2 Kronieke 29-31 – Hiskia vra met sy hele hart na die wil van sy God en is voorspoedig

Vier episodes reg aan die begin van Hiskia se regering word vertel wat die betekenis van sy bewind stempel:

  • Hiskia laat die tempel skoonmaak om aan die Here gewy te word – 2 Kron. 29:1-19
  • Hiskia neem die tempel in gebruik en wy die gemeente aan die Here – 2 Kron. 29:20-36
  • Hiskia laat die Paasfees as nasionale fees vir die hele Israel vier – 2 Kron. 30:1-31:1
  • Hiskia reël die insameling van die offergawes en die versorging van die tempelpersoneel – 2 Kron. 30:2-20

Daarmee brei die Kronis ekstensief uit op die kort agt verse weergawe van Hiskia se aanvanklike regering in 2 Kon. 18:1-8, waarin niks van die herstel en ingebruikneming van die tempel, die viering van die Paasfees of die versorging van die tempelpersoneel vertel word nie.  Konings vertel egter wel van ’n paar ander dinge wat Hiskia gedoen het, wat nie in die Kronis opgeneem is nie:

  • die afgodery rondom die koperslang van Moses (Negustan) wat hy tot ’n einde gebring het deur dit stukkend te slaan en
  • sy opstand teen Assirië, hoewel dié opstand ’n logiese oorsaak is vir die verhaal van Sanherib wat in Kronieke 32 sal volg.

Hiskia laat die tempel skoonmaak  om aan die Here gewy te word – 2 Kron. 29:1-19

Soos Agas as simbool staan vir hoe dinge nie gedoen word nie, so staan Hiskia as ’n simbool van hoe dinge wel gedoen word.  In die eerste jaar van sy regering pak hy die herstel van die volk se verbintenis aan God aan deur die tempel se deure (wat sy pa gesluit het) oop te maak en binne 16 dae skoon te maak en te herstel, sodat die volk die Here daar kan aanbid.  Hy werk deur die priesters en Leviete wat hy met ‘n motiveringspraatjie op die Oosplein van die noodsaak van verandering en herstel oortuig: “Spring nou aan die werk, my seuns, want die Here het julle gekies om voor Hom diens te doen en sy dienaars te wees wat vir Hom offerandes moet bring.”

Hiskia neem die tempel in gebruik en wy die gemeente aan die Here – 2 Kron. 29:20-36

Die 17de dag het hy al die stadsamptenare laat bymekaarkom en sondeoffers gebring vir die koningskap, die heiligdom, Juda en uiteindelik vir die hele Israel.  Hierdie offers is heeltemal verbrand om versoening te bring met God.  Die Leviete het met hulle simbale, harpe en liere en die priesters met hulle trompette die gemeente begelei in aanbidding terwyl die lied van Jahwe weerklink het.  Dié lied was ’n soort volkslied, hoewel ons nie seker is watter lied dit was nie.

Só het Hiskia die tempeldiens weer gevestig, hoewel die priesters ‘n bietjie traer was as die Leviete om die nuwe bedeling te omarm!

Hiskia laat die Paasfees as nasionale fees vir die hele Israel vier – 2 Kron. 30:1-31:1

Die volgende stap van Hiskia was om dié fees wat die volk van Israel gedefinieer het, die Paasfees, te vier.  Dit is die fees waarin die uittog uit die slawerny van Egipte herdenk is en wat ’n kragtige simbool van die werklikheid van God se verkiesing van hulle as volk was, sowel as van hulle eenheid as volk.

Daarom stuur Hiskia ’n uitnodiging aan die hele Israel om hulle almal uit te nooi om die Paasfees, “vir die Here die God van Israel te vier.”  Interessant genoeg wag Hiskia nie tot die bestemde tyd (die eerste maand) nie, omdat dit sou beteken dat hulle bykans 11 maande moes wag en dít net te lank sou wees en die hervorming wat hy aangekondig het momentum sou kon laat verloor.

Hy raadpleeg met sy amptenare en die hele gemeente van Jerusalem of hulle die Paasfees in die tweede maand sou kon vier en almal het dit goedgevind om dit so te doen.  Die optrede wys dat geestelike onderskeiding van wat God nóú wil, legalisme kan troef, soos ons dit inderdaad ook in Handelinge 15 met die NT gemeentevergadering in Jerusalem oor die insluiting van die heidene gesien gebeur het.  Ook dáár is teen legalisme gekies deur nie die wet van Moses legalisties op almal van toepassing te maak nie en slegs die geloof in Jesus Christus die onderskeidende kenmerk vir lidmaatskap van die kerk te maak.

Hardlopers is deur die hele Israel en Juda met briewe van die koning om hulle uit te nooi waarin die Paasfees as bekeringsfees geteken word: “kom terug na die Here … dan sal Hy ook terugkom na julle toe.” Roerend word selfs die terugkoms van hulle broers en seuns uit die ander lande waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, aan die genade van barmhartigheid van die Here gekoppel, as die volk net hulleself onder God se heerskappy in aanbidding by die Paasfees sou kom stel.

Wisselende reaksies begroet die boodskappers.  Sommige lag en spot, ander het berou gekry en teruggekom Jerusalem toe.  En die Kronis sien daarin “die hand van God werksaam.”  Hulle eendragtige gehoorsaamheid word aan God se werk gewyt en baie mense het by Hiskia hulle in Jerusalem kom aansluit.

In die proses is ook Jerusalem skoongemaak van afgodsaltare en het die Leviete en priesters (van wie daar waarskynlik nog mense was wat maar langtand aan dié nuwe hervormings gekou het) skaam gekry en hulle aan die Here gewy om hulle plek in die tempel te kan inneem.  Omdat die meeste van die baie mense hulle egter nie gereinig het nie en dit in stryd was met wat die wet oor die Paasfees voorgeskryf het, het Hiskia vir hulle gebid dat die Here in sy goedheid (dit is die enigste plek in die Bybel waar letterlik staan: “die goeie Here” of in Engels “the good Lord”) self vir hulle versoening sou doen, al is hulle nie volgens die reinheidsvoorskrifte aan Hom gewy nie.  En die Here het dié gebed van Hiskia verhoor en die volk nie gestraf nie.

Die feesvierings duur die vereiste sewe dae, maar dit was so lekker dat hulle besluit het om dit na veertien te verleng!  Let op dat selfs die immigrante wat uit die land Israel gekom het en nou in Juda gewoon het, welkom was!  Geen wonder nie dat daar groot vreugde in Jerusalem was en dat die seënbede van die priesters en Leviete die hemel bereik het en God dit met goedkeuring gehoor het.  Watter fees!

En vir die eerste keer word die hoogtes verwoes op die pad terug na elkeen se eie stukkie grond toe!  ’n Monumentale hervorming wat op feestelike wyse die volk weer aan God verbind het.

Hiskia reël die insameling van die offergawes en die versorging van die tempelpersoneel – 2 Kron. 30:2-20

Nog is Hiskia nie klaar nie.  Die tempel en die feesvieringe kan nie volhoubaar bestaan sonder dat die tempelpersoneel bemagtig word vir die bediening en versorg word in die proses nie.

Daarom neem Hiskia dit op hom om die pligstate van die priesters en Leviete afdelingsgewys saam te stel om vir die funksionering van die tempel verantwoordelikheid te neem.  Dit sluit in:

  • die brandoffers (volledig  verbrand om versoening te bring),
  • die maaltydoffers (’n deel geoffer vir die Here en die res was deur die tempelpersoneel geniet),
  • die algemene diens (administrasie, skoonmaak, voorbereiding van allerlei en so meer),
  • die belydenis (in die grondteks staan eintlik “diens” wat waarskynlik dus eerder een of ander vorm van “bediening” of “berading” was, in Engels “to minister”) en
  • die lofprysing in die poorte van die “woning van die Here.”

En Hiskia sorg dat die tempelpersoneel versorg word soos dit wet dit voorgeskrywe het.  Daarvoor dra die koning self uit sy persoonlike besit by, maar roep ook die hele Israel om vrygewig die eerste opbrengste van hulle oeste en die tiendes van alles te bring.

En let op dat die onderhoud gemik was daarop om die priesters en Leviete vry te stel: “sodat dié hulle aandag kon gee aan die uitleg van die wet van die Here.”  Presies soos die twaalf apostels dit uiteindelik in die eerste Christelike gemeente van Jerusalem sou reël, met die sewe manne wat deur die gemeente aangestel is om aandag te gee aan die versorging van die weduwees sodat die apostels: “ons aandag aan gebed en die bediening van die woord,” kan bly gee (Hand. 6:4).

Dié beginsel van die vrymaking van die “tempelpersoneel”, die bedienaars van die Woord in Nuwe Testamentiese konteks, kom dus van ver af!  Wys ’n mens net weer hoe ’n mens eintlik nie die NT kan lees sonder om die OT telkens by te trek om die NT in konteks te kan uitlê nie.

’n Groot hoeveelheid goedere is oor die 5 maande van die insameling bymekaargemaak, sodat daar hope en hope oorgebly het, om vir ander doelwitte te gebruik.  Die groot hoeveelheid gawes uit die eerste opbrengste en die tiendes wat oorgebly het, selfs ná die noodsaaklikhede daarmee bedien is, was ’n getuienis van die seën van die Here: “Die Here het sy volk geseën, daarom is daar so ’n massa goed oor.”  Met die groot oorblyfsel is toe kamers aan die tempel aangebou en toewysings gegee aan die ampsgenote op ’n billike manier.

Hoewel daar getuienis is van kinders wat op ’n jong ouderdom in die tempel diens gaan doen het (bv. Samuel), dink baie geleerdes dat die verwysing na kinders van drie jaar en ouer waarskynlik verwys na Leviete van dertig jaar en ouer, want dít was die ouderdom waarop hulle normaalweg diens aanvaar het.  Dit maak egter ook goeie sin as dit kinders is wat ingesluit is in die voorsiening, want dit beteken dat daar regtig voorsiening gemaak is vir die families wat vir die Here afgesonder is.

Met dié groot werk van Hiskia afgehandel, was die tafel gedek vir die hantering van die konflik van die Assiriërs wat regdeur nog ’n bedreiging was. Want met die diens aan God herstel, kon hulle staatmaak op God se hulp.

Hiskia was regtig ’n groot koning wat gedoen het wat goed en reg en eerbaar was in die oë van die Here sy God.  Hy het met sy hele hart gevra na ie wil van sy God en was daarom voorspoedig.  Dít is die oordeel van die Kronis.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: