2 Kronieke 2-5 – Salomo bou die tempel en God se teenwoordigheid vul Sy huis

Ons lees 4 hoofstukke vandag wat oor 3 onderwerpe gaan:

  • Die voorbereidings vir die bou van die tempel – 2:1-18 – vgl. 1 Kon. 5:1-18
  • Die bou van die tempel – 3:1-5:1 – vgl. 1 Kon. 6:1-39 en 7:15-51
  • Die ark word in die tempel gesit – 5:2-14 – vgl. 1 Kon. 8:1-9

Die voorbereidings vir die bou van die tempel – 2:1-18

Die Kronis beskryf die wyse waarop Salomo te werk gegaan het om die tempel te bou.  Sy voorneme struktureer sy voorbereiding, goeie raad vir enigiets wat jy aanpak: “Begin with the end in mind”.

  • Hy netwerk sy nie-Israelitiese werkers met genoeg opsigters uit hul eie geledere om die klip in die berge te verwerk en vervoer.
  • Hy  benut die bestaande ooreenkomste met sy buurland Tirus om seders vir die bouwerk te verkry.  Die verdrag van Dawid met koning Hiram van Tirus was een van die min werklike produktiewe internasionale betrekkinge wat Dawid kon tref toe dié hout vir die bou van Dawid se paleis verskaf het.  Dit word nou ook vir die tempel ingespan.

Let op dat Salomo aan die een kant die grootste gebou wil bou, omdat God die grootste van al die gode is. Aan die ander kant is hy ook baie bewus van die feit dat selfs die hemele God nie kan bevat nie, wat nog te sê ‘n gebou.  Dít alles dien as motivering vir die ruiltransaksie wat hy met Hiram maak: voedsel vir seders.

Getrou aan Salomo se statuur as handelaar word die ooreenkoms met Hiram skriftelik gedoen.
Interessant genoeg is die meestervakman wat Hiram, die koning van Tirus verskaf, se naam ook Hiram en was sy ma boonop ‘n Israeliet uit die stamgebied van Dan. Sy pa was van Tirus.

Let ook op dat Salomo ’n eie opname maak van al die nie-Israeliete wat in Israel vir die werk gebruik sou kon word in opvolg van Dawid se eie sensus.  Hy gebruik letterlik almal van hulle, sommige as opsigters.  Geen ware Israeliet word vir dié doel ingespan nie, wat op die langtermyn tot ongelukkigheid gelei het.  Hulle word tot dwangarbeid verlaag (vgl. Konings) en die onafwendbare opstand sou uiteindelik die ryk laat skeur.

Die weergawe van die Kronis verskil op ’n hele paar plekke van dieselfde verhaal in 1 Konings 5.  Daar neem Hiram die eerste inisiatief om Salomo geluk te wens met sy koningskap waarop Salomo met sy versoek vir hout reageer.  Konings is ook baie meer duidelik daaroor dat Hiram self gebaat het by die voedselvoorsiening as betaalmiddel, veral koring en olyfolie vir sy huishouding.  Konings is ook duideliker oor die sisteem van dwangarbeid en die gevare wat dit op die langtermyn ingehou het.  Daar is ook meer detail oor ’n rotasiebeleid met die werkers, een maand aan en een maand af, iets wat op groot wysheid dui, hoewel die punt van dwangarbeid steeds kontensieus bly.

Die bou van die tempel – 3:1-5:1

Die Kronis vertel die verhaal van die bou van die tempel korter as die weergawe daarvan in Konings.  Hy laat baie van die detail oor die gebou self uit, veral die dimensies en bouwerk van die omringende platform, en vertel ook die inkleding van die tempel korter en laat bv. baie van die werk van Hiram doodgewoon uit.  Die Here se gesprek met Salomo, soos vertel in Konings, word ook uitgelaat.

Salomo bou die tempel volgens die grondplan en model wat hy gekry het.  Dit was 30 meter by 10 meter groot, en is gebou met baie duursame en kosbare materiaal.  Net die Allerheiligste se goud teen die mure het twintig ton geweeg en die brons was so baie dat hulle nie eers die moeite gedoen het om dit te weeg nie.

Die twee pilare voor die tempel is Jakin en Boas onderskeidelik genoem, maar ons weet nie regtig wat die betekenis daarvan is nie.  Dit kan na voorouers van Salomo verwys, as verwysings na God se vastigheid (Jakin) en krag (Boas) dien, of selfs na twee groot donateurs vir die bouwerk verwys.

Let op die betekenis van die plek waar die tempel gebou is.  Dit is nie net die plek waar die Here aan Dawid verskyn het op die dorsvloer van Arauna nie en daar versoening vir sy sonde gedoen is nie, maar ook die plek waar Abraham die offer van sy seun Isak gebring het, die Moriaberg, die plek wat bekend staan as die berg waar die Here voorsien (Gen. 22).  En in die NT sou Jesus Christus ’n paar 100 meter vêrder op die berg Golgota die finale versoening vir die wêreld se sondes doen, met die voorhangsel van die tempel op die Moriaberg wat van bo na onder geskeur het.

Die ark word in die tempel gesit – 5:2-14

Salomo trek weer al die leiers bymekaar vir die prosessie om die ark – met die twee plat klippe wat Moses by Horeb van die Tien Gebooie gemaak het – in die tempel te sit, weliswaar op ’n meer besadigde en korrekte manier as wat sy pa Dawid vroeër al dansende gedoen het toe die ark in die tent in Jerusalem ingebring is.

Die Leviete doen hulle diens, die priesters bring meer as die vereiste aantal offers, en die Kronis voeg, anders as in Konings, die lof- en danksang van die drie groepe – Asaf, Heman en Jedutun – by wat weerklink het met die bekende seënbede: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie”, wat kom uit die Psalms (106:1; 107:1; 118:1,29; 136:1).  Dit is ’n refrein wat ’n hele paar keer deur die Kronistiese Geskiedwerk gehoor is en nog sal word (1 Kron. 16:34,41; 2 Kron. 7:3,6; 20:21; Esra 3:11).

Die hoogtepunt van die prosessie en trouens ook van die beplanning deur Dawid en die uitvoering deur Salomo, kom wanneer die Here die seël van Sy goedkeuring op die voltooiing van die werk sit.  ’n Wolk vul die huis van die Here – dié teken van sy teenwoordigheid – sodat almal in ontsag voor Hom stil raak en tot rus kom.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: