Skip to main content

Jesaja 47-48 – God bepaal die geskiedenis, nie toeval nie

In hoofstuk 47 kondig God vir die tweede keer die val van Babilon aan (47:1-15; vgl ook 46:1-2).  Hulle word hier ook die Galdeërs genoem.  Galdië was die naam van ‘n streek in die weste van Mesopotamië wat die Nieu-Babiloniese ryk gevorm het, met Nebukadnesar die bekendste koning.  Hulle status word van bedorwe (fyn jong vrou [betulâ] wat altyd haar sin kry) na bediende (maal meel) verander.  In die Nuwe Testament sal Babilon as ’n simbool vir die mensdom (en die hoofstad van die tyd, Rome) se opstand teen God gebruik word (Open 16:19; 17:5; 18:10, 21).

Dit bly vir my insiggewend hoe die Here verwag dat daar medelye sal wees met dié wat jy oorwin, selfs al word jy deur die Here aangestel om te heers (47:6).  Een van die redes daarvoor – God se deernis is die belangrikste rede – is dat regerings moet kennis neem dat hulle net vir ’n tyd bestaan en dat dit beteken hulle moet hulle voorberei op hoe die verhouding sal wees met hulle ondergeskiktes wanneer hulle nie meer die mag in eie hand het nie.

Dit is egter moeilik om te doen, veral as jy dink jy is die kat se snorbaard, by wyse van spreke, en in hoogmoed jou aanstel oor dié wat jou minderes is.  Juis dan is jou val egter naby, soos ons nou prakties in die Midde-Ooste en die Noorde van Afrika sien gebeur; iets wat Jesaja al vir die Galdeërs geleer het, maar waarop hulle nie ag geslaan het nie.  Daniël brei uitvoerig later hieroor uit, maar dit vir ’n ander dag.  Wat jy nalaat, haal jou in, net soseer as dít wat jy wel doen.

Die klem val in hoofstuk 48 op die hardkoppigheid van Israel wat sy verlossing nie sonder meer wil aanvaar nie (48:1-19; vgl ook 46:3-13).  God se aandag aan profesieë word hier verklaar as ’n manier om ’n hardkoppige volk te oortuig dat die ontplooiing van die geskiedenis nie maar toevallig is nie; sodat hulle later kan sien, maar wat nou gebeur is al die tyd vroeër alreeds aangekondig.

Let op hoe God Homself en wat Hy doen in die Geskiedenis TEENOOR die interpretasie van toeval opstel.  God en nie toeval nie, is besig in die geskiedenis.  Hy alleen is God.  Dié perspektief is ook belangrik vir die debat oor evolusie – God en nie toeval nie, is die aktiewe agent in die proses, soos ons in 48:13 bv. sien.

Die Here herinner hulle daaraan dat ballingskap een van sy maniere van onderrig was, maar dat dit nie die enigste is nie.  Hulle sou in die eerste plek hulle ore kon oopmaak en luister na Sy wil vir hulle lewe, en hulle redding sou so onkeerbaar soos ’n rivier of soos die golwe van die see gewees het.  Maar hulle wou nie.

God pleit dus by sy volk om te vlug uit Babilon, terug na die Beloofde Land (48:20-22).  Dit moet dien as ’n stuk getuienis wat die hele aarde laat uitbars in lof.  Soos met die eerste Uittog uit Egipte deur die woestyn waar God vir hulle water gegee het, sal Hy nou weer vir hulle sorg met die tweede Uittog uit Babilon.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar