2 Kronieke 1 – Salomo as wyse man en vernuftige handelaar

Die eerste hoofstuk teken twee prentjies van Salomo oor die bou van die tempel aan die orde kom: Salomo as wyse man  (vers 1-13 – vgl. 1 Kon. 3:1-15) en as vernuftige handelaar (vers 14-17 – vgl. 1 Kon. 10:26-29).

Salomo as wyse man

Die verhaal van Salomo as wyse man begin met die opmerking dat Salomo ‘n goeie houvas op sy regering gekry het. Dit was aan die een kant te danke aan die Here wat by hom was. Aan die ander kant het hy ‘n belangrike besluit geneem om dieselfde leiers wat sy pa Dawid ingetrek het om hom as koning te salf en ondersteun, oproep om saam met hom na die belangrike heiligdom Gibeon te gaan, om die Here te raadpleeg. Dit was die plek waar die tabernakel, die tent van ontmoeting nog was.

Let op dat die Kronis die klem in die verhaal aanvanklik op die publieke aard daarvan laat val met die offers by die bronsaltaar van Besaleël, wat ook in die tabernakel in die woestyn was.  Daarmee bring die Kronis die agtergrond van Besaleël as ’n meester vakman in spel as voorspel tot die bou van die tempel (Eks 35:30 vv).  Besaleël was ook uit die stam van Juda en is met die Gees toegerus: “sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen”.  Die Kronis vul daarmee die meer persoonlike aard van God se verskyning in ’n droom aan Salomo aan, om die Goddelike erkenning en gawe van wysheid ook in terme van die publieke erkenning wat Salomo geniet sowel as die assosiasie van Salomo met die wysheid en insig van Besaleël uit te spel.

Salomo voer dus hiermee ook uit wat Dawid vir hom aangeraai het, om God te ken en te raadpleeg in alles, en vra van God wysheid en kennis vir sy leierskap. Die Here gee dan nie net vir Salomo wat hy vra nie, maar op die koop toe ook rykdom, besittings en aansien.

Salomo as vernuftige handelaar

Salomo se wysheid lê ook in sy fokus op uitgebreide handel met sy bure, ‘n vernuftige manier om stabiliteit en vrede te verseker.  Kewé was waarskynlik Silisië in die suide van Turkye, net oos van waar Paulus hulle met hulle sendingreise aan wal gegaan het in Pamfilië.

Die Kronis kies dus om Salomo se termyn as koning vanuit die hoek van sy wysheid en statuur as staatsman te begin en sal nou vervolg met dié aktiwiteit waaraan Salomo die beste onthou word, die bou van die tempel.

Die ambivalensie van die skrywer van Konings word dus hier reg van die eerste hoofstuk af vermy en ’n baie positiewe beeld van Salomo voorgehou.  Sy liefde vir perde word dus genoem, maar nie teen hom gehou nie (soos wel die geval is in 1 Konings 10-11), ten spyte van die feit dat dit ’n duidelike oortreding van die voorskrifte vir konings is wat ons vind in Deut 17:16-17.  En die bou van ’n kompeterende hoogte vir godsdienstige gebruik teenoor die tempel word glad nie hier genoem nie, sowel as niks oor sy baie vroue nie.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: