Skip to main content

2 Kronieke 17-18 – Josafat regeer soos Dawid van ouds, maar begaan ’n oordeelsfout om by Agab betrokke te raak

Die volgende vier hoofstukke handel oor die verhaal van Josafat, die seun van Asa, wat “sy voorvader Dawid se vroeëre lewe” nagevolg het.  Ons lees vandag hoofstukke 17-18.  Dit trek twee groot perspektiewe oor sy lewe:

  • sy beginselvaste regering- en godsdienshervormings wat hom ’n formidabele koning gemaak het (hfst. 17),
  • en sy oordeelsfout om toenadering tot Agab van die noordelike ryk te soek en amper in die proses om te kom (hfst. 18).  Sy poging tot eenheid met Israel boemerang liederlik.

Die skade wat dié verbintenis met Agab egter gedoen het, het verdere konsekwensies met sy mislukte alliansie met Agab se seun, Ahasia (hfst. 20) en  die effek op sy seun, Joram, wat met ’n dogter van Agab trou en onder haar invloed, volgens die Kronis, ’n slegte koning was soos sy skoonpa Agab, wat die Here genoop het om die profeet Elia te beveel om hom streng te berispe in ’n brief, waarna hy dood is aan ’n ongeneeslike siekte in sy ingewande (hfst. 21).

Josafat se beginselvaste regering- en godsdienshervormings – 2 Kron. 17

Josafat was ’n goeie koning wat ’n groot impak op sy mense gehad het:

  • Hy het die land op militêre gebied versterk – hy het vestingstede, wagposte, forte en voorraadstede gebou, oral soldate geplaas en die beste soldate saamgetrek by hom in Jerusalem, een van hulle, Amasja, waarvan genoem word dat hy ’n vrywillige eed van trou aan die Here gesweer het.
  • Hy het internasionale erkenning geniet – die Filistyne (Dawid het hulle mag gebreek, maar hulle funksioneer blykbaar nog) en Arabiere vereer hom met geskenke en lewende hawe.
  • Hy het die onderrig van die volk in die wetboek van die Here ernstig geneem en ’n groot groep amptenare (kategete), Leviete en priesters aangestel om dit regdeur die land te behartig.  Dit laat ’n mens dink aan Jesus se eie bediening waarin hy die 70 dissipels uitgestuur het om die koninkryk van God aan hulle te verkondig (Luk. 10).  En die Groot Opdrag van Matt. 28:19 brei dié opdrag uit na al die nasies van die wêreld: “Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
  • Hy het sy eer daarin gestel om persoonlik te leef soos die Here dit wil en vanuit dié beginselvastheid godsdienstige hervormings van stapel te stuur.

Geen wonder dat hy groot aansien geniet het en baie ryk geword het nie en dat die Kronis hom vergelyk met sy voorvader Dawid se vroeëre lewe.

Terloops: sommige manuskripte (ook die Griekse LXX) laat die naam van Dawid in vers 3 weg wat die vers dan na sy eie pa Asa laat verwys.  Baie geleerdes dink dat dié manuskripte in hierdie weglating gevolg moet word, omdat die skets van die eerste helfte van Dawid se lewe as beter as die tweede helfte, hoewel waar, nie inpas by die prentjie wat die Kronis vroeër van Dawid geskets het deur doelbewus van sy sondes te ignoreer nie.  Asa het immers ook ’n vroeëre goeie koningskap gehad en ’n latere slegte tydperk, so die verwysing na hom sou goed inpas in die beskrywing.  Die beste Hebreeuse grondteks het egter die naam Dawid wat ek gevolglik ook in my interpretasie navolg.

Josafat beantwoord dus aan die ideaal wat Deuteronomium stel aan ’n koning:

18“Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik. 19Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe. 20Dan sal hy hom nie bo sy volksgenote verhef en ’n haarbreedte afwyk van hierdie gebod nie. As hy gehoorsaam is, sal hy lank lewe in sy koninkryk, hy en sy seuns tussen sy volk Israel.” (Deut. 17:18-20).

Josafat se oordeelsfout om toenadering tot Agab van die noordelike ryk te soek – 2 Kron. 18

Hierdie gedeelte word ook in 1 Konings 22:2-35 vertel met ’n klein bietjie meer inligting in Konings oor Agab se dood soos deur Elia voorspel.

Die verhaal begin met die amper terloopse opmerking dat Josafat ’n huwelik tussen ’n lid van sy familie en een uit die familie van Agab gereël het, waarskynlik sy seun Joram (2 Kron. 21:6).  Dit lei tot een van Josafat se grootste oordeelsfoute toe hy dié verbintenis wou hegter maak en waarskynlik na Samaria toe reis om die eenheid tussen die twee ryke van Israel te bewerkstellig.  “Ek en jy is een en ons leërs is een” sê hy vir Agab.  Hy het ongelukkig net die verkeerde een gekies om dié ooreenkoms mee te smee – Agab die uitdager van God par excellence (1 Kon. 16:33).

Op Josafat se aandrang om die Here in die oorlog teen die Arameërs van Ramot in Gilead eers te raadpleeg, kry Agab 400 profete bymekaar wat hulle aanmoedig om met God se seën te gaan veg.  ’n Mens wonder wie se profete dié 400 was.  Elia het net tevore 450 Baäl profete op die berg Karmel uitgewis (1 Kon. 18:40).  Die 400 Asjera profete van Isebel wat hy ook opgeroep het dié dag, het nie opgedaag op Karmel nie, al het Elia hulle opgeroep.  Dié 400 profete was dus waarskynlik Asjera aanbidders.

Geen wonder dat Josafat versigtig is en vra of daar nie iemand anders is nie.  Die profeet Miga, seun van Jimla, verskyn op die toneel, iemand wat andersins vir ons onbekend is en nie met die Skrifprofeet Miga, van Moreset, verwar moet word nie.

Aanvanklik wil Miga nie iets anders sê as die ander profete nie, wat interessant genoeg natuurlik op dieselfde uitkoms vir Agab sou uitkom.  Maar Agab dring aan op ’n ware woord van God.  Dan gee Miga hom in geen onseker taal die ontstellende woord van God dat koning Agab sal sterf in die oorlog.  Hy volg sy profesie op met die beskrywing van ’n gesig van God wat ’n leuengees in die monde van die 400 profete gestuur het om Agab so vêr te kry om oorlog te maak sodat hy daar kan sneuwel.

Dié motief van misleiding wat deur God gestuur word, is een wat ook weerklink in die NT.

  • Jesus praat in Matt. 24:23–24 oor vals christusse en profete wat mense sal mislei voor sy tweede koms.  Dit het egter geen effek op die uitverkorenes wat die waarheid glo nie.
  • Paulus borduur verder daarop voort in in sy vroeë briewe aan die Tessalonisense oor die misleiding wat sal kom oor dié wat die waarheid van Christus wat vir hulle redding kan bring, nie wil aanvaar nie.  Dit gebeur deur die werking van die wettelose onder leiding van Satan (2 Tes. 2:9–12).  Dié boodskap van Paulus pas dus goed in by wat hier met Agab gebeur – hy wou die Here nie dien nie en het Baäl en Asjera verkies en daarom gee die Here hom oor aan die misleiding wat tot sy dood lei.  Die misleiding kom ná die keuse om God nie te dien nie.
  • Ook Johannes skryf hieroor met sy visie op die dier (Open. 13:13–14) en die vals profeet (19:20) wat die mense mislei wat nie die waarheid van God wou aanvaar nie.

Dit bly egter vir my verbasend dat Agab na hierdie duidelike boodskap tog gaan oorlog voer en dan presies oorkom wat die Here deur die 400 profete sowel as deur Miga voorspel het.  God werk dus deur albei …

Die lot van Miga hierna is onbekend, maar die feit dat hy in die tronk gestop is op ’n honger rantsoen van kos en water beteken waarskynlik dat dit tot sy dood gelei het.  Tragies, maar deel van die pad wat profete baie keer moes loop in gehoorsaamheid aan die Here.

’n Interessante ontvangs wag vir Josafat by die huis.  Jehu, ook ’n siener en die seun van die profeet Ganani  wat ’n groot rol in Josafat se pa Asa se lewe gespeel het, wag hom in met ’n boodskap van die Here.   Wat my tref van Jehu is dat hy die moed het om Josafat te konfronteer, ten spyte van die leed wat Josafat se pa Asa sy pa Ganani berokken het.  Wat my tref van die boodskap is dat dit beide bestraffend as bevestigend is.   Die oordeelsfout van Josafat word ernstig aangespreek, maar die goeie dinge wat hy gedoen het, word hom ook ten goede gereken.

Dit wil ook voorkom asof Jehu se optrede Josafat geïnspireer het om reg op te tree en sy mense weer te gaan besoek en die hervormings verder deur te voer en die Here te bly raadpleeg in oorlog, soos ons in die volgende hoofstuk gaan lees.  Aan die einde van sy lewe begaan hy egter weer ’n oordeelsfout om met Ahasia, seun van Agab, saam te werk, gelukkig met nie te groot negatiewe gevolge nie.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar