1 Kronieke 23-24 – Dawid reël die priesterlike en Levitiese bediening

In die volgende vier hoofstukke fokus die Kronis op die wyse waarop Dawid die diens van die priesters en die Leviete gereël het.  Dit is interessant dat dit nie die hoëpriesters is wat dié funksie vervul het nie, maar die een wat God gekies het om die hele volk te lei, Dawid.  Hy doen dit wel met die hulp van Sadok (1 Kron. 24:3), maar neem die oorhoofse verantwoordelikheid.

In die eerste twee hoofstukke kom die funksies van die priesters aan die orde (hfst. 23), sowel as die drie breër Levitiese diensgroepe , waarna die twee priesterlike diensgroepe aan die orde kom, sowel as die Levitiese familiehoofde (hfst. 24).  In die laaste twee hoofstukke kom die Levitiese sangbediening (hfst. 25) sowel as die poortwagte, die toesig oor die tempelskatte en die regsfunksies aan die beurt (hfst. 26).

Die diens van die priesters en die Levitiese diensgroepe – hoofstuk 23

Die Kronis kies om nie die verhaal van die troonopvolging van Salomo in detail te vertel nie en veral die intriges uit te laat rondom Batseba en Natan se ondersteuning van Salomo se koningskap en die teenstand waarvoor Salomo se broer Adonia gesorg het met die hoërpriester Abjatar se steun, wat terloops tot Abjatar se ondergang lei en waarmee die Here se oordeel oor die nageslag van Eli voltrek word.  Die Sadokiete sou voortaan die voorrang as hoëpriesterlike familie geniet.  En dan was daar nog die opdragte wat Dawid gegee het om mense wat hom leed veroorsaak het, reg te sien, bv. vir Joab.

Die Kronis vertel egter die verhaal uit die hoek van Dawid se mentorskap van Salomo en die wyse waarop hy die reëlings rondom die priesters en Leviete gemaak het sodat Salomo die regte godsdienstige basis sou hê van waar hy die volk met wysheid sou kon begelei (1 Kron. 23:!).

Dawid deel die nageslag van Levi in volgens hulle groepe, die Gersongroep, die Kehatgroep (waarvan een deel die priesterlike bedieningsgroep gevorm het via die nageslag van Amram en Aäron) en die Merarigroep.  Let op dat Moses onder die Leviete gereken word met sy broer Aäron uiteraard onder die priesters.  Daarmee verhef hy die status van die Leviete op beslissende wyse.

Dit is interessant dat die intreeouderdom vir diens van Leviete wissel in die OT.  Hier word dit op twintig gestel (1 Kron. 23:24), op ander plekke vyf-en-twintig (Num. 8:23) en op nog ander plekke dertig jaar oud (Num. 4:3), soos ’n mens selfs sou kon aflei uit die feit dat in hier dieselfde hoofstuk die Leviete ouer as dertig jaar oud getel is (1 Kron. 23:3), met vyftig die afsnypunt of emeritaat!  Dit is moeilik om dié datums met mekaar te sinkroniseer.  Dit kan wees dat die ouderdom doodgewoon gewissel het op grond van die hoeveelheid wat op ’n gegewe tyd beskikbaar was, óf dat daar ’n soort infasseringstyd was voordat jy op dertig jaar oud volle diens kon aanvaar.  Ons weet te min om met sekerheid te sê.

Die Leviete het die priesters bygestaan in die diens van die huis van die Here deur verantwoordelikheid te neem vir die voorhowe, die kamers, die reiniging van die gewyde dinge en vir al die werksaamhede van die tempeldiens.  Dit het ingesluit alles wat met die offers te make gehad het, die oggend- en aand dank en lof aan die Here en die feesvieringe.

Let op dat die seën in die Naam van God deel van die priesterlike pligte was.  Hulle moes nie net die heilige diens in die Allerheiligste verrig en vir Hom wierookoffers bring nie, maar ook namens Hom die volk seën.

Die diensgroepe van die priesters en die familiehoofde van die Leviete – hoofstuk 24

Die priesterlike geslag is in twee groepe opgedeel, dié van Eleasar en dié van Itamar.  Omdat Itamar minder manlike nasate gehad het, het die Eleasargroep twee keer diens gedoen vir elke een keer sê diens deur die Itamargroep.

Die Kronis rond hierdie oorsig af met die lys van die Levitiese familiehoofde om hulle insluiting in alles rondom die heiligdom en die diens van die Here te bevestig.

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: