Skip to main content

Soek julle krag in die Here en in sy groot mag

bid-of-bakleiIemand het navraag gedoen oor my perspektief oor die engel van die lig.  Ek het ‘n boekie tien jaar terug geskryf oor Geestelike Oorlogvoering en haal drie dele daaruit hier aan, vir dié wat graag meer wil lees daaroor.  Jy kan dit hier aflaai in pdf formaat: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.  Die drie dele is as volg (voetnote aan einde):

  1. Die stryd tussen lig en duisternis – ‘n gemeenskaplike godsdienstige metafoor
  2. Die bestaan van die duiwel, demone en engele
  3. Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag

1       Die stryd tussen lig en duisternis – ‘n gemeenskaplike godsdienstige metafoor

Geestelike oorlogvoering vind sy begronding in die metafoor van die stryd tussen die magte van Lig en Duisternis, wat gebruik word as verklaring van die konflik tussen goed en kwaad wat hom afspeel in die lewe van die hele mensdom.

Dié metafoor word in verskillende ander godsdienste gebruik. Vergelyk as voorbeeld die Persiese (hedendaagse Iran) beskouinge van die Zoroastrianisme (die hedendaagse Parsi’s) gebaseer op die leringe van Zarathustra[i] (of Zoroaster), saamgevat in die Avesta (‘n reeks boeke). Hy word uiteenlopend gedateer tussen 6000 vC (deur Plato) en 600 vC (middeleeuse geleerdes), met die mees moontlike datum ongeveer die 14de of 13de eeu vC (op moderne linguistiese gronde).

‘n Sleutelaspek van sy leringe was die dualistiese stryd tussen die twee(ling) geeste, Ahura Mazda – die god van lig – en Ahriman – die beginsel van kwaad, met ‘n hele hiërargie van demone en engele wat onder hulle ressorteer (Lendering 2002).

Onderlinge beïnvloeding met beduidende verskille

Sommige geleerdes skryf juis die herkoms van die metafoor van lig en duisternis, sowel as die hele Bybelse angelologie en demonologie toe aan dié godsdiens se beïnvloeding van die Bybelskrywers in die Babiloniese ballingskapstyd.

Dis egter ‘n komplekse en moeilik bepaalbare saak om die onderlinge beïnvloeding na die een of die ander kant toe te beslis. Wat vir ons doel belangrik is, is dat ten minste wel gesê kan word, dat die Bybelse demonologie beduidend verskil van die Persiese idees. Dis juis dié verskille wat beteken dat die ooreenkomste wat daar wel bestaan nie net uit ‘n doodgewone meganiese oorname van wat die Persiese godsdienste geleer het, verklaar kan word nie.

De Villiers merk hieroor op: “Dit is juis die angelologie en demonologie wat aantoon hoedat die karakter van die Jahwisme behou kon bly te midde van die wisselwerking wat bestaan het met omringende godsdienste en kulture.” Een van die onderskeidende kenmerke van die Bybelse hantering van engele en demone is dat daar ‘n groeiende bewussyn is van die afstand tussen God en die aarde (transendensie). Dit is juis hierdie groeiende bewussyn van die transendensie van God wat verantwoordelik was vir die groter klem op die rol van engele en demone. Ook die pessimistiese geskiedenis- en wêreldbeeld van die apokaliptici (byvoorbeeld Daniël) kan uit hierdie transendente bewussyn verklaar word (De Villiers 1997).[ii]

‘n Bybelse metafoor

Die metafoor van lig en duisternis word uitgebreid ìn die Bybel gebruik. Die nadenke oor die wyse waarop God aanvanklik lig geskep het (Gen 1-2; vergelyk Jes 45) vind ‘n neerslag in die metaforiese beskrywing van God as lig, sowel as in die metaforiese beskrywing van die verlossing as lig wat in die duisternis geskyn het (Joh 1; Kol 1:13) en in die verkondiging van die herskepping, waar daar nooit weer duisternis sal wees nie (Open 22:5). Dit word selfs toegepas op die waardestelsel waarvolgens gelowiges in hierdie wêreld moet lewe – as mense van die lig (2 Kor 6:14; 1 Joh 2:7-11).

Deurgaans is daar ‘n duidelike onderskeid en afstand tussen die metafoor en sy verwysing, byvoorbeeld dat God lig maak (Gen 1) en in afgeleide metaforiese sin lig is (Hand 26:18; 2 Kor 4:6; 1 Joh 1:5). Dit sou tog onsinnig wees om God direk met lig te identifiseer, ten minste in ‘n Bybelse sin!

In die breë word God dus met lig geïdentifiseer en die magte van die bose met die duisternis. Die metafoor van lig en duisternis vind ‘n weerklank in die verdere metafoor van twee koninkryke van lig en duisternis wat met mekaar in stryd is.

‘n Reformatoriese metafoor

Gegewe hierdie gereëlde gebruik van dié Bybelse metafoor, het dit nog altyd ’n integrale deel van die verstaansraamwerk van die kerk regdeur die eeue[iii] uitgemaak, onder andere ook in die Gereformeerde verstaan van die evangelie.

Calvyn skryf hieroor in hoofstuk XIV van sy Institusie in ’n onderafdeling van sy teologisering oor God as Skepper, waarmee hy duidelik aantoon dat hy die duiwel en sy demone as ondergeskik aan God en sy regering beskou (McNeill 1977:172 vv), soos dit immers ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 12 neerslag gevind het in die afwysing van die Manigeërs se dualistiese standpunt “dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie”. Daarteenoor word die geskapenheid van die duiwel en sy demoneryk bely en die soewereiniteit en uniekheid van God as God bevestig. Met hierdie indeling wou Calvyn gelowiges hoop gee vir die geestelike stryd waarin hulle gewikkel is, ’n stryd wat hy as baie reël beskou het. Daarom waarsku hy gelowiges teen agterlosigheid en lafhartigheid in die stryd teen die bose en pleit hy vir ’n moedige, standvastige en volhardende houding.

Duidelik het Calvyn die duiwel as ’n reële werklikheid beskou teenoor die idee dat die duiwel en demone net beskrywings van bose menslike gedagtes sou wees. Die verwysing na duiwels in die Bybel sou andersins na sy mening redelik sinloos wees, sowel as die hele idee van die eindoordeel en alles wat daarmee gepaard gaan (1977:178-9). Omdat die duiwel God se teëstander is en die stryd tussen hulle onversoenbaar is, word ons daarom deur Calvyn opgeroep tot ’n volhardende stryd, ’n geestelike weerstand teen alles wat die duiwel doen en waarvoor hy staan. Hy beredeneer dit veral uit die oorwinning wat reeds behaal is op Golgota wat ’n kompromielose geveg met die duiwel moontlik maak.

Die Heidelbergse Kategismus verklaar die sesde bede van die Ons Vader: “En lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” as volg: “Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk sodat ons teen hulle sterk weerstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie totdat ons eindelik die oorwinning ten volle behaal.” (vraag en antwoord 127).

Ook die Dordtse Leerreëls verwys in Hoofstuk 5 na die geestelike stryd as deel van die geloofsvolharding van die heiliges. Omdat die verlossing van die gelowiges nie heeltemal in dié lewe met die sondige natuur en die mag van Satan klaarspeel nie, moet gelowiges: “hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die sondige natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge.” (Afdeling 1, artikel 2).

2       Die bestaan van die duiwel, demone en engele

Hoewel die angelologie (leer van die engele) en die demonologie (leer van demone) nie as ‘n deeglike uitgewerkte sisteem in die Skrif voorkom nie, word die bestaan van die engele, demone en die duiwel[iv] deur die Skrifboodskap eenvoudig as ‘n werklikheid aanvaar. Daar is ‘n wye aanvaarding van engele en demone in die Bybel en ook in die ander Joodse tekse van daardie tyd (De Villiers, 1997:16.4), sonder om te veel oor hulle uit te brei.

Daar is byvoorbeeld geen sprake van ‘n dominerende rol wat hulle sou speel nie. Die enigste bestaansruimte wat hulle het, is een waarin hulle as ondergeskik aan Jahwe geteken word – die engele in die teenwoordigheid van God en die demone meesal weg van sy teenwoordigheid op die aarde en onder die aarde. Veral demone het in die Ou Testament ‘n totaal ondergeskikte plek gehad as dit vergelyk word met hulle rol in ander godsdienste (Vergelyk die groot voorkoms van byvoorbeeld besweringsformules in tekse uit die Ou Nabye Ooste teenoor die min gegewens hieroor in die Bybel). Daar is byvoorbeeld geen duidelike geval van duiweluitdrywings of bevrydingspraktyke in die Ou Testament nie.

Die bestaan van bose geeste word erken sonder om te veel daarvan te maak. Ons lees byvoorbeeld van Dawid wat vir Saul op die lier gespeel het toe ‘n bose gees – deur God gestuur! – hom ontstel het (vergelyk 1 Sam 16:14vv), sonder dat die duiwel uitgedryf is. In 1 Kon 22:21-22 kry Miga ‘n visioen van ‘n gees wat aan God voorstel dat hy ‘n leuengees word, wat Agab so ver moet kry om na die oorlog te gaan om te sneuwel, sonder enige betrokkenheid van mense in die proses nie. Soms is ‘n bose gees eerder ‘n aanduiding van ‘n slegte gesindheid wat tussen mense veroorsaak word – op gesag van die Here! Hy stuur vyandskap tussen samesweerders om hulle en hulle planne te ontwrig (Rigt 9:23 – Abimelek versus Sigem).

Een van die redes vir dié onderbeklemtoning kan gevind word in die Joodse monoteïstiese oortuiging dat Jahwe alleen God is en dat alles aan hom ondergeskik is. Daarom is demone en bose geeste op die perifirie van die lewe en is die bediening van bevryding doodgewoon nie nodig nie. Elke Israeliet wat voor die aangesig van Jahwe gelewe het, was onder sy beheer. Selfs die min kere dat die Satan op die toneel verskyn, is hy volledig gebonde aan die besluit en wil van Jahwe (vergelyk Job 1).

Dit kontrasteer skerp met die leefwêreld van Mesopotamië, Babilonië en selfs Kanaän, waar die geestelike wêreld en sy invloed ‘n baie reële en konstante werklikheid vir mense was. Amulette wat mense teen bose geeste kon bewaar, offers aan ‘n verskeidenheid van gode en verskillende towerspreuke of beswerings (incantation) deur dreunsang (chants) gewoonlik deur priesters, was deel van die alledaagse wyse waarop mense hulle teen bose geeste beskerm het.

In die Tussen-testamentêre tydvak (byvoorbeeld die apokalipse IV Esra en II Barug asook I Henog) het die idee van Satan as maghebber oor ‘n koninkryk groter prominensie begin kry en ‘n neerslag gevind in die wyse waarop die Nuwe Testament oor demone skrywe. Satan en sy ryk word al hoe meer die verpersoonliking van alles wat boos is (sonder om die menslike vleeslikheid en die “mag” van die sonde te verskoon) wat ‘n noodsaaklike konteks vorm waarbinne die kruisevangelie van Jesus Christus se oorwinning oor die dood, verstaan moet word. Deur die duiwel uit die verhale van die evangelies en die briewe uit te haal, word ‘n belangrike deel van die boodskap van die Skrif en van die werk van Christus sonder konteks en sonder betekenis gelaat.

Die erkenning van die Satan en sy ryk het egter nie beteken dat die prominente praktyke van die Hellenistiese tydvak (waarby die Jode ook betrokke was) waardeur die invloed van duiwels deur magie en towery bekamp is, op enige wyse ‘n neerslag gevind het in die wyse waarop Jesus en die kerk opgetree het nie. Jesus dryf duiwels uit met slegs ‘n gesagvolle woord (Luk 8:29; Mrk 1:27; 9:25), selfs wanneer Hy nie eers teenwoordig was nie (Matt 15:22-28; Mrk 7:24-30). Sy woorde was genoeg sonder dat Hy ‘n ritueel van een of ander aard moes benut.

Die apostel Petrus bestraf Simon die towenaar wat moontlik gedink het dat hy deur die gawe van die Heilige Gees sy besweringspraktyk kan uitbou (Hand 8). Petrus dryf nie eers ‘n duiwel uit Simon nie, maar roep hom onomwonde tot bekering en gebed tot God op! Paulus dryf wel duiwels uit, maar eers onder groot provokasie (Hand 16:18)!

Dit wil verder blyk dat een van die redes waarom daar soveel minder in Handelinge en die briewe van die Nuwe Testament oor demone en hulle uitdrywing gepraat word, ‘n skuif van direkte magskonfrontasies na “truth encounters” is (Moreau 1995:29). Die begrip en toepassing van die waarheid het ‘n belangriker rol begin speel as die weg tot ware vryheid (Vergelyk reeds Jesus se eie klem daarop in Joh 8:31 vv).

Tog beteken hierdie skuif wat in die Nuwe Testament merkbaar is, nie dat die werklikheid van demone en die duiwel ontken is nie. Veral in Openbaring word weer helder op die apokaliptiese betekenis van demone ingegaan. Feit bly dat die duiwel se werk erken word.

En dis juis hierdie duidelike erkenning van die werklikheid van die duiwel en demone wat in skerp kontras staan met die moderne siening dat demone deel is van die pre-moderne Bybelse sisteeem en nie meer vandag geldig is as ‘n verklaringsbeginsel nie. Die Bybel se demonologiese beskrywings word eenvoudig deur ‘n rasionele verklaring van die onderskeie verhale en fenomene ontken met die gebruikmaking van wêreldbeskoulike argumente (du Toit 2000:47).

Aan die een kant is dit natuurlik só dat nie alle “pre-moderne” mense geglo het aan die heersende interpretasies van die bo-natuur, die liggaamlike opstanding of die bestaan van geeste en engele nie. Vergelyk die rusie tussen die “sekularistiese” Sadduseërs – wat volgens die teks nie aan bo-natuurlike wesens geglo het nie[v]– en die Fariseërs, wat wel aan hulle geglo het (Hand 23:7-8). Daar is werklik niks nuuts onder die son nie. CS Lewis skryf dat die enigste vrou wat hy ooit geken het wat ‘n spook gesien het, stellig verklaar het dat sy nié in hulle glo nié en haar waarneming daarom ‘n illusie moes wees (1947:7)!

Aan die ander kant is die lyne tussen ‘n pre-modernistiese, modernistiese en post-modernistiese wêreldbeskouing nie waterdig nie. Daar is eerder in alle standpunte ‘n vervlegting te bespeur van dié perspektiewe, wat aanleiding gee tot ‘n kritiese onderlinge debat tussen verskillende maniere om die waarheidsaansprake van uitsprake/idees/waarnemings te beskou (Cilliers:2002, 2).

Maar belangriker as dit, is die implikasie wat só ‘n ontkenning vir die res van die Bybelse boodskap en geloof inhou.

Eerstens: Die beskrywing van Jesus se bediening op aarde, sowel as dié van sy dissipels, speel grotendeels af in die konteks van ‘n stryd met en bevryding van demone. Indien die demone verklaar word as psigologiese en/of sosiologies-gekondisioneerde (taboes) afwykings, moet die ervarings wat mense van bevryding gehad het, ook psigologies en sosiologies verklaar word – ‘n anakronistiese poging wat ‘n hedendaagse paradigma van toepassing probeer maak op gegewens uit die verlede. Psigologiese en sosiologiese veranderinge gebeur egter nie sonder die inskakeling van die bewussynsprosesse van die individu of groep nie. Selfs in hipnose as terapie is die medewerking van die kliënt noodsaaklik en kan geen verandering bewerk word sonder dat dit kongruent is met die verwysingsraamwerk van die kliënt nie. In die evangelies gebeur duiweluitdrywing meesal eenvoudig met ‘n gesagvolle woord (Matt 17:18; Luk 9:42). ‘n Psigologiese of sosiologiese verklaring van bevryding kan dus moeilik rasioneel verdedig word.

Tweedens: Die bediening van Jesus was verder gekenmerk deur die wonders van genesing, wonderbaarlike voorsienings (vermeerdering van die brood) en selfs opwekkings uit die dood (Matt 9:25; Joh 11) as teken van die boodskap van die evangelie. Dit ís so dat sommige van die toestande wat Jesus genees het, simptomaties met ‘n vorm van epilepsie verbind sou kon word. Maar die genesing daarvan sonder om van een of ander farmaseutiese behandeling gebruik te maak, is moeilik verklaarbaar sonder ‘n aanvaarding van die moontlikheid van wonders. Siektes soos melaatsheid is nooit as demonies geïnterpreteer nie en die genesing daarvan ook nie as demoniese uitdrywing hanteer nie. Die genesing daarvan met slegs ‘n woord van Jesus, kan moeilik anders interpreteer word as dat dit ‘n wonderwerk was – om nie te praat van ‘n opwekking uit die dood nie, behalwe as Mohammed se voorbeeld gevolg word wat die dood van Jesus as ‘n skyndood geïnterpreteer het. Wonderwerke kan gevolglik net ontken word as die verskynsel van die genesing as sodanig ontken word. Dit kan egter ook net gedoen word na aanleiding van die sekulêre idee van die modernisme dat slegs dit wat in die hede as werklik ervaar kan word, in die verlede kon gebeur het.

Derdens: Indien die bestaan van demone en engele ontken word, kan die bestaan van God en die Heilige Gees moeilik volgehou word. Die rede hiervoor is dat die bestaan van God nie berus op rasionele of empiriese argumente nie, maar op die getuienis van die Bybel[vi]. Dit wil sê, dit is ‘n geloofs- en belydenisstandpunt. Indien die demone en engele se bestaan op grond van rasionele argumente betwyfel word – dat daar ander verklarings vir hulle werkinge is en hulle nie empiries waargeneem kan word nie – geld dieselfde ook vir die bestaan van God – daar is ander verklarings moontlik vir die werk wat die Bybel sê Hy doen en Hy kan ook nie empiries waargeneem word nie.

Aan die ander kant is die beskrywings van demone en duiwels in die Bybel so sober en sonder sensasie dat die werk van die duiwel ook nie oorskat mag word nie. Dit bring veral ‘n korreksie op die perspektiewe uit die kringe waarin die Bybelse gegewens gereeld ondergeskik gestel word aan die ervarings wat moderne geestelike oorlogvoerders opdoen en waar hulle ervarings uiteindelik beslissend hulle teologiese raamwerke bepaal. Jakobus sê immers dat die duiwel wegvlug van ‘n knielende mens wat biddend weerstand bied teen hom (4:1-10)!

Meesal moet die Skrif in beide bogenoemde verklaringsmetodes op ‘n baie lukrake en spitsvondige manier aangehaal word om óf die ervarings wat gelowiges het, te begrond en te bewys óf om dit juis weg te verklaar.

Die Skrif waarsku juis dat die duiwel beide ‘n brullende leeu (1 Pet 5:8) is as ‘n engel van die lig (2 Kor 11:13). Misleiding lê waarskynlik beide in ‘n ontkenning van die bestaan van die duiwel én in die oorskatting van sy werk – soos C S Lewis al gewaarku het in sy populêre boekie The Screwtape Letters (1942:9). As alles demonies is, is niks werklik demonies nie! Aan die ander kant: as jy niks demonies ervaar nie, kan jy nie met gesag op grond van jou of ander se gebrek aan ervaring ‘n uitspraak maak oor die bestaan al dan nie van demone nie.

Daarom dat Lausanne heel Skriftuurlik en onomwonde bely: “Satan is a real, personal spiritual and created being …” (Consultation Statement: 2000). Daarmee kan ons breedweg identifiseer, want dit is hoe die Bybel die duiwel beskrywe, hoewel ons nie kan ontken dat byvoorbeeld sosiale of politiese strukture ook magte sou kon wees nie (Vergelyk Walter Wink se trilogie oor die magte: Naming the Powers [1984], Unmasking the Powers [1986] en Engaging the Powers [1992]) en dat boosheid ook as ‘n menslike verskynsel bestaan, met sy oorsprong in die hart of gedagtes van mense (Du Toit:2000, 48).

3       Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag

Dit is interessant om te sien wat die dinge is waardeur ons die krag van God ervaar en toelaat in ons lewe.  Paulus noem 7 maniere, waarvan net een, die Woord, met ‘n aanvalswapen gekoppel word, die swaard:

  1. Waarheid – in die lig van 5:6-20 het dit te make met die vasstaan in die lig van die waarheid, teen die onwaarhede wat mense verkondig (5:6) sowel as om die vrugtelose praktyke van die duisternis aan die kaak te stel (5:11).  In ons toewyding aan die waarheid, ervaar ons God se krag wat ons vol maak van Homself.  Die waarheid is soos ‘n gordel waarmee ‘n soldaat sy jurk opgebind het, sodat hy makliker kon beweeg.  Dit maak ons vry in ons binneste van verslawing en weerbaar teen versoeking in die publiek.
  2. Vryspraak (geregtigheid) – dit het te make met die feit dat in Christus ons in die regte verhouding met God gekom het, en dat ons nou vrye toegang tot die Vader het.  In ons blydskap oor God wat ons aangeneem het, volledig uit genade, ervaar ons die krag om standvastig te bly in die wêreld.
  3. Getuienis – die bereidheid om die evangelie na mense te neem, is ‘n kragtige bevestiging van God se werk in jou eie lewe.  Dit is soos die skoene aan die voete van die soldaat wat sorg dat hy oor ruwe terrein kan beweeg, met die getuienis van die goeie nuus van die evangelie vir alle mense.
  4. Geloof – die vertroue op God en die afhanklikheid van wat Hy doen, is die enigste manier om die aanslag van die bose af te weer.  Dit is soos ‘n skild wat jou beskerm teen die brandpyle van die vyand.  Let op dat daar nie ‘n pyl en boog in die hand van die gelowige is nie, net ‘n skild om weerbaar te wees.
  5. Verlossing (redding) – as vryspraak die objektiewe werk van Christus in ons lewe is om ons in die regte verhouding met God te bring, is verlossing die subjektiewe diep oortuiging in ons binneste dat God dit inderdaad goed bedoel met ons en ons vir Homself as kinders aangeneem het.  Dié oortuiging funksioneer soos ‘n helm op ons kop wat die sentrum van ons lewe, ons brein, beskerm.
  6. God se Woord – die enigste aanvalswapen is die Woord van die Gees, soos Paulus dit stel.  En let op dat die Heilige Gees en die Woord direk aan mekaar gekoppel word.  Die een kan nie sonder die ander nie – albei is nodig om regtig in God se wil vir jou lewe te kan wandel.
  7. Gebed – dit is die aspek waarop die meeste uitgebrei word.  Let op dat gebed allesomvattend is – by elke geleentheid, gedurig, vir alle gelowiges, vir die evangelie.

Paulus gebruik ‘n oorlogsmetafoor (soos Jesaja ook gereeld doen) wat hy uitspel in terme van ‘n wapenrusting, gordel, borsharnas, skoene, skild, en swaard.  Omdat dit ‘n geestelike stryd is wat met dié wapens gevoer word, is die term “geestelike oorlogvoering” gemunt, ongelukkig met ‘n inkleding wat min met die teks self te make het.

Kyk weer na die dinge wat Paulus uitlig, en jy sal sien dat sy opdrag nie direk met ‘n aanval op die bose magte te make het nie, inteendeel, eerder met ‘n fokus op drie aardse goed: 1) mense aan wie die evangelie verkondig moet word (vers 15), 2) mense vir wie gebid moet word (vers 18-19) en 3) jou persoonlike lewe, waarin jy vas moet staan in die waarheid, vryspraak, getuienis, geloof, verlossing, die Woord en gebed.  Nie een opdrag het met die kosmiese magte as sodanig te make nie.

Deur vas te staan in die waarheid en die geloof, deur te bid en te getuig word weliswaar die mag van die bose in mense se lewens gebreek – die mag van die politiek, ekonomie en kultuur – maar altyd met werklike mense in die oog.  Daarmee ontken ek nie die bestaan van die duiwel en bose magte nie, maar fokus op dít wat die teks van ons vra – en die teks vra nie ‘n direkte geveg met die Bose nie, maar ‘n betrokkenheid by werklike mense.  Selfs die engele skram van ‘n direkte geveg met die duiwel weg, sê Judas 8-11.  Hoe ons geestelike oorlogvoering dus die kosmiese magte raak, word nie dieper deur Paulus hier uitgespel nie.

Dr. Chris van Wyk

1 April 2016

acv.vanwyk@gmail.com

VOETNOTAS

[i] Zarathustra as figuur is ook bekend aan die Weste deur die werk van Nietzsche: Thus spake Zarathustra, hoewel daar uiteindelik nie eers ‘n god oorbly in sy beskouinge nie!

[ii] Dit sien ‘n mens ook geïllustreer in die hantering van ander leringe uit die ballingskap. Vergelyk byvoorbeeld die beskrywings van Genesis 1 en 2 wat ‘n ander tipe skeppingsteologie as dié van ander skeppingsverhale uit dié tyd handhaaf. In plaas van ‘n skepping uit die liggaam van Tiamat, skep God uit die chaos. Daarmee oorwin God nie net die chaos nie, Hy span dit in. Die hemelliggame word daarom ook nie as gode beskrywe nie, maar as skeppingsvoorwerpe wat deur God in aanskyn gepraat is. Net so teologiseer Genesis 9-11 anders oor die rede vir Noag se ark-ekspedisie as wat die Gilgamesj-epos dit aan die hand van die figuur Utnapisjti(m) doen. Die rede vir die vloed in Genesis is die sonde van die mensdom met alleen Noag wat begenadig word. In die Gilgamesj-epos is die rede vir die vloed die oordeel van die god Enlil oor die vinnige vermeerdering van die mense wat sy slaap versteur!

[iii] Vergelyk die duiweluitdrywers van die vroeë kerk (volgens Eusebius) en die getuienisse van sendelinge, veral wanneer in nuwe sendingvelde op God se “mags”-ingrype op byvoorbeeld die weerstoestande staatgemaak is as tekens om die plaaslike bevolking van die geloofwaardigheid van die Christelike godsdiens te oortuig (Rommen 1995:2).

[iv] Vir meer inligting oor die die duiwel en verwante onderwerpe, vgl die werke van J B Russell (The Prince of Darkness : Radical Evil and the Power of Good in History 1992; Mephistopheles : The Devil in the Modern World, 1986; Lucifer : The Devil in the Middle Ages, 1984; Satan : The Early Christian Tradition, 1981; The Devil : Perceptions of Evil from Antiquity to Primitive Christianity, 1977) en B P Levack (redakteur van ‘n 12 volume werk: Witchcraft, Magic and Demonology, 1992) wat ‘n enorme hoeveelheid inligting beskikbaar gestel het hieroor. Vgl ook die werk van P Carus (The history of the Devil and the Idea of Evil, 1900) wat as ateïs reeds aan die begin van die vorige eeu gesoek het na die waarheid agter die mite en simboliek van die duiwel. Vergelyk ook L Els & K Jonker Satanism in South Africa, 2000.

[v] Sommige verklaarders betwyfel dié interpretasie, op grond van die feit dat ‘n ander antieke bron, Josefus, niks hieroor van die Sadduseërs vermeld nie en dit verder bekend is dat die Sadduseërs die Pentateug aanvaar het, waarin wel van engele sprake is. Marshall (1980:365) verbind byvoorbeeld die verwysing na engel en gees in die teks aan die tipe opstandingsliggaam wat gelowiges sou hê, wat met die bestaande inligting oor die Sadduseërs se ontkenning van die opstanding sou ooreenstem. Wat ‘n mens se keuse egter ook al is, die feit is dat die Sadduseërs met die heersende verstaansraamwerk verskil het.

[vi] Die getuienis oor God uit die algemene openbaring van die skepping kan op dieselfde wyse aanvaar of verwerp word.

Demone, Duiwel, geestelike oorlogvoering, Satan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar