Jesaja 60 – Nasies kom na jou lig

Die opskrif van vandag se leeswerk spel die tema van die hoofstuk uit: Nasies kom na jou lig toe.  In vier perikope word die boodskap tuisgebring:

  1. God gee lig in Jerusalem vir die nasies – 60:1-3;
  2. Jerusalem word weer vol van sy mense en geskenke van die nasies – 60:4-7;
  3. Jerusalem word weer gebou en deur almal geëer – 60:8-12;
  4. Die tempel word herbou as die stad van die Here waarin Hy as ewige lig sal bly – 60:13-22.

60:1-3: Dit is interessant hoe baie die tema van lig in Jesaja gebruik word.  Dit word verbind aan God as die bron van lig (Jes 2:5; 9:2).  Dit word gekontrasteer met die duisternis (Jes 5:20).  En die dienaar van die Here word spesifiek as God se lig vir die nasies uitgespel (Jes 42:6; 49:6).

Hier word Jerusalem nou opgeroep om hulle lig vir die nasies te laat skyn.  Hoekom?  Want, “vir jou het die lig gekom” (60:1).  En dié lig is niks anders as die magtige teenwoordigheid van die Here wat vir ewig hulle lig sal wees (60:19,20).

60:4-7: Dit is nie net die mense van Jerusalem wat terugkom nie.  Die nasies sal met hulle skatte ook hul goedkeuring gee aan wat God vir sy volk doen. Midian, Efa en Kedar is in Noord-Arabië, en Skeba in Suid-Arabië.  Efa was ’n Midianitiese stam (Gen 25:4) en Nebajot een van Ismael se seuns (Gen 25:13).

60:8-12: Die middele om Jerusalem te bou, kom van so ver as Tarsis in Spanje af.  Jerusalem se eer en roem word daardeur vermeerder.

60:13-22: Let op hoe die hele gedeelte afstuur op die beskrywing van God wat weer die middelpunt van die stad en die volk sal wees.  Hy is die ware sentrum van die stad en volk, wat nie net die inisiatief geneem het om Hom oor hulle te ontferm nie, maar baie spesifiek gesorg het dat sy optrede nie ’n nuwe eksklusiewe gemeenskap skep nie, maar ’n inklusiewe een.

Nuwe Testament: Soos die geval is met Jesaja 9:2, word hierdie lig, die teken van die magtige teenwoordigheid van God, in die NT met Jesus verbind.  Om die waarheid te sê, Johannes gebruik die tema van lig nie net in sy voorwoord van sy evangelie om Jesus se bediening te beskryf nie (Joh 1:1-14).  Jesus self eien dit vir Homself toe: “Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12 – sien ook Joh 9:5; 12:35-36, 46 – ook Matt 5:14; 1 Pet 2:9–10; Open 21:24).

View all posts in this series

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Ek is tans besig met Jesaja, en kom nou, in hfst 60 eers op hierdie webwerf af!

    Soveel vrae.
    1) ‘n Mens hoor dikwels dat Israel (volk) sal terugkeer na hul land – sommige glo dis tans besig om te gebeur – verwys hierdie gedeelte daarna?

    2) Is hierdie gedeelte vervul in Israel se terugkeer na hul ballingskap? Dit “voel” nie so nie, omdat Nehemia en Esra getuig van baie probleme…

    3) Dui hierdie gedeelte op die Nuwe Jerusalem waarvan Johannes in Openbaring praat? Maar dan gaan ons mos nie die aardse goud en silwer by die heidense volkere ontvang nie?

    4) Sommige kommentare reken hierdie gedeelte verwysna die duisendjaar vredesryk – enige repliek?

    5) Wat is die betekenis van v 16?

    6) Met verwysing na v 18 en andere wat dui op vrede ongekend, lyk dit tog nie of hierdie ‘n aardse vervulling kan hê nie, maar spesifiek na die hemelse, die ewige verwys – is dit so?

    Baie dankie…

    • Welkom!
      Jy kan ten minste op drie maniere oor die vervulling van profesieë dink:
      * dit kan gedeeltelik vervul word (Hebr. 11:39 – praat daarvan dat sommige gelowiges “nie verkry wat beloof is nie”, waarmee Daniël se drie vriende ook rekening hou dat God kán red, maar nie noodwendig sál red nie – Dan. 3),
      * dit kan meervoudig vervul word (Jes. 7:14 – die geboorte van Hiskia was waarskynlik die eerste en ook gedeeltelike vervulling, Jesus die tweede en volledige vervulling)
      * dit kan simbolies geïnterpreteer word (Jes. 60:3 “Nasies kom na jou lig toe” wat vervulling kry in die Pinkstergebeure van Hand. 2 en verder aan).
      Dit kan jou help om die eerste 3 vrae te antwoord.
      * Die terugkeer was gedeeltelik, selfs ná die ballingskap in Serubbabel se tyd – Ester het bv. nog saam met haar mense in Susa agter gebly en ‘n belangrike rol in die lot van die Jode gespeel vanuit die vreemde.
      * En die terugkeer het meervoudige vervullings. Elke keer wat Jode terugkeer na hulle land is daar ‘n mate van vervulling van dié Jesaja beloftes, ook in 1948. Of hulle dit omhels as God se pad vir hulle is ‘n ander vraag.
      * En die terugkeer belofte het ook ‘n simboliese betekenis wat onder andere in die beloftes van Openbaring vervul word.
      Die ontvangs van die goud en silwer moet waarskynlik in die lig van die Eksodus verhaal se soortgelyke ervaring geïnterpreteer word. God het deur Moses die volk beveel om silwer en goud van hulle bure te eis twv gelykstellende geregtigheid sodat hulle kan oorleef op die trek (Eks. 11:1-3). Dit is dus ‘n prentjie van God se gelykstellende geregtigheid. Hy maak alles reg by die Wederkoms.
      Oor die duisend jaar van vrede.
      Ek sal eerder na Openbaring kyk om daaroor uit te wy, want Jesaja praat net gedeeltelik daaroor. Ek gaan juis in die vierde kwartaal hierdie jaar Openbaring behandel, so ek sal dan meer uitbrei. ‘n Mens kan meer letterlik daarna kyk soos die millenialiste dit doen óf vóór die wederkoms óf daarná. Of jy kan meer geestelik/allegories/simbolies daarna kyk. Maar dit sal ook altyd insluit dat die boodskap van die duisend jaar van vrede vir die eerste gehoor reeds iets gesê het … en vir ons. Maar meer daaroor later.
      Oor Jes. 60:16
      Dit is ‘n prentjie van versorging wat gedeeltelik en meervoudig deur die verhale van Ester en haar man koning Ahasveros (Xerxes) se opvolger seun Artasasta (Artaxerxes) se goedgunstigheid teenoor Nehemia vervul is.
      Oor Jes. 60:18
      Jy is reg, maar dele daarvan kan ook vandag vir ons vervul word.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: