Skip to main content

2 Kronieke 13 – Abia bevestig Juda se steun op die Here se leierskap

Die verhaal van koning Abia word meer uitgebreid en met ‘n baie meer positiewe perspektief vertel as dieselfde verhaal oor hom in 1 Kon. 15:1-6.

Twee tradisies

  • Volgens Konings was Abia ‘n slegte koning wat dieselfde sondes as sy pa Rehabeam begaan het en net deur die Here verdra is ter wille van sy beloftes aan Dawid.  Die skrywer van Konings het onder andere die annale van die konings van Juda gebruik vir sy perspektief.
  • Volgens Kronieke was Abia egter ‘n goeie koning wat met ‘n uitsonderlike preek sy vertroue op die Here uitgespreek het en die oorlog teen Jerobeam en die Noordelike ryk van Israel gewen het, “omdat hulle gesteun het op die Here, die God van hulle voorvaders” (2 Kron. 13:18).  Die Kronis gebruik onder andere Die Kommentaar van die Profeet Iddo vir sy perspektief.

Daar was dus duidelik twee perspektiewe beskikbaar in die tradisies oor koning Abia.  Die twee skrywers van Kronieke en Konings het onderskeidelik dié tradisie gekies wat die beste gepas het by die gehoor vir wie hulle geskryf het:

  • Die skrywer van Konings kies om die negatiewe verhaal te vertel waarmee Abia in die lig van koning Dawid interpreteer word.  Hy ignoreer dus die verhaal van Abia se eie bydrae, ter wille van sy doelwit, om die ballinge te help verstaan hoekom hulle in die gemors sit in die vreemde en weggevoer is uit hulle land, sodat hulle tot inkeer kan kom.  Bekering is dus sy doelwit.
  • Die Kronis kies weer om die positiewe verhaal te vertel wat wentel om Abia se preek wat sy oorwinning oor Jerobeam voorafgaan – veral omdat dié preek op die keuse van God vir Juda en Levi val – om die teruggekeerde ballinge daarmee te motiveer om na die Here te luister en op Hom te steun.  Motivering is dus sy doelwit.

Abia se ma se naam word hier as Miga aangegee, waarskynlik dieselfde vrou as Maäka, dié vrou vir wie Rehabeam so lief was (2 Kron. 11:20; 1 Kon. 15:2).  Sy was volgens die Kronis beide die dogter van Uriël uit Gibea, sowel as die dogter van Abisalom (‘n onbekende persoon, hoewel sommige hom met Absalom identifiseer).  Abisalom was waarskynlik haar oupa, soos die frase “dogter van” soms gebruik is.  Let op na my gebruik van “waarskynlik”, omdat die feite nie met meer sekerheid bevestig kan word nie, veral omdat ons nie al die bronne het waarop dié verhale gebaseer is nie.

Die groot getalle van die manskappe aan weerskante is problematies, veral omdat ons nie presies weet hoe om die Hebreeus vir duisend te interpreteer nie.  Een moontlikheid wat vir my sin maak, is om dit as ‘n aanduiding vir eenheid te neem, wat beteken dat daar 400 eenhede aan Juda se kant was, en 800 eenhede aan Jerobeam se kant.

Abia se preek

Soos wat Samuel op ‘n keer met kategese die oorlog teen die Filistyne vir Israel ingelui het (Lees meer by my bydrae oor Samuel in 1 Sam. 7 – ek het ‘n aanhaling daaruit aan die onderkant van dié bydrae), só lui Abia se preek – sy bergpredikasie op die berg Semarajim! – die oorlog teen Jerobeam en sy “klomp roekelose boewe” in.

Abia skets ‘n prentjie van God se beloftes en betrokkenheid via die nageslag van Dawid (Juda), sowel as via die nageslag van die priesters en Leviete (Levi) wat as ‘n “onverbreekbare verbond” beskryf word.  Letterlik staan daar “’n soutverbond” waarmee na Lev 2:13 verwys word: “Gooi sout by al jou graanoffers.  Die sout herinner aan die verbond met jou God”.  Die koningshuis van Jerobeam word as boewe uitgekryt en hulle priesters as niksnutte wat sommer van die straat af ingespan is om nie-gode (afgode) te dien.

Let op dat hy eintlik staatmaak op hulle eie herinnering van hulle gesamentlike geskiedenis: “Julle weet tog …” En Abia spel God se betrokkenheid by hulle uit met die ongelooflike belydenis: “Ons het die Here self by ons as leier”!  Daarmee relativeer hy sy eie koningskap en verklaar sy eie onderdanigheid aan die Here. Iets wat ons gerus kan navolg in ons eie manier van lewe.

Geen wonder dat toe die trompette van die priesters die geveg begin, selfs die hinderlaag van Jerobeam nie die oorwinning vir Juda kon keer nie.  Die Kronis som die uitslag van die oorlog op met die woorde: “Juda (het) die oorhand gekry omdat hulle gesteun het op die Here, die God van hulle voorvaders.”  Die woordjie steun kan ook met vertrou vertaal word (vgl. bv. Jes 10:20).

Vers 20 se beskrywing: “Die Here het hom onverwags laat sterf” verwys waarskynlik na Jerobeam se seun se dood, ironies genoeg ook Abia van Israel, soos in 1 Kon. 14 beskryf.  Jerobeam self is volgens Konings eers dood in die derde regeringsjaar van Asa, Abia van Juda se seun (1 Kon. 15:33).

Ekstra stof

Ek het by 1 Sam. 7 die volgende geskryf oor Samuel se “kategese”:

Samuel onderrig die Israeliete oor wat reg en verkeerd is, lei hulle in ‘n “met julle hele hart” (die setel van denke en besluite, nie emosies nie) hertoewyding aan die Here en bid vir hulle. En dan veg die Here vir Israel met ‘n groot donderweer wat die Filistyne verwar. Sukses in die stryd teen die Filistyne gaan dus om die lewende teenwoordigheid van die Here, en nie oor die ark per se nie. En bevryding kom deur ‘n naby verhouding met Hom en nie deur militêre krag in die eerste plek nie.

“Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …”

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar