Skip to main content

1 Kronieke 11-12 – Dawid word deur God en volk as koning gevestig

Die Kronis fokus, na die kort inleiding in hoofstuk 10 oor Saul, nou in die res van dié boekrol op koning Dawid.

In hoofstuk 11-12 word vier perikope gewy aan die uitbreiding en bevestiging van Dawid se invloedsfeer:

1. Die hele Israel erken Dawid as koning by Hebron en neem saam Jerusalem in – 11:1-9.

Let op dat die Kronis selektief te werk gaan met Dawid se bekende geskiedenis soos ons dit in Samuel en Konings het.  Hy laat die geskiedenis van 2 Sam 2-4 heeltemal weg waar Dawid nog net koning van Juda was, en begin eerder met 2 Sam 5 waar Dawid as koning van die hele Israel erken word.  Hy ignoreer nie noodwendig die ander bekende feite nie, want die boeke van Samuel en Konings was immers reeds bekend, afgesluit en as kanonies aanvaar.  Maar hy kies dié dele van Dawid se geskiedenis wat die teruggekeerde ballinge kan motiveer om as Godsvolk te leef.

Daarom is daar die minimum gegewens oor Dawid se familie, omdat dié verhale moontlik afbreuk kon doen aan die perspektief op Dawid as “vader” van beide Jerusalem as hoofstad, sowel as van die tempel in Jerusalem in terme van die konseptualisering en voorbereiding daarvan.  Daarom sal ons later ook baie lees oor die sangleiers wat hy in hulle groepe aangewys het en as bevestiging sou dien vir die huidige ná-ballingskapse liturgiese groepe.

Regdeur is daar interessant genoeg ook die aanvaarding deur die hele volk van Israel sowel as, belangrik, die bewussyn van die Here se aanwysing van Dawid as koning. Let op hoe dit sigbaar word in die drie redes wat die volk gee vir hulle aanvaarding van hom as koning: 1) dat Dawid een van hulle is; 2) dat Dawid hulle oorlogsleier was selfs voor sy koningskap; 3) dat die Here hom aangewys het as koning.

God se belofte oor Dawid word vir die eerste keer ‘n volle werklikheid deur die verdrag wat Dawid met die volk sluit, en hulle wat hom op hulle beurt as koning salf, iets wat herinner aan die salwing van Dawid deur Samuel in opdrag van die Here toe Dawid nog skaapwagter was.  Trouens sonder hierdie onderlinge ooreenkoms sou Dawid se koningskap nie kon werk nie. Die Here werk dus deur en saam met die gemeenskap van gelowiges.

Die Kronis laat die detail uit oor die blindes en kreupeles van 2 Samuel 5, en fokus eerder op Joab wat sy leiersposisie verkry deurdat hy die eerste was wat ‘n Jebusiet doodgemaak het.  Joab word daarmee ‘n ereposisie gegee wat regdeur die Kronis volgehou word.  Die Kronis gee nie aandag aan die gemengde gevoelens wat Dawid oor  Joab gekoester het nie – hy was immers verantwoordelik vir die dood van Dawid se seun Absalom en vir die onskuldige dood van Abner en Amasa in vredestyd.  Dawid het daarom vir Salomo opdrag gegee op teen Joab, sy susterskind, op te tree (1 Kon 2).  Die Kronis ignoreer egter dié data om by sy waarderende blik op die geskiedenis te bly.

2.  Dawid se koningskap word sterk ondersteun deur die leiers van sy dapper manne – 11:10-47.

Die Kronis werk hier met die detail van 2 Sam 23, maar voeg ‘n paar ekstra dapper manne by van vers 41 af.  Let op veral na die naam van Urija, die Hetiet, wat een van Dawid se dapper manne was.  Die detail oor Batseba, wie se man hy was, word egter in Kronieke uitgelaat.

Dit is nie oral maklik om die twee lyste van helde te vergelyk nie, want daar is ‘n paar name wat verskillend is, en van die getalle kom ook nie ooreen nie.  Dit wil ook lyk asof Samma se naam uitgeval het in Kronieke, omdat hy die derde naam van die drietal in Samuel is, en Kronieke nie die derde een in die drietal noem nie.  Jasobam (Kronieke) en Joseb-Bassabet (Samuel) is wel waarskynlik dieselfde persoon waarvan die naam net verskillend gespel is wat beteken dat die drietal Jasobam, Eleasar en Samma moet wees.  Die verwysing na die dertigtal in Kronieke is ook waarskynlik ‘n fout en moet eerder op ‘n drietal dui soos in Samuel.

Hoe dit ook al sy, die punt wat Kronieke maak met dié lys van dapper manne, is enersyds dat God sy werk deur mense doen.  Hy werk deur die dapperheid van die helde wat hier genoem word.  Let byvoorbeeld op hoe die Kronis oor die drie dapper helde (Jasobam, Eleasar en Samma) wat in ‘n garsland gaan stelling inneem het en die Filistyne verslaan het, sê: “en so het die Here vir hulle ‘n groot oorwinning gegee.”

Andersyds dien dié helde natuurlik ook om Dawid se posisie verder te bevestig, want hulle was lojaal aan hom.  Hulle vertrou hom om die Here se wil uit te voer

3.  Die lojaliteit van Dawid se altyd-groterwordende groep strydmakkers uit sy ballingskap dae – 12:1-22.

Hierdie gedeelte sou logieserwys eerder aan die begin van hoofstuk 11 gepas het, omdat dit handel oor Dawid se tyd in ballingskap op vlug van Saul.  Dit is egter moontlik hier geplaas, omdat dit uit ‘n ander bron as Samuel gehaal is.  Die betekenis van die lys is egter duidelik, en dit is om die invloed wat Dawid op Israel selfs voor sy koningskap uitgeoefen het, te bevestig.

En dit is ‘n invloed wat nie net op die onderskeie stamme van Israel ‘n impak gehad het nie.  Dit het ook ‘n impak op ander nasies gehad.  Daarom kom daar in hierdie lys van dapper manne verskeie name voor van ander nasionaliteite.

Die primêre invloed was egter op die stamme van Israel en uit vier van die stamme word hier name genoem wat hom reeds in sy voor-koninklike tyd ondersteun het.

Dit is insiggewend dat die eerste strydmakkers van Dawid uit dié tyd juis uit Saul se stam Benjamin gekom het.  Hulle was nie net bedrewe dubbelhandige vegters nie, en daarby goeie slingervel soldate, soos Dawid, maar ook ‘n belangrike element in die aanvaarbaarheid van sy uiteindelike koningskap.

Die vegters uit Gad wat na Dawid oorgeloop het, was nie net vreesaanjaend nie, maar waarskynlik ook goeie swemmers, soos met die oorsteek van die Jordaan in volle vloed bewys.  Daarbenewens was daar ook mense uit Juda wat by Dawid aangesluit het, die stam waaruit hy self gebore is.  Ook uit Manasse het strydvaardiges by hom aangesluit.  Só het Dawid se mag gegroei totdat hy ‘n groot leër gehad het wat hom gevolg het en gereed vir die stryd was.

Maar steeds is dít net een kant van die bevestiging van Dawid se invloed.  Die ander kant bly steeds in die oog, hier uitgedruk deur die Gees wat bevestiging verleen aan Dawid se koningskap deur van Amasia, die leier van die dertig helde, besit te neem, wat hulle lojaliteit aan Dawid in ‘n kort en kragtige uitspraak uitspreek: vír u en by u!

4.  Die oordrag van die koningskap op Dawid in Hebron deur die hoofmanne van die volk se hele gewapende mag – 12:23-40.

In die laaste gedeelte word ‘n prentjie geskets van al die stamme van die hele Israel wat in Hebron hulle agter Dawid se koningskap geskaar het en hom van hier af ondersteun het .  Let op dat daar ook strydbare manne uit die stam van Levi by hom aangesluit het, wat belangrike inligting vir die na-ballingskapse gemeenskap sou wees.  Weereens word melding gemaak van die ondersteuning van nog ‘n deel van die Benjaminiete, wat tot op dié stadium nog vir Saul ondersteun het, waarskynlik nog ná sy dood met die regering van Is-Boset.

Dit tref my dat daar uit die Issaskarstam mense was wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan!  ‘n Mens wens die Kronis het meer gesê oor hoe hulle te werk gegaan het!

En, natuurlik, is daar groot fees gehou om Dawid se koningskap te vier!

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms