Skip to main content

Jesaja 60 – Nasies kom na jou lig

Die opskrif van vandag se leeswerk spel die tema van die hoofstuk uit: Nasies kom na jou lig toe.  In vier perikope word die boodskap tuisgebring:

  1. God gee lig in Jerusalem vir die nasies – 60:1-3;
  2. Jerusalem word weer vol van sy mense en geskenke van die nasies – 60:4-7;
  3. Jerusalem word weer gebou en deur almal geëer – 60:8-12;
  4. Die tempel word herbou as die stad van die Here waarin Hy as ewige lig sal bly – 60:13-22.

60:1-3: Dit is interessant hoe baie die tema van lig in Jesaja gebruik word.  Dit word verbind aan God as die bron van lig (Jes 2:5; 9:2).  Dit word gekontrasteer met die duisternis (Jes 5:20).  En die dienaar van die Here word spesifiek as God se lig vir die nasies uitgespel (Jes 42:6; 49:6).

Hier word Jerusalem nou opgeroep om hulle lig vir die nasies te laat skyn.  Hoekom?  Want, “vir jou het die lig gekom” (60:1).  En dié lig is niks anders as die magtige teenwoordigheid van die Here wat vir ewig hulle lig sal wees (60:19,20).

60:4-7: Dit is nie net die mense van Jerusalem wat terugkom nie.  Die nasies sal met hulle skatte ook hul goedkeuring gee aan wat God vir sy volk doen. Midian, Efa en Kedar is in Noord-Arabië, en Skeba in Suid-Arabië.  Efa was ’n Midianitiese stam (Gen 25:4) en Nebajot een van Ismael se seuns (Gen 25:13).

60:8-12: Die middele om Jerusalem te bou, kom van so ver as Tarsis in Spanje af.  Jerusalem se eer en roem word daardeur vermeerder.

60:13-22: Let op hoe die hele gedeelte afstuur op die beskrywing van God wat weer die middelpunt van die stad en die volk sal wees.  Hy is die ware sentrum van die stad en volk, wat nie net die inisiatief geneem het om Hom oor hulle te ontferm nie, maar baie spesifiek gesorg het dat sy optrede nie ’n nuwe eksklusiewe gemeenskap skep nie, maar ’n inklusiewe een.

Nuwe Testament: Soos die geval is met Jesaja 9:2, word hierdie lig, die teken van die magtige teenwoordigheid van God, in die NT met Jesus verbind.  Om die waarheid te sê, Johannes gebruik die tema van lig nie net in sy voorwoord van sy evangelie om Jesus se bediening te beskryf nie (Joh 1:1-14).  Jesus self eien dit vir Homself toe: “Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12 – sien ook Joh 9:5; 12:35-36, 46 – ook Matt 5:14; 1 Pet 2:9–10; Open 21:24).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar