2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer
Joahas het ’n kort regering en sterf in ballingskap
Die burgers van die land maak Joahas koning om sy pa Josia op te volg op die jeugdige ouderdom van 23, gebore vir Josia toe dié net 16 jaar oud was. Jeremia noem hom Sallum (Jer. 22:11). Hy was die 4de oudste van Josia se kinders met Joganan, Jojakim en Sedekia ouer as hy (1 Kron. 3:15).
Joahas het egter nie veel tyd vir regeer nie en word na net 3 maande deur die koning van Egipte, Neko, afgesit en na Egipte weggevoer, waarskynlik as straf vir die koppige dwaasheid van Josia wat in die konflik met Neko gesterf het. Die Kronis gee geen beoordeling van sy regering nie, hoewel Konings vermeld dat hy die Here nie gedien het nie en in Egipte gesterf het (2 Kon. 23:30-34), soos Jeremia ook voorspel het (Jer. 22:11-12).
Juda kry ’n stywe boete van silwer en goud vir die koning van Egipte. Neko maak Joahas se ouer broer, Eljakim, koning oor Juda, maar verander sy naam na Jojakim, waarskynlik om sy mag oor hom daarmee te bevestig.
Jojakim doen afskuwelike dinge en word in ballingskap weggevoer
Eljakim, Joahas se ouer broer, word op 25 jarige ouderdom as koning aangestel deur die Egiptiese koning. Sy naam word na Jojakim verander om duidelik aan die volk te kommunikeer dat Juda nou onderdanig is aan Egipte.
Hoewel hy 11 jaar in Jerusalem regeer, staan sy regering ook in die teken van die afvalligheid van sy voorsate. Die Kronis gee nie enige detail nie, maar verkwalik Jojakim vir die “afskuwelike dinge” wat hy sou gedoen het. Konings wyt die opeenvolgende konflikte wat Juda beleef aan die sonde van Manasse wat nog ’n groot invloed in die land gehad het, veral weens die onskuldige bloed wat in die land vergiet is (2 Kon. 24:4).
Jeremia brei daarop uit en wys dat Jojakim kwistig daaraan meegedoen het: hy het sy huis met onreg gebou, sy mense sonder betaling laat werk, nie die saak van die swakke en arme behartig (soos sy pa Josia) nie, homself verryk ten koste van ander en (soos sy grootjie Manasse) mense onskuldig laat doodmaak (Jer. 22:13-19).
Jeremia het nog baie ander materiaal oor Jojakim wat julle gerus kan lees vir ’n meer volledige prentjie van die regeringstyd van Jojakim. Hier is ’n sinopsis volgens die waarskynlike kronologie:
- Jeremia 26 – Kort na Jojakim koning geword het, het die Here vir Jeremia opdrag gegee om in die tempel te gaan staan en aan te kondig dat die ballingskap amper onafwendbaar aan die kom is. Soos Silo vroeër verwoes is, sal dit ook nou Jerusalem se lot wees, indien die volk hulle nie tot die Here bekeer nie. Daar is hier nog by Jeremia ’n element van hoop dat die volk sal luister (hoewel dit met tyd blyk tevergeefs te wees). Dié boodskap is egter nie goed ontvang deur die amptenare, priesters en profete nie en hulle wou hom daarvoor doodmaak. Op sy verweer dat sy dood hulle eie verwoesting sal verhaas, het hulle vir eers vir Jeremia met rus gelaat. Jojakim was egter nie tevrede nie, maar los ook vir eers vir Jeremia uit, omdat die priester Agikam, een van Jojakim se pa, Josia, se raadgewers, aan Jeremia se kant was. Jojakim wreek hom dus op ’n ander profeet, Urija, wat dieselfde dinge as Jeremia gesê het en laat Urija doodmaak.
- Jeremia 25 – In Jojakim se 4de regeringsjaar verskerp Jeremia sy oordeel oor die volk en kondig aan dat die Here Nebukadnesar sal gebruik om hulle vir sewentig jaar in ballingskap na Babel te neem. Dit is nadat Daniël die vorige jaar weggevoer is na Babel (Dan. 1:1-2). Die oordeelsbeker gevul met die wyn van God se toorn sal daarna die ander nasies laat waggel en slinger, as die Here weer die lot van Juda na sewentig jaar verander.
- Jeremia 36 – Steeds in Jojakim se vierde regeringsjaar, laat Jeremia al die oordeelsprofesieë wat die Here vir hom sedert die tyd van Josia teen Juda gegee het deur Baruk op ’n boekrol skryf en in die tempel aan almal voorlees, aangesien Jeremia op dié stadium op een of ander manier ingeperk of waarskynlik eerder beperk in sy bewegings was. Sy hoop was dat die volk tot bekering sal kom by die aanhoor daarvan. Jojakim reageer aanvanklik nie daarop nie. ’n Jaar later, in Jojakim se vyfde regeringsjaar, is ’n vasdag vir die Here in Jerusalem uitgeroep en weereens is die boekrol voorgelees. Die amptenare het baie bang geword en die boekrol vir Jojakim gebring en hom alles vertel. “Dit was winter en die koning het in die sonkamer gesit met ’n bak gloeiende kole voor hom. Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met ’n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi, Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was.” Gelukkig het die Here Jeremia beskerm teen Jojakim se gramskap wat Jeremia wou laat arresteer. Jeremia het later die boekrol met al sy profesieë weer vir Baruk gedikteer sodat dit nie verlore sou raak nie.
Jeremia se oordeel oor Jojakim is: “Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.” (Jer. 22:19).
Die Kronis sluit hierby aan en sê dat Jojakim met bronskettings geboei is om na Babel weggevoer te word, hoewel geleerdes verskil oor die uitkoms hiervan. Die Hebreeus kan verstaan word asof Jojakim geboei is om weggevoer te word, maar dat die uitkoms daarvan oopgelaat word: “geboei met bronskettings om na Babel toe te vat …” Dit kan dus beteken dat hy nooit daar uitgekom het nie.
Hoe dit ook al sy, dit gebeur in 597 v.C. en Jerusalem word vir die eerste keer ingeneem deur koning Nebukadnesar van Babel – volgens Konings, weens Jojakim se opstand teen Nebukadnesar na ’n tydperk van 3 jaar se onderdanigheid (2 Kon. 24:1). Die tempel word geplunder en Jojakim se regering op 36 jarige ouderdom beëindig.
Terloops: Daniël word in die 3de jaar (ongeveer 606 v.C.) van Jojakim na Babel weggevoer in een van Nebukadnesar se eerste veldtogte teen Juda (Dan 1:1). Dit was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die koning van Babel was. Dit moes ook ’n impak gehad het op Jojakim se seun, Jojagin, wat uiteindelik in ballingskap begenadig is, soos ons 2 Konings 25 lees.
Jojagin regeer kort, maar word begenadig in ballingskap
Jojakim se seun, Jojagin, word op die jong ouderdom van 18 jaar koning (eintlik staan daar in die grondteks dat hy 8 jaar oud was, wat beter sal inpas by die ouderdom van Sedekia wat hierna genoem word, maar deur Konings tog as 18 jaar aangedui word). Hy regeer net 3 maande lank voor Nebukadnesar hulle weer inval, met die wisseling van die jaar d.w.s. 596 v.C., waarskynlik nog in dieselfde veldtog waarin sy pa se regering beëindig is.
Die Kronis brei nie uit oor sy regering nie, dit was ná alles baie kort. Hy noem net dat Jojagin gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. ’n Mens kry die indruk dat die tydsgewrig van afvalligheid van die Here eerder ’n rol gespeel het in die Kronis se oordeel, as dat dit spesifiek aan Jojagin se eie regeringstyl gewyt sou kon word. Konings skets vir ons byvoorbeeld ’n bietjie meer positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).
Hierdie keer is die wegvoering saam met bykans die hele Jerusalem: die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere, die amptenare, die soldate, die vakmanne en die smede, trouens al die belangrikste mense van Jerusalem (2 Kon. 24:14-16). Ook die profeet Esegiël (Eseg. 1:1 – hy begin sy gesigte sien in die 5de jaar van die ballingskap van koning Jojagin – interessant genoeg verwys Esegiël ook na Daniël – Eseg. 14:14; 28:3) was onder dié mense. Net die armstes van die landsbevolking is agtergelaat en Mattanja – ’n oom van Jojagin en broer van sy pa, Jojakim en natuurlik ook ’n broer van sy ander oom, Joahas, wat vroeër vir ’n kort rukkie koning was – word deur Nebukadnesar koning gemaak. Mattanja se naam word deur Nebukadnesar na Sedekia verander om sý heerskappy oor Juda te bevestig.
Jeremia is ook sagter in sy oordeel oor Jojagin (Jer. 24). Jeremia verwys na die mense wat agtergebly het in Jerusalem as die slegte vye en die ballinge as die goeie vye in die bekende gesig wat hy in die tempel gesien het van die twee mandjies vye. Jeremia verkondig daarmee dat die Here die volk “vir hulle beswil uit hierdie plek uit na Galdeërland toe gestuur het” en sy oog oor hulle sal hou, hulle insig sal gee om Hom te ken en hulle na hulle land toe sal terugbring (Jer. 24:5-7). Trouens Jeremia volg hierdie boodskap op met ’n brief aan die ballinge om hulle te bemoedig en ook aan te moedig om die belange te bevorder van die stad waar hulle heen weggevoer is, want die ballingskap sal sy volle sewentig jaar duur (Jer. 29). Dit is ná Semaja hom teëgestaan het en gesê het dat die ballingskap korter sal duur.
Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het. ’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie.
Sedekia se regeringstyd aan die einde van die koningstydperk van Juda
Sedekia, Joahas se jongste broer en oom van Jojagin (maar omtrent dieselfde ouderdom) word op 21 jarige ouderdom koning, die laaste koning van Juda. Sy naam was eintlik Mattanja (2 Kon. 24:17), maar is deur Nebukadnesar verander na Sedekia om die feit van Juda se onderdanigheid te onderstreep.
Hy regeer 11 jaar tot en met die ballingskap in 586 v.C. toe Nebukadnesar finaal vir Jerusalem en Juda in ballingskap weggevoer het. Volgens die oordeel van Kronieke was Sedekia ’n slegte koning wat nie net gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here sy God nie, maar spesifiek ook nie geluister het na die profeet Jeremia nie, toe dié op bevel van die Here na hom gestuur is nie.
Sy gebrek aan berou teenoor die Here (“Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer”) word geëggo in sy verset teen Nebukadnesar, aan wie hy “voor God trou gesweer het”, waarskynlik in die tempel, waarvoor hy die prys betaal om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag is, sý oë daarna uitgesteek is en hy oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon. 25:6-7; Jer. 52:10-11). ’n Grillerige gru-verhaal!
Die leiers van die priesters en die volk het hom nagevolg en die tempel ontwy met hulle afgodsdiens, die boodskappers van die Here, soos Jeremia, uitgelag, God se woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here onherroeplik oor sy volk losgebreek het. Baie mense het hulle lewens verloor met die laaste veldtog van Nebukadnesar en is saam met die laaste skatte van die tempel na Babel weggevoer. Die pragtige tempel van Salomo is afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles van waarde verwoes.
Die Kronis wyt dié ontsetting van die ballingskap aan die konsep van ’n sabbatsjaar waarin die land as’t ware kon braak lê om te vergoed vir die ongehoorsaamheid oor die loop van 5 eeue, wat ’n hele sewentig jaar lank sou duur.
Met die bewindsaanvaarding van koning Kores van die Perse is die belofte van Jeremia vervul dat hulle weer kon teruggaan na hulle land en die Kronis sluit sy verhaal hier af met die aanhaling daarvan, wat in die voortsetting van die verhaal in Esra meer volledig aangehaal sal word (Esra 1:1-4).
Konings en Jeremia se weergawes van Sedekia se verhaal
In 2 Konings 24:18-25:21 en Jeremia 52:1-30 word die verhaal van Sedekia met meer detail vertel, bv. detail word gegee oor die 2 jaar lange beleg van Nebukadnesar, die hongersnood wat geheers het en die wyse waarop die Galdeërs vir koning Sedekia agtervolg en gevang het toe dié gevlug het. Daar is ook meer detail oor Nebusaradan, die hoofamptenaar van Nebukadnesar en wat hy alles in Jerusalem aangevang het met die bevolking asook sy verwoesting van die tempel. Die moord op goewerneur Gedalja, wat deur hom aangestel is, word ook vermeld, iets waarvan ons ook in Jeremia lees (Jer. 40).
Baie Jode is toe na Tagpanges (vandag Tel Defne, aan die Menzalameer in Noord-Egipte) in Egipte uit vrees vir die Galdeërs. Terloops sommige Jode het hulle reeds vroeër in die bekende Elephantine nedersetting, wat vroeër deur Manasse daar gestig is, gevestig. Daar is ’n versameling papiri uit dié tyd wat insae gee in die Joodse lewe in die vreemde.
In Jeremia word nóg meer detail oor die regering van Sedekia gegee, aangehaal in die waarskynlike kronologie:
- Jeremia 24 – Die bekende gesig van Jeremia oor die twee mandjies vye word kort ná die ballingskap van Joajagin, d.w.s. met die aanvang van Sedekia se regering, ontvang en as ’n oordeelsprofesie téén die regering van Sedekia uitgespel: “Ek sal oorlog, hongersnood en pes onder hulle loslaat totdat hulle uitgeroei is uit die land wat Ek aan hulle en hulle voorvaders gegee het.” Ons lees nie van enige reaksie van koning Sedekia nie.
- Jeremia 27 – Kort nadat Sedekia koning geword het, het die Here aan Jeremia ’n verdere boodskap aan Sedekia gestuur (ook na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon) om aan Nebukadnesar onderdanigheid te betoon, omdat die Here aan hom die mag gegee het en hulle toekoms in sy hande lê. Ons lees nie van enige reaksie van Sedekia nie.
- Jeremia 28 – In die 4de regeringsjaar van Sedekia het Gananja, waarskynlik ’n Assiriër uit Gibeon, Jeremia se woorde in die wind geslaan met ’n profesie dat Nebukadnesar binne 2 jaar verslaan sou word. Jeremia het geantwoord dat hy dit ook graag só sou wou hê, maar die ongemaklike waarheid is dat die Here vas besluit het op die ballingskap. In die voortslepende onderonsies tussen dié twee – waarin Gananja onder andere ’n juk op Jeremia se nek as simbool van die stelligheid van sy boodskap, gebreek het, en Jeremia op sy beurt dít met ’n ysterjuk vervang het – is Gananja dood as gevolg van sy misleiding, soos Jeremia inderdaad voorspel het. Weereens lees ons nie van enige reaksie van Sedekia nie.
- Jeremia 29 – Interessant genoeg is die brief van Jeremia aan die ballinge in Babel gestuur saam met ’n gesant wat in opdrag van Sedekia na Babel toe is, Gemarja. Om die waarheid dit sê, dit kan selfs wees dat Sedekia self saam is Babel toe, soos ons uit Jer. 51:59 aflei. Sedekia sou dus heeltemal bewus gewees het van die inhoud van Jeremia se boodskap aan die ballinge, hoewel hy self nie enige eksplisiete kommentaar gelewer het nie.
- Jeremia 37:1-10 –Sedekia se regering word in dié deel geteken as een waarin ongehoorsaamheid aan die Here die botoon sal voer: “(Hy) het nie geluister na wat die Here vir hulle gesê het deur die profeet Jeremia nie.” Sedekia wou hê dat Jeremia vir hulle moes bid, maar die Here het hulle geantwoord dat die Galdeërs hulle nie sal los nie, al was daar nou ’n kort tydjie wat die Egiptiese bedreiging die Galdeërs se aandag geverg het en Jerusalem ’n blaaskans geniet het.
- Jeremia 32-33 en 37:11-21 – Net na die onvergelyklike hoopvolle prentjie wat Jeremia skets van die nuwe bedeling wat God ná die ballingskap sal laat aanbreek (Jer. 30-31), koop Jeremia in dieselfde jaar, dit is die 10de regeringsjaar van Sedekia, ’n stuk grond as bevestiging van sy boodskap dat die ballingskap in die toekoms omgekeer sal word (Jer. 32-33). Dit lei daartoe dat Jeremia opgesluit word deur ’n kleinseun van Gananja (die profeet wat ’n geswore vyand van Jeremia was, maar dood is soos Jeremia voorspel het) in die staatsekretaris Jonatan se huis, wat in ’n tronk verander is (Jer. 37:11-21). In een van die gesprekke met hom in hierdie tyd verkwalik Sedekia vir Jeremia van verraad. Jeremia probeer die koning oortuig van sy goeie bedoelings, sowel as van die hoop wat God vir hulle ná die ballingskap het, maar tevergeefs (32:1-25). In ’n volgende “geheime” gesprek in dié tyd vra Sedekia vir Jeremia om ’n woord van die Here, waarop Jeremia net herhaal wat hy die hele tyd beklemtoon: “Jy sal in die mag van die koning van Babel uitgelewer word.” (Jer. 37:17-21). Jeremia vra ook in dié gesprek om ’n genadiger hantering deur Sedekia, want hy begin vrees dat hy in die tronk van honger sou sterf . Dié staan Jeremia se versoek toe en laat hom aanhou in die binneplaas van die paleiswag en laat vir hom elke dag brood aflewer uit Bakkerstraat (!) totdat die stad se brood op was.
- Jeremia 21 – Nog ’n verhaal word ons vertel wat ook met die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar plaasgevind het, waar Sedekia ’n halfhartige poging aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.), maar dié het ’n deurpriemende boodskap aan Sedekia gegee dat hulle nederlaag onafwendbaar is en dat hulle eerder met Nebukadnesar moet saamwerk, raad wat Sedekia nie gevolg het nie. Dit was ook in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag.
- Jeremia 34 – Die vorige gesprekke word waarskynlik hierna, hoewel ’n mens nie presies seker is van die datering van hierdie gedeelte nie, opgevolg met ’n belofte aan Sedekia dat hy ten spyte van die beleg en ballingskap die guns van die Here sal geniet, as hy maar net sal luister: “Jy sal nie deur die swaard sterf nie. Jy sal in vredestyd sterf …”. Dit wil aanvanklik lyk asof Sedekia positief hierop reageer en hy laat in ’n ooreenkoms met die hele Jerusalem alle Joodse slawe vry. Hy hou hom egter nie lank daaraan nie en verbreek dié ooreenkoms, nie net met die Jode nie, maar ook met die Here. Dít beseël Sedekia se lot finaal.
- Jeremia 38:1-13 – In ’n opvolgaksie teen Jeremia deur vier van Sedekia se amptenare, Sefatja, Gedalja (die latere goewerneur wat vermoor sou word), Jukal en Pasgur – almal geswore vyande van Jeremia – word Jeremia met Sedekia se goedkeuring (“Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie”) in ’n put in die binneplaas van die paleiswag gegooi. Jeremia het in die modder onderin ingesak en die gevaar geloop om te sterf. Gelukkig het ’n Kussiet, Ebed-Melek, hom oor Jeremia ontferm en Sedekia om genade gesmeek het. Sedekia het 3 man saam met hom gestuur en hulle het Jeremia toe uitgetrek met toue en stukke klere onder sy armholtes. Jeremia was nie klein nie, wil dit voorkom! Daarna kon hy weer in die binneplaas bly, hoewel daar nie meer brood oor was in die stad nie en hulle regtig begin honger ly het.
- Jeremia 38:14-28 – Sedekia was duidelik uiteindelik erg geraak deur die hongersnood en die dreigende ballingskap, want in dié verhaal sit hy by die derde ingang van die tempel en laat Jeremia haal om verder met hom te praat – inplaas daarvan om soos sy voorouers die tempel binne te gaan en die Here om genade te smeek! Hy weet egter die einde is in sig, maar is steeds meer bekommerd oor sy eie lot as oor dié van sy mense en wil by Jeremia weet wat hom te doene staan. Jeremia kry hom eers sover om te sweer dat Sedekia hom nie iets sal aandoen nie en spel dan ’n pad van hoop vir Sedekia uit. Dit sou beteken dat hy hom aan Nebukadnesar sou moes oorgee, soos sy voorganger en broerskind, Jojagin, gedoen het. Ongelukkig steur Sedekia hom nie daar aan nie en ly hy die vernederende dood soos Kronieke, Konings en Jeremia (hfst. 39-40) dit uitspel. Jeremia word begenadig en vrygelaat deur Nebukadnesar, hoewel hy daarna tog uiteindelik weens die anargie in die land moes vlug na Egipte toe en sy laaste woorde in Tagpanges (vandag Tel Defne, aan die Menzalameer in Noord-Egipte) geuiter het, woorde téén Egipte, interessant genoeg.
by Chris van Wyk
View all posts in this series
- Bybelskool oor 1 en 2 Kronieke in die tweede kwartaal 2013 - April 10, 2013
- Bybelskool oor Kronieke - April 11, 2013
- Inleiding op Kronieke
- Geslagsregisters in Kronieke
- Kaarte vir Kronieke
- Program vir leeswerk vir Kronieke
- Leesmetode vir Kronieke
- WEEK 1: 1 Kronieke 1-9
- 1 Kronieke 1 – Identiteit gewortel in Adam en Abraham
- 1 Kronieke 2:1-4:23 – Identiteit gewortel in Juda en Dawid - April 12, 2013
- 1 Kronieke 4:24-5:26 – Verspilde verhouding met God lei tot wegvoering - April 15, 2013
- 1 Kronieke 6-7 – Die prioriteit van geestelik-godsdienstige leiding - April 16, 2013
- 1 Kronieke 8-9 – Die bevestiging van Jerusalem as Judese eerder as Benjaminitiese gebied - April 17, 2013
- WEEK 2: 1 Kronieke 10-21 - April 18, 2013
- 1 Kronieke 10 – Saul se gebrek aan gehoorsaamheid en gebedsafhanklikheid
- 1 Kronieke 11-12 – Dawid word deur God en volk as koning gevestig - April 19, 2013
- 1 Kronieke 13-15 – Dawid raadpleeg die volk en God in die proses om die ark na Jerusalem te bring - April 22, 2013
- 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God - April 23, 2013
- 1 Kronieke 18-21 – Die Here help Dawid net waar hy gaan - April 24, 2013
- WEEK 3: 1 Kronieke 22-29 - April 25, 2013
- 1 Kronieke 22 – Dawid berei Salomo nougeset voor vir die bou van die tempel
- 1 Kronieke 23-24 – Dawid reël die priesterlike en Levitiese bediening - April 26, 2013
- 1 Kronieke 25-26 – Dawid se reëlings vir ’n omvattende Levitiese bediening - April 29, 2013
- 1 Kronieke 27 – Dawid en die leiers in sy diens - April 30, 2013
- 1 Kronieke 28-29 – Dawid motiveer en mentor Salomo vir sy roeping om die tempel te bou - May 1, 2013
- WEEK 4: 2 Kronieke 1-9 - May 2, 2013
- 2 Kronieke 1 – Salomo as wyse man en vernuftige handelaar
- 2 Kronieke 2-5 – Salomo bou die tempel en God se teenwoordigheid vul Sy huis - May 3, 2013
- 2 Kronieke 6 – Salomo plaas gebed sentraal in die verhouding met God - May 6, 2013
- 2 Kronieke 7 – God sit die seël op die tempel-inwyding met hemelse vuur en Sy verskyning aan Salomo - May 7, 2013
- 2 Kronieke 8-9 – Salomo het nasionale en internasionale invloed - May 8, 2013
- WEEK 5: 2 Kronieke 10-16 - May 9, 2013
- Oorsig oor die konings waarvan die Kronis skryf
- 2 Kronieke 10 – Die ryk skeur weens die domastrantheid van Rehabeam
- 2 Kronieke 11-12 – Rehabeam tree met groot oorleg op, maar faal in sy primêre verhouding met God - May 10, 2013
- 2 Kronieke 13 – Abia bevestig Juda se steun op die Here se leierskap - May 13, 2013
- 2 Kronieke 14-15 – Asa doen wat reg is in die oë van die Here - May 14, 2013
- 2 Kronieke 16 – Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte - May 15, 2013
- WEEK 6: 2 Kronieke 17-24 - May 16, 2013
- 2 Kronieke 17-18 – Josafat regeer soos Dawid van ouds, maar begaan ’n oordeelsfout om by Agab betrokke te raak
- 2 Kronieke 19-20 – Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit en behaal ’n groot oorwinning met God se hulp - May 17, 2013
- 2 Kronieke 21 – Joram doen wat verkeerd is in die oë van die Here en word met oorlog en ’n ongeneeslike siekte gestraf - May 20, 2013
- 2 Kronieke 22-23 – Ahasia doen ook wat verkeerd is in die oë van die Here en sy ma Atalia vaar nie beter nie - May 21, 2013
- 2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here - May 22, 2013
- WEEK 7: 2 Kronieke 25-32 - May 23, 2013
- 2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie
- 2 Kronieke 26 – Ussia se voorspoed vang hom en hy raak te ingenome met homself - May 24, 2013
- 2 Kronieke 27-28 – Jotam hou koers, maar Agas verloor dit heeltemal - May 27, 2013
- 2 Kronieke 29-31 – Hiskia vra met sy hele hart na die wil van sy God en is voorspoedig - May 28, 2013
- 2 Kronieke 32 – Hiskia vertrou die Here in konflik en siekte en het berou van sy selfingenomenheid - May 29, 2013
- WEEK 8: 2 Kronieke 33-36 - May 30, 2013
- 2 Kronieke 33 – Manasse is ’n gruwelike koning wat berou het en tot bekering kom
- 2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek - May 31, 2013
- 2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid - June 3, 2013
- 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer - June 4, 2013
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.