Jesaja in die evangelies

Hier is ’n aantal verwysings uit Jesaja wat in die evangelies aangehaal word.  Ek het die orde van Jesaja gekies en ’n kort beskrywing langsaan geplaas.  Neem so 2 of 3 van die verwysings en lees dit deeglik in konteks sodat jy kan agterkom hoe die evangelieskrywer die gedeeltes uit Jesaja aangewend het.

Daarna kan jy my opmerkings aan die onderkant lees, oor wat my getref het.

Jesaja Evangelies Kort beskrywing
6:1-3 Joh 12:41 ’n Verwysing na Jesaja se visioen
6:9, 10 Matt 13:14 Die doel van die gelykenisse – jy kan net die betekenis sien binne ’n verhouding met Jesus
Mark 4:12 Ditto
Luk 8:10 Ditto
Joh 12:40 Die wondertekens van Jesus kan net binne ’n verhouding met Hom verstaan word – tog het daar sommige Fariseërs tot geloof gekom
7:14 Matt 1:23 Die profesie van die maagd wat swanger word
9:1, 2 Matt 4:14-16 Jesus het gaan bly in Kapernaum, in die gebied van Sebulon en Naftali – ’n vervulling van die profesie
29:13 Matt 15:8, 9 Jesus spreek die Fariseërs aan dat hulle tradisies nakom wat God se Woord ontkrag – hulle hart is ver van God af
Mark 7:6, 7 Ditto
40:3-6 Matt 3:3 Johannes die Doper as die voorbereider van Jesus se koms – die stem wat roep in die woestyn: Maak vir die Here ’n pad …
Mark 1:2, 3 Ditto
Luk 3:4-6 Ditto
Joh 1:23 Ditto
42:1-4 Matt 12:17-21 Jesus belet sy dissipels om in die openbaar te praat, in vervuling van die profesie oor die Dienaar van die Here, waarskynlik om te keer dat Hy te vinnig bekend raak, en Hy nie meer met sy werk kan voortgaan nie
49:6 Luk 2:32 Simeon haal by Jesus se besnydenis hierdie teks aan om van Jesus as die lig van die nasies te praat
53:1 Joh 12:38 Dieselfde boodskap as by Johannes 12:40 wat uit Jesaja 6:9-10 aanhaal
53:4 Matt 8:17 Jesus maak siekes gesond en dryf bose geeste uit in vervulling van die profesie uit Jesaja 53
53:12 Mark 15:28 Sommige manuskripte voeg by:  Daarmee is die Skrifwoord vervul wat sê: “Hy is as misdadiger beskou.”
54:13 Joh 6:45 Jesus sluit aan by Jesaja se profesie dat almal deur God geleer sal wees, en verklaar dat dit juis diegene is wat na Jesus toe kom
56:7 Matt 21:13 Jesus jaag die mense wat handel drywe in die tempel uit sy “huis van gebed”
Mark 11:17 Ditto
Luk 19:46 ditto
61:1, 2 Luk 4:17-19 Jesus lees dié teks by sy eerste publieke optrede – dit vorm sy roepingsteks
66:24 Mark 9:44 Sommige manuskripte voeg by: “Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

Wat my tref:

  1. Jesaja 6 – Die Here se opdrag in Jesaja 6 om die volk traag van begrip te maak sodat hulle nie hoor nie word in Markus 4:12 geëggo.  Paulus het ook een en ander daaroor te sê in sy brief aan die Romeine (9-10).  Insig in wat God doen, is nie teoreties of van ’n afstand af beskikbaar nie.  Dit is slegs toeganklik vir dié wat glo en in ’n verhouding met Hom staan.  Dit is ’n ongelooflike belangrike ding – selfs vir ons as gelowiges: God se werk is net sigbaar in die geloof.  Dit beteken dat ons na gebeure kyk en God se hand daarin bespeur, terwyl ander dink dat dit toevallig is.
  2. Jesaja 7 – Die teken aan Agas in Jesaja 7:14 – “’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel  noem” – word in Matteus 1:23 met die geboorte van Jesus uit Maria as vervulling daarvan geskets – “’Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.’ Die naam beteken God by ons.”  Hieruit is die geloofsbelydenis “gebore uit die maagd Maria” ontwikkel.  Interessant dat dit nie ’n groot kwessie was vir die Bybelskrywers nie. Markus, Johannes, Lukas en selfs Paulus vermeld dit nie eers nie.  Dit doen nie afbreek aan die belydenis nie, maar noop ’n mens om tog versigtig te wees om met te veel absoluutheid te praat oor die “maagdelike geboorte”  veral aangesien daar net een teks is wat as bewysplaas vir só ’n belangrike standpunt en belydenis gegee kan word.  Wat egter belangriker is, is dat Jesus se geboorte, lewe, dood, opstanding, hemelvaart, voorbidding nou vir ons ensovoorts baie sterk Bybelse verwysings het wat ons geloofsbelydenis oor Hom ondersteun.  Hy is die moeite werd om aan vas te klou.  Maria verdien ons respek, Jesus ons aanbidding.
  3. Jesaja 29 – Die Here se oordeel oor die volk in Jesaja 29:13 dat hulle mond naby aan Hom is, maar hulle hart ver, word in Markus 7:6-7 geëggo met die verdere kommentaar: “Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.“  Ek vermoed ons sit almal met goed uit die verlede wat vir ons sterk oortuigings is, wat nie noodwendig die toets van die Skrif sal kan deurstaan nie.  En dan is die uitdaging nog boonop, om nie net te praat oor die Here en hoe ons moet lewe nie, maar dit inderdaad en van harte te doen.  Dit is miskien die diepste probleem vandag, dat mense, en ek praat nou van gelowiges, nie vanuit ’n deurleefde verhouding met die Here leef en praat nie.
  4. Jesaja 40 – Die oproep tot voorbereiding vir die koms van die Here in Jesaja 40:3 – “Iemand roep: ‘Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God!’” – word aan die bediening van Johannes die Doper verbind in al 4 evangelies: Markus 1:2-3; Matteus 3:3; Lukas 3:4-6; Johannes 1:23.  Markus verbind ook Maleagi se voorspelling van ’n boodskapper (die Verbondsengel) wat die pad voor God sal regmaak aan Johannes die Doper se bediening (3:1).  Ek het nog altyd gewonder oor die klem op hierdie voorbereiding – kon Jesus nie maar net gekom het en gedoen het wat Hy gekom het om te doen nie?  En nou uit die hoek van Jesaja kom ek agter, voorbereiding is ’n kritiese element vir die gereedheid vir en aanvaarding van God se werk.  Dit is waarom luister so belangrik is, en die uitsorteer van hindernisse in jou eie lewe – ek praat nou geestelik – dat jy onbelemmerd met God in verhouding kan leef.
  5. Jesaja 53 – Dit bly die sentrum van ons geloof, dat Jesus genesing vir ons menswees se probleme, onder andere siekte, gebring het.  Matteus verbind die profesie aan Jesus se genesingsbediening – Matt 8:17.  Uiteraard is daar goed wat hier regkom, en soms op wonderbaarlike maniere gebeur.  Maar dan is daar ook ander goed wat eers met die nuwe hemel en aarde sal regkom.  En daarvoor kan ons maar net vasklou aan God en wag op sy ingrype.
  6. Jesaja 54 – Jesus haal Jesaja 54:13 in Johannes 6:45 aan wat gesê het dat die enigste standhoudende lering deur God gegee kan word: “Al jou inwoners sal leerlinge van die Here wees, en hulle sal altyd vrede geniet.” Jesus maak dan die punt dat elkeen wat deur God geleer is, Hom as Here sal erken: Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe”.  Hierdie teks moet ’n mens regtig ter harte neem – jy hoef nooit te voel, jy weet nie genoeg nie, of jy het nie ver genoeg geleer , of wat ook al nie.  God leer sy mense en is heeltemal tevrede as Hy met jou in ’n verhouding kan lewe wat ’n effek op jou lewenstyl kan hê.  Die ander goed – kennis, insig, groot dade vir die Here – is net “icing op die koek”, lekker, maar nie noodsaaklik om met God te kan wandel nie.
  7. Jesaja 61 – Lukas vertel in 4:18-19 vir ons dat Jesus Jesaja 61:1-2 as sy roepingsteks geneem het: “omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”  Jesus verklaar die teks as vervuld in Sy persoon en bediening.  Ek sou wat wou gee om te weet hoe dit gebeur het – miskien in die woestyn as deel van die versoeking deur die duiwel, of vroeër toe Hy aan moedersknie en in die sinagoge die Bybel gelees en uiteindelik bestudeer het.  En in ’n sekere sin is dit natuurlik almal van ons se roepingsteks – om om te gee vir jou medemens, en soos Jesaja sê, hom of haar nie aan hul lot oor te laat nie, dit is waarvoor ons in hierdie lewe geroep is.
View all posts in this series

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: