Skip to main content

2 Kronieke 11-12 – Rehabeam tree met groot oorleg op, maar faal in sy primêre verhouding met God

Rehabeam se verhaal as koning van die verkleinde ryk van Juda en Benjamin word in 6 episodes vertel, waarvan net die helfte van die verhale uit 1 Kon. 12 en 14 kom.  Die res kom uit ander bronne, waarskynlik Die Verhale van die Profeet Semaja, wat ‘n groot rol in sy koningstyd speel, asook Die Verhale van die Siener Iddo, wat spesifiek oor die geslagsregisters gehandel het (2 Kron. 12:15):

  • Rehabeam se mislukte poging om die koningskap oor Israel terug te wen – 11:1-4 (vgl. 1 Kon. 12:21-24).
  • Rehabeam se versterking van sy beheer oor Juda en Benjamin met vestingstede vir sy voorrade – 11:5-12.
  • Die priesters en Leviete kom van oral af hulle in Jerusalem vestig – 11:13-17.
  • Rehabeam se keuse van Abia as opvolger en die slim plasing van sy skare seuns in die versterkte stede van Juda en Benjamin – 11:18-23.
  • Rehabeam se verootmoediging voor die Here met die inval van Sisak van Egipte – 12:1-12 (vgl. 1 Kon. 14:25-28).
  • Die epiloog oor Rehabeam se dood en nalatenskap – 12:13-16 (vgl. 1 Kon. 14:21-22, 31-32).

Rehabeam se mislukte poging om die koningskap oor Israel terug te wen – 11:1-4

Die Kronis gebruik die verhaal in 1 Kon. 12:21-24, maar sonder die inleiding van 1 Kon. 12:20 oor Jerobeam, waarskynlik omdat hy in 2 Kron. 10 alreeds daaroor uitgewei het.  ‘n Mens kry hier ‘n meer gebalanseerde prentjie van die arrogante Rehabeam, dat hy met sy poging om die koningskap oor die hele Israel terug te wen, tog leerbaar is en luister na die waarskuwing van die profeet Semaja, die man van God: “Moenie optrek en teen julle broers veg nie … wat gebeur het, kom van My af.”

Rehabeam se versterking van sy beheer oor Juda en Benjamin met vestingstede vir sy voorrade – 11:5-12

Hierdie verhaal, wat nie in Konings voorkom nie, skets ‘n koning met baie inisiatief om sy beheer oor die deel wat aan hom onderhorig is, te versterk.  Hy herbou 15 van die belangrikste vestingstede as veilige hawens vir sy voorrade sowel as beveiliging van sy grondgebied.  Die stede was in ‘n breë sirkel rondom die hartgebied van Juda geleë op al die belangrikste handelsroetes wat hom ‘n mate van beheer gegee het teen bedreigings van buite.

Die priesters en Leviete kom van oral af hulle in Jerusalem vestig – 11:13-17

Die impak van sy koningskap het ‘n wyer impak deurdat die priesters en Leviete van oral af oor na Jerusalem kom om hulle daar te vestig.  Dit het ingehou dat hulle hulle erfgrond moes verlaat, maar word daartoe genoodsaak deur drie redes: 1) Jerobeam het hulle versaak en sy eie priesters in Israel se noordelike ryk aangestel, 2) Juda het meer stabiliteit vir hulle gebied weens Rehabeam se beleid, en die belangrikste van alles, 3) Jerusalem was God se uitverkore heiligdom en hulle toekoms was ten nouste daaraan verbind.

Dit het ook ‘n impak gehad op ander Israeliete wat die Here wou dien.  Hulle het volgehou met die pelgrimstogte na Jerusalem om daar offerandes te bring en so ‘n tyd lank verdere stabiliteit vir die Suidryk gebring, totdat daar ‘n verandering gekom het met die inval van Sisak uit Egipte.  Die voortdurende oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam het uiteraard ook ‘n groot rol gespeel (2 Kron. 12:15).

Rehabeam se keuse van Abia as opvolger en die slim plasing van sy skare seuns in die versterkte stede van Juda en Benjamin – 11:18-23.

Rehabeam tree ook met groot oorleg op in sy verstommend groot gesin van 18 vroue, 60 byvroue, 28 seuns en 60 dogters.  Hy kies wel vir Abia as troonopvolger, omdat hy liewer was vir Maäka (ook Miga genoem, en ‘n dogter van Uriël, wat waarskynlik haar werklike pa was – 2 Kron. 13:2), die dogter van Abisalom (‘n onbekende persoon, hoewel sommige hom met Absalom identifiseer, en waarskynlik haar oupa was, soos die frase “dogter van” soms gebruik is), maar volg die slim beleid om sy seuns oral in die versterkte stede verantwoordelikheid te laat neem, en ondersteun hulle met ‘n oorvloed lewensmiddele en ‘n menigte vroue wat hy deur allerlei onderhandelinge vir hulle in die hande gekry het.

Rehabeam se verootmoediging voor die Here met die inval van Sasak van Egipte – 12:1-12

Rehabeam tree egter nie met genoeg oorleg in sy verhouding met God op nie, wat lei tot ‘n inval deur koning Sisak van Egipte.  Die Kronis noem net dat Rehabeam en die hele Israel saam met hom die woord van die Here verontagsaam het, maar Konings gee die detail daarvan: “Hulle het vir hulle hoogtes gebou en klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.  Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land …” (1 Kon. 14:23-24).

Onder Semaja se leiding verootmoedig Rehabeam en die volk hulle voor die Here wat die impak van die inval tot dié van ‘n stropingsproses verminder.  Hulle word nie totaal uitgewis en onderdanig aan Egipte gemaak nie.  “Daar was trouens nog iets goeds in Juda,” sê die Kronis.

Die epiloog oor Rehabeam se dood en nalatenskap – 12:13-16

Rehabeam het dus goeie dinge gedoen, met groot oorleg opgetree, was op tye leerbaar en berouvol, maar het uiteindelik gefaal in sy primêre roeping, dat hy hom moes toelê daarop “om na die wil van die Here te vra”.  Daarmee leer ons dat ‘n mens met goeie dinge besig kan wees en goeie dinge kan doen, maar as ons nie deurentyd in alles met God besig is nie, tel die goeie dinge nie punte nie (by wyse van spreke!).

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda