2 Kronieke 32 – Hiskia vertrou die Here in konflik en siekte en het berou van sy selfingenomenheid
Dit word meer uitgebreid vertel in 2 Kon. 18-20 asook in Jes. 36-39 met ’n hele paar onderlinge verskille:
- Die verhale van Hiskia in Konings en Jesaja kom grotendeels ooreen, hoewel daar ook groter verskille en kleiner uitbreidings is. Die twee grootste verskille is dat slegs Konings die verhaal vertel van Hiskia se aanvanklike poging om vrede te maak deur ’n boete aan Sanherib te betaal en slegs Jesaja weer Hiskia se lied na sy genesing opgeteken het.
- In Kronieke word die meer uitgebreide verhaal in Konings en Jesaja van Hiskia se gebede en Jesaja se antwoorde daarop gekondenseer sodat dit eintlik oppervlakkig beskou lyk asof die twee by dieselfde geleentheid gebid het. Netso word die grusame detail van die oorlog teen Assirië in Konings net in ’n enkele sin opgesom.
Hiskia se stryd teen Sanherib – 2 Kron. 32:1-23
Die stryd teen Sanherib word deur die Here gevoer, hoewel Hiskia ook goeie voorbereidings tref. Hy:
- gaan in oorleg met sy amptenare en offisiere,
- besluit om die vyand se watervoorraad te beperk,
- herbou afgebreekte mure, bou die forte hoër, bou nog ’n verdere muur buite-om die stad en versterk die terras,
- laat maak ’n groot klomp spiese en skilde en
- gee ’n geestelike motiveringspraatjie van formaat waarin hy wys dat God by hulle is en die oorlog vir hulle sal veg: “By hom (Sanherib) is menslike mag, by ons is die Here ons God”. Hulle moet net sterk wees en dapper en nie deur vrees hulle vertroue op die Here verloor nie.
Die belangrikste aksie wat Hiskia egter onderneem, is om die Here te raadpleeg en op Sy ingrype te vertrou toe die koning van Assirië deur sy ondergeskiktes (sy hoofadjudant en ’n paar makkers volgens Konings en Jesaja) ’n boodskap stuur dat God Juda nie sal kan red uit sy mag nie.
Volgens Konings maak Sanherib selfs staat daarop dat God hom gestuur het. Wat natuurlik in ’n sekere sin waar is. Onthou die fout wat Agas, Hiskia se pa gemaak het om op Assirië te steun wat toe op hom geboemerang het! Jesaja verwys ook daarna dat Sanherib deur die Here gebruik is: “jy moes vestingstede verwoes en puinhope van hulle maak”, maar dat Sanherib sy perke oorskry het: “Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het …” en daarom gestraf sal word (Jes. 37:26,28-29).
Hiskia reageer hierop met gebed. Dit is immers een van dié belangrikste maatstawwe wat die Kronis vir die konings aangelê het om hulle sukses al dan nie te bepaal – stap hulle die pad saam met God óf nie. Hiskia reageer dus nie direk teenoor Sanherib nie, maar neem sy toevlug tot God in gebed en word dan ook deur Hom geantwoord. Volgens Konings en Jesaja het Hiskia die briewe in die tempel voor die Here uitgesprei en op ’n roerende manier by God om uitkoms gesmeek. Op Hiskia se gebed het die Here die Jesaja geantwoord wat die boodskap aan Hiskia oorgedra het.
Kronieke som dié deel van die verhaal egter in ’n enkele sin op dat Hiskia saam met Jesaja om uitkoms gebid het. En die uitkoms word in die volgende sin gestel, dat God geantwoord het, die leër deur sy engel (let op die enkelvoud) verslaan het, en Sanherib uiteindelik deur sy eie seuns laat vermoor het.
Dit laat my dink aan die gesegde: “Werk asof alles van jou afhang, bid asof alles van God afhang.”
Hiskia word genees van sy siekte en het wel berou toe hy val vir sy eie selfingenomenheid – 2 Kron. 32:24-33
Die verhaal van Hiskia se siekte word ook net opgesom met die enkele mededelinge dat hy ernstig siek geword het, tot die Here gebid het en dat die Here met hom gepraat het (deur Jesaja sê Konings) en ’n wonder met hom laat gebeur het (die son wat 10 trappe [grade] teruggeskuif het). Die storie van die vyekoek en die 15 jaar van lewe wat Hiskia verder kry, soos in Konings en Jesaja, word dus ook nie vertel nie.
Hiskia se reaksie hierop is egter nie een van dankbaarheid nie, maar van selfingenomenheid. Tog het hy weer berou gekry oor sy sonde en die straf van die Here is daardeur afgewend.
Die besoek van die mense van Babel word as toets vir Hiskia beskrywe en interessant genoeg as ’n poging om “hom sy eie hart te laat ken.” God verlaat hom omdat Hiskia homself nie op ’n ander manier beter kan leer ken nie. Dit bly een van die maniere waarop die Here vandag ook met ons werk. In die ervaring van die afwesigheid van God – desolasie soos die Jesuïete daaroor skrywe – leer ’n mens jou eie begeertes en behoeftes ken op ’n manier wat nie moontlik is in die goeie en voorspoedige tye nie – konsolasie noem die Jesuïete dié tye. Dán kan ’n mens daarmee na die Here gaan en dieper aan Hom verbind word.
Natuurlik is God eintlik in albei bewegings in ’n mens se lewe teenwoordig. God gebruik voorspoed om nie net vir ons te seën nie, maar ook die wêreld deur ons te seën. Maar die werk aan ons eie menswees word baie keer via allerhande uitdagings gedoen.
Wat ons egter kan weet is dat selfs in die ervaring van God se afwesigheid IS Hy teenwoordig en besig met jou. Daarom sê Paulus van Abraham dat “toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo en so die vader van baie nasies geword …” (Rom. 4:18). Wat van ons dán gevra word, is dieselfde wat Abraham gedoen het: “Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.” (Rom. 4:20). God is immers ’n beloner van dié wat Hom soek.
Paulus skryf natuurlik hier oor Abraham teen die agtergrond van Isak wat op die berg van Moria geoffer is. Dit is juis dáár wat Abraham ervaar het dat God in sy afwesigheid teenwoordig was en die uitkoms van die lam wat hy in plaas van sy seun Isak kon offer, belewe het. Dít is weer ’n heenwysing na Christus wat aan die kruis in ons plek geoffer is, sodat ons die belofte van die lewe saam met God kon ontvang.
Watter wonderlike evangelie wat ons met ons hele hart en lewe kan omhels!
by Chris van Wyk
View all posts in this series
- Bybelskool oor 1 en 2 Kronieke in die tweede kwartaal 2013 - Apr 10, 2013
- Bybelskool oor Kronieke - Apr 11, 2013
- Inleiding op Kronieke
- Geslagsregisters in Kronieke
- Kaarte vir Kronieke
- Program vir leeswerk vir Kronieke
- Leesmetode vir Kronieke
- WEEK 1: 1 Kronieke 1-9
- 1 Kronieke 1 – Identiteit gewortel in Adam en Abraham
- 1 Kronieke 2:1-4:23 – Identiteit gewortel in Juda en Dawid - Apr 12, 2013
- 1 Kronieke 4:24-5:26 – Verspilde verhouding met God lei tot wegvoering - Apr 15, 2013
- 1 Kronieke 6-7 – Die prioriteit van geestelik-godsdienstige leiding - Apr 16, 2013
- 1 Kronieke 8-9 – Die bevestiging van Jerusalem as Judese eerder as Benjaminitiese gebied - Apr 17, 2013
- WEEK 2: 1 Kronieke 10-21 - Apr 18, 2013
- 1 Kronieke 10 – Saul se gebrek aan gehoorsaamheid en gebedsafhanklikheid
- 1 Kronieke 11-12 – Dawid word deur God en volk as koning gevestig - Apr 19, 2013
- 1 Kronieke 13-15 – Dawid raadpleeg die volk en God in die proses om die ark na Jerusalem te bring - Apr 22, 2013
- 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God - Apr 23, 2013
- 1 Kronieke 18-21 – Die Here help Dawid net waar hy gaan - Apr 24, 2013
- WEEK 3: 1 Kronieke 22-29 - Apr 25, 2013
- 1 Kronieke 22 – Dawid berei Salomo nougeset voor vir die bou van die tempel
- 1 Kronieke 23-24 – Dawid reël die priesterlike en Levitiese bediening - Apr 26, 2013
- 1 Kronieke 25-26 – Dawid se reëlings vir ’n omvattende Levitiese bediening - Apr 29, 2013
- 1 Kronieke 27 – Dawid en die leiers in sy diens - Apr 30, 2013
- 1 Kronieke 28-29 – Dawid motiveer en mentor Salomo vir sy roeping om die tempel te bou - May 1, 2013
- WEEK 4: 2 Kronieke 1-9 - May 2, 2013
- 2 Kronieke 1 – Salomo as wyse man en vernuftige handelaar
- 2 Kronieke 2-5 – Salomo bou die tempel en God se teenwoordigheid vul Sy huis - May 3, 2013
- 2 Kronieke 6 – Salomo plaas gebed sentraal in die verhouding met God - May 6, 2013
- 2 Kronieke 7 – God sit die seël op die tempel-inwyding met hemelse vuur en Sy verskyning aan Salomo - May 7, 2013
- 2 Kronieke 8-9 – Salomo het nasionale en internasionale invloed - May 8, 2013
- WEEK 5: 2 Kronieke 10-16 - May 9, 2013
- Oorsig oor die konings waarvan die Kronis skryf
- 2 Kronieke 10 – Die ryk skeur weens die domastrantheid van Rehabeam
- 2 Kronieke 11-12 – Rehabeam tree met groot oorleg op, maar faal in sy primêre verhouding met God - May 10, 2013
- 2 Kronieke 13 – Abia bevestig Juda se steun op die Here se leierskap - May 13, 2013
- 2 Kronieke 14-15 – Asa doen wat reg is in die oë van die Here - May 14, 2013
- 2 Kronieke 16 – Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte - May 15, 2013
- WEEK 6: 2 Kronieke 17-24 - May 16, 2013
- 2 Kronieke 17-18 – Josafat regeer soos Dawid van ouds, maar begaan ’n oordeelsfout om by Agab betrokke te raak
- 2 Kronieke 19-20 – Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit en behaal ’n groot oorwinning met God se hulp - May 17, 2013
- 2 Kronieke 21 – Joram doen wat verkeerd is in die oë van die Here en word met oorlog en ’n ongeneeslike siekte gestraf - May 20, 2013
- 2 Kronieke 22-23 – Ahasia doen ook wat verkeerd is in die oë van die Here en sy ma Atalia vaar nie beter nie - May 21, 2013
- 2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here - May 22, 2013
- WEEK 7: 2 Kronieke 25-32 - May 23, 2013
- 2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie
- 2 Kronieke 26 – Ussia se voorspoed vang hom en hy raak te ingenome met homself - May 24, 2013
- 2 Kronieke 27-28 – Jotam hou koers, maar Agas verloor dit heeltemal - May 27, 2013
- 2 Kronieke 29-31 – Hiskia vra met sy hele hart na die wil van sy God en is voorspoedig - May 28, 2013
- 2 Kronieke 32 – Hiskia vertrou die Here in konflik en siekte en het berou van sy selfingenomenheid - May 29, 2013
- WEEK 8: 2 Kronieke 33-36 - May 30, 2013
- 2 Kronieke 33 – Manasse is ’n gruwelike koning wat berou het en tot bekering kom
- 2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek - May 31, 2013
- 2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid - Jun 3, 2013
- 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer - Jun 4, 2013
Robin Linde
Die storie van Hiskia wat sterwend was en na God gebid het, toe het God hom gesond gemaak en nog 15 jaar laat lewe. Het Hiskia se gebed God se plan beinvloed om eerder dat Hiskia sterwe eerder nog 15 jaar langer lewe?
Maw kan die mens God se plan beinvloed deur smeking en gebed of staan God se plan vas vir elkeen van ons?
Chris van Wyk
Hi Robin – Gebed beïnvloed God se planne. Talle verhale bevestig dit, soos die een van Hiskia wat jy aanhaal. Maar, ook ‘n Abraham (Gen 18), en ‘n Lot (Gen 19) het gebid en God het geantwoord, vir hulle gegee wat hulle gevra het. Trouens, die mense van Nineve het gebid en God het van sy beplande oordeel afgesien (Jona). Daar is wel kere wat God die gebede afwys en sy planne uitvoer. So het Moses dit ervaar (Eks 32), so het Jeremia dit ervaar (Jer 7:16; 11:14; 14:11; 15:1; vgl Eseg 14:14, 20), en selfs Jesus in Getsemane moes aanvaar dat God se wil nie verander kan word nie.