2 Kronieke 21 – Joram doen wat verkeerd is in die oë van die Here en word met oorlog en ’n ongeneeslike siekte gestraf

Die verhaal van koning Joram van Juda, seun van Josafat, vind ons ook in 2 Kon. 8:16-23 hoewel die Kronis ’n hele paar ander detail byvoeg, onder andere oor die teregwysing van Elia en Joram se ongeneeslike siekte.  Daar is ook kort verwysings na hom in 1 Kon. 22:5 en 2 Kon. 1:17.  Interessant genoeg het Joram dieselfde naam as Agab se kleinseun, Joram, en regeer hulle ongeveer vir ’n jaar (843 v.C.) gelyktydig vir Juda en Israel onderskeidelik (2 Kon. 1:17).

Joram was die oudste van sy 6 broers wat deur die Kronis genoem word, en wys gou sy wreedaardige karakter deur hulle en sommige van die Israelitiese leiers te laat vermoor ná hy die troon bestyg het.  Dat hy getroud was met ’n dogter van Agab word hom verkwalik deur die Kronis, maar nog dieper as dit was sy probleem dat hy gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here.

Dat Josafat nou só ’n nalatenskap in terme van sy familie moes hê!  Dit is net die belofte aan Dawid wat die Here keer om hom en die hele koningshuis van Dawid nie heeltemal uit te wis en met iemand anders te begin nie, soos die Kronis dit beskryf. God se genade is die enigste ligpunt in ’n andersins baie donker verhaal, maar tog iets waaraan ’n mens kan vashou.  Sonder dié genade sou die Messiaanse lyn gebreek het …

Joram faal volgens die Kronis op twee vlakke:

  • Polities: die Edomiete verwerf hulle onafhanklikheid van hom deur ’n opstand.  Ook die mense van Libna (= “die witte”) wat aanvanklik deur Josua met die Intog onderwerp is (Jos. 10:29) en as stad vir die Leviete gegee is (Jos. 21:13), kom teen hom in opstand.  Die ergste was egter die Filistyne en Arabiere wat Juda ingeval en die paleis gestroop het en sy familie uitgewis het, net met een seun Joahas (ook Ahasia genoem) wat oorleef het.  Dit het die gaping geskep vir Joram se vrou, Atalia (wat die aanval moes oorleef het), om haar houvas op die troon te verstewig en ná Joahas se kort regeringstyd self die koningskap oor te neem.
  • Godsdienstig: hy verlei die Judeërs tot grootskaalse afgodediens en vergeet dat die koningskap ’n gawe van God is wat net in standgehou word deur ’n groeiende verhouding met Hom.  Die gramskap van Elia, die profeet wat veral bekendheid in Israel verwerf het, ontvlam teen hom en wys Joram tereg in ’n brief waarin sy einde deur ’n ernstige ongeneeslike (maar ook onbekende) siekte van die ingewande voorspel word.  Terloops, sommige geleerdes dink dat Elia teen dié tyd al sy “hemelvaart” beleef het, omdat Elisa al optree in die tyd van Josafat, Joram se pa (2 Kon. 3).  Volgens 2 Kon. 1:17 oorvleuel die  twee Jorams se regeringstyd egter terwyl Elia nog lewe.  Dit kan dus wees dat Elisa al begin optree het terwyl Elia nog op aarde was en dat die gebeure in 2 Kon. 3 vóór dié in 2 Kon. 1 plaasgevind het.  Na watter kant ’n mens ook al daaroor redeneer, die kronologie tussen die verhale in Konings en dié in Kronieke bly hier ’n wesenlike probleem wat nie maklik geharmonieer kan word nie.

Joram sterf ’n baie pynlike dood met die siekte van sy ingewande met niemand wat oor hom getreur het nie. Trouens hy is die eerste koning in die Dawidiese lyn waaroor die Kronis heeltemal negatief is.  ’n Tragiese geskiedenis wat ’n mens liewer net van wil vergeet!

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: