Skip to main content

2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here

Die hoofstuk val in twee helftes uiteen:

  • Die eerste gedeelte is ’n verheffende storie oor Joas wat die tempel herstel en doen wat sy mentor en pleegpa, Jojada, hom leer – vers 1-16.
  • Die tweede gedeelte handel oor die tragiese einde van Joas wat val vir die vleitaal van die leiers van Juda en nie net die Here verlaat nie, maar ook sy pleegpa se seun, Sagaria, laat doodmaak op valse aanklagte toe dié hom aangespreek het oor sy oortreding van God se gebooie – vers 17-27.  Stank vir dank wil ’n mens uitroep!

Die patroon van groot hoogtes en net daarna diep laagtes in die lewens van die konings is nou al oor en oor vasgelê.  Die ideaal van ’n koning wat sy sout werd is en dit reg deur sy lewe bly, is steeds lewendig … maar net so seer weet ’n mens net dat die werklikheid telkens hierdie ideaal dwarsboom.  Die verwagting na ’n koning wat regdeur sy lewe goed sal doen en reg sal lewe groei in die gemoed van almal wat dié verhale lees, ’n verwagting wat ’n hele paar eeue hierna eers uiteindelik met die geboorte van die Messiaanse koning, Jesus, verwesenlik sou word.

Joas herstel die tempel

Joas se verhaal begin met die rol wat Jehoseba, sy tannie, in sy lewe speel deur hom van doodsgevaar te red teen groot risiko vir haar eie lewe.  Maar dit is nie net ’n heldedaad (Jehoseba) wat sy koningskap aanvanklik gevorm het nie.  Dit is op nog ’n dieper vlak aan ’n uitstaande mentor en begeleier in die persoon van haar man, die hoëpriester Jojada, te danke dat sy koningskap gefloreer het.

Jojada is op 130 jarige ouderdom eers dood, wat beteken dat hy in sy tagtigerjare moes gewees het toe Joas op eenjarige ouderdom in sy huis ingeneem is om hom te beskerm.  Hy was dus ’n wyse deurleefde man wat seker gemaak het dat Joas doen wat reg is in die oë van die Here.  Jojada het selfs vir Joas twee vrouens gekies wat natuurlik nie om dowe neute was nie.  Dit het die gevaar van ’n oorname deur die Omri- en Agab-dinastie van die noordelike ryk van Israel in die kiem gesmoor.  Dit het ’n beslissende rol gespeel in die voortbestaan van die Dawidshuis.

Joas het onder Jojada se leiding die tempel herstel na sy vorige glorie, na al die verwoesting wat Atalia met haar Baälaanbidding in die tempel gesaai het.  Let op hoe die Leviete en priesters oral in die land geld insamel om die tempel te herstel, maar aanvanklik bietjie aangepor moes word om iets met die geld te doen!  Die kis wat by die tempel geplaas is, het die doel van ’n herinnering aan die volk gehad en gedien as kontrole in die insameling van die  offergawes.  Ons tref natuurlik dieselfde gebruik in die NT aan met die weduwee wat haar gawe in die kis by die tempel kom ingooi (Mark 12:42), ’n gebruik wat vandag nog deur baie kerke wêreldwyd nagevolg word.  Dit wil lyk asof dié gebruik juis uit die dae van Joas dateer en of aan hom (Konings se weergawe) of aan Jojada (Kronis se weergawe) toegeskryf kan word.

’n Mens word getref deur die groot kontrole wat toegepas word met die geldinsameling, die deeglike en vinnige uitvoering van die herstelwerk deur die vakmanne en die feit dat die geld vir niks ander gebruik is as waarvoor dit ingesamel is nie.  Toe die geld te veel is vir die herstelwerk, is die tempelgereedskap aangevul.  ’n Voorbeeld van goeie rentmeesterskap.

Die verhaal word ook met kleiner wysigings vertel in 2 Kon. 12:1-16.  Konings laat by ’n mens die indruk dat die priesters geld aanvaar het vir die herstel van die tempel maar dit nie daarvoor gebruik het nie en op ander dinge gespandeer het.    Konings meld spesifiek dat die voormanne wat toe aangestel is om die projek te bestuur eerlik was en die geld vir die herstelwerk ingespan het.  ’n Mens lei af dat korrupsie gedreig het, maar afgeweer is deur die vroegtydige tussenkoms van Joas.  Daar word ook meer detail van die skrynwerkers, bouers en messelaars gegee wat aan die projek deelgeneem het.

Joas val vir die vleitaal van die leiers

Met die dood van Jojada op die rype ouderdom van 130 het die situasie egter verander.  Moontlik het Joas as koning te min self gedoen, hetsy uit eie keuse of onder die leiding van sy pleegpa, maar toe hy uiteindelik net op sy eie bene staan in sy middel veertigs, het hy voor die aartsversoeking geval, vleitaal.  Dit is ’n les vir alle mentors om nie met jou begeleiding die inisiatief en verantwoordelikheid van die mentee te beperk of te inhibeer nie.

Joas verset hom teen die profete wat hom waarsku en begaan die liederlike sonde om sy eie pleegpa se seun, Sagaria, wat onder leiding van die Gees van God hom kom aanspreek, valslik te laat beskuldig en met klippe te laat doodgooi.  “Koning Joas het nie gedink aan die liefde wat sy pleegvader Jojada aan hom bewys het nie …”  Sy amptenare maak hom daarom in sy eie bed dood, na hy swaar gewond is in die geveg met die Arameërs.

’n Mens kan seker nie anders as om die eerste Christelike martelaar, Stefanus, in die NT in herinnering te roep nie.  Waar Sagaria egter werk met die oordeel van die Here: “Die Here sien dit, Hy sal julle straf!” kyk  Stefanus hemel toe en sien die Here aan die regterhand van God staan en roep uit: “Moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” (Hand 7:60).

Daarmee doen hy wat Jesus self aan die kruis gedoen het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34).  En by wyse van spreke: Joas sterf na Sagaria se oordeel – maar Saul lewe na Stefanus se gebed, want dit is by dié steniging waar God se storie met Saul begin!  En dit is daarom met dié gebed van Stefanus, wat op Jesus s’n gemoduleer is, wat ons teenstand en verguising kan ontmoet.  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  Vyandsliefde op sy diepste.

Die verhaal word ook in 2 Kon. 12:17-21 vertel, maar met baie minder detail as in die Kronis.  Dit laat ’n mens met ’n baie meer positiewe prentjie van Joas in Konings as in dieselfde verhaal in Kronieke, ’n bietjie anders as sy normale manier van werk.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms