Jesaja 15-17 – Dit kerm in my binneste

Hoofstuk 15-16 vorm ’n eenheid en bevat die orakel oor Moab (vgl Jer 48 wat ’n soortgelyke orakel het).

’n Bietjie agtergrond: Die Moabiete het oos van die Dooie See op die bergagtige Hoogland gewoon en was die nageslag van Lot se verbintenis met sy oudste dogter. Die jonger dogter se nageslag was die Ammoniete wat net noord van die Moabiete gewoon het (Gen 19).  Die twee volke was verskeie kere in konflik met Israel.  Hulle nasate het mettertyd met die Arabiere verenig.

Deuteronomium 23:3-6 het streng wette neergelê vir die hantering van die twee volke: “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.”

En die skrywer spel twee spesifieke redes uit waarom dit so kras was: “Dit is omdat hulle jou nie van kos en water voorsien het toe julle uit Egipte getrek het nie en hulle vir Bileam seun van Beor uit Petor in Mesopotamië gehuur het om jou te vervloek.”

“Die Here jou God wou egter nie na Bileam luister nie en die Here jou God het Bileam se vervloeking in ’n seën verander, want die Here jou God het jou lief.” Maar die wet het gebly: “Jy mag nooit in vrede leef met die Ammoniete en die Moabiete nie, en jy mag nooit iets goeds aan hulle doen nie.”

Tog moet ’n mens onthou dat Rut (lees my bydraes oor Rut hier) ’n Moabiet was en weens haar besondere verbintenis aan die Here en sy volk die voorreg gesmaak het om ingesluit te word in die koningsgeslag van Dawid, waaruit die Messias later gebore is.  En haar storie is opgeneem in die groeiende korpus Ou Testament boeke.  Dit wil dus tog lyk asof die Here ’n hart wat volledig op Hom gerig is, raaksien, maak nie saak wat die algemene reël is wat geld nie!

Dawid soek ook skuiling vir sy ouers by die koning van Moab toe dinge tussen hom en Saul begin warm word het (1 Sam 22), moontlik vanweë die familieverbintenis.  Met sy koningskap het dié verhouding egter versuur en het hy teen hulle oorlog gevoer en hulle onderwerp (2 Sam 8).

15-16: Die oordeel oor Moab begin met ’n veldslag wat wyd verwoesting in hulle gebied saai.  Selfs die profeet is ontsteld oor die omvang daarvan (vers 5).  Moab se poging om oor die Wilgerspruit (vers 7) na Edom uit te wyk bring geen verligting nie.  En die wat agterbly, word deur leeus opgevreet.  Die raad (miskien van die Edomiete?) om met Juda ’n ooreenkoms te probeer sluit, bring blykbaar geen verligting van die onmiddellike bedreiging nie.  Daar is wel die hoopvolle boodskap van die heerser uit die nageslag van Dawid wat in die toekoms weer op sy troon sal sit en reg sal laat geskied (vers 4b-5).  Dit kan egter die oordeel nie keer nie, weens hulle hoogmoed, hovaardigheid en grootpratery (vers 6).

Let op die geweldige hartseer wat met die oordeel gepaard gaan.  Dit kerm in God se binneste oor Moab (vers 11) omdat hulle tevergeefs bid tot hulle afgode.

Dit is ’n prentjie van God wat ons moet vashou as ons dink oor die geweld en lyding wat met oordeel gepaard gaan.  God self word diep geraak deur die pyn van vergelding, al kan dit nie anders nie.  En as ons Nuwe Testamenties daaroor nadink, is die betekenis duidelik.  Die kruis se lyding loop dubbel en dwars deur sy hart – aan die een kant moet Hy die sonde straf (en dit maak Hom seer), maar aan die ander kant straf Hy eintlik Homself, Sy Seun in ons plek (en dit maak Hom seer) – so het ons dit in Jesus leer ken.

Maar die einde is vir Moab naby en baie min van hulle sal oorbly.  As hulle maar net dit sou regkry om aan die woord van vers 5b-6 vas te hou vir die toekoms!

Hoofstuk 17 handel oor die orakel teen Damaskus en Efraim.

’n Bietjie agtergrond: Die Arameërs en die Israelitiese Noordryk word hier saam gegroepeer, vermoedelik weens die gesamentlike bedreiging teen Juda waarvan ons in hfst. 7 gelees het.  Vandag vind ons Damaskus in Sirië; dit is een van die oudste stede in die wêreld.

17: Let weereens op die beeldende wyse waarop die oordeelsvoltrekking beskryf word, veral met metafore uit die landbou (vers 5).  En let op hoe mooi die oorblyfsel metafoor na vore kom in vers 6.  Anders as in die meeste ander oordeelsorakels is daar dus hoop vir Israel, ten minste vir ’n oorblyfsel.  Na die oordeel oor Damaskus en die Arameërs, wat weer rus sal bring vir hulle bure, sowel as die oordeel oor Israel: “sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig, sy hulp van die Heilige van Israel verwag” (vers 7).  Israel sal wel die volle geweld van God se oordeel ondervind – selfs die nasies waarmee die Here dié oordeel uitvoer, sal getref word (vers 12-14) – maar daar is hoop in ’n nuwe verhouding met God.

View all posts in this series

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: