Sabbat
Ek het ‘n navraag gekry oor die Sabbat. Hier is ‘n paar opmerkings daaroor wat ek vroeër by Jesaja 56 geplaas het:
Ek het ‘n navraag gekry oor die Sabbat. Hier is ‘n paar opmerkings daaroor wat ek vroeër by Jesaja 56 geplaas het:
‘n Lied vir die sabbatdag
Die titel val op – ”n Lied vir die sabbatdag” – die enigste Psalm in die Hebreeuse grondteks wat só ‘n titel het.
In die Griekse vertaling van die Psalms is daar egter sewe Psalms wat só aangedui word, in volgorde vir die “sabbatsweek” of “Fees van die weke”. Ons lees daarvan in Eks. 34:22, Deut. 16:10,16, Num. 28:26, en Lev. 23:15. Dit is gehou sewe weke ná die Paasfees, wat gelei het daartoe dat die naam van “Pinkster” (die woord beteken “vyftig”) mettertyd aan dié fees gekoppel is. Dit is natuurlik ook die dag wat die Heilige Gees in die NT tyd uitgestort is.
By dié feesgeleentheid is die sewe Psalms voorgeskryf: Psalm 24; 48; 82; 94; 81; 93; 92. Ek gee hier die skakels na dié Psalms:
Kies dus gerus vir jou hierdie jaar ‘n week in Julie om jou eie “sabbatsweek” te hou en lees agtereenvolgens die sewe Psalms van Sondag tot Saterdag (tradisioneel die sabbatsdag). elke dag ‘n volgende een. Volgende jaar kan jy dit miskien doelbewus in die Pinksterweek doen!
Jesaja borduur voort op die tema van die nasies en:
Hoofstuk 56
56:1-8: Dit is darem ongelooflik dat die Here soveel moeite moet doen om mense te oortuig om die regte ding te doen! ‘n Mens sou dink dat dit ‘n natuurlike keuse moes wees, om die regte ding eerder as die verkeerde te doen! Maar, helaas, dit is nie so nie, wat aandui dat daar so iets soos die sondeval moes wees wat dié geneigdheid van mense om die verkeerde doelbewus te kies, kan verklaar.
Let op dat regdoen hier nie ‘n verdienstelike karakter aanneem nie, maar ‘n voorbereidende karakter, soos ons dit reeds in hoofstuk 40 aangetref het. Omdat God se verlossing aan die kom is, roep die profeet die volk op om reg te laat geskied in die gemeenskap en self reg te doen.
Regdoen word hier uitgespel as die onderhouding van die sabbat (56:2 [vir almal], 4 [vir die ontmandes], 6 [vir die nie-Israeliete]), die eerste keer dat ons dit in Jesaja aantref. Dit speel ook ‘n belangrike rol in 58:13 as deel van die proses om vreugde in die Here te vind en die land weer in besit te neem. En in 66:23 word dit (saam met die nuwemaansfees) as ‘n simbool van die gefokusde aanbidding van God in die bedeling van die nuwe hemel en aarde gebruik.
Let ook op die verstommende hoopvolle belofte wat oor die nie-Israeliete sowel as die ontmandes uitgespreek word. Nie-Israeliete is baie keer uitgesluit van die volk en die tempelgemeenskap weens die gevaar van afgodsdiens (Esra 9:1; Neh 9:2), hoewel mense soos Rut en Ragab wel weens hulle verbintenis aan God toegelaat is in die volk. Nou word hulle volledig toegelaat.
Ontmandes is egter altyd uitgesluit (Deut 23:1; Lev 21:20). Teenoor die voorskrifte van die wet word hulle dus nou ingesluit in die verbond. In taal wat herinner aan wat Johannes veel later in Openbaring sou skryf (bv. 2:17; 3:5, 12 [“Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.”]; 20:15; 22:4) word hulle nou deel van die volk van God. In die Nuwe Testament word die Etiopiese finansiële amptenaar dus sonder enige probleem ingesluit in die gemeenskap van die gelowiges (Hand 8).
Dit tref my hoe die tempel – met al die nie-Israeliete en al die ontmandes daar – tot ‘n huis van gebed vir al die volke uitgeroep word, wat vreugde aan hulle sal verskaf (56:7 – vgl Salomo wat alreeds hieroor gepraat het in sy gebed by die inwyding van die tempel en eintlik gebed as die primêre funksie van die tempel uitgespel het). En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus se woede met die tempelreiniging waar hy die handelaars verkwalik het dat hulle dié droom van God in gevaar gestel het (Matt 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46).
Ekskursus oor die sabbat
Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1). Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Deut 5). Dit was dus die teken van die verbond (Eks 31:16). Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev 23).
Die sabbat is met nuwe inhoud gevul in die tyd van die ballingskap, waar dit eintlik ‘n nog meer prominente betekenis gekry het as van te vore, veral omdat Israeliete nie meer by die tempel kon kom nie. Die sabbat het dus ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk saamgebind is, sowel as ‘n godsdiensbevestigende funksie, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie. Vandaar die baie belangrike opdrag in Jesaja hier rondom.
Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En oor die volgende paar eeue het die Fariseërs ‘n magdom wette van die korrekte nakoming van die sabbat geskep.
In die Nuwe Testament relativeer Jesus hierdie reëlbeheptheid deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark 2:27; Joh 5 [genesing van die man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag]). Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word.
Daarom is die sabbat ook nie voorskriftelik gemaak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand 15), omdat dit van heidense gelowiges Jode sou maak, en die evangelie daardeur ingeperk en eksklusief gemaak sou word. Paulus het daarom gelowiges aangeraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak nie (Kol 2:16), ‘n opdrag wat ons gerus vandag ook kan handhaaf wanneer mense hieroor verkeerde interpretasies versprei:
“16Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie a, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.” (NAV) a Vgl. ook Rom. 14:1–14:12.
Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark 16:2; Matt 28:1; Luk 24:1; Joh 20:1) te vier.
Terloops, Johannes het die eerste dag van die week die eerste keer “die dag van die Here”(Open 1:10) genoem, wat deur latere vroeg-kerklike geskrifte verklaar is as die eerste dag van die week (bv. die Didage), en wat later Sondag genoem is op voetspoor van die Romeine.
Die Christene het dus begin om die nagmaal op Sondae te vier (Hand 20:7) en die dankoffer in te samel (1 Kor 16:2). Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword, ‘n gebruik wat tot vandag toe die hoofstroom keuse is.
56:9-12: Laat alle leiers kennis neem van dié gedeelte! Let op dat Jesaja leiers (herders) oproep om 1) te waak oor volgelinge, 2) insig te bekom oor die beste pad vorentoe, en 3) nie op eie voordeel ingestel te wees nie. Luiheid – soos Karl Barth gesê het – is die primêre sonde (hoewel ek dink Jesaja sê hoogmoed troef dit).
Hoofstuk 57
57:1-13
Ek kan nie onthou wanneer ek laas so ‘n helder uitspraak gelees het oor hoekom sleg goed met goeie mense gebeur nie. Kort en kragtig sê Jesaja dat dit “deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf.” (57:1). Dit is nie hulle eie skuld nie, en dit is nie vanweë die Here nie.
En die hoop waarmee hulle sterf word net so kort en kragtig uitgespel: “dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf” (57:2). God bewaar hulle nie noodwendig van die gevolge van die boosheid nie, maar in die ongeluk wat hulle tref.
Laat my dink aan Jesus se saligspreking: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”.
En na die diep hoopvolle uitspraak word die probleme van goddelose rebelle en wellustige afgodsdienaars uitgespel (wat selfs nie terugdeins van kinderoffers vir Molek [’n oud-Semitiese en ook Feniciese god] nie) – niemand kan hulle van hul eie boosheid red nie, omdat hulle God versaak het. Watts noem dié uitsprake oor hulle: The Dark Side of Jerusalem.
Let op dat hulle soektog na sin en betekenis vrugteloos is, maar dat die feit steeds nie genoeg is vir hulle om daarvan afstand te doen nie. Die rede? Die gratifikasie van wellus (vers 10) en vrees (vir die afgode se wraak) wat hulle vals gemaak het (11).
57:14-21
Maar vir dié wat in nederigheid hulle aan God onderwerp, is daar uitkoms. Let op dat hulle gereed moet maak vir die uitkoms deur struikelblokke te verwyder.
God word hier geteken as die vergewensgesinde en genesende God, wat sondes nie vir altyd toereken nie, en nie vir altyd toornig bly nie. Anders sou mense dit nie gemaak het nie! Sy krag verander hulle lot, en gee aan hulle vrede, terwyl die goddelose verder sal krepeer in onvrede.
Ek lees verder soos ‘n Speurder
In drie verdere tonele (laaste van vyf – vorige twee in 2:1-17) neem die teenstand van die Fariseërs teen die werk van Jesus só toe, dat hulle saam met die Herodiane beplan om Jesus dood te maak.
In die OT was daar aanvanklik net met die Groot Versoendag gevas (Lev 16:29) en met siekte en dood (1 Sam 31:13; 2 Sam 1:12). Na die ballingskap het die vastye begin toeneem (Sag 7:5; 8:19). Die Fariseërs het dit egter verder aangevul met ‘n vasdag twee keer ‘n week. Dat Jesus die dissipels bevry van hierdie benouende voorskrif wek egter weerstand by die Fariseërs. Jesus se verduideliking dat daar nie in sy teenwoordigheid – die beeld van Jesus as Bruidegom moes die Fariseërs aan die voorspelling van Hos 2:14-23 laat dink het, maar hulle mis dit! – gevas kan word nie, word aangevul met ‘n eerste verskuilde aankondiging van sy dood, waar ‘n vastyd weer sinvol sou wees (soos Johannes die Doper se vastyd ook sinvol was as voorbereiding vir die Bruidegom).
Met die twee metafore van materiaal vir klere en velsakke vir wyn verkondig Jesus onomwonde dat ‘n nuwe bedeling aangebreek het, en dat die ou manier van doen net nie meer pas by die koninkryk wat Hy kom vestig nie. Soos nuwe klere se inkrimping ou materiaal sal laat skeur, en nuwe wyn se gistingsproses die velsakke sal laat rek (en ou klaar-gerekte “verstokte” velsakke sal skeur), so nooi Jesus mense hiermee uit om die nuwe bedeling, d.w.s. Homself, te omarm en die oue agter te laat.
Matteus en Lukas
Matteus plaas die aanvanklike vraag in die mond van die dissipels van Johannes die Doper en Lukas, soos Markus, in die mond van die mense, hoewel aldrie na beide Johannes die Doper en die Fariseërs se vastye verwys. Lukas noem die twee metafore wat Jesus gebruik ‘n gelykenis. Albei Matteus en Lukas las ‘n verdere interpretasie aan die gedeelte, wat neerkom op ‘n waardering ook vir die oue, hoewel die onversoenbare tussen oud en nuut steeds gehandhaaf word. Lukas se laaste vers is as kritiek bedoel op die duidelik-wordende weerstand van die Fariseërs, soos Nolland dit parafraseer:
“I tell you that what I bring is like new wine in one respect; but I see that you will treat it as like new wine in quite a different respect, i.e., as inferior to the old wine.”
Die Fariseërs se interpretasie dat are afpluk as oes vertolk kan word (Eks 34:21), was alreeds verkeerd. Jesus probeer egter met die voorbeeld van Dawid (1 Samuel 21), wat in sy vlug van Saul van die offerbrood by die priesters in Nob geeët het, die Fariseërs leer dat die funksie van die wet in ag geneem moet word in die uitvoering en interpretasie daarvan. Die wet is ter wille van die mens geskep en nie andersom nie. En die Here van die sabbat het die reg om te voorsien vir dié wat alles gelos het om Hom te volg.
Terloops: Agimelek was eintlik toe hoëpriester, maar Abjatar het hom hierna opgevolg en was die enigste oorlewende na Saul die priesters om die lewe gebring het vir hulle goeie daad.
Matteus en Lukas
Lukas verkort Markus se verhaal hier, maar Matteus brei daarop uit (een van die min kere wat hy dit doen). Jesus verwys in Matteus se weergawe, as steun vir sy standpunt, ook na die feit dat priesters op ‘n sabbatdag moes werk, en dat dit deel van die wet was. Hy verwyt ook die Fariseërs dat hulle ‘n onbarmhartige gesindheid ten toon stel teenoor onskuldige mense, die dissipels. Dit wys duidelik hoe onbarmhartig ‘n onbuigsame hantering van die wet in die praktyk gebruik kan word.
Hoe ironies dat Jesus voor die genesing van die man met die gebreklike hand op ‘n sabbat die vraag vra, mag ‘n mens goed doen of kwaad doen, of red of doodmaak op die sabbat … en die Fariseërs direk na die genesing uitloop om Jesus kwaad aan te doen, en te beplan om Hom dood te maak, saam met die Herodiane … op ‘n sabbatdag! Doodmaak was immers verkeerd volgens die wet … sewe dae ‘n week.
Geen wonder dat Jesus se emosies hoog geloop het, dat Hy kwaad en bedroef tegelykertyd was!
Die Herodiane was politieke aanhangers van Herodes Antipas, viervors van Galilea, seun van die Herodes waarvan ons lees by Jesus se geboorte. Gewoonlik was die twee groepe vyande, tot op hierdie dag …
Matteus en Lukas
Matteus brei weereens die gedeelte uit met ‘n verwysing na ‘n alledaagse voorbeeld dat ‘n mens op die sabbatdag tog ‘n skaap uit ‘n sloot sal red, hoeveel te meer nie ‘n mens nie, maar laat die verwysing na die Herodiane weg, soos ook in Lukas. Lukas weer noem die skrifgeleerdes saam met die Fariseërs, maar beskryf interessant genoeg die teenstanders as “rasend van woede”, en nie Jesus nie. Hy herformuleer Markus se weergawe dus heeltemal.
Onlangse kommentaar