2 Kronieke 27-28 – Jotam hou koers, maar Agas verloor dit heeltemal

Ons lees vandag die verhaal van twee konings, Jotam en Agas, wat so uiteenlopend is as wat dit kan wees, nogal pa en seun.  Die enigste ooreenkoms is dat hulle albei met plaaslike vroue van Juda getroud was:

  • Jerusa, vrou van Jotam (en ma van Agas), was ’n dogter van Sadok, waarskynlik uit die priesterlike geslag.  Interessant genoeg, word sy nie genoem as ma van Agas in die deel wat die Kronis oor hom skryf nie, anders as met sy pa Jotam en sy seun Hiskia.  Dit is asof die Kronis sy misnoeë met Agas ook op dié manier wil uitdruk deur sy ma nie direk in verband met hom te noem nie.
  • Abi, vrou van Agas (en ma van Hiskia hierna), was ’n dogter van Sagaria, waarskynlik dieselfde een: “wat insig in die openbaring van die God gehad het,” in die tyd van koning Ussia (2 Kron. 26:5).  Sy word wel genoem in verband met haar seun Hiskia in die volgende hoofstuk.

Jotam doen wat reg is in die oë van die Here

Jotam kry groot lof van die Kronis vir ’n regering waarin hy alles gedoen het wat reg is in die oë van die Here, behalwe dat hy nie daarin kon slaag om die volk van hulle afgodsdiens te bekeer nie.  2 Kon. 15 verbind dit aan die hoogtes wat nie verwyder is nie.

Die Kronis vermeld ook spesifiek dat Jotam nie in die tempel van die Here oortree nie.  Dit kan selfs wees dat hy die tempel nie betree het nie, soos die teks ook vertaal kan word.  Hy begaan dus nie dieselfde dwaasheid as sy pa nie en word vir sy bouwerk – die tempelpoort en Ofelmuur in Jerusalem, stede in Juda asook skanse en forte in die bosse – en oorwinning teen die Ammoniete geloof.  Dit kan selfs wees dat hy soos sy pa lief was vir die grond en vir die omgewing gesorg het met ‘n boom aanplant projek.  Dit lei sommige geleerdes af uit die woord vir bosse in vers 4 wat met die Akkadiese woord vir “boomplant” (ḫarâšu) verbind kan word.

Terloops: Jotam het natuurlik al waargeneem as koning in die tyd van sy pa Ussia se melaatsheid en gevolglike afsondering (2 Kron. 26:21 – “Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die mense van die land geregeer.”).  Dit wil voorkom asof dit ongeveer 4 jaar lank was, soos ons aflei uit 2 Kon. 15:30 wat sy regeringstyd as 20 jaar aandui, om net daarna in 2 Kon. 15:33 sy (eie) regeringstyd as 16 jaar aan te dui.  Hy het dus 16 jaar op sy eie geregeer en 20 jaar altesaam.

Jotam het regtig “sy pad reg gehou voor die Here.”

Agas struikel voort van een krisis na die ander en doen nie wat reg is in die oë van die Here nie

Agas, Jotam se seun, struikel egter voort van een krisis na die volgende en word nie net verlei deur die Baälgodsdiens nie, verbrand nie net van sy kinders as offers nie (Hiskia het dit gelukkig vrygespring), maar tree ook dom-astrant op teenoor 4 van sy buurvolke – Arameërs, noordryk van Israel, Edomiete en Filistyne – en word op groot skaal deur elkeen van hulle verneder, ook deur die Assiriërs met wie hy oplaas ’n bondgenootskap probeer sluit.

Let op die rol wat die Here speel in die ellende wat hulle in dié tyd tref.

Aan die een kant bring die Here die ellende oor hulle in die konflik met die Arameërs (koning Resin – Jes. 7:1) wat van Agas se mense as krygsgevangenes na Damaskus wegvoer.  Dieselfde gebeur in die oorlog met koning Peka  van Israel wat nie net krygsgevangenes neem nie, maar ook groot hoeveelheid buit afvat en na Samaria bring.

Maar aan die ander kant bestuur die Here ook die effek van die ellende, deur ’n profeet te stuur, in dié geval Oded, om die impak op die volk te versag.  Oded spreek die noordelike ryk se leiers aan dat hulle oorboord gegaan het en ’n slagting aangerig het, “met ’n woede wat ten hemel skrei.”  Hy keer dat hulle slaag met hulle poging om ’n slawevolk van die Jode van Juda en Jerusalem te maak en te maak dat die volk van Israel só eintlik teen hulle “broers” van Juda sowel as teen God sondig.

Daarom raai Oded hulle aan om die gevangenes terug te neem, wat die leiers toe inderdaad doen.  Almal het afstand gedoen van die buit – nogal onder toesig van die leiers – en die gevangenes onder hulle sorg geneem, klere gegee, voorsien van skoene, kos, water, salf vir die wonde – daar staan letterlik dat hulle persoonlik, “salf aan die wonde gesmeer” het – en dié wat nie kon loop nie op donkies gehelp en hulle persoonlik teruggeneem het na hulle grondgebied.

Watter ongelooflike deernisvolle verhaal uit die skat wat die Here vir ons laat opteken het!

Trouens, as ons nog dieper op dié verhaal ingaan, sien ons dat God die ellende in die eerste plek wou voorkom het!  Hulle moes Hom net vertrou en doen wat Hy vra.  Dit lees ons in Jesaja 7 waar die profeet Jesaja eintlik dié krisis met Resin en Peka probeer voorkom het deur Agas op te roep om die Here te vertrou.  Dan sou niks van die ellende hulle tref nie.

Die woord van die Here het egter geen impak gemaak op Agas nie.  Jesaja skryf dat Agas en sy volk baie bang was: “Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe van die wind.”  Maar God se boodskap aan Agas: “Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie!” het geen effek gehad nie.  Agas slaan selfs die aanbod van die Here om ’n teken in die wind, met die vroom verskoning dat hy niks sal vra nie: “Ek sal die Here nie tart nie!”  Waarop die waarskuwing van die Here in werking tree: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie,” en die Jode weggevoer word.

Die teken wat die Here toe wel gee, is een wat weerklink het tot in die Nuwe Testament: “’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”

  • Op ’n eerste vlak was dit ’n teken vir Agas en sy mense, waarskynlik met die geboorte van Hiskia.  Die Hebreeuse woord ˓almâ (in Grieks parthenos) kan maagd of jong vrou beteken, wat dus op Agas se vrou Abi van toepassing kan wees.  Die profesie was bedoel om in Agas se tyd in vervulling te gaan, soos ons in Jes. 7:16 lees: “Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.”
  • Op ’n tweede vlak het dit sy vervulling gekry in die Immanuel wat in die Nuwe Testament gebore is, Jesus van Nasaret, soos Matteus die engel se boodskap aan Josef in sy droom geïnterpreteer het met verwysing na Jesaja 7:14: “’Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.’ Die naam beteken God by ons.” (Matt. 1:23).

Die keuse vir die Griekse vertaling parthenos (maagd) in Matteus kom uit die LXX vertaling van die Hebreeuse OT en moet waarskynlik eerder in die lig van Jesaja as jong vrou weergegee word.  Dit is immers wat die Hebreeuse ˓almâ in Jesaja se konteks beteken het. Die feit dat Maria ’n maagd was toe sy swanger geword het, word weliswaar bevestig in Matteus met die woorde: “Hy (Josef) het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie.  En Josef het Hom Jesus genoem.” (Matt. 1:25; vgl. ook Luk. 1:26-27).

Die feit van die maagdelike geboorte staan dus in elk geval vas op grond van hierdie Skrifgetuienis en gerugsteun deur die feit dat die maagdelike geboorte van Jesus nooit deur enigiemand in die NT tyd bestry is, trouens ook nooit in die volgende eeue tot met die Aufklärung van die 17de en 18de eeue in Europa en Amerika, geïnisieer deur die werk van onder andere die filosowe Spinoza, Lock en Voltaire, nie. Terloops: die wonder van die maagdelike geboorte is natuurlik eintlik dat God daarby betrokke is.  Daarom praat ek gewoonlik eerder van die Goddelike geboorte van Jesus, want dit is vir my die groter wonder.

Terug by Agas se hartseer verhaal.  Die grootste probleem van Agas kom egter wanneer hy ’n ooreenkoms met die Assiriërs wil aangaan om sy bas te red van die onvermydelike volgende konflik teen die Edomiete en Filistyne, gegewe sy dom-astrantheid.  Dit boemerang deurdat koning Tiglat-Pileser III van Assirië téén hom optrek – iets wat Jesaja vir hom voorspel het (Jes. 7:17-25).  Dit plaas sy seun Hiskia, wat hom kort hierna opvolg, en die volk van Juda , onder geweldige druk, waaroor ons in die volgende 3 hoofstukke gaan lees.

Die opsomming van Agas se regering word met die ontstellende woorde weergegee: “Agas het die verdorwenheid in Juda vrye teuels gegee en hy was ontrou aan die Here.”  Sy eie ontrouheid ken ook geen perke nie.  Hy aanbid die gode van sy vyande met die redenasie dat hulle tog sterker as God moet wees, want hy is deur die Arameërs oorwin!  En hy sluit die tempel sodat niemand daar kan ingaan om God te aanbid nie.

Sy oupa Ussia het oortree in die tempel, sy pa Jotam was versigtig om selfs die tempel te betree (’n mens kan oortree ook met betree vertaal in 2 Kron. 27:2) en hulle kleinseun en seun Agas sluit die deure van die tempel dat niemand daar kan inkom nie. Hoe verskriklik dat “God se teenwoordigheid” só geminag word en van die gewone mense verwyder word, ten minste in terme van die plek wat Hy gekies het om Hom mee te assosieer.

Agas is dus ’n tragiese figuur wat vir altyd as simbool staan van hoe dinge nie gedoen moet word nie.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Wat ‘n verrassing om sulke diep insigte, diep geestelike lesse uit Kronieke te leer.
    Loof die Here!

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: