiese beeld aan ’n konkrete entiteit verbind, sonder dat daar die minste getuienis daarvoor is. Wys net hoe jou vooraf keuse van interpretasie jou vertalingskeuses kan beïnvloed (land in plaas van aarde) en jou selfs die teks se konnotasies kan laat aanpas, om by jou aanvanklike ideologie te kan inpas. Dit is natuurlik omgekeerd ook waar, maar die apokaliptiese siening kom reeds uit die teks uit – Leviatan, ramshoring, feesmaal vir die volke ens. – wat dit vir my gevoel meer verantwoord maak. But you be the judge!
View all posts in this series
- Leesplan Jesaja - January 20, 2011
- Kies ’n Bybellees metode
- WEEK 1 – Jesaja 1-6
- Jesaja 1 – Julle ken My nie
- Jesaja as boek
- Vir dieperdelwers
- Jesaja 2 – geroep as ontmoetingsplek vir die nasies met God - January 21, 2011
- Jesaja die profeet
- Jesaja 3-4 – God se oordeel laat altyd ‘n oorblyfsel - January 24, 2011
- Indeling van die boek Jesaja
- Jesaja 5 – ’n begrafnislied oor verworde mense - January 25, 2011
- Jesaja in die Nuwe Testament
- Jesaja 6 – Hoop kom uit ’n afgekapte stomp - January 26, 2011
- WEEK 2 – Jesaja 7-12
- Jesaja 7 – Uitgenooi van vrees na vertroue - January 27, 2011
- Jesaja 8 – Leef met ontsag en oortuiging - January 28, 2011
- Jesaja 9 – Lig aan die einde van die tonnel? - January 31, 2011
- Jesaja 10 – God se vuur verteer en suiwer - February 1, 2011
- Jesaja 11-12 – God gee nooit moed op nie - February 2, 2011
- WEEK 3 – Jesaja 13-27
- Jesaja 13-14 – God is in beheer van die wêreldgeskiedenis - February 3, 2011
- Jesaja 15-17 – Dit kerm in my binneste - February 4, 2011
- Jesaja 18-20 – God laat nie sy droom vaar nie - February 7, 2011
- Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasies - February 8, 2011
- Jesaja 24-27 – Van tragedie na triomf - February 9, 2011
- WEEK 4 – Jesaja 28-35
- Jesaja 28 – ‘n Oor vir God bring voorspoed - February 10, 2011
- Jesaja 29 – God gee insig vir die nageslag - February 11, 2011
- Jesaja 30-31 – Julle krag lê in stil vertroue en gebed - February 14, 2011
- Jesaja 32-33 – Die Here is ons Koning - February 15, 2011
- Jesaja 34-35 – God bring verandering deur oordeel en redding - February 16, 2011
- WEEK 5 – Jesaja 36-39
- Jesaja 36 – Stilwees en vertroue teen ‘n oormag - February 17, 2011
- Jesaja 37 – Gebed en vertroue beweeg God tot optrede - February 18, 2011
- Jesaja 38 – God sien ons trane raak EN doen iets daaraan - February 21, 2011
- Jesaja 39 – ‘n Gebrek aan onderskeiding - February 22, 2011
- Jesaja 1-39 – ‘n Verspeelde roeping stuit God nie - February 23, 2011
- WEEK 6 – Jesaja 40-48
- Jesaja 40-41 – Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag - February 24, 2011
- Jesaja 42-43 – Die dienaar van die Here leer mense om God te ken - February 25, 2011
- Jesaja 44-45:8 – God is die eerste en die laaste, die enigste God - February 28, 2011
- Jesaja 45:9-46:13 – Die Skeppergod alleen kan red - March 1, 2011
- Jesaja 47-48 – God bepaal die geskiedenis, nie toeval nie - March 2, 2011
- WEEK 7 – Jesaja 49-55
- Jesaja 49-50 – Die dienaar van die Here praat dié wat moeg is, moed in - March 3, 2011
- Jesaja 51:1-52:12 – Omhels ‘n bruikbare toekoms in jou verlede - March 4, 2011
- Jesaja 52:13-53:12 – Oor óns oortredings is Hy deurboor - March 7, 2011
- Jesaja 54 – My liefde vir julle sal nooit vergaan nie - March 8, 2011
- Jesaja 55 – Kom geniet God se genade - March 9, 2011
- WEEK 8 – Jesaja 56-61
- Jesaja 56-57 – Almal is welkom by God - March 10, 2011
- Jesaja 58 – God se mense laat medemense nie aan hul lot oor nie - March 11, 2011
- Jesaja 59 – God sorg dat sy Gees en woorde nie verlore raak vir sy volk nie - March 14, 2011
- Jesaja 60 – Nasies kom na jou lig - March 15, 2011
- Jesaja 61 – ‘n Blye boodskap vir mense in nood - March 16, 2011
- WEEK 9 – Jesaja 62-66
- Jesaja 62 – God se beloftes word in vervulling gebid - March 17, 2011
- Jesaja 63 – Selfs in oordeel kan jy jou op God beroep - March 18, 2011
- Jesaja 64 – Bid dat God nou ‘n verskil maak - March 21, 2011
- Jesaja 65 – Terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor - March 22, 2011
- Jesaja 66 – Die groot God is ook die naby God - March 23, 2011
- WEEK 10: Jesaja in die Nuwe Testament
- Jesaja in die evangelies - March 24, 2011
- Jesaja in Handelinge - March 25, 2011
- Jesaja in die briewe van Paulus - March 28, 2011
- Jesaja in die res van die Nuwe Testament - March 29, 2011
- Jesaja afsluiting - March 30, 2011
- Jesaja – Lees, luister, leef – ePub - February 20, 2014
- Wie is die Dienaar van die Here in Jesaja? - May 16, 2017
Christine Veldsman
Jy sê” Be you the judge!!
Jesaja as boek is ontstellend en neerdrukkend. Tog lees ons – ek – dit met die verwagting om die Here daarin te hoor en te sien. Ek bely dat dit nie maklik is nie. Tot ek by die verse gekom het waar die Here sê Hy is die Pottebakker, soveel groter as julle. Julle is maar net die potte en verder… Jes.29:16.
Toe word die verskriklike oordele wat uitgespreek word oor die heidennasies sowel as Juda en Israel vir my bewyse van hoe intens God se liefde is vir Sy skepsels, die heidene en Israel wat Hy uitverkies het. Die detail waarmee die oordele beskryf word, die uitwys van die sonde en oortredings waaraan hulle skuldig is sodat hulle dit kan ken, erken, bely en hulle tot God kan bekeer. Hy het geen behae in die dood van ‘n sondaar nie – want die sondaar is immers ook sy skepsel. Sy oordele is die openbaring van Sy intense liefde en ‘n uiterste poging om hulle tot inkeer te bring. Hy is gretig, Hy bied reiniging, vergiffenis en lewe aan. Van die oordele, sê jy, het in vervulling gegaan. Maar uiteindelik, omdat volke bly volhard in ongehoorsaamheid ,gaan Hy tot die radikale oordeel oor deur Christus se dood aan die kruis om deur Sy dood en opstanding vir ons ‘n verstand te gee waarop sy gebooie gegraveer is en hart waar Sy wet geskryf is. En as ons dit ook nog nie aanvaar nie, kom die finale oordeel, die ewige dood. In sy liefde kon Hy as’t ware nie meer gedoen het om die mens tot inkeer te bring en te red nie.
Lees ek Jesaja met die prentjie in my kop word dit vir my ‘n boek wat gloei met die liefde wat God vir ‘n sondige mensdom het en wat Hy doen om hulle tot inkeer te bring. Hy is die Pottebakker met ‘n droom vir Sy potte en Hy gaan tot die uiterste toe om daardie droom te verwesenlik in die offer van Sy Seun. Tog is daar ‘n punt waar Hy gaan stop. Vir ewig. Dit is verskriklik en laat my besef hoe belangrik dit is dat ek as gelowige so sal lewe dat Hy mense deur my lewe sal ontmoet.
So het ek begin “vrede” kry met die lees van die boek en almeer in verwondering gegaan oor God wat liefde is.
Chris van Wyk
Baie raak opgesom – dit onderstreep net weer hoe belangrik dit is om die teks te lees totdat dit vir jou die woorde van God word. Dankie!