Jesaja 52:13-53:12 – Oor óns oortredings is Hy deurboor

Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerends in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.

Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Gandhi, moeder Theresa, Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.

En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur en nou onlangs in Egipte, Tunesië en Libië wat ‘n enorme effek op die regerings gehad het, en reeds tot die val van die eerste twee gely het – dié inspireer ons.

En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here.

Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie.  Baie mense sal ontsteld wees oor sy voorkoms en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie.  Terloops, 52:13 se “voorspoedig wees” kan ook vertaal word met  “wys wees” wat beter in die konteks inpas.

Maar dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes.  Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na Sy pad toe.

Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy die hoogste prys betaal – “afgesny uit die land van die lewendes … graf gekry by goddeloses … by sondaars in sy dood” – (53:8-10a) EN daarna nog lank sal lewe (53:10b-11).  Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die opstanding uit die dood van hierdie dienaar van die Here.  En God aanvaar sy skuldoffer (53:10 – vgl Lev 5:14-6:7 waar die offer selfs vir onopsetlike sondes voorgeskryf word) as ‘n losprys vir baie.

Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (53:7) terwyl hy vir oortreders bid (53:12).  Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jes 30 waar stilwees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is.  Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan Hom die ereplek gee onder die grotes en magtiges (53:12).  Want die geduld in lyding dra groot vrug.

Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: 53:1 in Joh 12:38; 53:4 in Matt 8:17; 53:7-8 in Hand 8:32-33; 53:9 in 1 Pet 2:22.

Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: bv. 53:12 in Luk 22:37.

Voetnota: Verbasend baie geleerdes identifiseer steeds hier die dienaar as Israel (korporatiewe interpretasie), terwyl dit regdeur duidelik is dat dit ‘n individu is wat ter wille van ander ly, en dan ook nog spesifiek ter wille van die volk van Israel (53:8).

View all posts in this series

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Beste Chris

    Jesaja 53. Daar is verwysings na Israel as volk (dienaar): In ballingskap lyk jy nie normaal en is verwaardeloos, hul is in vreemde grafte begrawe (ongelowiges), is geslaan en niemand wou na hul kyk of aan hul dink, so ook sou konings oor hul dink en wonder waar is die God wat hul bevry het en hoekom is hul nou slawe…? Dan natuurlik is daar Jesus en die skrifverwysings in NT wat se dit word in vervulling. Tog blyk dit in jou verklaring dat jy “huiwer” om dit aan Jesus te koppel?
    Is beide korrek of was dit ‘n voorspelling, want die aansluiting by wat Jesaja voor dit gese het, maak die konneksie onduidelik. Sommer skielik is die verwysing na Jesus daar en ek weet die Woord is volmaak en alles v/d OT na die NT is in lyn met mekaar en parallele is duidelik te sien.
    Wat is die regte verklaring v/d gedeelte asseblief?

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: