Skrifgesag en die Bybel
Inhoudsopgawe
1 Ons lees die Bybel nie in isolasie van ander nie
2 God oefen sy gesag uit deur die Bybel
2.1 Die Bybel se gesag lê in God opgesluit
2.2 God kom aan die woord deur die Bybel
2.3 Die Bybel is die geskrewe Woord van God
2.4 God vestig sy koninkryk met die boodskap van die Bybel
2.5 Die verhouding tussen OT en NT
2.6 Die Bybel self word gebruik om te onderskei tussen verskillende interpretasies
2.7 Die rol van ervaring
2.8 ‘n Mens kan dus onderskei tussen voorkeur interpretasies
1. Ons lees die Bybel nie in isolasie van ander nie
Die kerk kan nooit die Bybel in isolasie van ander lesers lees nie. Nie net lees verskillende geloofsgemeenskappe die Bybel vanuit verskillende perspektiewe en daarom met verskillende resultate nie. Dit gebeur met alle gemeenskappe wat die Bybel lees, selfs al is die Bybel nie vir hulle die Woord van God nie en lees hulle dit nie vanuit ‘n geloofstandpunt nie. Ons sal dus nooit die Bybel kan lees in isolasie van ander lesers nie.
Hierdie lesers van die Bybel kom vanuit ‘n ryke verskeidenheid van kulture agtergronde, politieke affiliasies, filosofiese vertrekpunte, teologiese raamwerke en etiese waardestelsels. Dit sluit gelowiges en ongelowiges in, kerkmense en ateïste, joernaliste en politici, letterkundiges en wetenskaplikes. Hulle almal lees die Bybel op verskillende wyses en met verskillende perspektiewe daarop en neem almal ook op verskillende wyses deel aan die gesprek oor wat die Bybel se boodskap inhou.
Dit is dus geen wonder nie dat hierdie verskillende maniere van lees baie keer in direkte konflik met mekaar staan en van tyd tot tyd ‘n beduidende invloed wedersyds op mekaar kan uitoefen. Die invloed is soms van só ‘n kontensieuse aard dat ‘n spesifieke manier van lees nie net as vanselfsprekend aanvaar kan word, sonder om in gesprek te tree met mekaar om dié konflik te besleg nie. Trouens, van enigiemand wat die Bybel lees, of dit vanuit ‘n geloofstandpunt gedoen word of nie, kan met reg gevra word om hulle lees van die Bybel te motiveer en in gesprek te tree met ander lesers wat met ander vertrekpunte dieselfde teks lees.
Só ‘n verantwoording is noodsaaklik nie net omdat verskillende lesers verskillende vrae aan die teks vra nie, met die besliste moontlikheid van verskillende antwoorde uit dieselfde teks. ‘n Mens sou egter uiters naïef wees as ‘n mens in dié proses van die lees van die Bybel nie ook telkens ‘n moontlike magspel raaksien nie, want elke aanspraak op ‘n waarheid wat in die teks raakgesien word, het ook ‘n moontlike resultaat van ‘n uitoefening van daardie mag, die mag wat kom van ‘n spesifieke lees van die Bybel.
Dit kan iets so enkelvoudig wees soos die klem op die viering van die Sabbat op ‘n Saterdag, soos die Sewendedagadventiste die Bybel lees, wat in hulle konteks ‘n afdwingbare riglyn vir hulle geloofsgemeenskap word. Dit kan egter ook iets so kompleks wees soos die uitsluiting van gelowiges op grond van ras, soos die Bybel in die apartheidsera gelees is, of die uitsluiting van vroue van die predikantsamp, soos in sommige kerke selfs vandag nog gedoen word, op grond van ‘n spesifieke lees van die Bybel. En in terme van selfdegeslagverhoudings die insluiting van mense op grond van ‘n sekere lees van die Bybel.
Die gevaar van hierdie tipe konflik tussen verskillende lesers van die Bybel moet ‘n mens natuurlik egter nie afskrik om die teks van die Bybel te lees nie. Dit moet ‘n mens eintlik aanspoor om met nog meer moeite met die Bybel te bly worstel in terme van die eksegese en hermeneuse van die teks, en dit weer en weer en weer te doen. En in gesprek te bly met mense wat die teks op ander wyses lees, want só kom verskillende kante van die waarheid van die teks op die tafel en kan ‘n mens beter onderskei wat die gesag van die teks in ‘n spesifieke situasie is.
En dit is nie net die Bybelse eksegete wat met die eksegese en interpretasie van die Bybel moet worstel nie. Almal moet dit doen, dogmatici en praktiese teoloë, letterkundiges en wetenskaplikes, geleerdes en gewone gelowiges.
Daarmee saam moet lesers van die Bybel ook nie onbewus wees van die debatte wat in die samelewing woed oor sake van die dag nie. Die vrae wat vandag oor gender en seksualiteit gevra word en wat gegroei het uit die kulturele, politiese, filosofiese, en teologiese kontekste waarin ons leef, het ‘n beduidende invloed op ons lees van die Bybel. Dit het ‘n invloed op hoe ons dink oor identiteit en gedrag en die wyse waarop ons dink oor die wedersydse interaksie van ons aangebore kenmerke met die konteks van ons lewensomstandighede, veral as ons dit in verband probeer bring met ons lees van die Bybel.
Ons sal nie net eenvoudige verbande tussen die sake van die dag en die tekste in die Bybel kan lê sonder om ook die onderliggende vrae oor die gesag van die tekste in die Bybel te beantwoord nie. Dit is vrae soos:
- Hoe weet ons dat die Bybel gesag het in ‘n spesifieke situasie?
- Hoe kan ons verseker dat die Bybel in ‘n spesifieke situasie toepaslik geïnterpreteer word?
- Hoe kan die Bybel se gesag toegepas word in die kerk sowel as in die wêreld?
2. God oefen sy gesag uit deur die Bybel
Om die vraag na die Bybel se gesag in ‘n spesifieke situasie te beantwoord, is dit nodig om eers in die algemeen die vraag na die Bybel se gesag te beantwoord, veral in die mate wat dit verband hou met ander maniere waarop ons met God kan kennis maak in hierdie lewe, en hoe God sy gesag uitoefen deur die Bybel.
T. Wright (Scripture and the authority of God) maak hierdie belangrike sleutelopmerking oor Skrifgesag in ‘n Christelike konteks:
“the phrase ‘authority of scripture’ can only make Christian sense if it is a shorthand for ‘the authority of the triune God, exercised somehow through scripture’.”
2.1 Die Bybel se gesag lê in God opgesluit
Die eerste ding wat ons moet beklemtoon is dat die Bybel se gesag in God self opgesluit lê. Dit is die eerste ding wat ons van Skrifgesag moet weet. Die Bybel se gesag is vir Christene nie ‘n onafhanklike gesag wat in die teks daarvan op een of ander manier opgesluit lê nie. Die Bybel het net vir ons gesag omdat God daardeur gesag oor die lewe en die wêreld uitoefen. Die Bybel se gesag lê dus in God, nie in die teks as sodanig nie. Die Bybel se gesag lê daarom ook nie in die kerk nie, selfs al sou die kerk as betroubare uitleggers daarvan optree. Die Bybel het net gesag omdat God daardeur aan die woord kom deur sy Gees in ons lewe.
Dit is wat die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) in artikel 5 ook bely (my beklemtoning):
“Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”
2.2 God kom aan die woord deur die Bybel
Dit beteken in die tweede plek nie dat die gesag van die Bybel daarmee gerelativeer word nie. Die gesag van die Bybel bo enige ander openbaring, van watter aard ook al, word verhoog juis omdat God daardeur aan die woord kom, soos NGB artikel 7 dit stel:
“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’ (1 Joh. 4: 1), en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…’ (2 Joh. :10).”
Die Bybel het dus ‘n primêre plek in die verwoording van God se gesag in ons lewe. Dit is die besondere openbaring van God. Die Bybel is die verkose kanaal vir God se handelinge in en deur ons lewe. Deur die Bybel bewerk God se wil vir ons en die lewe op só ‘n wyse dat sy koninkryk daardeur kan kom.
Nie dat God nie op ander maniere as deur die Bybel praat nie – die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld – soos NGB artikel 1 bely van die algemene openbaring. Maar die Bybel bly die primêre middel waardeur God ons aan Homself bekendstel:
“Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.”
Ek onderstreep hier “nog duideliker” en “meer volkome”. Dit wil sê die besondere openbaring is nie in stryd met die algemene openbaring nie, maar is wel duideliker en meer volkome.
2.3 Die Bybel is die geskrewe Woord van God
Ten derde moet ons verstaan dat die Bybel die konkrete skrifstelling is van “die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys” (1 Tes. 2:13). Die Bybel is die kanoniese nalatenskap van die mondelingse “waarheid, die evangelie wat aan julle verkondig is” (Kol. 1:5).
Soos dié mondelingse woord van Jesus en die apostels die geloofsgemeenskap van die NT tyd gevorm en gestuur het, só doen die geskrewe woord in die Bybel dit vandag nog. Die NT is na alles die storie van Jesus, wat as die vervulling van die OT verkondig word, soos in Jesus se lewe, dood, opstanding, hemelvaart gesien kon word, en wat daardeur die koninkryk van God ingelei het en met sy wederkoms die koninkryk in sy volle konsekwensies sal openbaar.
Elkeen van die evangelies van die NT verkondig dié waarheid aangaande die Here Jesus. Die Handelinge van Lukas verhaal die uitkringende impak van hierdie Jesus se voortgaande teenwoordigheid in die kerk ná Pinkster. Elkeen van die briewe van die NT bevestig dié waarheid aangaande die koninkryk wat in Hom naby gekom het en vir alle mense bedoel is. Ook die Openbaring aan Johannes bevestig die toekoms waarheen Jesus besig is om die hele wêreld te begelei aan die hand van die wêreldagenda wat Hy van God in die hemelse liturgie gekry het (Openb. 5), ‘n toekoms wat verlossing en oordeel sal insluit.
Die Bybel wat ons dus in ons hand hou, is die skriftelike konkretisering van God se Woord wat steeds die mag het om mense se gedagtes, harte en lewens te verander, want dit is die evangelie van Jesus Christus: “’n krag van God tot redding van elkeen wat glo” (Rom. 1:16). Dit is hierdie Woord wat ons aan mense moet bring sodat hulle kan hoor, in God kan glo en Hom kan gehoorsaam (Rom. 10:9-10).
2.4 God vestig sy koninkryk met die boodskap van die Bybel
Die gesag van die Bybel lê in die vierde plek in God wat sy koninkryk wil vestig met die boodskap van Jesus Christus en die verlossing wat Hy bring deur die krag van die Gees wat die geloofsgemeenskap as getuies van Jesus inspan (Hand. 1:8). God maak daardeur van die geloofsgemeenskap: “’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is” (Ef. 2:20).
En die Bybel speel hierin ‘n belangrike en beslissende rol. Elkeen van die skrywers van die NT het as gesagvolle leraars van die Woord van God opgetree en kon aanspraak maak daarop dat hulle woorde inderdaad die woorde van God was, woorde wat nagevolg en uitgevoer moes word. Trouens, hulle woorde was nie net oor God en sy koninkryk nie. Dit het inderdaad God aan die woord gebring in mense se lewens en sy koninkryk laat kom (1 Tes. 2:13).
Soos Paulus aan Titus skrywe: “Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe. Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser.” (Tit. 1:1-3).
En dit is hierdie apostels se woorde – in prediking en publikasie – wat deur die kerk as gesagvol, en daarom kanoniek erken is en uiteindelik ingesluit is in die volle getal boeke van die Bybel.
2.5 Die verhouding tussen OT en NT
Ons moet onthou dat die enigste geskrewe Woord van God wat die eerste gelowiges gehad het, was die OT – die Joodse Tenak – in terme van die wet, profete, psalms en die wysheidsliteratuur. As Paulus skryf dat die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, dan praat hy van die OT (2 Tim. 3:16).
Ons kan egter sien dat die verhouding tussen die OT en die NT een van kontinuïteit en diskontinuïteit is, veral in die manier waarop die NT skrywers die boodskap van die OT aan die een kant gehandhaaf het, sowel as aan die ander kant in ‘n nuwe konteks geplaas het aan die hand van die openbaring in Jesus Christus. Dit beteken dat die OT steeds vir die kerk in die eerste eeu die Woord van God gebly het, maar ook aangevul en uitgebrei is met die boodskap van die evangelies van Markus, Matteus, Lukas en Johannes, die onderskeie briewe van Paulus, die twee dissipels, Petrus en Johannes, die twee broers van Jesus, Jakobus en Judas, die skrywer-leier van die gemeente in Italië (moontlik Rome) wat Hebreërs geskrywe het, en uiteindelik die Openbaring van Johannes, die geliefde dissipel.
Die kontinuïteit word gesien in die eerste Christene se beklemtoning van die aarde as God se goeie skepping; van God se soewereine hantering van die probleem van die sonde en boosheid; van die verbond met Abraham wat steeds die raamwerk bly waarbinne God die hele mensdom met die versoening in Christus bereik; van die onontwykbare roeping tot heiligheid waarbinne ons egte en nuutgemaakte mense raak, teenoor die effek wat die wêreld van afgodery en onsedelikheid op mense gehad het, wat hulle menswaardigheid aangetas het, soos die Handelinge 15 “sinode” uitgespel het vir alle Christene. Die geloofsvormende belang van die Psalms (Kol. 3; Ef. 5) en die etiek van die Dekaloog (Matt. 5-7; Rom. 13; 1 Tim. 1) word ook steeds hoog aangeslaan in die NT. Die OT bly dus steeds die Woord van God.
Die diskontinuïteit lê veral in die Joodse reinheidswette wat nie langer as relevant gesien is in ‘n gemeenskap wat saamgestel is deur gelowiges uit die heidene en die Jode en waarin hulle as gelykwaardige vennote in die koninkryk gesien is (Mark. 7; Hand. 15; Gal. 2). Die middelmuur van skeiding tussen heidene en Jode is deur die Here Jesus Christus afgebreek en in die plek daarvan het Hy een nuwe mensheid geskep (Ef. 2). Die primêre plek van die tempel in Jerusalem het deurslaggewend geskuif na die huise van die gelowiges en hulle huiskerke waar die teenwoordigheid van die Here beleef kon word (vgl. die skuif in Lukas na Handelinge), en die hele offerkultus is vervang met die volkome versoening wat Jesus as Hoëpriester vir ons bewerk het (Hebreërs). In die nuwe Jerusalem, sê Johannes, sal daar nie meer ‘n tempel wees nie, want God self kom by sy mense bly (Openb. 21-22). Die sabbat en ander feeste was nie langer verpligtend nie (Rom. 14:5-6; Kol. 2) en die belofte van die Beloofde Land is uitgebrei dat dit nou die hele aarde insluit, trouens die hele skepping (Rom. 8; Openb. 19).
2.6 Die Bybel self word gebruik om te onderskei tussen verskillende interpretasies
Dit is duidelik uit die geskiedenis van die kerk dat alle uitdagings wat hermeneute aan die kerk se tradisionele verstaan van sleuteldogmas gestel het, op ‘n vars appèl op die Skrif self begrond was. Dit sien ons in die uitdaging van Marcion en die Gnostici waarin hulle gepoog het om aan te toon dat die kerk dit nog altyd só verstaan het, soos hulle dit interpreteer. Die aanspraak op wat die Skrif sê, was die kern van die hermeneutiek, al was die interpretasies uiteenlopend van aard. Alle teologie was gebaseer op Skrifverstaan en Skrifuitleg, die verklaring van die teks en die verstaan van wat die Skrif beteken. Die kerk was ‘n Skrifgetroue gemeenskap en het telkens hulleself georiënteer aan wat die Skrif sê. Die Skrif self is gebruik om te onderskei tussen interpretasies.
Die Hervormers se aandrang op sola scriptura was ‘n protes teen die heersende waninterpretasies van die Rooms-Katolieke kerk. Hulle oproep was, ad fontes, terug na die Bronne, want daarin sou ‘n mens die eens-en-vir-altyd versoenende dood van die Here Jesus beskrywe sien, nie die voortdurende versoeningsdood van die Roomse mis nie. Regverdiging kom deur die geloof alleen, nie deur die aflaatstelsel en die vagevuur nie. Die krag van God se woord lê nie in die pous nie, maar in die geskrewe Woord wat aan ons oorgelewer is.
Daarmee het hulle uiteraard nie gesê dat ‘n mens elke jota en tittel van die geskrewe Woord moet aanvaar om gered te word nie, maar wel duidelik gemaak dat daar niks anders as die Skrif is wat vir ons geloof en lewe nodig is nie. Die groot dinge wat in die Skrif geleer word, is inderdaad die dinge wat die weg van saligheid vorm en niemand in die kerk kan of mag enigiets daarby voeg of daarteen leer nie. Die Skrif is die norma normans non normata. Dit is die norm van die norme, wat self nie genormeer kan word nie.
2.7 Die rol van ervaring
Ons leef egter vandag in ‘n tyd wat wesenlik beïnvloed is deur die Verligting van die 17de eeu wat dié aandrang op sola scriptura wesenlik aangevat het, veral omdat die Verligting en sy eksponente in wese ‘n anti-Christelike beweging was. Baie denkers uit dié tyd het geneig tot ‘n ateïstiese en geslote wêreldbeeld. Dié wat wel bereid was om die bestaan van ‘n god te aanvaar, het geneig na ‘n tipe agnostiese teïsme of deïsme waarin die bestaan van ‘n afsydige veraf god aanvaar is, maar nie die persoonlike Trinitariese Godsbeeld van die Christelike geloof nie.
Die beoordeling van die gesag van die Bybel het dus geskuif na ‘n beoordeling vanuit die perspektief van die redelike mens. In plaas daarvan om die Bybel te lees om daarin God se Woord te hoor vir leer en lewe, is die Bybel self aan die vraagstelling van die rede onderwerp en is die gesag daarvan afhanklik gemaak van die perspektief van die leser.
Die afgelope paar dekades het hierdie lesersperspektief verder ontwikkel en is die gesag van die Bybel nie net aan die perspektief van die rede onderwerp nie, maar aan die perspektief van die ervaring. En omdat die konteks van die menslike ervaring so vloeibaar en verwarrend kan wees, bring só ‘n lees van die Bybel die gesag daarvan in ernstige gedrang. Waar die altyd veranderende konteks van die menslike ervaring die maatstaf word vir watter gesag die Bybel in ‘n mens se lewe kan speel of juis nie kan speel nie, kan die Bybel nie meer as God se stem by iemand aankom nie. Want waar ons ervarings ‘n gesagsbron word, beweeg ons op dryfsand. Jeremia het reeds al gekla daaroor dat die hart van die mens bedriegliker is as enigiets anders: “hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?” (Jer. 17:9). En die hart van die mens is vandag nog net so bedrieglik as in sy tyd.
Soos N. T. Wright sê:
“If ‘experience’ is itself a source of authority, we can no longer be addressed by a word which comes from beyond ourselves.”
Die ervaring van mense is weliswaar ‘n noodsaaklike konteks waarbinne ons luister na die Skrif. Ervaring is die noodsaaklike subjektiewe pool van alle kennis. Dit is die plek vanwaar ons God se Woord hoor, sy liefde leer ken, en sy wysheid kan begryp. Dit is lewensnoodsaaklik dat ons die krag en liefde van God in ons eie lewens beleef.
Maar, omdat ons só maklik dié boodskap van God verkeerd kan verklaar of verstaan, so maklik in afgodery kan verval, waar ons eie gedagtes en gedrag ons van God se pad af laat afdwaal, móét die Skrif self die gesag bly behou in ons lewe as die objektiewe pool van interpretasie. Ons ervaring moet altyd weer getoets word aan die Skrif. Die Skrif bly die instrument waardeur God sy verlossende gesag in ons gemeenskappe en individuele lewens uitoefen.
2.8 ‘n Mens kan dus onderskei tussen voorkeur interpretasies
‘n Mens kan dus onderskei tussen interpretasies wat ‘n voorkeur geniet bo ander interpretasies van die Skrif. Alle interpretasies dra nie dieselfde gewig nie. ‘n Ordentlike grammaties-historiese lees van die Bybel met alle moontlike hulpmiddels bly die gepaste manier om agter te kom wat die skrywers van die Bybel inderdaad bedoel het om te sê. Dit is moontlik om te sê, op grond van goeie navorsing, dat sommige interpretasies van die Bybel beter is as ander interpretasies.
Die geldigheid van ons eie interpretasies lê ingebed in die aantoonbare verband met die Skrif self, al dan nie. Ons eie interpretasies kan en moet aan die bron self, die Skrif, getoets word, om vas te stel of dit beter of swakker is as ander, veral natuurlik ook die tradisionele interpretasie van die geloofsgemeenskap oor die eeue. Waar dit verskil, moet ons baie seker maak dat die nuwere interpretasie beter pas by wat die Skrif self sê, as wat die kerk deur die eeue van ‘n spesifieke gedeelte gesê het.
Ons moet dus sorgvuldig luister na wat die kerk deur die eeue oor ‘n bepaalde Skrifgedeelte gesê het. Ons mag krities daarna luister, uitwys waar daar beter interpretasies moontlik is, maar ons nuwere interpretasie moet duidelik beter wees, voor die kerk dit as die voorkeur interpretasie kan kies.
Daarmee wy ons ons toe aan ‘n totale kontekstuele lees van die Skrif. Elke woord moet gelees word in die konteks van sy vers, elke vers in die konteks van sy hoofstuk, elke hoofstuk in die konteks van sy eie boek, en elke boek in sy eie historiese, kulturele en kanoniese konteks. Alleen só kan ons die teks verantwoord verklaar en verstaan en die gesag daarvan vir ons lewens aanvaar en omhels.
By Chris van Wyk
Augustus 2016
Gebaseer veral op N.T. Wright, 2005. Scripture and the authority of God. Society for Promoting Christian Knowledge: London.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
christa marais
Chris, wat beteken Joh. 1:1?
Chris van Wyk
Johannes begin sy evangelie nie by Jesus se menslike geboorte nie, anders as die ander evangelies. Hy begin by God se tyd, die ewigheid, voordat alles gemaak is, voordat daar selfs iets soos ons tyd was. Toé al, sê Johannes, was Jesus al daar as die Woord van God.
“In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” (Joh. 1:1).
Hiermee koppel Johannes vir Jesus aan die uitspraak in Genesis 1:1 dat God in die begin die hemel en die aarde geskep het. Jesus was dus reeds daar in sy pre-eksistensiële bestaan by God, as God, voordat tyd, ruimte en materie geskape is, as Woord van God.
Jesus is die Woord (logos) van God. Hy is nie net goddelik nie, maar Godself (vgl. ook 1 Joh. 1:1; Openb. 19:13)! Uit Hom is alles gemaak, want Hy was en is die lewe van alles (Kol. 1:16). En hierdie lewe skyn soos ’n lig in die duisternis wat ons lewens verlig (Joh. 5:26 – vgl. Spr. 6:23 – “die tôrâ is ’n lig”).
Hierdie lewenslig is die kern van God se manier van kontak maak met ons (Ps. 36:10). Dit is van hierdie lig – in Jesus – wat ons getuig, soos ’n Johannes die Doper, sodat mense in God kan glo (vgl ook Joh. 20:31, waar Johannes dit as die doel van sy evangelie uitspel). Hierdie lig is Jesus, die mensgeworde Woord van God.
Ietsie oor die logos:
Die Griekse woord logos word gebruik vir woorde en gedagtes. Wanneer dit aan God gekoppel word, dui dit meesal die Woord van God in die prediking (Luk. 5:1) of die inhoud van die evangelie, Christus (Hand. 8:25), aan. Hier in Joh. 1:1 gebruik Johannes logos egter as eienaam vir Christus.
Die Grieke sou in hierdie gebruik van die woord iets gehoor het van wat die filosoof Heraklitus van Efese reeds in die 6de eeu v.C. geskryf het, dat die logos die beginsel is waardeur orde uit chaos geskep word.
Die Jode wat met die Ou Testament bekend was, sou egter onmiddellik aan Genesis 1 gedink het (“laat daar lig wees”), die verwoording van die skepping deur die Psalmdigters (“deur die woord [dabar] van die Here is die hemele gemaak” – Ps. 33:6) en die vele kere wat gepraat is van die woord [dabar] van die Here wat tot ‘n profeet gekom het (Jer. 1:2). In die Griekse vertaling van die Ou Testament is die vertaling logos dan ook vir die Hebreeuse woord dabar gebruik.
Daaruit kan ‘n mens Jesus se betrokkenheid in sy Goddelikheid by alles wat reeds in die OT gebeur het, kan aflei. Soos baie geleerdes dit onomwonde stel: Jesus tree in die NT as die Jahwe van die OT op.