Skip to main content

Tag: gebed

Waak en bid – Pinkster 2021 – lusmaker

Gebed is nie opsioneel nie. Dit is lewensnoodsaaklik vir ons geestelike welstand en krag.

“Where there is an absence of prayer there will be an absence of power. Where there is frequency of prayer there will be a continuing display of God’s power.” (Dick Eastman, The Hour That Changes the World).

Ons het nodig om gebed te leer ken as die belangrikste deel van die werk wat aan ons toevertrou is. Gebed is die wortel en die bron van alle werk wat ons vir die Here doen. As ons regtig onsself gee vir gebed, sal ons sien dat daar niks is wat ons so nodig het om te bestudeer en te oefen as die kuns om reg te bid nie.

Ons staan natuurlik nie alleen in ons gebede nie. Dit is niemand minder as die Here Jesus self nie wat ons graag wil leer om te bid. Soos Andrew Murray dit in een van sy boeke oor gebed sê:

“Christus is ons lewe: in die hemel leef Hy altyd om te bid; Sy lewe in ons is ‘n altyd-biddende lewe, as ons Hom maar net daarvoor wil vertrou. Christus leer ons om nie net deur voorbeeld, deur instruksie, deur opdrag, deur beloftes nie, maar deur HOMSELF, die altyd-lewende Voorbidder, as ons Lewe te wys. Dit is wanneer ons dit glo en ook vir ons gebedslewe in Hom bly, dat ons vrese dat ons nie reg kan bid nie, sal verdwyn, en ons vreugdevol en seëvierend op ons Here sal vertrou om ons te leer bid, om self die lewe en die krag van ons gebed te wees.” (Met Christus in die skool van gebed)

Dit is dus Jesus self wat ons leer om te bid. Jesus weet wat gebed is. Hy het dit geleer te midde van die beproewinge en trane van sy aardse lewe. In die hemel is dit nog steeds sy geliefkoosde werk. Gebed in sy lewe.

Ons kan inderdaad en met vreugde sê: “Wie leer soos Hy?” Jesus het immers nooit sy dissipels geleer hoe om te preek nie, maar net hoe om te bid. Hy het nie baie gepraat oor wat nodig was om goed te preek nie, maar eerder hoe om goed te bid. Om te weet hoe om met God te praat, is baie belangriker as om te weet hoe om met die mens te praat. Nie krag by mense nie, maar krag by God is die belangrike ding wat ons nodig het. Jesus leer ons graag hoe om te bid.

Reeks: “Waak en bid”

Ek het die raamwerk van Dick Eastman in sy boek The Hour That Changes the World aangepas om dit my eie te maak. Ek gebruik ‘n horlosie metafoor wat jy kan gebruik om ‘n uur aan gebed te spandeer. Daar is 12 temas of onderwerpe vir gebed. Dit is bedoel vir ‘n uur se gebed, maar jy kan elkeen van die temas ook een op ‘n slag beoefen, of afwissel, of korter of langer bid, of selfs in ‘n ander volgorde gebruik. Dit is net ‘n riglyn. Jy moet deur die Here Jesus self geleer word hoe om te bid.

Hier is die twaalf onderwerpe:

Continue reading

Bid vir reën soos Elia van ouds

Die idee dat God reën gee en weerhou is helder ingebed in die OT.

http://paulbdyal.blogspot.co.za/2017/05/a-hand-rising-from-sea.html

Moses skrywe daaroor in sy tweede en derde preek net vóór die Intog in Kanaän en waarsku die volk dat God se seën aan gehoorsaamheid en sy straf aan ongehoorsaamheid verbind is (Deut 11; Deut 27; Deut 28).

Die Psalms verkondig dieselfde waarheid (Ps 3-4Ps 39) sowel as die profeet Esegiël (Eseg 25).

‘n Helder voorbeeld hiervan is die profeet Elia wat in opdrag van die Here droogte aankondig, vanweë die sonde van Agab, en drie jaar later weer die reën, nadat die mag van die Baälprofete gebreek is (1 Kon 17-18).

Hierdie helder Skrifgetuienis lê agter die oproep om hierdie God aan te roep as dit droog is en jou voor Hom te verootmoedig en uitkoms te vra. Trouens, dit is die enigste rede waarom ons op enige plek kan bymekaar kom om te bid. God belowe dat Hy gebede sal beantwoord.

Daarom is die Here se woord aan Salomo steeds geldig, maak nie saak wie voor Hom verskyn nie:

As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kron 7:13-14).

God sal luister na dié wat hulle voor Hom verootmoedig en van Hom vra. Dit glo ek met my hele hart. Hy luister self na vreemdelinge, soos Salomo in sy gebed onderstreep. God luister:

ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie … sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel” (2 Kron 7:32-33)!

Continue reading

VINCENT BRÜMMER – WHAT ARE WE DOING WHEN WE PRAY?

Ek het ‘n navraag gekry oor vas en gebed en hoe God ons gebede beantwoord.  Ek het onmiddellik gedink aan ‘n kort opsomming wat ek vroeër gemaak het van die boek van Vincent BrümmerWhat are we doing when we pray? Dit was in my evaluasie daarvan vir die Andrew-Murray-Desmond-Tutu prys, ‘n prys wat sy boek toe inderdaad ook in 2009 gewen het.  Dit bly ‘n uiters sinvolle en gewigtige hantering van die onderwerp van gebed.

Ek stel dit graag beskikbaar.  Vincent onderstreep daarin onder andere die geloofsfeit: “God gives us some things, not only as we wish, but because we wish.” (Geach, God and the Soul).  Dit beteken nie dat gebed dus gebeure outomaties veroorsaak nie.  Dit is nie vanweë die gebed wat God antwoord nie, maar vanweë sy eie besluit om die gebed te beantwoord.

Daarom neem ek ook hierdie Woensdag, 24 Januarie 2018, deel aan die landwye gebed vir reën in die Wes- en Oos-Kaap, soos ons gemeente ook onafhanklik daarvan besluit het.  En roep ek almal op om môre om 13:00, waar jy jou ook al mag bevind, vir reën te bid.

God gee vir ons reën, nie net soos ons dit wil hê nie, maar omdat ons daarvoor vra.

Bespreking van die boek

What are we doing when we pray? is ‘n hersiene en uitgebreide uitgawe deur Ashgate in 2008 van die oorspronklike boek van die gebore Suid-Afrikaner, Vincent Brümmer (1984 – ook in Nederlands en Duits beskikbaar). Soos die subtitel aandui, fokus die boek On Prayer and the Nature of Faith waarvan die tweede deel van die titel ook die onderwerp van die uitbreiding verteenwoordig.  Drie nuwe hoofstukke is bygevoeg wat ‘n opmerking van GK Chesterton ontwikkel, wat sê, geloof: “is not a thing like a theory but a thing like a love affair.”

Vincent sluit aan by die gedagte van Gerard Ebeling dat gebed die sleutel is om die wese van God te verstaan.  Hy werk met ‘n oop perspektief op God, wat sommige “open theism” noem, omdat gebed nie eintlik met ‘n ander perspektief nog gebed genoem kan word nie.

Daarby voeg hy dat gebed ook gesien moet word as die “language game of faith” op voetspoor van Anthony Thiselton, wat ‘n gloeiende kommentaar op die agterblad geskrywe het: “Vincent Brümmer is a well-known world-class philosopher … I have always regarded What are we doing when we pray? as obligatory reading.

Hy is oortuig dat gebed nie van spiritualiteit en die geloofslewe geskei kan word deur dit bv. te beskou as terapeutiese meditasie nie omdat gebed fundamenteel eksistensieel en nie bloot intellektueel is nie.  “Prayer is a ‘school of seeing’” (John Drury).

Die boek is in twee dele geskryf: deel een oor gebed en deel twee oor die onderskeid tussen geloofsvertroue (faith) en godsdienstige geloof (belief).

Continue reading

Die gebed van die hart of Jesus gebed

prayer-shawlDie gebed van die hart – centering prayer of breath prayer– help jou om voor God tot rus te kom.  Dit help jou om al hoe meer “sonder ophou te bid” (1 Tess. 5:17).  Dit help veral om nie net op die inhoud (verwagtings, versoeke) van jou verhouding met God te fokus nie, maar om regtig in gemeenskap met Hom te kom.    Só kan jy in gemeenskap met God bly regdeur jou lewe.

Dit behels meesal die herhaling van ’n eenvoudige een-sin gebed – baie keer ’n sin of frase uit die Bybel – wat jou behoefte aan God uitdruk en jou help om op Hom te fokus.  Jy kan jou eie teksvers kies om in jou gebed van die hart te gebruik (Ps. 37:4-5 of Matt. 11:28 bv.).

Die gebed wat egter tradisioneel die meeste gebruik word, is die Jesus gebed: “Here Jesus Christus, Seun van God …  wees my genadig, ’n sondaar.”  Die eerste frase word baie keer gebid terwyl jy inasem.  Die tweede frase word dan gebid terwyl jy uitasem.

Hier is ʼn paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

Continue reading

Jesaja 65 – Terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor

Jesaja gee met hierdie laaste twee hoofstukke, hoofstuk 65 tot 66, die Here se boodskap aan die volk weer, waarmee Hy ook die gebed van Jesaja, wat hy namens die volk gebid het, antwoord.

En die antwoord in hoofstuk 65 is twee-ledig.

  1. Daar sal steeds oordeel wees vir dié wat aanhou om te sondig, maar vir dié wat na Sy wil vra, sal ‘n heerlike toekoms aanbreek – 65:1-16.
  2. Die heerlike toekoms word in eskatologiese trekke geskets as die skep van ‘n nuwe hemel en aarde – 65:17-25.

Oordeel en ‘n heerlike toekoms

65:1-5: Let op hoe God se antwoord beurtelings fokus op die oordeel wat Hy gaan voltrek op dié wat aanhou sondig, sowel as die genade wat Hy gaan bewys aan dié wat na Hom luister.  Om die waarheid te sê, regdeur is luister nogal ‘n sleutel element om God se optrede te verstaan.  Dié wat aanhou sondig, luister doelbewus nie na God nie.  God steek sy hande na hulle toe uit, maar hulle beledig Hom deur liewer soos heidene aan afgode te offer en tussen die grafte na die dooies te luister.  Daarbenewens kom hulle sy voorskrifte nie na nie (varkvleis) en weier dat God naby hulle kom.  Dit is waarom God se toorn oor hulle ontvlam.

65:6-10: God gaan hulle dus straf, en gee wat hulle verdien, terwyl Hy Hom sal ontferm oor die druiwetrosse wat nog sap het – ‘n metafoor vir die oorblyfsel uit Juda – en hulle sal uitkies om die land weer in besit te neem.  By die Saronvlakte na die weste toe sal weer met kleinvee geboer word en by die Akorlaagte na die ooste toe (Dooie See) sal weer lêplek wees vir beeste.

65:11-16: Maar dié wat afvallig geword het van die Here, Hom vergeet het, en offers bring vir Gad en Meni (blykbaar Kanaänitiese geluksgode ), dat dié hulle lot kan bepaal, sal met die dood gestraf word.  Weereens is hulle nie-luister na God, en die uitleen van hulle ore vir ander geluksgode, die motivering vir God se oordeel oor hulle.  Daarom sal God dit met hulle laat sleg gaan (honger ly, dors ly, teleurgestel word, skreeu van pyn, huil van hartseer), terwyl Hy vir sy dienaars sal sorg en ‘n nuwe toekoms sal verseker.

Let op hoe God se verhoring van gebede gekoppel word aan die verhouding waarin Hy met iemand staan: “Elkeen in die land wat om voorspoed bid, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is” (65:16).

Heerlike toekoms

65:17-25: God skep ‘n nuwe hemel en aarde om opnuut bly te kan wees oor sy mense en saam met hulle te leef sonder dat daar rampe of ‘n einde weens ouderdom sal wees.  Let op hoe hierdie nuwe toekoms verandering op alle vlakke belowe:

  • LEWENSVREUGDE: vreugde onder alle inwoners, geen smart of nood, geen kindersterftes, ‘n lang lewe vir almal (100-jariges is jonk!),
  • ARBEIDSVREUGDE: eie druiwe eet, self die vrug van handewerk geniet, nie tevergeefs vermoei nie;
  • VEILIGHEID: veilige huise, veiligheid van rampe, veiligheid as volk, veiligheid tussen diere in die natuur, niks verkeerds word gedoen nie, niks word vernietig nie;

Vreugde en veiligheid – dít is die substansie van die nuwe hemel en nuwe aarde! Hoe wens ek dat dit kan aanbreek, dat ek en my mense vreugde en veiligheid kan ervaar, en dat dit ‘n wêreldfenomeen sou wees.  O hoe wens ek dit nie ook vir Japan wat in dié tyd swaarkry en uiterse smart en onveiligheid ervaar na die skrikwekkende aardbewing, tsunami en al die vernietigende naskokke en ander nagevolge  van die gebeure daar (kern reaktors, elektrisiteitsvoorsiening, water).

Gebedsverhoring

Die wyse waarop die Here hier Jesaja se gebed beantwoord, het natuurlik ook betekenis vir ons eie ervaring van gebedsverhoring.  Wat my tref is die volgende:

  • God wil goed doen, selfs aan dié mense wat Hom nie soek nie. Hy sal uit sy pad gaan om hulle te bereik.  Ons kan ook daarvoor bid.  Selfs in God se oordeel kan daar uitkoms wees, vir dié wat hulle op Hom beroep.  Rut is hiervan ‘n voorbeeld.  Vergelyk my bydrae daaroor: Jesaja 15-17 – Dit kerm in my binneste.  God is nie ’n ontoeganklike afsydige wese nie.
  • God oordeel diegene wat Hom ken, maar Hom nie langer wil erken en na Hom luister nie. Vir ‘n Jeremia het die Here nie verniet eenmaal net voor die ballingskap van die 6de eeu vC gesê nie, selfs al sal die groot intersessors, Moses en Samuel, vra dat Ek my oordeel afwend, sal Ek dit nie doen nie (Jer 15:1).  Daar kom ‘n tyd wat ‘n positiewe antwoord op gebed nie meer gegee kan of sal word nie.  God is nie ‘n onaktiewe wese nie.  Hy tree op waar sy eer in gedrang kom.
  • God doen goed aan mense wat na Hom luister en Hom dien.  Hy antwoord hul gebede.  Daarvan getuig Jesaja hier, en vele ander gedeeltes in die Bybel (vgl bv net Elia in 1 Konings 18-19 en die gevolgtrekking van Jakobus daarop in Jak 5:16-18).  Dit is ook die ervaring van gelowiges regdeur die eeue.  Dit beteken nie dat ‘n mens alles kry presies soos jy dit vra nie, al gebeur dit meer as wat die meeste ongelowiges wil erken. Dit beteken ook nie dat jy alle leed en pyn en lyding gespaar word nie.  Dit sou ‘n tipiese voorspoedsteologie jou belowe, wat egter nie deur Christene se ervarings deur die eeue bevestig word nie.  Lees maar net Hebreërs 11 daaroor.  God is nie ‘n outomatiese slotmasjien wat jou gee net wat jy vra nie.  Hy is soos ‘n pa of ‘n ma wat binne ‘n verhouding vir ons gee wat ons nodig het binne die groter plan wat Hy met die wêreld het.  Die kuns is om nie net vir Hom so goed as moontlik te leer ken en dien nie, maar ook jou behoeftes en begeertes met oorleg na Hom te bring (Fil 4:6-7).  Dan gee Hy vrede in jou hart en jou gedagtes, maak nie saak wat die uitkoms van die gebed is nie.

Jy kan meer oor die onderwerp van gebed lees in my opsomming van die Andrew Murray pryswenner boek (2009) van Vincent Brümmer: What are we doing when we pray? Ek het ook na aanleiding van sy boek ’n kort artikel geskryf oor gebed: Gebed is noodsaaklik,maar nie genoegsaam nie ….

En jy kan ook kyk na my ander bydraes oor Jesaja wat onder andere oor gebed handel: ·  Jesaja 30-31 – Julle krag lê in stil vertroue en gebed ·  Jesaja 36 – Stilwees en vertroue teen ‘n oormag ·  Jesaja 37 – Gebed en vertroue beweeg God tot optrede ·  Jesaja 38 – God sien ons trane raak EN doen iets daaraan.

Nuwe Testament

Die Nuwe Testament sluit by 5 van Jesaja se gedagtes uit hierdie hoofstuk aan:

  • Paulus wy in Romeine 10:20 op voetspoor van Jesaja se gedagtes in Jes 65:1 uit oor God se genade wat nie net aan Israel (Jesaja se punt) bekend gemaak is nie, maar ook aan die nasies (Paulus se uitbreiding daarvan), selfs al het hulle nie daarvoor gesoek nie.  Dit is ‘n wonderlike tekening van God se karakter – Hy sorg dat mense van Hom kennis neem.
  • Paulus erken daarteenoor in Romeine 10:21 dat Israel ongelukkig hulle eie kop gevolg het, en die verdiende loon daarvoor gekry het.  Dit doen hy op voetspoor van Jes 65:2.
  • Paulus praat ook op soortgelyke wyse as Jesaja oor sy werk wat nie tevergeefs sal wees nie, hoewel hy dit meer persoonlik interpreteer terwyl Jesaja die volk se werk in gedagte het – kyk na Fil 2:16 en vergelyk dit met Jes 65:23.
  • Petrus en Johannes sluit onderskeidelik in 2 Pet 3:13 en Open 21:1 aan by die gedagte van ‘n nuwe hemel en aarde waarvan Jes 65:17 vertel.
  • Johannes praat in Open 21:4 op soortgelyke wyse as Jesaja in Jes 65:19 daaroor dat smart en benoudheid sal verdwyn in die nuwe Jerusalem.

Onlangse kommentaar