Jesaja 56-57 – Almal is welkom by God

Jesaja borduur voort op die tema van die nasies en:

  1. wys hoe ander mense ingesluit word in die gemeenskap van die gelowiges – 56:1-8 en
  2. spreek ‘n skerp oordeel oor lui leiers uit – 56:9-12.  Dit volg hy op met
  3. ‘n ongelooflike diepsinnige bespreking van die voorkoms van boosheid in die wêreld, wat manifesteer in die wellustige dien van afgode – 57:1-13 en
  4. ‘n oproep op die regverdiges om gereed te maak vir die uitkoms wat God gaan bring – 57:14-21.

Hoofstuk 56

56:1-8: Dit is darem ongelooflik dat die Here soveel moeite moet doen om mense te oortuig om die regte ding te doen!  ‘n Mens sou dink dat dit ‘n natuurlike keuse moes wees, om die regte ding eerder as die verkeerde te doen!  Maar, helaas, dit is nie so nie, wat aandui dat daar so iets soos die sondeval moes wees wat dié geneigdheid van mense om die verkeerde doelbewus te kies, kan verklaar.

Let op dat regdoen hier nie ‘n verdienstelike karakter aanneem nie, maar ‘n voorbereidende karakter, soos ons dit reeds in hoofstuk 40 aangetref het.  Omdat God se verlossing aan die kom is, roep die profeet die volk op om reg te laat geskied in die gemeenskap en self reg te doen.

Regdoen word hier uitgespel as die onderhouding van die sabbat (56:2 [vir almal], 4 [vir die ontmandes], 6 [vir die nie-Israeliete]), die eerste keer dat ons dit in Jesaja aantref.  Dit speel ook ‘n belangrike rol in 58:13 as deel van die proses om vreugde in die Here te vind en die land weer in besit te neem.  En in 66:23 word dit (saam met die nuwemaansfees) as ‘n simbool van die gefokusde aanbidding van God in die bedeling van die nuwe hemel en aarde gebruik.

Let ook op die verstommende hoopvolle belofte wat oor die nie-Israeliete sowel as die ontmandes uitgespreek word.  Nie-Israeliete is baie keer uitgesluit  van die volk en die tempelgemeenskap weens die gevaar van afgodsdiens (Esra 9:1; Neh 9:2), hoewel mense soos Rut en Ragab wel weens hulle verbintenis aan God toegelaat is in die volk.  Nou word hulle volledig toegelaat.

Ontmandes is egter altyd uitgesluit (Deut 23:1; Lev 21:20).  Teenoor die voorskrifte van die wet word hulle dus nou ingesluit in die verbond. In taal wat herinner aan wat Johannes veel later in Openbaring sou skryf (bv. 2:17; 3:5, 12 [“Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.”]; 20:15; 22:4) word hulle nou deel van die volk van God.  In die Nuwe Testament word die Etiopiese finansiële amptenaar dus sonder enige probleem ingesluit in die gemeenskap van die gelowiges (Hand 8).

Dit tref my hoe die tempel – met al die nie-Israeliete en al die ontmandes daar – tot ‘n huis van gebed vir al die volke uitgeroep word, wat vreugde aan hulle sal verskaf (56:7 – vgl Salomo wat alreeds hieroor gepraat het in sy gebed by die inwyding van die tempel en eintlik gebed as die primêre funksie van die tempel uitgespel het).  En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus se woede met die tempelreiniging waar  hy die handelaars verkwalik het dat hulle dié droom van God in gevaar gestel het (Matt 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46).

Ekskursus oor die sabbat

Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1).  Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Deut 5).  Dit was dus die teken van die verbond (Eks 31:16).  Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev 23).

Die sabbat is met nuwe inhoud gevul in die tyd van die ballingskap, waar dit eintlik ‘n nog meer prominente betekenis gekry het as van te vore, veral omdat Israeliete nie meer by die tempel kon kom nie.  Die sabbat het dus ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk saamgebind is, sowel as ‘n godsdiensbevestigende funksie, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie.  Vandaar die baie belangrike opdrag in Jesaja hier rondom.

Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En oor die volgende paar eeue het die Fariseërs ‘n magdom wette van die korrekte nakoming van die sabbat geskep.

In die Nuwe Testament relativeer Jesus hierdie reëlbeheptheid deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark 2:27; Joh 5 [genesing van die man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag]).  Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word.

Daarom is die sabbat ook nie voorskriftelik gemaak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand 15), omdat dit van heidense gelowiges Jode sou maak, en die evangelie daardeur ingeperk en eksklusief gemaak sou word.  Paulus het daarom gelowiges aangeraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak  nie (Kol 2:16), ‘n opdrag wat ons gerus vandag ook kan handhaaf wanneer mense hieroor verkeerde interpretasies versprei:

16Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie a, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.” (NAV) Vgl. ook Rom. 14:1–14:12.

Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark 16:2; Matt 28:1; Luk 24:1; Joh 20:1) te vier.

Terloops, Johannes het die eerste dag van die week die eerste keer “die dag van die Here”(Open 1:10) genoem, wat deur latere vroeg-kerklike geskrifte verklaar is as die eerste dag van die week (bv. die Didage), en wat later Sondag genoem is op voetspoor van die Romeine.

Die Christene het dus begin om die nagmaal op Sondae te vier (Hand 20:7) en die dankoffer in te samel (1 Kor 16:2).  Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword, ‘n gebruik wat tot vandag toe die hoofstroom keuse is.

56:9-12: Laat alle leiers kennis neem van dié gedeelte!  Let op dat Jesaja leiers (herders) oproep om 1) te waak oor volgelinge, 2) insig te bekom oor die beste pad vorentoe, en 3) nie op eie voordeel ingestel te wees nie.  Luiheid – soos Karl Barth gesê het – is die primêre sonde (hoewel ek dink Jesaja sê hoogmoed troef dit).

Hoofstuk 57

57:1-13

Ek kan nie onthou wanneer ek laas so ‘n helder uitspraak gelees het oor hoekom sleg goed met goeie mense gebeur nie.  Kort en kragtig sê Jesaja dat dit  “deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf.” (57:1).  Dit is nie hulle eie skuld nie, en dit is nie vanweë die Here nie.

En die hoop waarmee hulle sterf word net so kort en kragtig uitgespel: “dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf” (57:2).  God bewaar hulle nie noodwendig van die gevolge van die boosheid nie, maar in die ongeluk wat hulle tref.

Laat my dink aan Jesus se saligspreking: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”.

En na die diep hoopvolle uitspraak word die probleme van goddelose rebelle en wellustige afgodsdienaars uitgespel (wat selfs nie terugdeins van kinderoffers vir Molek [’n oud-Semitiese en ook Feniciese god] nie) – niemand kan hulle van hul eie boosheid red nie, omdat hulle God versaak het.  Watts noem dié uitsprake oor hulle: The Dark Side of Jerusalem.

Let op dat hulle soektog na sin en betekenis vrugteloos is, maar dat die feit steeds nie genoeg is vir hulle om daarvan afstand te doen nie. Die rede?  Die gratifikasie van wellus (vers 10) en vrees (vir die afgode se wraak) wat hulle vals gemaak het (11).

57:14-21

Maar vir dié wat in nederigheid hulle aan God onderwerp, is daar uitkoms.  Let op dat hulle gereed moet maak vir die uitkoms deur struikelblokke te verwyder.

God word hier geteken as die vergewensgesinde en genesende God, wat sondes nie vir altyd toereken nie, en nie vir altyd toornig bly nie.  Anders sou mense dit nie gemaak het nie!  Sy krag verander hulle lot, en gee aan hulle vrede, terwyl die goddelose verder sal krepeer in onvrede.

View all posts in this series

Jesaja, Sabbat


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: