Skip to main content

2 Kronieke 32 – Hiskia vertrou die Here in konflik en siekte en het berou van sy selfingenomenheid

’n Paar verdere grepe van Hiskia se regeringstyd volg – die stryd met Sanherib van die Assiriërs, Hiskia se siekte en genesing, Hiskia se selfingenomenheid en berou.

Dit word meer uitgebreid vertel in 2 Kon. 18-20 asook in Jes. 36-39 met ’n hele paar onderlinge verskille:

  • Die verhale van Hiskia in Konings en Jesaja kom grotendeels ooreen, hoewel daar ook groter verskille en kleiner uitbreidings is.  Die twee grootste verskille is dat slegs Konings die verhaal vertel van Hiskia se aanvanklike poging om vrede te maak deur ’n boete aan Sanherib te betaal en slegs Jesaja weer Hiskia se lied na sy genesing opgeteken het.
  • In Kronieke word die meer uitgebreide verhaal in Konings en Jesaja van Hiskia se gebede en Jesaja se antwoorde daarop gekondenseer sodat dit eintlik oppervlakkig beskou lyk asof die twee by dieselfde geleentheid gebid het.  Netso word die grusame detail van die oorlog teen Assirië in Konings net in ’n enkele sin opgesom.

Hiskia se stryd teen Sanherib – 2 Kron. 32:1-23

Die stryd teen Sanherib word deur die Here gevoer, hoewel Hiskia ook goeie voorbereidings tref.  Hy:

  • gaan in oorleg met sy amptenare en offisiere,
  • besluit om die vyand se watervoorraad te beperk,
  • herbou afgebreekte mure, bou die forte hoër, bou nog ’n verdere muur buite-om die stad en versterk die terras,
  • laat maak ’n groot klomp spiese en skilde en
  • gee ’n geestelike motiveringspraatjie van formaat waarin hy wys dat God by hulle is en die oorlog vir hulle sal veg: “By hom (Sanherib) is menslike mag, by ons is die Here ons God”.  Hulle moet net sterk wees en dapper en nie deur vrees hulle vertroue op die Here verloor nie.

Die belangrikste aksie wat Hiskia egter onderneem, is om die Here te raadpleeg en op Sy ingrype te vertrou toe die koning van Assirië deur sy ondergeskiktes (sy hoofadjudant en ’n paar makkers volgens Konings en Jesaja) ’n boodskap stuur dat God Juda nie sal kan red uit sy mag nie.

Volgens Konings maak Sanherib selfs staat daarop dat God hom gestuur het.  Wat natuurlik in ’n sekere sin waar is.  Onthou die fout wat Agas, Hiskia se pa gemaak het om op Assirië te steun wat toe op hom geboemerang het!  Jesaja verwys ook daarna dat Sanherib deur die Here gebruik is: “jy moes vestingstede verwoes en puinhope van hulle maak”, maar dat Sanherib sy perke oorskry het: “Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het …” en daarom gestraf sal word (Jes. 37:26,28-29).

Hiskia reageer hierop met gebed.  Dit is immers een van dié belangrikste maatstawwe wat die Kronis vir die konings aangelê het om hulle sukses al dan nie te bepaal – stap hulle die pad saam met God óf nie.  Hiskia reageer dus nie direk teenoor Sanherib nie, maar neem sy toevlug tot God in gebed en word dan ook deur Hom geantwoord.  Volgens Konings en Jesaja het Hiskia die briewe in die tempel voor die Here uitgesprei en op ’n roerende manier by God om uitkoms gesmeek.  Op Hiskia se gebed het die Here die Jesaja geantwoord wat die boodskap aan Hiskia oorgedra het.

Kronieke som dié deel van die verhaal egter in ’n enkele sin op dat Hiskia saam met Jesaja om uitkoms gebid het.  En die uitkoms word in die volgende sin gestel, dat God geantwoord het, die leër deur sy engel (let op die enkelvoud) verslaan het,  en Sanherib uiteindelik deur sy eie seuns laat vermoor het.

Dit laat my dink aan die gesegde: “Werk asof alles van jou afhang, bid asof alles van God afhang.”

Hiskia word genees van sy siekte en het wel berou toe hy val vir sy eie selfingenomenheid – 2 Kron. 32:24-33

Die verhaal van Hiskia se siekte word ook net opgesom met die enkele mededelinge dat hy ernstig siek geword het, tot die Here gebid het en dat die Here met hom gepraat het (deur Jesaja sê Konings) en ’n wonder met hom laat gebeur het (die son wat 10 trappe [grade] teruggeskuif het).  Die storie van die vyekoek en die 15 jaar van lewe wat Hiskia verder kry, soos in Konings en Jesaja, word dus ook nie vertel nie.

Hiskia se reaksie hierop is egter nie een van dankbaarheid nie, maar van selfingenomenheid. Tog het hy weer berou gekry oor sy sonde en die straf van die Here is daardeur afgewend.

Die besoek van die mense van Babel word as toets vir Hiskia beskrywe en interessant genoeg as ’n poging om “hom sy eie hart te laat ken.”   God verlaat hom omdat Hiskia homself nie op ’n ander manier beter kan leer ken nie.  Dit bly een van die maniere waarop die Here vandag ook met ons werk.  In die ervaring van die afwesigheid van God – desolasie soos die Jesuïete daaroor skrywe – leer ’n mens jou eie begeertes en behoeftes ken op ’n manier wat nie moontlik is in die goeie en voorspoedige tye nie – konsolasie noem die Jesuïete dié tye.  Dán kan ’n mens daarmee na die Here gaan en dieper aan Hom verbind word.

Natuurlik is God eintlik in albei bewegings in ’n mens se lewe teenwoordig.  God gebruik voorspoed om nie net vir ons te seën nie, maar ook die wêreld deur ons te seën.  Maar die werk aan ons eie menswees word baie keer via allerhande uitdagings gedoen.

Wat ons egter kan weet is dat selfs in die ervaring van God se afwesigheid IS Hy teenwoordig en besig met jou.  Daarom sê Paulus van Abraham dat “toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo en so die vader van baie nasies geword …” (Rom. 4:18).  Wat van ons dán gevra word, is dieselfde wat Abraham gedoen het: “Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.” (Rom. 4:20).  God is immers ’n beloner van dié wat Hom soek.

Paulus skryf natuurlik hier oor Abraham teen die agtergrond van Isak wat op die berg van Moria geoffer is.  Dit is juis dáár wat Abraham ervaar het dat God in sy afwesigheid teenwoordig was en die uitkoms van die lam wat hy in plaas van sy seun Isak kon offer, belewe het.  Dít is weer ’n heenwysing na Christus wat aan die kruis in ons plek geoffer is, sodat ons die belofte van die lewe saam met God kon ontvang.

Watter wonderlike evangelie wat ons met ons hele hart en lewe kan omhels!

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.