Skip to main content

1 Kronieke 10 – Saul se gebrek aan gehoorsaamheid en gebedsafhanklikheid

Die Kronis kies om net die verhaal van Saul se selfdood te vertel soos dit in 1 Samuel 31 opgeteken is.  Hy verswyg dus die bekende verhaal van 2 Samuel 1 waarin vermeld word dat Saul nie suksesvol was in sy selfdood poging nie, en ‘n jong Amalekiet hom uiteindelik doodgemaak het op Saul se versoek.  Waarskynlik doen die Kronis dit om sy lesers die grusame detail te spaar, dat Dawid, ná hy die res van die dag gerou het uit ontsteltenis oor Saul se dood, die Amalekiet laat doodmaak het omdat hy sy hand aan die “gesalfde van die Here” geslaan het.

Trouens, die Kronis verswyg die hele verdere bekende geskiedenis van Saul in 1 Samuel 9 tot 2 Samuel 1, omdat dit ook nie inpas in die doel met sy verhaal nie.  Hy wil eintlik net na Saul verwys, en spesifiek na sy dood, as inleiding tot Dawid se bewindsaanvaarding, die man na God se hart.  Saul se troubreuk kleur – in die oë van die Kronis – Saul se verhaal só negatief dat dit nie as motivering vir die volk se verbintenis aan God in die tyd ná die ballingskap kan dien nie.

Ons weet bv. uit die verdere verloop van die verhaal in 2 Samuel 1 en verder dat Saul se veldslag teen die Filistyne (1 Sam 31) ‘n draaipunt was.  Hoewel die Filistyne gewen het, het hulle hierna nie verder hond kon haaraf maak teen die verenigde ryk van Israel nie, sodat uiteindelik van Dawid gesê kon word dat hy die Filistyne verslaan het, hulle onderwerp het en die mag uit hulle hande uitgeneem het (2 Sam 8).  Saul se aandeel hierin word egter onderspeel, omdat dit nie inpas in die Kronis se plan met die boodskap aan die volk van sy tyd nie.

Daarmee kies die Kronis vir ‘n waarderende blik op die volksgeskiedenis en fokus eerder op die verheffende verhale van die verlede as  die probleemverhale.  In narratiewe terme, lig hy die positiewe verhale van die verlede uit en hang die unieke uitkomste daarvan aan die groot klok as aanmoediging en motivering aan die volk om die beste uit die verlede te neem en dít die basis van die hede en die toekoms te maak.  Dít is na alles die visie waarop die transformasie van die volk en die herstel van hulle verhouding met God gaan berus.

Dit is steeds vandag goeie raad, soos Pat Kiefert dit stel, om eerder jou tyd en energie te spandeer aan die ontdekking en gebruikmaking van die “usable future in the past”.  Want, jy verander in die rigting waarop jy fokus, en dit geld ook vir die manier waarop jy vrae vra of vir die manier waarop jy aspekte uit die verlede kies om uit te lig!

Vergelyking met 1 Samuel 31

Die Kronis gee die verhaal van 1 Samuel 31 redelik getrou weer, meesal woordeliks, maar met belangrike uitsonderings:

  • Vers 6: Die Kronis voeg by dat “ja, al sy seuns” saam met Saul dood is.  Die Kronis kies dus om die geskiedenis van Saul se seun Is-Baäl (Is-Boset) te ignoreer wat ‘n tyd lank Saul se koninkryk voortgesit het (2 Sam. 2-4).  Hy wil geen verder aandag op Saul verspil nie, omdat Jahwe Saul verwerp het en Dawid nou God se uitverkore koning was.  Hy wil waarskynlik ook nie verwys na die verdere grusame geskiedenis van wat Dawid gedoen het met die twee bendeleiers wat Is-Boset twee jaar na sy bewindsaanvaarding doodgemaak het nie (2 Sam 4:2-12)
  • Vers 10: Die Kronis laat die naam van die godin Astarte weg in die beskrywing van die tempel, moontlik weens sy afgryse aan die heidense seksuele orgies wat met haar kultus geassosieer is.  Die aanbidding van dié godin sou later onder andere vir Salomo se val verantwoordelik wees (1 Konings 11:33).  Kronieke verswyg dié feit natuurlik ook later wanneer hy oor Salomo se koningskap skryf. Die res van die verskille rondom die wapenuitrusting en wat met Saul se kop en lyk gedoen is, kan aan ‘n ander Hebreeuse tekstradisie van Samuel en Konings  gewyt word, soos ontdek is by die Qumram grotte.
  • Vers 12: Die Kronis laat die detail rondom die verbranding van die lyk van Saul weg, moontlik omdat dié gebruik net in die geval van erge oortredings in die gemeenskap gevolg is (Lev 20:15; 21:9; Jos 7:25).  Die gevolgtrekking is egter onseker omdat dié mense in Levitikus en Josua lewendig verbrand is.  Die verhaal van die eerbied van die burgers van Jabes in Gilead word met minder detail vertel.

Die belangrikste punt van die Kronis se weergawe van die Saul-verhaal is in vers 13-14 wat nie in Samuel só voorkom nie.  Saul se dood word aan sy troubreuk gewyt.  Hy het twee goed nie gedoen nie:

  1. Hy het nie gedoen wat die Here van hom gevra het nie; hy was ongehoorsaam.  Hier word waarskynlik gedink aan die twee keer wat hy doelbewus die opdragte van God se profeet-priester Samuel verontagsaam het in terme van sy eiesinnige offerandes en die weiering om die oorlogsbuit te vernietig soos die Here beveel het (1 Sam. 13 en 15).
  2. Hy het nie die Here geraadpleeg nie, maar eerder ‘n gees.  Hier word verwys na die gebeure in 1 Sam 28.  Uit Samuel is dit egter duidelik dat Saul wel die Here probeer raadpleeg het, maar dat die Here hom nie geantwoord het nie.  Dit het hom sy toevlug tot nekromansie laat neem, iets wat die wet uitdruklik verbied het.  Die Kronis laat dié detail uit en fokus net op die feit dat hy nie in afhanklikheid van die Here geleef het nie.

Daarmee onderstreep die Kronis die belangrikheid van gehoorsaamheid aan wat jy weet die Here wil hê.  En waar jy onseker is, vra!  Die Here beloon sulke afhanklikheid in die oortreffende trap.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar