Skip to main content

Jesaja 44-45:8 – God is die eerste en die laaste, die enigste God

Israel word weer hier as die dienaar van die Here aangespreek.  God laat nie maklik sy droom oor hulle vaar nie – dat hulle ’n lig vir die nasies sal wees nie.  Daarvoor het Hy hulle gemaak en daarvoor ondersteun Hy hulle steeds.  Darem ’n ongelooflike stuk vertroosting dat God nie die werk wat Hy in ons begin het, versaak nie. Dit is betekenisvol dat Jakob, die Bedrieër, hier Jesurun, die Opregte, genoem word, ’n eretitel wat die verandering wat die Here bring, simboliseer (vgl ook Deut 32:15 waar dit ook so gebruik word).

Let op hoe Jesaja weereens die belofte van die Gees as die stimulus tot nuwe lewe beskrywe, selfs vir die nageslag (vgl Eseg 37).  Dit is ook net die Gees wat mense kan beweeg om vreugde te vind in lidmaatskap van God se mense.

Jesaja beklemtoon weereens God se alleenreg tot die titel God.  Hy is die eerste en die laaste – soos Jesus ook in Openbaring beskryf word (Open 22:13).  Buiten Hom is daar geen God nie.  Die Ek is uitsprake oor God se status en karakter gee ’n mens ook ’n ander perspektief op Jesus se Ek is uitsprake in die Johannes evangelie.  Daarmee het Hy duidelik gesê dat Hy God is (vgl ook God aan Moses by die braambos – Eks 3).

Let ook op hoe goedig-neerhalend daar oor die dierbare afgode – wat nie kan help nie – gepraat word (44:9).  Hulle kan nie sien of hoor nie, en dus nie help nie.  Hulle moet gemaak word (44:12-17).  Let op hoe skreiend ironies die dwaasheid geteken word om dieselfde hout of vir ’n braaivleisvuur of vir die maak van ’n afgod te gebruik en die afgod dan te aanbid.  Sulke mense se oë is toegepleister en het geen begrip nie, sê Jesaja!

Let op hoe Israel, God se dienaar, opgeroep word om terug te keer na die Here, WANT Hy het hulle verlos (44:21-22).  Dit gee ons die regte perspektief op die wyse waarop verlossing en bekering saamhang.  God se werk kom altyd eerste – Hy verlos – en ons werk tweede – ons bekeer ons tot die Here se pad met en vir ons.

Jesaja sluit hierdie beskrywing van God af met ’n beklemtoning van God se onverbreekbare woord – in die Skepping en in die Geskiedenis (44:24-45:8).  Wat God sê, gebeur.  Sy woord is sy verbintenis en Hy laat dit gebeur.  Daarop kan ’n mens reken.  Dit sluit in dat sy boodskappers (profete) se woorde in vervulling gaan; dat Jerusalem weer bewoon sal word; dat Babel gestuit sal word; dat iemand soos Kores (koning van die Perse) gebruik word ter wille van sy eie volk.

Kores is in daardie sin ook God se dienaar – let op dat hy herder en gesalfde (in Hebreeus messias, in Grieks christus) genoem word, wel nie direk dienaar nie.  Watts sê hieroor die volgende:

“Remarkably, this claim of divine sponsorship fits Cyrus’s career. He had profited from many circumstances other than his military strength. He had gained the following of all the Persian tribes with singular ease. He gained an ally in Babylon against Media. Two successive Median armies that were sent against him decided to join forces with him instead. His generosity toward the conquered worked in his favor. He marched without opposition into Armenia and won a surprise victory over the Lydians when their horses were frightened by the smell of Persian camels. And now Babylon, the world’s most heavily fortified city, opens its gates to him without a fight (Olmstead, History of the Persian Empire, 34–51). Truly doors and gates had been opened for Cyrus, and YHWH claims credit for it.”[1]

Daardeur bewys God dat Hy God is van die hele aarde, ’n perspektief wat ons moet aangryp en in ons eie beoordeling van wêreldsake ter harte moet neem.  En let op die doel waarmee God dit doen.  Dit sluit ook in dat Hy Homself aan heidene wil bewys en tot ’n bewussyn en erkenning van sy Goddelikheid wil lei (wat presies is wat Hy ook wil hê die geval moet wees met sy volk – dat hulle Hom sal ken!).  Of die nasies en hulle heersers nou daaraan gehoor gee of nie, dit is wat God wil hê moet gebeur.


[1]Watts, John D. W.: Word Biblical Commentary : Isaiah 34-66. Revised Edition. Nashville : Thomas Nelson, Inc, 2005 (Word Biblical Commentary 25), S. 701

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.