Jesaja 6 – Hoop kom uit ’n afgekapte stomp
Hoofstuk 6 val in drie dele uiteen:
- Die visioen van God se heilige teenwoordigheid oor die hele aarde (6:1-4);
- Die reiniging van Jesaja wat hom voorberei vir sy taak (6:5-7);
- Die gesprek tussen God en Jesaja waarin hy geroep en gestuur word met ’n boodskap van oordeel sowel as ’n stukkie hoop vir die oorblyfsel (6:8-13).
Die gesprek tussen God en Jesaja het sterk raakpunte met temas wat reeds in die eerste 5 hoofstukke aangeroer is, beide in terme van die oordeel as die heil wat God aankondig. Dit dien ook as ’n belangrike inleiding vir die verdere profesieë aan die sterwende Ussia se kleinseun Agas op wie se halstarrigheid God ook met ’n boodskap van oordeel en hoop reageer (hfst 7 vv).
6:1-4 – Ussia (vgl die ekskursus oor hom aan die einde van dié bydrae) was waarskynlik ’n oom of neef van Jesaja volgens ’n Joodse tradisie in die Talmoed. Ussia word ook Asarja genoem in 2 Kon 15 wat moontlik sy geboortenaam was met Ussia sy troonnaam. Hy was ’n goeie koning, wat ’n lang en voorspoedige regering gehad het, hoewel hy aan die einde daarvan met melaatsheid gestraf is weens sy arrogante poging om – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself te neem (2 Kon 15; 2 Kron 26).
In die sterfjaar van Ussia, waar dinge reeds verval het weens Ussia se sonde, en daar groot internasionale bedreiginge is (Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit) sien Jesaja die gesig van God se heerlikheid, sy heiligheid, sy heerskappy. “Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (כָּבֹוד)” – sy heerlikheid is soos ‘n kleed wat swaar oor die aarde hang.
Die serafs (vergelyk ‘n eksursus oor hulle aan die einde van hierdie bydrae) bevestig dit dat die grote God ook op die aarde werksaam is – trouens die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid. Letterlik sê hulle dat God se gewig soos ‘n kleed oor die aarde lê. Die woord wat hier in Hebreeus gebruik word, beteken “gewig” of dan spesifiek “dít wat gewig dra of wat tel” en word dikwels met “Majesteit” of “heerlikheid” vertaal. Met ander woorde: God kan nie geïgnoreer word nie – Hy rus op die hele aarde en op elke persoon – en Hy is te swaar om af te gooi. Vra maar vir diegene wat dit al probeer het!
En die uitstaande kenmerk van dié God, sê die serafs, is sy Heiligheid. Normaalweg verstaan ons heiligheid as apart, afgesonderd, onaantasbaar, maar dit kan as ‘n onweerstaanbare lig (van ‘n ander woord quddushu [ipv qadosh] afgelei) verstaan word wat beteken “om te skyn” of te “suiwer”.
6:5-7 – Daarom dat Jesaja die gesig ervaar as ‘n ontnugterende ervaring. Hy is oorweldig: “Dit is klaar met my!” En hy is bewus van sy en sy volk se onheiligheid: “Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is.”
Ons het ‘n heersende praktiese teologie in die kerk, dat God geen eise stel nie, dat Hy die vriendelike aanvarende goedige kondukteur omie is wat vir ons ‘n kaartjie hemel toe gee en sal sorg dat ons die trein nie verpas nie.
Niks kan verder van die waarheid wees nie. God is heilig – Hy duld nie onheiligheid nie. God is rein – Hy duld nie onreinheid nie.
6:8-13 – En dié God stuur sy mense – Hy duld nie onaktiewe gelowiges nie. In sy oë is hulle slegter as die ongelowiges. In die brief aan die gemeente in Laodisea sê Hy, Hy spoeg sulke mense uit sy mond uit (die 7de brief aan ’n gemeente in Open 3:14-22).
Gen wonder dat Jesaja amper van angstigheid oor sy voete val om gestuur te word! Dit is die teologie wat ons moet aangryp. “ Ek sal gaan, Here” “Hier is ek. Stuur my!”
Eers na sy antwoord besef Jesaja hoe moeilik sy werk as profeet gaan wees – hy moes die totale ondergang van die volk gaan verkondig. Hulle land sou ‘n puinhoop word danksy die oordeel van God (vers 11). Alles sou tot niet gaan. Hy sou lynreg teenoor die heersende koning, sy nefie, standpunt moes inneem. En net om sy werk nóg ‘n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie (vers 9-10)! Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar. Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie. Jesaja se werk as profeet is eerder om hulle verdwaas en deurmekaar te laat (vers 9-10), sodat hulle hulle nie bekeer nie.
Teologies is dit sekerlik die mees problematiese deel van die perikoop. Kan God dit doen? Mense verblind en laat stol in hulle sonde? Ja, vra maar vir Farao (Eks 9:12 ev.). Wat ons moet verstaan, is dat die boodskap van Jesaja hier eintlik alreeds deel van God se oordeel is en nie deel van ‘n uitnodiging tot bekering nie.
Terloops, Jesus haal die verse in Mark 4:10-12 en Matt 13:14-15 aan om op dieselfde wyse sy doel met gelykenisse, en meer spesifiek die gelykenis van die Saaier, te verduidelik! En ook Paulus verwys na dié profesie as hy verduidelik hoekom die evangelie na die heidennasies uitgebrei is, omdat die Jode nie wou luister nie (Hand 28:26-27).
Daar kom dus ‘n tyd dat jy nie meer God se aanbod om bekering kan aanvaar nie. En God stuur ook mense om dit te gaan sê! En hy neem sy boodskap van bekering dan na ander …
Dit torring aan ons heersende idee van God, dat Hy altyd goed is, altyd vergewe, altyd weer ‘n kans gee … en aan wat ons moet sê as ons God se opdrag uitvoer …
Maar dit is nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie. Op die vraag van Jesaja, “Tot wanneer” antwoord die Here, “tot alles verwoes is” … maar vervolg met ‘n boodskap van hoop, dat na die verwoesting, daar ‘n afgekapte stomp sal oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die gewyde geslag, die geslag van die mense van God.
Dat ons enigsins en hoegenaamd glo, is God se werk! Die evangelieskrywer Johannes vertel in verwondering, hoe, ten spyte van die werklikheid van onbegrip onder die Jode met die evangelieverkondiging van Jesus, daar tóg selfs mense van die Joodse Raad was wat tot geloof gekom het, al was dit menslik gesproke onmoontlik (Joh 12:40).
Ons moet dus nie te gou oordeel of ons self as beter ag as ander nie.
In die laaste toneel van die fliek A walk in the clouds, net nadat die wingerd afgebrand het, en almal dink dit is klaar met hulle, hardloop die hoofkarakter (gespeel deur Keanu Reeves) om ‘n stukkie van die wingerd te gaan haal wat nog lewe – ‘n brandende stomp wat oorgebly het. Daarmee bring hy weer hoop vir ‘n nuwe begin.
Geen wonder dat Jesaja se naam is: die Here is Verlossing. Daarin lê die hoop, al is dit ook iets wat groei uit ‘n afgesnyde stomp.
Ekskursus oor Ussia en sy tyd
Ussia was ’n goeie koning wat die grondgebied van Israel wyd uitgebrei het in sy 52 jaar van regering. Hy het Elat, aan die golf van Akaba van die Rooi See, ingeneem en herbou wat die Jode weer ‘n noodsaaklike hawe vir handel na die Ooste gegee! Hy het groot veldslae teen die Filistyne aan die Weste gevoer en van hulle grondgebied aan die Middellandse See ingewin, om ook sy toegang tot die see in die Weste uit te brei. Hy het Jerusalem se mure versterk, die ekonomie laat bloei deur onder andere uitgebreide landbou bedrywighede in die Negev, suid van Jerusalem. Die grense van Juda was weer so groot as in die tyd van Dawid en Salomo.
Maar, Ussia het een probleem gehad. Hy het nie van die hoogtes, die plekke waar die volk nog diereoffers en wierookoffers gebring het aan ander gode, ontslae geraak nie. En die Here het hom gestraf daarvoor met melaatsheid en hy moes die laaste twaalf jaar van sy lewe in ‘n plek van afsondering bly. Sy seun Jotam moes op ‘n baie vroeë ouderdom, net 13 jaar oud, die paleis bestuur en eintlik die hele land regeer.
Op die koop toe, in die sterwensjaar van Ussia, 742 vC – daar is ‘n grafsteen uit die tyd van Christus met sy naam op – het daar nog ‘n paar dinge gebeur wat die stabiliteit ondermyn het.
Peka het in die jaar koning oor Israel geword – die ryk van die 10 noordelike stamme – en die vrede wat daar op die stadium tussen die Israeliete en die Judeërs – die 2 suidelike stamme – geheers het, amper onmiddellik tot niet gemaak en saam met Resin, die koning van die Arameërs, vir Juda ingeval.
Koning Tiglat-Pileser III van Assirië was besig om sy ryk algaande sterk uit te brei. Hy het Israel net hierna ingeval en ‘n stukkie verligting gebring deur Peka se regering onder druk te plaas. Maar hy het ook vir Juda ingeval en algaande onder sy beheer gekry, sodat net 9 jaar later, in 733 vC, Juda ‘n deel van sy ryk was.
Sy opvolger, Salmaneser, het die noordelike stamme van Israel finaal oorwin, hulle hoofstad Samaria verwoes en die 10 stamme van die volk van Israel weggevoer na Assirië. Dit was in die jaar 722 vC. Juda het dié katastrofe vrygespring, maar moes steeds onderdanig aan die Assiriërs bly.
Assirië was die wêreldmoondheid van dié tyd en het op hulle hoogtepunt die hele huidige grondgebied van Iran, die hele Irak, Sirië, Israel, Jordanië, en die boonste deel van Saoedië –Arabië, sowel as die hele Egipte in hulle mag gehad.
Interessant genoeg het die mense in die Weste juis in dié jaar van Ussia se dood begin bou aan Rome, wat uiteindelik oor die groot Romeinse ryk van Jesus se tyd sou heers.
Ekskursus oor die Serafs
Die serafs (שָׂרָף) was vurige of brandende wesens, soms geïdentifiseer met slangvormige wesens, op voetspoor van die giftige slange in Num 21:4 vv, waarvoor Moses ‘n koperslang as genesingsmiddel moes maak. Jesaja self praat ook op ‘n ander plek van serafs, giftige slange, wat kon vlieg, wat hy ook vlieënde drake noem (Jes 14:29 en 30:6). In die Nederlandse vertaling word hulle “bliksemgedaanten” genoem, met as titel vir die perikoop “Jesaja en de Slangewezens”.
Hoe dit ook al sy, dit is vurige wesens wat vir ewig in die teenwoordigheid van God is, altyd besig om Hom te vereer, altyd gereed om te doen wat Hy vra. Serafs is nie dieselfde as die gerubs, engele, wat bv oor die ark gewaak het nie.
Hulle het 6 vlerke – met 2 maak hulle die gesig toe twv die verblindende heiligheid van die Here en met 2 maak hulle die “voete” toe, eufemisme vir hulle privaatdele, wat ‘n verbintenis tot reinheid impliseer en 2 vlerke word gebruik om gereed te wees om God se opdragte uit te voer.
View all posts in this series
- Leesplan Jesaja - January 20, 2011
- Kies ’n Bybellees metode
- WEEK 1 – Jesaja 1-6
- Jesaja 1 – Julle ken My nie
- Jesaja as boek
- Vir dieperdelwers
- Jesaja 2 – geroep as ontmoetingsplek vir die nasies met God - January 21, 2011
- Jesaja die profeet
- Jesaja 3-4 – God se oordeel laat altyd ‘n oorblyfsel - January 24, 2011
- Indeling van die boek Jesaja
- Jesaja 5 – ’n begrafnislied oor verworde mense - January 25, 2011
- Jesaja in die Nuwe Testament
- Jesaja 6 – Hoop kom uit ’n afgekapte stomp - January 26, 2011
- WEEK 2 – Jesaja 7-12
- Jesaja 7 – Uitgenooi van vrees na vertroue - January 27, 2011
- Jesaja 8 – Leef met ontsag en oortuiging - January 28, 2011
- Jesaja 9 – Lig aan die einde van die tonnel? - January 31, 2011
- Jesaja 10 – God se vuur verteer en suiwer - February 1, 2011
- Jesaja 11-12 – God gee nooit moed op nie - February 2, 2011
- WEEK 3 – Jesaja 13-27
- Jesaja 13-14 – God is in beheer van die wêreldgeskiedenis - February 3, 2011
- Jesaja 15-17 – Dit kerm in my binneste - February 4, 2011
- Jesaja 18-20 – God laat nie sy droom vaar nie - February 7, 2011
- Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasies - February 8, 2011
- Jesaja 24-27 – Van tragedie na triomf - February 9, 2011
- WEEK 4 – Jesaja 28-35
- Jesaja 28 – ‘n Oor vir God bring voorspoed - February 10, 2011
- Jesaja 29 – God gee insig vir die nageslag - February 11, 2011
- Jesaja 30-31 – Julle krag lê in stil vertroue en gebed - February 14, 2011
- Jesaja 32-33 – Die Here is ons Koning - February 15, 2011
- Jesaja 34-35 – God bring verandering deur oordeel en redding - February 16, 2011
- WEEK 5 – Jesaja 36-39
- Jesaja 36 – Stilwees en vertroue teen ‘n oormag - February 17, 2011
- Jesaja 37 – Gebed en vertroue beweeg God tot optrede - February 18, 2011
- Jesaja 38 – God sien ons trane raak EN doen iets daaraan - February 21, 2011
- Jesaja 39 – ‘n Gebrek aan onderskeiding - February 22, 2011
- Jesaja 1-39 – ‘n Verspeelde roeping stuit God nie - February 23, 2011
- WEEK 6 – Jesaja 40-48
- Jesaja 40-41 – Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag - February 24, 2011
- Jesaja 42-43 – Die dienaar van die Here leer mense om God te ken - February 25, 2011
- Jesaja 44-45:8 – God is die eerste en die laaste, die enigste God - February 28, 2011
- Jesaja 45:9-46:13 – Die Skeppergod alleen kan red - March 1, 2011
- Jesaja 47-48 – God bepaal die geskiedenis, nie toeval nie - March 2, 2011
- WEEK 7 – Jesaja 49-55
- Jesaja 49-50 – Die dienaar van die Here praat dié wat moeg is, moed in - March 3, 2011
- Jesaja 51:1-52:12 – Omhels ‘n bruikbare toekoms in jou verlede - March 4, 2011
- Jesaja 52:13-53:12 – Oor óns oortredings is Hy deurboor - March 7, 2011
- Jesaja 54 – My liefde vir julle sal nooit vergaan nie - March 8, 2011
- Jesaja 55 – Kom geniet God se genade - March 9, 2011
- WEEK 8 – Jesaja 56-61
- Jesaja 56-57 – Almal is welkom by God - March 10, 2011
- Jesaja 58 – God se mense laat medemense nie aan hul lot oor nie - March 11, 2011
- Jesaja 59 – God sorg dat sy Gees en woorde nie verlore raak vir sy volk nie - March 14, 2011
- Jesaja 60 – Nasies kom na jou lig - March 15, 2011
- Jesaja 61 – ‘n Blye boodskap vir mense in nood - March 16, 2011
- WEEK 9 – Jesaja 62-66
- Jesaja 62 – God se beloftes word in vervulling gebid - March 17, 2011
- Jesaja 63 – Selfs in oordeel kan jy jou op God beroep - March 18, 2011
- Jesaja 64 – Bid dat God nou ‘n verskil maak - March 21, 2011
- Jesaja 65 – Terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor - March 22, 2011
- Jesaja 66 – Die groot God is ook die naby God - March 23, 2011
- WEEK 10: Jesaja in die Nuwe Testament
- Jesaja in die evangelies - March 24, 2011
- Jesaja in Handelinge - March 25, 2011
- Jesaja in die briewe van Paulus - March 28, 2011
- Jesaja in die res van die Nuwe Testament - March 29, 2011
- Jesaja afsluiting - March 30, 2011
- Jesaja – Lees, luister, leef – ePub - February 20, 2014
- Wie is die Dienaar van die Here in Jesaja? - May 16, 2017
johannes
hi Ds
1. Na my twee kinders se afstrewe op ouderdom 19 en 35 het ek n ander siening oor “‘Eer jou Vader en Moeder sodat jou dae verleng mag word”‘ veral as dit gepreek word en voorgestel word dat jou lewe verkort sal word as jy enigsins aan jou ouers ongehoorsaam sal wees. Ps 139-16 se dat my lewens dae bepaal is.
2. Verleng in die teks volgens my beteken nie byvoeg nie soos in die geval van koning Hiskia nie.
Dankie Ds
Chris van Wyk
Hi Johannes
Dit moet verskriklik wees om jou kinders te verloor, maak nie saak op watter ouderdom nie.
Die teks in Eksodus wil ons aanspoor om die Here te dien, omdat Hy ons gekies het om aan Hom te behoort, ook ons kinders. Die teks wil ook vir ons uitspel dat daar gevolge is as ons sy wil vir ons lewe gehoorsaam al dan nie.
Ek dink egter nie ‘n mens moet alle leed wat op aarde is net aan hierdie een teks verbind nie. Die duiwel, ander mense en die verganklikheid van bv. siekte speel ook ‘n rol en tref selfs die gehoorsames.
Vir Christene is die eintlike hoop van die “verlenging” van die lewe in die ewige bestaan by God geleë. Daarom kan ‘n kind selfs by geboorte sterf, en ek wonder selfs of dit nie vóór geboorte geld nie (maar is nie seker daarvan nie), en kan ons die Here vertrou dat Hy die beste vir ons en ons kinders bedoel.