Jesaja 5 – ’n begrafnislied oor verworde mense

Hoofstuk 5-6 lei die tema van verwoesting deur die Assiriërs in wat in hoofstuk 7-39 die agtergrond van die profesieë sal vorm.  Watts maak nogal ’n stewige saak daarvoor uit dat ’n mens uit daardie perspektief die res van deel 1 van Jesaja kan lees as drie intervensies wat Jahwe beplan om die dilemma van hierdie verwoesting die hoof te bied:
  1. ’n nuwe Dawidiese koning (hfst. 7-1)
  2. ’n internasionale koalisie van Assirië, Israel en Egipte (hfst. 13-19) en
  3. die bonatuurlike ingryping van Jahwe wat weer lewe sal gee vir sy volk (hfst. 25-27).

Hoe dit ook al sy, hoofstuk 5 is ’n begrafnislied oor die wingerd van die Here, sy volk (vgl 1:21-31 waar getreur word oor die begrafnis van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie).  Jesaja 6 is dan die roepingsverhaal van Jesaja wat hierdie begrafnislied oor die volk moes aanhef, maar daaroor eers môre.

Hoofstuk 5 bestaan uit:

  1. ’n metaforiese beskrywing van die volk as die wingerd van die Here (5:1-7) en dan
  2. ’n 6-voudige beskrywing van die ellende wat die Here oor hulle sal bring vir hulle vergrype (5:8-23) telkens aangekondig met die frase: “Ellende wat vir …” (5:8, 11, 18, 20, 21, 22).  Dit word opgevolg met
  3. ’n oordeelsuitspraak (5:24-25) omdat die Here kwaad geword het vir sy volk en daarom
  4. ’n nasie versamel het om dié oordeel oor sy volk te voltrek (5:26-30).

5:1-7 – Let op hoe vers 1-7 dieselfde verrassende element het wat Natan ook in sy veroordeling van Dawid se sonde gebruik het – ’n storie wat vertel word, en dan op verrassende wyse op die hoorder van toepassing gemaak word (2 Sam 12).

Hier is die storie egter nie ’n skaap wat deur ’n gierigaard afgepers word nie, maar ‘n wingerd wat suur druiwe voortbring … en dan op die Israeliete, die volk van Juda, van toepassing gemaak word wat die Here nie wou erken as God en Heer nie.  Let op hoe die suur druiwe net met een ding verbind word, die onreg wat in die samelewing plaasvind.

Dit is ’n noodsaaklike boodskap vir ons – daar kan baie goeie dinge in ’n gemeenskap of ’n land wees, lofwaardige dinge, maar as die reg nie in stand gehou word nie – en baie spesifiek die reg van verontregtes (5:7) – is die dood in die pot.

5:8-23 – Dit is insiggewend om die Ellende uitsprake te lees – dit is soos 6 dele van die begrafnislied – en daarin te sien hoe diep die Here raaksien wat in ’n gemeenskap kan gebeur.  Hy sien 6 basiese vergrype raak by die volk, die vooraanstaandes en die gewone burgers, weens hulle gebrek aan kennis en geestelike sensitiwiteit (5:13):

  1. uitbuiters wat grond en besittings inpalm totdat daar niks vir ander oorbly nie (5:8-10);
  2. partytjie-mense wat die Here nie in ag neem nie (5:11-17);
  3. rebelle wat afgodsdienaars word en die Here uitdaag om iets daaraan te doen (5:18-19);
  4. perverses wat goed en sleg, lig en duisternis omruil (5:20);
  5. arrogante wyses (5:21);
  6. eerlose korruptes (5:22-24).

5:24-30 – En Hy het net een antwoord – oordeel wat Israel polities, sosiaal en ekonomies vernietig.

Nogal ’n mondvol dié hoofstuk – en ek wil dit nie relativeer nie, maar my net herinner dat daar ook ’n hoofstuk 4 was …  Maar dan lees ek weer in vers 2, 4 en 7 wat God se verwagting was (in die grondteks staan wag) en hoe konsekwent dit gedwarsboom is, en weet, dit kon nie anders nie.  God se geduld is tot die uiterste beproef totdat daar geen omkeer of terugkeer meer moontlik was nie.  Versoberend.

View all posts in this series

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: