Baie welkom by hierdie Bybelskool oor die boek Jesaja. Ons gaan hierdie boek DV deurlees in die eerste kwartaal 2011.
Hier is die leesplan:
Datum
Teks
Byeenkoms (18:30)
20-26/1
Jesaja 1-6
26/1
27/1-2/2
Jesaja 7-12
2/2
3-9/2
Jesaja 13-27
9/2
10-16/2
Jesaja 28-35
16/2
17-23/2
Jesaja 36-39
23/2
24/2-2/3
Jesaja 40-48
2/3
3-9/3
Jesaja 49-55
9/3
10-16/3
Jesaja 56-61
16/3
17-23/3
Jesaja 62-66
23/3
24-30/3
Jesaja in die NT
30/3
Ek gaan in die eerste week elke dag ’n paar inleidende opmerkings oor die boek Jesaja maak. Ek plaas dit onderaan elke bydrae, sodat die fokus steeds val op die lees van die Bybel.
Soos gebruiklik gee ek ’n aantal maniere waarop jy die Bybel kan lees. By die spyskaart hierbo is daar ’n aantal bydraes wat ek al daaroor geskrywe het Inligting/Bybellees. Jy kan ook kyk na die preek wat ek 16 Januarie 2011 by Klema gelewer het waar ek aan die hand die verhaal van Josua die skuif van ’n fokus op die gesproke na die geskrewe Woord van God verduidelik (Jos 1:1-9; vgl Eks 17:8-16, veral vers 14; 33:7-23, veral vers 11; En vgl Jos 24:26 waar Josua self bydra tot die geskrewe Woord van God!). En dan 8 maniere uitspel waarop ons na God se Woord kan luister.
Ek wil een metode byvoeg waarin ek die gewoonte van die daily examen (Ignatius – vgl ook John Ackerman se Stop/Look/Listen metodiek en die artikel daaroor by Communitas) kombineer met die lees van die Bybel.
Gebruik ’n Joernaal om jou gedagtes en ervarings neer te skryf – dan kan jy altyd teruggaan en bemoedig word deur die manier waarop die Here jou deur sy Woord begelei.
1.STOP: Raak bewus van God se teenwoordigheid – fokus bv. op jou asemhaling deur effe dieper as gewoonlik asem te haal.
2. KYK: Dink waarderend terug oor gister – fokus op dit wat goed was en hoe jy daaroor gevoel het.
3. WAARDEER: Kies een aspek en bid daaroor – verwoord jou dankbaarheid teenoor God vir wat Hy vir jou is en doen.
4. LEES:Lees die gedeelte vir die dag uit die boek Jesaja – skryf neer wat jou tref.
5. LEER: Lees die dagstukkie op die Internet (of e-pos) – skryf neer wat jou tref en as jy vrae het of ’n bydrae wil maak, doen dit by www.bybelskool.com by comments aan die onder kant van die bydrae (terloops: daar sal No comments staan as niemand nog iets geskryf het nie, of 1 comment of 2 comments as iemand al kommentaar gelewer het).
6. LUISTER: Kies een van die gedagtes in die teksgedeelte en dink verder daaroor na. Wat beteken dit vir jou prakties? Dink spesifiek na oor hoe dit verband hou met wat gister gebeur het.
7. ANTWOORD: Antwoord die Here op wat Hy vir jou sê – skryf neer wat Hy vir jou wil wees, wil doen of wat Hy van jou vra om te wees of te doen.
Hoofstuk 1-5 vorm ’n eenheid en handel oor die saak wat die Here teen sy volk het. Hoofstuk 6 handel oor die roeping van Jesaja as profeet, wat terugverwys na die eerste deel en ook die tweede deel, hoofstuk 7-12 inlei. Daar word gefokus op die belofte aan Agas, ’n belofte wat hy verspeel het, maar wat op uitnemende wyse in Jesus eeue later vervul is. Die eerste van ’n aantal oordele oor die nasies – die een oor Assirië – word tussenin in hoofstuk 10 vertel.
Die profeet Jesaja het oor ’n lang tydperk opgetree, regdeur die koningstydperke van Ussia (word ook Asarja genoem in 2 Kon 15:1), Jotam, Agas en Hiskia in Juda – ongeveer van die jaar 740 – 697 v C, die sterfjare van onderskeidelik Ussia en Hiskia.
Vers 1 noem die woorde van Jesaja ’n openbaring (chazoon – visioen), ’n woord wat byna altyd vir ’n Goddelike openbaring of visioen gebruik word. (Vergelyk Spreuke 29:18 wat praat oor impak van die gebrek aan só ’n openbaring: “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk”).
In drie perikope word God se saak met sy volk uitgespel. Die Here roep die hemele en aarde, die hemelraad, as getuies vir die saak wat Hy met sy volk het (vgl Deut 30:19 waar Moses dieselfde doen). Hy spreek hulle aan oor die feit dat hulle Hom nie ken nie, ennie weet wie hulle is en aan wie hulle behoort nie. Dit sit agter:
1. die rebellie van die volk Israel teen God, wat daarom deur Hom gestraf is deur die verwoesting van hulle land – 1:2-7 (dit verwys heel moontlik na die veldtog van Sanherib in die tyd van Hiskia – Jes 36 en 2 Kon 18 – in Assiriese annale word vertel dat Sanherib 36 Judese stede verwoes het en 200 000 mense weggevoer het);
2. die tempeldiens in Jerusalem wat teen God se wil gepaard gaan met onreg en geweld in die samelewing waaroor die Here hulle aanspreek en tot bekering roep – 1:8-20 (Jesaja gebruik hier dieselfde uitspraak oor offers as Samuel – 1 Sam 15:22);
3. die ontrouheid van die stad Jerusalem wat in opstand is teen die Here en wat daarom deur die Here met streng optrede gestraf sal word, hoewel Hy tog steeds oordeel as ’n instrument tot vrymaking gebruik – 1:21-31 (die perikoop lees soos ’n begrafnislied waarin getreur word oor die dood van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie).
Let op hoe God se oordeel altyd met die hoop op een of ander bekering uitgevoer word – Hy los ’n oorblyfsel (:9 – ’n kenmerkende aspek van Jesaja se boodskap: 4:2-6; 6:13; 11:1); Hy belowe voorspoed as hulle gehoorsaamheid sou kies (:19); Hy belowe nuwe leiers (:26); Hy belowe vrymaking juis deur die oordeel (:27).
Julle sal almal waarskynlik al in preke of kommentare gehoor en gelees het van die indeling van Jesaja in drie dele: Proto-Jesaja, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja. Dit is gebaseer op die teorie van Bernard Duhm uit die laat 19de eeu n C wat deel een met die profeet Jesaja uit die 8ste eeu v C geassosieer het, deel twee met ‘n anonieme profeet tydens die ballingskap in Babilon in die vroeë 6de eeu v C, en deel drie met nog ‘n anonieme profeet na die terugkeer uit ballingskap na Jerusalem toe in die laat 6de eeu v C. Die inhoud van die drie dele is dus verbind met die drie tydperke waaroor dit hoofsaaklik gehandel het, die Assiriese, Babiloniese en Persiese koninkryke.
Daar het egter in die laaste aantal jare ‘n belangrike verandering in die denke hieroor plaas gevind.[1] Die klem het van Jesaja as profeet geskuif na Jesaja as boek, onder andere omdat toenemend besef is dat die inligting oor die sogenaamde “3 profete” te skraps was om as basis vir die eksegese te dien. Daarby het navolgers van Duhm se teorie die eksegese van die boek begin hanteer asof die onderskeie dele van die boek Jesaja niks met mekaar te doene gehad het nie. Hierbenewens het ander navorsers bevind dat dele van die sogenaamde Proto-Jesaja teks eintlik nie aan die profeet Jesaja self toegeskryf kan word nie, maar eerder aan redaksionele aanpassings in ‘n later tyd, wat die teorie van ‘n 3-profeet boek wankelrig gemaak het.
Baie navorsers het dus begin om Duhm se teorie op te skort en die boek eerder as ‘n literêre eenheid te lees en teologies te interpreteer. Dit beteken nie dat hulle daarmee noodwendig terugkeer na die tradisionele standpunt dat Jesaja die profeet ook die outeur van die hele boek Jesaja is nie. Maar dit beteken wel dat hulle die eenheid van die boek – waaraan verskeie mense waarskynlik eeue lank gewerk het – ernstig neem.
Dit is ook hoe ek graag die boek Jesaja met julle wil deurlees.
perfectly57edc75df4onJosef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
sparklybc467b2e69onJosef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
originalblizzard19aaa84c56onJosef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
Philip VermaakonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
Chris van WykonPsalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
perfectly57edc75df4onPsalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
Doreen SnydersonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
johannes buhrmannonPsalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
originalblizzard19aaa84c56onInleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
Francois Du ToitonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
Hannes.onHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
Onlangse kommentaar