Skip to main content

1 Kronieke 6-7 – Die prioriteit van geestelik-godsdienstige leiding

Hierdie twee hoofstukke beslaan die geslagsregisters van Levi (80 verse) en die res van die seuns van Jakob (40 verse).  Levi geniet dus dubbeld soveel aandag as die oorblywende 6 stamme in die beoordeling van die Kronis.

Vir die herbou van die godsdienstige lewe van die volk na die ballingskap sou die nageslag van Levi kardinaal belangrik wees.  Alle priesterlike funksies is immers deur die Here self aan dié drie stamme uit die nageslag van Levi toegeken (Num. 1 vv.).  Soos die nageslag van Juda sosiaal-polities leiding moes neem, só moes die nageslag van Levi geestelik-godsdienstig leiding neem.

Dit het drie funksies ingesluit: priesterlik (6:49), liturgies (6:31-32) en administratief (6:48) – nie ‘n te slegte model om selfs vandag na te volg in die kerk nie!

Die nageslag van Levi

Die geslagsregister van Levi kom waarskynlik ten dele uit Gen. 46:11; Eks. 6:16–25; Num. 3:1–4, 19; 26:57–60, maar ’n vergelyking hiermee sal te tegnies en akademies van aard wees vir die doel van hierdie Bybelskool.

Die stam van Levi word in hoofstuk 6 beskryf in terme van vyf perspektiewe:

  1. Die hoëpriesterlike nageslag van Levi via Kehat-Amram-Aäron-Eleasar tot in die ballingskap (6:1-15).  Interessant dat Aäron (en Moses en Mirjam) se pa Amram met ‘n tante van hom getroud is, Jogebed (Eks 6:19), maar wat, belangrik, ook uit die stam van Levi was (Num. 26:59).  Nadab en Abiru is verwerp toe hulle “ongeoorloofde vuur” na die altaar gebring het (Lev. 10), waarna hulle broer Eleasar die draer van die hoëpriesterlike lyn geword het.  Die geslagsregister word eers horisontaal en vertikaal beskryf Levi-Kehat-Aäron en dan net vertikaal in 23 geslagte van Eleasar af tot by Josadak wat in ballingskap weggevoer is.
  2. Die drie familiegroepe van Levi met meer aandag aan die Kehat-groep (6:16-30).  Die Kronis het hier gewerk met die gegewens uit Eks. 6:17–19 en Num. 3:18–20, maar Kehat se nageslag uitgebrei met die geslagsregisters van Elkana (man van Hanna) en sy seun Samuel, wat nie net ’n priester was nie, maar ook ’n profeet (vgl. 1 Sam. 1 en 8).  Elkana was waarskynlik ’n Efraïmiet, maar word hier onder die Leviete getel, waarskynlik omdat Samuel aan die Here afgesonder is.  Die insluiting van sekere mense in geslagsregisters vanweë bepaalde redes, bv. die swaershuwelik (Deut. 25:5 vv.), was ’n algemene gebruik in Israel.  Interessant genoeg kan dit wees dat Paulus se uitsprake oor die insluiting van gelowiges uit die heidene in Abraham se geslagsregister in die NT op hierdie gebruik gebaseer kan wees (Gal 3:29).
  3. Die tempelsangers uit hierdie drie familiegroepe wat liturgiese leiding moes verskaf (6:31-47).  Die orde van die drie familiegroepe is anders as in die vorige verse s’n (Kehat-Gerson-Merari i.p.v. Gerson-Kehat-Merari) om meer fokus op Kehat te plaas.  Die Kehat-groep was duidelik die leiers onder die liturge met Heman as die vernaamste liturg met Asaf en Etan as mede-liturge.  In vergelyking met die vroeëre lys, is daar ’n paar name bygevoeg en ander name wat weer verskil wat dui op ’n ander of latere tradisie waarop dit gebaseer is.  Interessant dat Etan hier as die hoof van die Merari-groep genoem word, wat waarskynlik ’n ander naam vir Jedutun is.  Vgl. 1 Kron. 16:38-42; 25:1-6; 2 Kron. 5:12; 35:15; Neh. 11:17 waar Jedutun in dieselfde rol beskryf word.  Asaf was waarskynlik die meer produktiewe digter met ’n hele klompie Psalms wat aan hom toegedig word (Ps. 50 in die 2de Psalmboek en Ps. 73-83 aan die begin van die 3de Psalmboek).  Heman en Etan was weer verantwoordelik vir Psalm 88 en 89 onderskeidelik. Hulle word daar Esragiete genoem, d.w.s. nakomelinge van Serag uit die geslag van Juda (1 Kron. 2:6), een van die seuns uit die verbintenis van Juda met sy skoondogter Tamar. Dit beteken heel waarskynlik dat Heman en Etan uit Juda gestam het, maar as Leviete aangeneem is in opdrag van Dawid.  Die belangrikheid van dié geslagsregisters is immers juis om te bevestig dat die Leviete deur Dawid aangestel is om hierdie diens te verrig toe hy die Ark na Jerusalem teruggebring het.  Anders as die priesters en hoëpriesters wat hulle rol en funksie aan Aäron te danke het, het die Leviete in terme van hulle liturgiese funksie hulle rol aan Dawid te danke.  En Dawid het hierby ook nie-Leviete ingesluit.  Volgens hierdie lys was dit ook net mans wat dié diens gedoen het, maar later sal ons lees dat, ten minste uit die nageslag van Kehat, die dogters van Heman ook dié diens verrig het (1 Kron. 25).  Dawid het dus baie vryer omgegaan met die vestiging en inkleding van die liturge en sangleiers vir die erediens en die Kronis het hom hierin nagevolg en gravitas aan sy keuses verleen deur Heman en Etan in die Levitiese geslagsregister in te sluit.
  4. ’n Herhaling van die nageslag van Levi met ’n spesifieke fokus op die Aäronitiese priestersgeslagte tot by Dawid (6:48-53).  Dit sluit uiteraard ook die administratiewe funksionarisse in wat vir die res van die geestelik-godsdienstige aktiwiteite verantwoordelikheid moes neem (6:48).  Maar dit word oorskadu in terme van die uiters belangrike versoeningsrol wat die hoëpriesters en priesters moes vervul om die primêre verhouding met God in stand te hou.  Daarom word meer aandag gegee aan Aäron se nageslag tot en met die tyd van Dawid, toe Dawid die Levitiese rol met meer liturgiese funksies uitgebrei het.
  5. Die woonplekke van die Leviete in hulle familiegroepe (6:54-81).  Die lys van Levitiese stede is duidelik verbind aan dié in Josua 21, maar in ‘n ander orde aangebied met ’n paar verskille. Waar Josua eers die proses van uitdeling verduidelik en daarna uitspel hoe dit aan die vier groepe uitgedeel is (Aäron, Kehat, Gerson, Merari), ontbreek dié opsomming by Kronieke en gee hy eers ’n lys van die Aäronitiese stede, waarna hy wel ’n opsomming gee vir die oorblywende Levitiese groepe en daarna die lys van die Levitiese stede in hulle groepe.  Interessant is dat hier wel 12 stamme genoem word, maar saamgestel uit Josef se twee seuns, Manasse en Efraim, saam met 10 van die ander seuns van Jakob.  Dit is net die stam Dan wat nie hier genoem word nie.

Groot klem word met hierdie geslagsregisters gelê op die verbintenis aan God in terme van alles wat met die tent van ontmoeting sowel as die uiteindelike huis van die Here, die tempel in Jerusalem, te make het.  Dit sluit die verantwoordelikheid vir die tempelsang en liturgie in, sowel as die hoëpriesterlike diens van versoening deur Aäron wat in opdrag van Moses gedoen is, asook die administrasie van die res van die godsdienstige bedrywighede,  in ooreenstemming met wat God hulle beveel het.

Die res van die nageslag van Jakob

Die laaste 6 stamme van Jakob word dan in hoofstuk 7 genoem, met ‘n paar goed gekose brokkies  ekstra inligting oor 1) die problematiek van Benjamin as stam (onthou Saul kom van Benjamin waaroor in die volgende 2 hoofstukke verder gehandel sal word), en 2) oor twee uitnemende verhale uit die stam van Efraim: a) die verhaal van die uitnemende dogters van Selofgad (wat die erfreg met hulle optrede verander het om vroue in te sluit), en b) die belangrike bevestiging van Josua as afstammeling van Jakob-Josef-Efraim in sy rol as opvolger van Moses.  Dan en Sebulon word egter uitgelaat.

Die geslagsregisters toon ooreenkomste met materiaal uit Numeri en Josua, maar ‘n vergelyking sal te tegnies en akademies vir ons doel wees.  Ons volstaan dus met die gegewens in Kronieke:

  • Die stam Issaskar – 7:1-5.  Dit was duidelik ‘n vrugbare stam waarvan ’n groot deel strydbare mans was.
  • Die stam Benjamin – 7:6-12.  Dié stam was nie so getalryk nie, gegewe die tragedie van die amperse stam-uitwissing ná die verkragting en moord op ’n Leviet se vrou in Gibea, een van die stede van Benjamin.  Al die stamme het teen hulle opgetrek en ná ’n paar terugslae, want die Benjaminiete was dapper soldate, hulle amper uitgewis.  Die ander stamme het die oorblywende stamgenote uiteindelik egter jammer gekry en vir hulle op ’n baie vreemde manier 400 vroue geskenk sodat die stam nie tot niet sou gaan nie.  Gaan lees gerus dié vreemde en tragiese verhaal in Rigters 19-21.  Die Suppeërs en Guppeërs moet waarskynlik met die Benjamin-families Sefufam en Gufam in Numeri 26:39 verbind word.
  • Die stam Naftali – 7:13.  Die kinders van die slavin-vrou Bilha word met geen detail gelys, sommer so in die verbygaan.  Bilha was natuurlik Naftali se ma, nie sy vrou nie.
  • Die stam Manasse – 7:14-19.  Die naam van Selofgad val op, veral dat daar genoem word dat dié net dogters gehad het.  Hulle kon volgens tradisie nie grond erf nie.  Hulle het egter vir Moses en Eleasar hieroor geraadpleeg waarop die Here hulle gelyk gegee het en hulle die grond van hulle pa kon erf.  Dit het die tradisie rondom erfreg uitgebou sodat dit die vroulike nageslag ingesluit het (Num. 27).
  • Die stam Efraim – 7:20-28.  Die stam se wedervaringe word met meer detail vertel, veral omdat die geslagsregister uitloop op Josua, die aanvoerder van Israel wat Moses opgevolg het.  Twee ander opmerkings in die teks val op, dié oor die onderlinge troos by die dood van twee seuns (vers 22-23), en dié oor die vrou Seëra wat drie stede gebou het.  Dié stam is ook met die heiligdom Bet-El geïdentifiseer.
  • Die woongebied van Manasse – 7:29.  Dié mededeling sluit eintlik net die vorige deel oor Josef se nageslag, Efraim en Manasse, af.
  • Die stam Aser – 7:30-40.  Die lys word afgesluit weereens met groot klem op die strydbare manne wat aktiewe oorlogsdiens kon verrig, soos dié lys van Issaskar hoofstuk 7 ingelei het.  Let op dat hulle as vorstelike en uitgelese mense geteken word.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar