Tag: Jesaja

Wie is die Dienaar van die Here in Jesaja?

http://www.discipledaily.org/wp/Die Dienaar van die Here in Jesaja verwys soms na ‘n individu (bv. Jes. 42:1-9) en soms na die volk (bv. Jes. 42:1-25).  Wanneer daar na ‘n individu verwys word, is die fokus op wat dié dienaar deur sy gehoorsaamheid sal regkry vir die volk (bv. Jers. 43:1-13). Wanneer daar na die volk verwys word, word hulle as mislukte dienaar van die Here geteken (bv. Jes. 42:1-25), maar die hoop uitgespreek dat hulle tog ‘n lig vir die nasies sal wees deur die werk van die dienaar van die Here as individu (bv. Jes. 44:1-45:8).

Dit is waarop Jesaja 49-50 ook op fokus, die dienaar van die Here wat die volk moed in sal praat om hulle taak as God se verteenwoordigers op aarde na te kom.  Daarvoor moes dié dienaar onnoembare lydig deurgaan soos dit veral in Jesaja 52-53 beskrywe word: “deur óns oortredinge is Hy deurboor.

Daarom skryf ek in my bydrae oor Jesaja die volgende oor die identifikasie van die Dienaar as individu met Jesus (Kry my eboek hier):

Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: 53:1 in Joh 12:38; 53:4 in Matt 8:17; 53:7-8 in Hand 8:32-33; 53:9 in 1 Pet 2:22.  Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: bv. 53:12 in Luk 22:37.

Jesus het dus hierdie profesie van die Dienaar van die Here (die individuele een) vervul.  Daar word dus in Jesaja na Jesus verwys, maar natuurlik in terme van ‘n profesie wat eers vanuit die vervulling daarvan in die NT duidelik geword het.

Jesaja – Lees, luister, leef – ePub

Beskrywing

Die profeet Jesaja tree in ‘n baie moeilike tyd op. Die wêreldmag van die Assiriërs het Israel en Juda bedreig.  Geen wonder dat Agas koalisies probeer vorm het met ander wêreldmoondhede om die volk te probeer beskerm nie.  Jesaja verkondig egter dat God vir hulle sal sorg … as hulle Hom vertrou en nie hulle toevlug neem tot die ander volke nie. Hy waarsku: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.”

Dit bly vandag nog die kern van die boodskap van God aan elkeen wat in Hom glo.  Die boek Jesaja verkondig daarom God as die Lewende, die God van beide die Skepping en die Geskiedenis.  Dit onderstreep dat God die Onderhouer is van alles wat bestaan.  Dit brei uit oor sy funksie as Regter en Verlosser van almal wat leef, ook van die nasies.  Alles gemik daarop om geloof in Hom by sy mense te bevestig.

Die boodskap troos daarom alle gelowiges wat soos die volk van Jesaja se tyd bedreigings van watter aard ook al ervaar, maak nie saak waar en onder watter omstandighede hulle hul mag bevind nie.  Die boek Jesaja konfronteer egter ook diegene wat nie bereid is om te vertrou op die uitkoms wat God vir sy mense belowe nie.  “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.”

Die verlossing wat God vir sy volk bring, sien ons in die boek Jesaja die helderste in die bediening van die Dienaar van die Here wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde.  Hierdie belofte van die Here het in Jesus Christus waar geword.  Hy het God se belofte as Lydende Messias vervul en die visie van ’n volkome nuwe begin gestalte gegee wat nie net histories sal wees nie, maar ook kosmies van aard.  Daarop kan ons ons hoop vestig.  In Hom sal ons in geloof kan standhou.

Lees, luister, leef

Die Lees, luister, leef reeks is gebaseer op die materiaal van Bybelskool.com, en geskryf vir Bybelskole, Bybelstudiegroepe, en persoonlike stiltetyd.  Elke boek in die reeks behandel ’n ander Bybelboek.  Aan die hand van die Lectio Divina metodiek leer jy om die Bybel te leef, terwyl jy dit lees. Daardeur hoor jy die lewende stem van God in die Bybel, leer jy hoe om die Here Jesus prakties te volg, en skryf die Gees jou in God se verhaal met die wêreld in. Die Woord word só vir jou ‘n huis om in te woon.


Support independent publishing: Buy this e-book on Lulu.

Jesaja afsluiting

Ons het aan die einde van die lees van Jesaja gekom.  Ek nooi jou uit om deur jou notas te blaai van die afgelope 10 weke en EEN ding uit te haal wat jou só getref het dat dit jou sal bybly, jy dit saam met jou sal neem.  DEEL DIT met ons hier – klik op Comments hieronder en laat ons hoor wat jou getref het.

Jesaja in die res van die Nuwe Testament

Hier is ’n aantal verwysings wat jy kan naspeur, waar Jesaja in die res van die Nuwe Testament aangehaal word.
Jesaja NT Kort beskrywing
8:17-18 Heb 2:13 Die skrywer van Hebreërs haal twee verse uit Jesaja 8 aan om Jesus se identifikasie met mense te bevestig.
22:22 Open 3:7 Johannes gebruik dieselfde beeld van die sleutelmag wat aan Eljakim in Jesaja 22 gegee is, en verklaar dat dié mag in die hand van die Here is.
25:8 Open 7:17 Dieselfde boodskap wat al in Jesaja 25 se visie op die feesmaal vir die volke van toepassing gemaak is, dat alle trane afgevee sal word, word hier aan Jesus se opstanding gekoppel deur Johannes.
28:16 1 Pet 2:6 Jesaja 28 word gebruik as bewysplaas vir die metafoor van die hoekklip wat alles bymekaar hou wat op Jesus van toepassing gemaak word.
34:4,10 Open 6:13-14 Jesaja 34 se beelde van die hemel wat soos ’n boekrol toegerol word, en die aarde wat onbewoonbaar gemaak word  met die sesde seël se oordeel in Openbaring verbind.
35:3 Heb 12:12 Die Hebreërskrywer leen die beeld van slap hande en knikkende knieë wat versterk moet word by Jesaja.
40:6-8 1 Pet 1:24, 25 Petrus gebruik dieselfde beelde as Jesaja 40 om die menslike toestand met God se ewige woord te kontrasteer.
Jak 1:10, 11 Ditto Jakobus
41:4 Open 1:8, 11, 17 Johannes gebruik amper dieselfde taal vir God, die eerste en die laaste en pas dit op Jesus toe.
Open 21:6 Ditto
Open 22:13 Ditto
49:10 Open 7:16 Johannes gebruik dieselfde beeld van die uitkoms wat God aan die einde van die tyd gee vir sy uitverkorenes as wat Jesaja vir die terugkoms uit ballingskap gebruik – dat hulle beskerming sal geniet teen die honger, dors en hitte.
53:5 1 Pet 2:24, 25 Die kruisdood van Jesus se impak word verbind met die profesie in Jesaja 53 dat die straf op Hom tot ons vrede en genesing gelei het.
53:9 1 Pet 2:22 Jesus se onskuldige dood word verklaar uit die profesie in Jesaja 53.
60:11,19 Open 21:24-26 Die profesie dat die nasies na die lig van Jerusalem sal kom, word deur Johannes in Jesus en die nuwe Jerusalem verbind.
63:2-3 Open 19:13-15 Die oordeel wat God voltrek oor die nasies soos in Jesaja beskrywe, word in soortgelyke trekke in Openbaring beskrywe. Let op dat dit die Woord van God is, Jesus.
65:17 2 Pet 3:13 Die voorspelling van ’n nuwe hemel en aarde van Jesaja 65 word geëggo in Petrus.
Open 21:1 Ditto in Openbaring.

Jesaja in die briewe van Paulus

Hier is ’n hele aantal aanhalings wat Paulus in sy briewe uit die boek van Jesaja maak.  Geniet dit, en fokus op een of twee wat jou tref.
Jesaja Paulus se briewe Kort Beskrywing
1:9 Rom 9:29 Paulus gebruik hier die oorblyfsel motief om die genade van die Here te beklemtoon aangehaal uit Jes 1.
8:14 Rom 9:32-33 Paulus gebruik hier die klip motief (uit Jes 8; 28) om beide die struikeling van dié wat hulle vertroue op eie prestasies geplaas het te verkondig, sowel as die redding vir dié wat wel op die Messias (klip) vertrou het.
10:22-23 Rom 9:27, 28 Paulus gebruik hier steeds die oorblyfsel motief om die oordeel van die Here te beklemtoon, aangehaal uit Jes 10.
11:10 Rom 15:12 Paulus bevestig die visie van Jesaja dat die Messias se boodskap ook vir die nasies bedoel is.
25:8 1Kor 15:54 Paulus gebruik hier die prentjie van die feesmaal vir al die  volke wat sal insluit dat die dood vernietig word.
28:11-12 1Kor 14:21 Paulus haal hier uit Jesaja 28 aan, hoewel hy sê dat dit in die wet staan.  Hy verwys waarskynlik na Deut 28:49 wat soortgelyke gedagtes opper: dat God deur vreemdes met hulle sal praat (Assiriërs), maar dat hulle tog nie sal luister nie.  Daarmee probeer hy die oneffektiwiteit van ‘n spreek in tale uitdruk, wat sonder uitleg niemand in die gemeente kan baat nie.
28:16 Rom 9:33 Sien Jes 8:14 wat dieselfde gedagte uitdruk.
Rom 10:11 Hier gebruik Paulus die aanhaling om die betroubaarheid van Jesus te bevestig vir elkeen wat in Hom glo.
29:10 Rom 11:8 Paulus kombineer hier Jes 29:10 met Deut 29:4 om Israel se stompsinnigheid ook in sy tyd te bevestig.
29:14 1Kor 1:19 Paulus gebruik hierdie aanhaling om te verklaar dat God nie aanpas by die wysheid van mense nie.  Geloof in Christus bewerk verlossing, nie geleerdheid nie.
29:16 Rom 9:20 Die bekende beeld van die pottebakker en die klei om die verhouding van God met Israel uit te druk uit Jes 29 (vgl ook Jes 45) word hier ingespan om Sy soewereiniteit te beklemtoon.
40:13 Rom 11:34 Paulus haal onder andere vir Jes 40 hier in om te verklaar dat God nie raad van enigiemand nodig het om tot ’n besluit te kom nie.  Dit bewys die Skepping.
1Kor 2:16 Paulus gebruik dié aanhaling vir dieselfde doel ook in 1 Korintiërs 2.
45:9 Rom 9:20 Sien Jes 29:16.
45:23 Rom 14:11 Paulus gebruik die profesie van Jesaja 45 om te verklaar dat alle mense uiteindelik voor God sal buig.
Fil 2:10, 11 Ditto
49:8 2Kor 6:2 Paulus span die belofte van gebedsverhoring vir die dienaar van die Here in Jes 49 in om dieselfde boodskap aan gelowiges te gee – dat God gebede verhoor, vandag nog.
52:5 Rom 2:24 Die hartseer werklikheid is dat ongehoorsame gedrag, selfs van dié wat voorgee dat hulle die wet nakom, aanleiding gee tot die lastering van God deur die heidennasies.  Dit het God reeds van die ballinge in Jesaja se tyd gesê.
52:7 Rom 10:15 Die wonderlike boodskap van vrede waarvan Jesaja 52 praat, word verbind aan die evangelieverkondiging van die NT tyd.
52:11 2Kor 6:17 Die opdrag om uit Babel terug te keer, word op die gelowiges van toepassing gemaak deur hulle aan te spreek om niks met afgode te doene te hê nie.
52:15 Rom 15:21 Paulus het in hierdie profesie sy eie roeping gevind om die evangelie te bring aan diegene wat nog nie van Christus gehoor het nie.  Dit het konings en hooggeplaastes ingesluit soos ’n mens inderdaad in Handelinge lees.
54:1 Gal 4:27 Paulus gebruik die profesie van Jesaja 54 wat die toekoms van Israel ná die ballingskap  beskryf as ’n tyd van vrugbaarheid en voorspoed, en pas dit toe op die toestand wat sal heers in die nuwe Jerusalem.
59:17 Ef 6:17 Paulus gebruik die beeld uit Jesaja 59 oor die helm van geregtigheid (iets wat God dra) en pas dit toe op die wapenrusting wat in geestelike oorlogvoering gedra word.
59:20-21 Rom 11:26, 27 Paulus gebruik die belofte dat die Redder uit Sion dié van Israel wat hulle tot hom sal bekeer.  Dit is die manier waarop Israel vandag nog in die koninkryk kom, deur in Christus te glo.  Daar is nie ‘n ander manier waardeur dit moontlik is nie.
64:4 1Kor 2:9 Paulus gebruik hier ’n samestelling van ’n hele aantal tekste om die punt te maak dat God die geheim van die kruis goed bewaar het.  Dit is Sy geskenk aan dié wat Hom liefhet.
65:1-2 Rom 10:20, 21 Paulus gebruik hierdie aanhaling om die halsstarrigheid van die volk te kontrasteer met die gemak waarmee die  heidene God gevind het, toe Hy Hom aan hulle openbaar het.

Jesaja in Handelinge

Vandag is daar net ’n paar gedeeltes om te lees.  Probeer dus elkeen in sy konteks lees.

Hier is die gedeeltes – weereens kronologies soos die in die boek Jesaja voorkom:

Jesaja Handelinge Kort beskrywing
6:9-10 28:26, 27 Paulus is in Rome en maak – soos Jesus – die profesie van Jesaja, dat die Jode nie sal luister nie, op die ongelowige Jode van toepassing
49:6 13:47 Paulus en Barnabas neem die beskrywing van die roeping van die dienaar van die Here as ’n opdrag aan hulleself om die evangelie na die heidense nasies te neem.  Let op hoe bly die heidene daaroor is, en hoe suur die Jode reageer.  Dit funksioneer dus as ‘n soort roepingsteks vir hulle.
53:7-8 8:32, 33 Die Etiopiese amptenaar lees die gedeelte oor die Lydende dienaar van die Here en vra vir Filippus om dit vir hom uit te lê.  Filippus bedien dan die evangelie van Jesus Christus aan die hand van dié gedeelte.
55:3 13:34 Paulus en Barnabas gebruik Jesaja se beklemtoning van God se betroubaarheid – Hy kom sy beloftes na – en pas dit toe op die opstanding van Jesus – God het Jesus opgewek.
66:1-2 7:49, 50 Stefanus spaar nie sy Joodse aanklaers nie, en wys hulle op hulle eie heilige boek, Jesaja, wat sê dat God nie in ’n tempel wat met hande gebou is, kan bly nie. Hulle hardkoppigheid ken egter geen perke nie, en hulle wil nie na die lewende Here luister nie, soos Hy nou in Jesus geopenbaar is nie, eerder hulle tradisies in stand hou.

’n Paar opmerkings:

  1. Lukas haal interessant genoeg in beide sy evangelie en die Handelinge meer uit die tweede deel van Jesaja aan as uit die eerste deel.  Ek wil nie veel daarin lees nie, maar die temas van die Lydende Dienaar van die Here, en die opdrag om ’n lig vir die nasies te wees, pas natuurlik baie goed in by die 2 reisverhale wat hy skryf – in die evangelie van Lukas, die reis van die platteland na Jerusalem waar die Lydende Dienaar van die Here, Jesus, die hoogste prys betaal, en in die Handelinge, die reis van Jerusalem na die wêreld (Rome) waar gelowiges ’n lig vir die nasies is tot vandag toe nog.
  2. Die onbegrip van ongelowiges, en nog dieper van dié wat dink hulle glo, is ’n baie groot werklikheid.  Jesus moes daarmee rekening hou, en het ook doelbewus gelykenisse gebruik, om nie sy pêrels vir die swyne te gooi nie.  Paulus moes gedurig daarmee rekening hou, en in ’n sekere sin sorg dit dat hy by sy eintlike roeping uitkom, om die evangelie aan die heidense nasies te verkondig.  God is aan die werk, selfs in die onbegrip van mense, om sy plan uit te werk.  En eerder as om daarteen te stry of mense te verkwalik, moet ’n mens God se hand daarin probeer raaksien en daarop reageer.

Jesaja in die evangelies

Hier is ’n aantal verwysings uit Jesaja wat in die evangelies aangehaal word.  Ek het die orde van Jesaja gekies en ’n kort beskrywing langsaan geplaas.  Neem so 2 of 3 van die verwysings en lees dit deeglik in konteks sodat jy kan agterkom hoe die evangelieskrywer die gedeeltes uit Jesaja aangewend het.

Daarna kan jy my opmerkings aan die onderkant lees, oor wat my getref het.

Jesaja Evangelies Kort beskrywing
6:1-3 Joh 12:41 ’n Verwysing na Jesaja se visioen
6:9, 10 Matt 13:14 Die doel van die gelykenisse – jy kan net die betekenis sien binne ’n verhouding met Jesus
Mark 4:12 Ditto
Luk 8:10 Ditto
Joh 12:40 Die wondertekens van Jesus kan net binne ’n verhouding met Hom verstaan word – tog het daar sommige Fariseërs tot geloof gekom
7:14 Matt 1:23 Die profesie van die maagd wat swanger word
9:1, 2 Matt 4:14-16 Jesus het gaan bly in Kapernaum, in die gebied van Sebulon en Naftali – ’n vervulling van die profesie
29:13 Matt 15:8, 9 Jesus spreek die Fariseërs aan dat hulle tradisies nakom wat God se Woord ontkrag – hulle hart is ver van God af
Mark 7:6, 7 Ditto
40:3-6 Matt 3:3 Johannes die Doper as die voorbereider van Jesus se koms – die stem wat roep in die woestyn: Maak vir die Here ’n pad …
Mark 1:2, 3 Ditto
Luk 3:4-6 Ditto
Joh 1:23 Ditto
42:1-4 Matt 12:17-21 Jesus belet sy dissipels om in die openbaar te praat, in vervuling van die profesie oor die Dienaar van die Here, waarskynlik om te keer dat Hy te vinnig bekend raak, en Hy nie meer met sy werk kan voortgaan nie
49:6 Luk 2:32 Simeon haal by Jesus se besnydenis hierdie teks aan om van Jesus as die lig van die nasies te praat
53:1 Joh 12:38 Dieselfde boodskap as by Johannes 12:40 wat uit Jesaja 6:9-10 aanhaal
53:4 Matt 8:17 Jesus maak siekes gesond en dryf bose geeste uit in vervulling van die profesie uit Jesaja 53
53:12 Mark 15:28 Sommige manuskripte voeg by:  Daarmee is die Skrifwoord vervul wat sê: “Hy is as misdadiger beskou.”
54:13 Joh 6:45 Jesus sluit aan by Jesaja se profesie dat almal deur God geleer sal wees, en verklaar dat dit juis diegene is wat na Jesus toe kom
56:7 Matt 21:13 Jesus jaag die mense wat handel drywe in die tempel uit sy “huis van gebed”
Mark 11:17 Ditto
Luk 19:46 ditto
61:1, 2 Luk 4:17-19 Jesus lees dié teks by sy eerste publieke optrede – dit vorm sy roepingsteks
66:24 Mark 9:44 Sommige manuskripte voeg by: “Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

Wat my tref:

  1. Jesaja 6 – Die Here se opdrag in Jesaja 6 om die volk traag van begrip te maak sodat hulle nie hoor nie word in Markus 4:12 geëggo.  Paulus het ook een en ander daaroor te sê in sy brief aan die Romeine (9-10).  Insig in wat God doen, is nie teoreties of van ’n afstand af beskikbaar nie.  Dit is slegs toeganklik vir dié wat glo en in ’n verhouding met Hom staan.  Dit is ’n ongelooflike belangrike ding – selfs vir ons as gelowiges: God se werk is net sigbaar in die geloof.  Dit beteken dat ons na gebeure kyk en God se hand daarin bespeur, terwyl ander dink dat dit toevallig is.
  2. Jesaja 7 – Die teken aan Agas in Jesaja 7:14 – “’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel  noem” – word in Matteus 1:23 met die geboorte van Jesus uit Maria as vervulling daarvan geskets – “’Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.’ Die naam beteken God by ons.”  Hieruit is die geloofsbelydenis “gebore uit die maagd Maria” ontwikkel.  Interessant dat dit nie ’n groot kwessie was vir die Bybelskrywers nie. Markus, Johannes, Lukas en selfs Paulus vermeld dit nie eers nie.  Dit doen nie afbreek aan die belydenis nie, maar noop ’n mens om tog versigtig te wees om met te veel absoluutheid te praat oor die “maagdelike geboorte”  veral aangesien daar net een teks is wat as bewysplaas vir só ’n belangrike standpunt en belydenis gegee kan word.  Wat egter belangriker is, is dat Jesus se geboorte, lewe, dood, opstanding, hemelvaart, voorbidding nou vir ons ensovoorts baie sterk Bybelse verwysings het wat ons geloofsbelydenis oor Hom ondersteun.  Hy is die moeite werd om aan vas te klou.  Maria verdien ons respek, Jesus ons aanbidding.
  3. Jesaja 29 – Die Here se oordeel oor die volk in Jesaja 29:13 dat hulle mond naby aan Hom is, maar hulle hart ver, word in Markus 7:6-7 geëggo met die verdere kommentaar: “Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.“  Ek vermoed ons sit almal met goed uit die verlede wat vir ons sterk oortuigings is, wat nie noodwendig die toets van die Skrif sal kan deurstaan nie.  En dan is die uitdaging nog boonop, om nie net te praat oor die Here en hoe ons moet lewe nie, maar dit inderdaad en van harte te doen.  Dit is miskien die diepste probleem vandag, dat mense, en ek praat nou van gelowiges, nie vanuit ’n deurleefde verhouding met die Here leef en praat nie.
  4. Jesaja 40 – Die oproep tot voorbereiding vir die koms van die Here in Jesaja 40:3 – “Iemand roep: ‘Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God!’” – word aan die bediening van Johannes die Doper verbind in al 4 evangelies: Markus 1:2-3; Matteus 3:3; Lukas 3:4-6; Johannes 1:23.  Markus verbind ook Maleagi se voorspelling van ’n boodskapper (die Verbondsengel) wat die pad voor God sal regmaak aan Johannes die Doper se bediening (3:1).  Ek het nog altyd gewonder oor die klem op hierdie voorbereiding – kon Jesus nie maar net gekom het en gedoen het wat Hy gekom het om te doen nie?  En nou uit die hoek van Jesaja kom ek agter, voorbereiding is ’n kritiese element vir die gereedheid vir en aanvaarding van God se werk.  Dit is waarom luister so belangrik is, en die uitsorteer van hindernisse in jou eie lewe – ek praat nou geestelik – dat jy onbelemmerd met God in verhouding kan leef.
  5. Jesaja 53 – Dit bly die sentrum van ons geloof, dat Jesus genesing vir ons menswees se probleme, onder andere siekte, gebring het.  Matteus verbind die profesie aan Jesus se genesingsbediening – Matt 8:17.  Uiteraard is daar goed wat hier regkom, en soms op wonderbaarlike maniere gebeur.  Maar dan is daar ook ander goed wat eers met die nuwe hemel en aarde sal regkom.  En daarvoor kan ons maar net vasklou aan God en wag op sy ingrype.
  6. Jesaja 54 – Jesus haal Jesaja 54:13 in Johannes 6:45 aan wat gesê het dat die enigste standhoudende lering deur God gegee kan word: “Al jou inwoners sal leerlinge van die Here wees, en hulle sal altyd vrede geniet.” Jesus maak dan die punt dat elkeen wat deur God geleer is, Hom as Here sal erken: Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe”.  Hierdie teks moet ’n mens regtig ter harte neem – jy hoef nooit te voel, jy weet nie genoeg nie, of jy het nie ver genoeg geleer , of wat ook al nie.  God leer sy mense en is heeltemal tevrede as Hy met jou in ’n verhouding kan lewe wat ’n effek op jou lewenstyl kan hê.  Die ander goed – kennis, insig, groot dade vir die Here – is net “icing op die koek”, lekker, maar nie noodsaaklik om met God te kan wandel nie.
  7. Jesaja 61 – Lukas vertel in 4:18-19 vir ons dat Jesus Jesaja 61:1-2 as sy roepingsteks geneem het: “omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”  Jesus verklaar die teks as vervuld in Sy persoon en bediening.  Ek sou wat wou gee om te weet hoe dit gebeur het – miskien in die woestyn as deel van die versoeking deur die duiwel, of vroeër toe Hy aan moedersknie en in die sinagoge die Bybel gelees en uiteindelik bestudeer het.  En in ’n sekere sin is dit natuurlik almal van ons se roepingsteks – om om te gee vir jou medemens, en soos Jesaja sê, hom of haar nie aan hul lot oor te laat nie, dit is waarvoor ons in hierdie lewe geroep is.

WEEK 10: Jesaja in die Nuwe Testament

Daar is baie aanhalings uit die boek Jesaja in die NT, sowel as ‘n hele aantal verwysings wat met begrippe en boodskappe uit die boek Jesaja verbind kan word.  Ek konsentreer hier egter net op dié tekste wat redelik duidelik aangehaal word.

‘n Paar opmerkings:

Daar is ‘n hele paar motiewe uit die boek Jesaja wat gebruik word in die Nuwe Testament skrywers se verwoording van hulle eie boodskap.

  • Oorblyfsel motief – Jes 1:9 in Rom 9:29
  • Onbegrip motief – Jes 6:9-10 in Joh 12:37-41
  • Lig motief – Jes 9:1-2 in Mat 4:12-17
  • Padmaak motief – Jes 40:3-5 in Mark 1:2 (al die evangelies) – Johannes die Doper vervul dit
  • Lydende Dienaar motief – 53:1 in Joh 12:38; 53:4 in Matt 8:17; 53:7-8 in Hand 8:32-33; 53:9 in 1 Pet 2:22; 53:12 in Luk 22:37.

‘n Mens kan selfs die boek Jesaja se invloed op Jesus se verstaan van sy roeping daaruit agterkom, veral die baie belangrike Jesaja 61 soos ‘n mens dit in Lukas 4 vind.

Ek sal telkens die Jesaja verwysings gee met die aanhalings of verwysings in die Nuwe Testament.  Julle kan dit net so gebruik, of nog beter, self binne konteks lees in die Nuwe Testament.

Die indeling vir die volgende week se leeswerk is as volg:

Donderdag 24 Maart Jesaja in die evangelies
Vrydag 25 Maart Jesaja in Handelinge
Maandag 28 Maart Jesaja in die briewe van Paulus
Dinsdag 29 Maart Jesaja in die res van die Nuwe Testament
Woensdag 30 Maart Jesaja  afsluiting

Jesaja 66 – Die groot God is ook die naby God

Ons nader die einde van hierdie merkwaardige boek.  Ek hoop dit was vir jou net so ‘n verkwikkende ervaring om hier deur te lees as wat dit vir my was.

Jesaja 66 span die kroon op ‘n reis met God en sy volk deur die loop van meer as 2 eeue, alles gesien deur die bril van die profeet Jesaja en dié wat uit sy skool bygedra het tot die boek.  Op ‘n verruklike manier gee die boek ‘n mens insig in God se wese en werk, sowel as op wat Hy eintlik van mense verwag en waarheen Hy op pad is met sy volk en die wêreld.

Jesaja 66 is opgedeel in twee dele, waarvan die eerste ‘n kort beskrywing van God se grootheid en nabyheid gee, en die tweede ‘n lang beskrywing van die geboorte van die nuwe bedeling gee, wat die impak wat dit op beide die volk (ongelowiges en gelowiges) en die nasies sal hê, uitspel.  Die vraag na die bou van die tempel aan die begin dui waarskynlik op die tyd net voor die tempel in Jerusalem weer herbou is.

66:1-4: God se grootheid in terme van die skepping word in die eerste verse gekoppel aan sy nabyheid in nood aan dié wat berou het oor hul sonde en ontsag het vir God se woord.  Hierdie eienskappe van God beteken egter straf en verskrikking vir dié wat nie na Hom wil luister nie, en hulle eie kop wil volg.

66:5-24: Let op hoe hierdie ongehoorsame en ongelowige mense die spot dryf met dié wat God vertrou en na Hom luister.  Dit is ongelukkig altyd deel van die gesprek in die midde van God se gemeenskap van gelowiges – toe en nou.

God se belofte is egter dat die ongelowiges ontnugter sal word, en dat die nuwe bedeling vir Sion/Jerusalem – as metafoor vir die gelowige deel van die volk – skielik sal aanbreek, soos geboortepyne wat ‘n vrou oorval.

Die keuse van hierdie metafoor skets natuurlik ook die wyse waarop die nuwe in aanskyn kom – dit gaan gepaard met geboortepyne; alles is nie eensklaps volmaak nie, en dit gebeur nie sonder pyn nie.  Maar, belowe die Here, die geboorte sal verseker plaasvind.

Daarom roep Hy almal op om saam met die volk bly te wees, en die vrede te geniet wat God deur en vir die gelowiges verskaf, trouens deur sy eie persoon – God geskets as ‘n moeder – vir hulle sal gee.  Let weereens op hoe belangrik vrede en veiligheid in die nuwe bedeling sal wees.

Soos nou al die patroon in Jesaja geword het, word die impak hiervan op die nasies uitgespel – die nasies sien God se mag in sy hantering van beide die ongelowige (straf) as die gelowige deel (sorg) van sy volk, en stroom na God in Jerusalem toe.  Vir die eerste keer word selfs voorspel dat hulle deel van die uitstuur aksie van die volk sal wees, om ander in te nooi, om dan deel van die hart van die volk van God te raak.  Vreemdes raak selfs priesters en Leviete – iets waarvan Paulus in Efesiërs 2 later sou skryf.  Terloops: Tarsis is waarskynlik in Spanje, Pul (of Put soos die LXX dit het) is in Afrika (Gen 10:6, 13), Lud en Tubal moontlik in Klein-Asië.

En daarmee word die visie van Jesaja 2 gerealiseer, dat Israel ‘n huis van gebed sal wees vir die nasies.  En die nasies word ingespan om die droom waar te maak – soos ons inderdaad deur die afgelope 20 eeue belewe het!

Nuwe Testament

Van die beskrywings van God sowel as van die beelde wat Jesaja hier gebruik word op verskeie plekke in die Nuwe Testament gebruik:

  • Stefanus gebruik Jes 66:1-2 oor die grootsheid van God in sy toespraak voor die Joodse Raad, wat gelei het tot sy marteldood, waar hulle, soos die ongelowiges in die Jesaja teks, nie sy getuienis oor God wou aanvaar nie – Hand 7:49-50.
  • Johannes gebruik Jes 66:7-14 se beeld van die vrou wat geboorte gee om op soortgelyke wyse oor die geboorte van die Messias te praat – Open 12:5.
  • Paulus gebruik ook Jes 66:15 se beeld van God wat in vuur verskyn in sy oordeel en maak dit op die einde van die tye van toepassing – 2 Tes 1:8.
  • Petrus en Johannes sluit weereens onderskeidelik in 2 Pet 3:13 en Open 21:1 aan by die gedagte van ‘n nuwe hemel en aarde waarvan Jes 66:22 (vgl 65:17) vertel.
  • Markus gebruik Jes 66:24 se beeld van die wurm wat nie vrek en die vuur wat nie geblus word nie en maak dit van toepassing op die hel – Mark 9:48.

Jesaja 65 – Terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor

Jesaja gee met hierdie laaste twee hoofstukke, hoofstuk 65 tot 66, die Here se boodskap aan die volk weer, waarmee Hy ook die gebed van Jesaja, wat hy namens die volk gebid het, antwoord.

En die antwoord in hoofstuk 65 is twee-ledig.

  1. Daar sal steeds oordeel wees vir dié wat aanhou om te sondig, maar vir dié wat na Sy wil vra, sal ‘n heerlike toekoms aanbreek – 65:1-16.
  2. Die heerlike toekoms word in eskatologiese trekke geskets as die skep van ‘n nuwe hemel en aarde – 65:17-25.

Oordeel en ‘n heerlike toekoms

65:1-5: Let op hoe God se antwoord beurtelings fokus op die oordeel wat Hy gaan voltrek op dié wat aanhou sondig, sowel as die genade wat Hy gaan bewys aan dié wat na Hom luister.  Om die waarheid te sê, regdeur is luister nogal ‘n sleutel element om God se optrede te verstaan.  Dié wat aanhou sondig, luister doelbewus nie na God nie.  God steek sy hande na hulle toe uit, maar hulle beledig Hom deur liewer soos heidene aan afgode te offer en tussen die grafte na die dooies te luister.  Daarbenewens kom hulle sy voorskrifte nie na nie (varkvleis) en weier dat God naby hulle kom.  Dit is waarom God se toorn oor hulle ontvlam.

65:6-10: God gaan hulle dus straf, en gee wat hulle verdien, terwyl Hy Hom sal ontferm oor die druiwetrosse wat nog sap het – ‘n metafoor vir die oorblyfsel uit Juda – en hulle sal uitkies om die land weer in besit te neem.  By die Saronvlakte na die weste toe sal weer met kleinvee geboer word en by die Akorlaagte na die ooste toe (Dooie See) sal weer lêplek wees vir beeste.

65:11-16: Maar dié wat afvallig geword het van die Here, Hom vergeet het, en offers bring vir Gad en Meni (blykbaar Kanaänitiese geluksgode ), dat dié hulle lot kan bepaal, sal met die dood gestraf word.  Weereens is hulle nie-luister na God, en die uitleen van hulle ore vir ander geluksgode, die motivering vir God se oordeel oor hulle.  Daarom sal God dit met hulle laat sleg gaan (honger ly, dors ly, teleurgestel word, skreeu van pyn, huil van hartseer), terwyl Hy vir sy dienaars sal sorg en ‘n nuwe toekoms sal verseker.

Let op hoe God se verhoring van gebede gekoppel word aan die verhouding waarin Hy met iemand staan: “Elkeen in die land wat om voorspoed bid, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is” (65:16).

Heerlike toekoms

65:17-25: God skep ‘n nuwe hemel en aarde om opnuut bly te kan wees oor sy mense en saam met hulle te leef sonder dat daar rampe of ‘n einde weens ouderdom sal wees.  Let op hoe hierdie nuwe toekoms verandering op alle vlakke belowe:

  • LEWENSVREUGDE: vreugde onder alle inwoners, geen smart of nood, geen kindersterftes, ‘n lang lewe vir almal (100-jariges is jonk!),
  • ARBEIDSVREUGDE: eie druiwe eet, self die vrug van handewerk geniet, nie tevergeefs vermoei nie;
  • VEILIGHEID: veilige huise, veiligheid van rampe, veiligheid as volk, veiligheid tussen diere in die natuur, niks verkeerds word gedoen nie, niks word vernietig nie;

Vreugde en veiligheid – dít is die substansie van die nuwe hemel en nuwe aarde! Hoe wens ek dat dit kan aanbreek, dat ek en my mense vreugde en veiligheid kan ervaar, en dat dit ‘n wêreldfenomeen sou wees.  O hoe wens ek dit nie ook vir Japan wat in dié tyd swaarkry en uiterse smart en onveiligheid ervaar na die skrikwekkende aardbewing, tsunami en al die vernietigende naskokke en ander nagevolge  van die gebeure daar (kern reaktors, elektrisiteitsvoorsiening, water).

Gebedsverhoring

Die wyse waarop die Here hier Jesaja se gebed beantwoord, het natuurlik ook betekenis vir ons eie ervaring van gebedsverhoring.  Wat my tref is die volgende:

  • God wil goed doen, selfs aan dié mense wat Hom nie soek nie. Hy sal uit sy pad gaan om hulle te bereik.  Ons kan ook daarvoor bid.  Selfs in God se oordeel kan daar uitkoms wees, vir dié wat hulle op Hom beroep.  Rut is hiervan ‘n voorbeeld.  Vergelyk my bydrae daaroor: Jesaja 15-17 – Dit kerm in my binneste.  God is nie ’n ontoeganklike afsydige wese nie.
  • God oordeel diegene wat Hom ken, maar Hom nie langer wil erken en na Hom luister nie. Vir ‘n Jeremia het die Here nie verniet eenmaal net voor die ballingskap van die 6de eeu vC gesê nie, selfs al sal die groot intersessors, Moses en Samuel, vra dat Ek my oordeel afwend, sal Ek dit nie doen nie (Jer 15:1).  Daar kom ‘n tyd wat ‘n positiewe antwoord op gebed nie meer gegee kan of sal word nie.  God is nie ‘n onaktiewe wese nie.  Hy tree op waar sy eer in gedrang kom.
  • God doen goed aan mense wat na Hom luister en Hom dien.  Hy antwoord hul gebede.  Daarvan getuig Jesaja hier, en vele ander gedeeltes in die Bybel (vgl bv net Elia in 1 Konings 18-19 en die gevolgtrekking van Jakobus daarop in Jak 5:16-18).  Dit is ook die ervaring van gelowiges regdeur die eeue.  Dit beteken nie dat ‘n mens alles kry presies soos jy dit vra nie, al gebeur dit meer as wat die meeste ongelowiges wil erken. Dit beteken ook nie dat jy alle leed en pyn en lyding gespaar word nie.  Dit sou ‘n tipiese voorspoedsteologie jou belowe, wat egter nie deur Christene se ervarings deur die eeue bevestig word nie.  Lees maar net Hebreërs 11 daaroor.  God is nie ‘n outomatiese slotmasjien wat jou gee net wat jy vra nie.  Hy is soos ‘n pa of ‘n ma wat binne ‘n verhouding vir ons gee wat ons nodig het binne die groter plan wat Hy met die wêreld het.  Die kuns is om nie net vir Hom so goed as moontlik te leer ken en dien nie, maar ook jou behoeftes en begeertes met oorleg na Hom te bring (Fil 4:6-7).  Dan gee Hy vrede in jou hart en jou gedagtes, maak nie saak wat die uitkoms van die gebed is nie.

Jy kan meer oor die onderwerp van gebed lees in my opsomming van die Andrew Murray pryswenner boek (2009) van Vincent Brümmer: What are we doing when we pray? Ek het ook na aanleiding van sy boek ’n kort artikel geskryf oor gebed: Gebed is noodsaaklik,maar nie genoegsaam nie ….

En jy kan ook kyk na my ander bydraes oor Jesaja wat onder andere oor gebed handel: ·  Jesaja 30-31 – Julle krag lê in stil vertroue en gebed ·  Jesaja 36 – Stilwees en vertroue teen ‘n oormag ·  Jesaja 37 – Gebed en vertroue beweeg God tot optrede ·  Jesaja 38 – God sien ons trane raak EN doen iets daaraan.

Nuwe Testament

Die Nuwe Testament sluit by 5 van Jesaja se gedagtes uit hierdie hoofstuk aan:

  • Paulus wy in Romeine 10:20 op voetspoor van Jesaja se gedagtes in Jes 65:1 uit oor God se genade wat nie net aan Israel (Jesaja se punt) bekend gemaak is nie, maar ook aan die nasies (Paulus se uitbreiding daarvan), selfs al het hulle nie daarvoor gesoek nie.  Dit is ‘n wonderlike tekening van God se karakter – Hy sorg dat mense van Hom kennis neem.
  • Paulus erken daarteenoor in Romeine 10:21 dat Israel ongelukkig hulle eie kop gevolg het, en die verdiende loon daarvoor gekry het.  Dit doen hy op voetspoor van Jes 65:2.
  • Paulus praat ook op soortgelyke wyse as Jesaja oor sy werk wat nie tevergeefs sal wees nie, hoewel hy dit meer persoonlik interpreteer terwyl Jesaja die volk se werk in gedagte het – kyk na Fil 2:16 en vergelyk dit met Jes 65:23.
  • Petrus en Johannes sluit onderskeidelik in 2 Pet 3:13 en Open 21:1 aan by die gedagte van ‘n nuwe hemel en aarde waarvan Jes 65:17 vertel.
  • Johannes praat in Open 21:4 op soortgelyke wyse as Jesaja in Jes 65:19 daaroor dat smart en benoudheid sal verdwyn in die nuwe Jerusalem.
%d bloggers like this: