Skip to main content

1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God

Die Kronis fokus vervolgens eerstens op die feesviering met die tuiskoms van die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, in Jerusalem.  Hy gebruik ‘n deel van die verhaal in 2 Sam. 6 daarvoor en voeg daarby ‘n keurspel uit drie Psalms (Ps. 105:1–15; 96:1–13; 106:47–48) met die titel “Loof die Here”, wat Dawid Asaf en sy ampsgenote vir die eerste keer laat uitvoer het by die geleentheid.

Tweedens neem hy die verhaal uit 2 Sam. 7 oor wat vertel van Dawid se behoefte om ‘n huis vir die Here te bou wat lei tot die allesomvattende belofte van die Here om inteendeel Dawid se huis te bou en sy koningskap vir altyd te bevestig.


Die feesviering met die tuiskoms van die ark in Jerusalem – 16:1-6

Die Kronis kies om dié verhaal uit 2 Sam. 7 te vertel deur die verhaal van Mikal in ‘n sin af te handel (15:29) en nie verder daaroor uit te brei nie.  Daarmee word sy, soos haar pa Saul, eintlik met ‘n negatiewe houding nie net teenoor Dawid gekenmerk nie, maar ook teenoor die ark.  In plaas van dié deel van die verhaal brei die Kronis uit oor die Leviete wat deur Dawid aangestel is om voor die ark van die Here diens te doen.  Interessant genoeg is Obed-Edom ook daar, indien dit inderdaad dieselfde persoon is.  Let op dat Dawid se seën van die volk met eetgoed opgevolg word, wat waarskynlik beteken dat hy op dieselfde manier sy familie geseën het met eetgoed (16:43).

Die keurspel “Loof die Here” – 16:7-43

Die keurspel “Loof die Here” is saamgestel uit drie Psalms uit die 4de Psalmboek (Ps. 105:1–15; 96:1–13; 106:47–48) en word opgevolg met ‘n laaste mededeling oor Asaf en sy ampsgenote wat voltyds in diens geneem is om diens voor die ark te doen soos wat dit nodig mag wees (16:37-42) en Dawid wat huis toe is om sy gesin te seën (16:43).

Dit tref my dat Dawid nie net leiding geneem het om God se teenwoordigheid in die volk se midde te herstel nie, daarby ‘n hele netwerk van mense aangestel het om op die regte wyse die godsdiens te behartig nie, maar toe boonop teruggegaan het om sy huis te seën.  Dít is ‘n lofwaardige model om na te volg.  Wat jy vir die gemeenskap en vir God doen, moet op een of ander manier ook uitmond in ‘n positiewe betrokkenheid by jou gesin.

Die saamgestelde loflied uit die Psalms wat die Kronis aanhaal, het ‘n universele betekenis waarin die nasies ingesluit is:

Uit Psalm 105: God se dade in die verlede word in dankbare herinnering geroep om as getuienis aan die nasies te dien op voetspoor van Psalm 105:1-15.  Sy magtige dade het immers betekenis vir die hele aarde, want dié God is bekend dat Hy die onmoontlike doen vir dié wat by Hom hulp en beskerming soek, soos bevestig deur die hou van sy beloftes aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob.  Let op dat daar ‘n verwysing is na die waarskuwing aan farao (vers 21 – Gen. 12:14-20), sowel as ‘n beskrywing van die voorvaders as profete (Abraham in Gen. 20:7) en interessant genoeg ook as gesalfdes, hoewel dit nie voorheen só in die Pentateug genoem is nie.

Uit Psalm 96: Psalm 96 word hier volledig aangehaal en dit handel oor die Here wat kom om oor die hele aarde te heers. Die rede daarvoor word in sy skeppingswerk sowel as sy reddingsdade in die geskiedenis gevind.  Dít moet aan al die nasies verkondig word (vgl die droom van Jesaja 2 dat Israel ‘n ontmoetingsplek sal wees vir die nasies) sodat hulle hulle eie gode, wat in elk geval nie gode is nie, kan verlaat en ook van God se onwankelbare koningskap kan sing.  Dié God is aan die kom om oor die aarde te heers met regverdigheid en billikheid, en Israel se getuienis moet die pad vir God onder die nasies gereed maak.

Uit Psalm 106: Twee verse uit Psalm 106:47-48 word gebruik om “Loof die Here” mee af te sluit wat fokus op God se insluiting van sy mense uit al die nasies om Hom te kan loof tot in die allerverste toekoms.

Dawid se behoefte vir ‘n huis vir God word ‘n belofte van ‘n huis vir Dawid – 17:1-26

‘n Paar interessante verskille val ‘n mens op in die wyse waarop die Kronis met die 2 Sam. 7 teks werk.  Benewens die kleiner taal- en formulerings verskille, staan die volgende vir my uit:

  • Die Kronis laat die opmerking: “nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing” uit die Samuel teks uit, waarskynlik om die verhaal nader aan die voorafgaande gebeure rondom die tuiskoms van die ark te posisioneer.
  • Die Kronis formuleer die vraag van die Here: “Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon?” in Samuel baie sterker as ‘n bevel: “Nie jý sal vir My die huis bou om in te woon nie.”
  • Die Kronis verkies om Saul se naam nie te noem nie, en praat net van Dawid se voorganger.  Soos hy kies om net van Saul se dood te skryf in hoofstuk 10, en dit net om Dawid aan die orde te stel, en min aandag aan die minagting van Mikal spandeer in hoofstuk 15, doen hy dit hier deur nie eers Saul se naam te noem nie.
  • Die Kronis gebruik ‘n pragtig metafoor om die meer prosaïese beskrywing van Dawid se verwondering oor die toesegging van God aan hom weer te gee: “U sien my as die man wat soos ’n duif die hoogtes bereik, Here God!”  Dawid se digterlike finesse word daarmee in herinnering geroep.

Dawid se gesprek met Natan word uiteindelik ‘n gesprek met God ná Natan sy aanvanklike positiewe reaksie op Dawid se versoek aangepas het nadat God met hom gepraat het.  Let op hoe God se stem hier na Dawid deur die woorde van die profeet kom, en dat sy gebed ‘n reaksie op God se toesegging is, anders as wat hy in die twee oorloë met die Filistyne ervaar het.

Wat uitstaan van God se antwoord aan Dawid is sy soewereiniteit en onafhanklikheid aan die een kant – Hy het nie ‘n huis nodig nie – en sy deernis en betrokkenheid aan die ander kant – Hy sal vir Dawid nie net ‘n huis bou nie, maar sy seun toelaat om ‘n huis vir die Here te bou.  Hy omvorm dus Dawid se behoefte in ‘n belofte van God vir ‘n bestendige koninkryk, terwyl God ook die behoefte op sy eie manier antwoord.  Salomo sal die tempel bou.

Dawid se gebed in antwoord op God se belofte wys op die innige verhouding wat daar tussen hom en God was.  Hy gaan sit waarskynlik in die tent by die ark om met God te praat, en fokus op die belofte van God wat nie net sy verwagtings oortref nie, maar nogal gemaak is ten spyte van wie Dawid is: “U ken immers u dienaar.”  En hy eindig sy gebed deur te bely dat dié beloftes in God se wese begrond is: “U, Here, het geseën; daarom is dit vir altyd geseën.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.