Skip to main content

Jesaja 49-50 – Die dienaar van die Here praat dié wat moeg is, moed in

Hoofstuk 49 fokus eerstens op die bediening van die dienaar van die Here – 49:1-7.  Die dienaar is weereens ‘n individu, soos in hoofstuk 42, wat nie net vir Israel redding moet aankondig nie, maar ook vir die nasies.  Soos Jeremia (Jer 1:3) word hy voorgeboorte al geroep.  En soos Jeremia (bv Jer 11:18-17) ervaar hy pyn in die uitvoer van sy roeping – hy is bang dat sy opoffering verniet en tervergeefs sal wees (Jes 49:4), en dit is ook duidelik dat hy verag en verafsku is (49:7).  Tog staan hy vas in sy vertroue dat God aan hom reg sal laat geskied, en vrug op sy arbeid sal gee, met selfs die konings en leiers wat hom sal erken.  Let op dat die boodskap bedoel is vir die nasies (49:1) en dat dit die redding van die nasies insluit.

Tweedens fokus die hoofstuk op die lotsverandering van die volk Israel – 49:8-26.  Die verandering word as ‘n gebedsverhoring – waarskynlik van die dienaar van die Here – beskryf (49:8).  Hy word die verbintenis, die verbond, van God met die volk om die land te herstel en die mense te versorg.  Maar let op dat die tydsberekening daarvan volledig afhang van die inisiatief van die Here.  Gebed is noodsaaklik vir verandering, maar nie ‘n outomatiese versekering van verandering nie.

Die Siniete is ‘n onbekende volk.  Hoewel hulle ook op ‘n paar ander plekke in die Bybel genoem word (Gen 10:17; 1 Kron 1:15), is die verwysing onbekend.  Sommige geleerdes het dit al met die Sjinese verbind, maar dit is onwaarskynlik omdat die Sjinese benaming eers uit die 3de eeu v C dateer.  Ander het dit met ‘n plek in Egipte verbind (Siëne), maar dit bly steeds ‘n onopgeloste raaisel.

Die redding laat die hemel en aarde uitbars in lof.  Tog is Sion steeds bang dat die Here hulle vergeet het, wat die Here met ‘n pragtige en vertroostende paar metafore beantwoord: vrou kan nie haar baba vergeet nie; Israel is onuitwisbaar in God se handpalms ingegraveer.  Let op hoe die Here die stelligheid van sy belofte aan sy lewe self koppel (:18).  Hy staan met sy lewe in vir die uitkoms.

Die oorvloedige uitkoms (nageslag) vir Israel dien as woord aan die nasies om hulle te oortuig dat God vertrou kan word, en dat Hy die enigste Here is.

Hoofstuk 50 wei weer uit oor die redes vir die ballingskap – hulle sondes – 50:1-3, waarna die dienaar ‘n selfgesprek voer oor sy ervaringe in sy bediening – 50:4-11.   Hy dink na oor sy toerusting wat Hom in staat gestel het om dié wat moeg is, moed in te praat.  Die belangrikste manier waarop dit gebeur het, was dat Hy na God geluister het en dat dít sy bediening gestruktureer het.  Daarom kon Hy volhard in die ontsettende lyding wat Hom in die uitvoering van sy bediening te beurt geval het.  Só het die Here Hom gehelp om staande te bly in die aangesig van onregverdige aanklagtes.

Elkeen wat dus na dié dienaar luister, sal die lig sien aanbreek in sy lewe, en die donker kan ontwyk.  Laat ‘n mens dink aan die eerste hoofstuk van Johannes se evangelie waar Hy oor die Woord van God praat – Jesus – wat die lig vir die mense is (Joh 1:1-14).

View all posts in this series

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar