Skip to main content

2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid

Ons lees vandag die laaste twee perspektiewe op die regeringstyd van Josia (albei verhale in Konings word baie korter vertel).  Die een verhaal is baie positief, die ander uiters teleurstellend:
  • Josia stel weer die Paasfees in met een van die grootste feeste ooit – 2 Kron. 35:1-19
  • Josia laat Egipte nie met rus nie en sterwe in die oorlog – 2 Kron. 35:20-26

Josia stel weer die Paasfees in met een van die grootste feeste ooit

Dié Paasfees word in die 18de regeringsjaar van Josia gevier.  Hy is maar 26 jaar oud!  Anders as Hiskia kan hy dit op die normale tyd op die 14de van die eerste maand begin.  Let op hoe Josia die priesters nie net indeel in diensbeurte nie, maar hulle ook moed inpraat vir hulle dienswerk.  Net so neem hy leiding om die Leviete familiegewys in  te deel en opdrag te gee om hulle onderrig werk te doen, veral om die volk te leer hoe om die Paasfees te vier.  Dit is ’n rol wat met die verloop van tyd al hoe belangriker sou word (Neh. 8) en die rol as draers van die ark vervang het.

Na Josia die priesters en Leviete onder hande geneem het, sorg hy dat daar genoeg kleinvee en beeste is sodat almal met oorgawe die Paasfees kan vier.  Sy amptenare volg sy voorbeeld en help ook vrywillig om voorsiening vir die volk, die priesters en die Leviete te maak.

Hoewel dié Paasfees net die normale 7 dae geduur het en nie so lank soos die fees van 14 dae wat Hiskia gehou het nie, beskryf die Kronis dit as die grootste Paasfees wat ooit van Samuel se dae af gehou is in Israel.  Geen wonder nie, want daar was kos om te eet, te kus en te keur, dubbeld so veel as in die tyd van Hiskia.  Wonder hoe lyk 30 000 stuks lammers bymekaar en dan nog 3 000 beeste?  Die Kronis oordryf waarskynlik, maar dit was ’n enorme fees!

Interessant is vir my die verwysing na die vinnige diens (vers 13) wat waarskynlik ’n manier was waarop die Leviete uitdrukking gegee het aan die opdrag in Eks. 12:11 om die Paasmaaltyd haastig te eet.

Josia laat Egipte nie met rus nie en sterwe in die oorlog

Die verhaal spring van sy 26ste jaar na die jaar van sy dood, toe Josia 39 jaar oud was (609 v.C.).  Josia word die slagoffer aan die een kant van die internasionale konflik tussen Egipte en die Galdeërs (Babilon) en aan die ander kant van sy eie koppigheid.

Met die opkomende mag van die Galdeërs het hulle Assirië as wêreldmoondheid begin teenstaan en finaal in 605 v.C. by Karkemis verslaan.  In dié tyd wou die Egiptiese leër onder leiding van Neko dus deur Judese gebied trek op pad na dié veldslag.  Josia het geweier en Neko nie met rus gelaat nie, met tragiese gevolge vir homself.  Interessant genoeg maak Neko staat daarop dat hy met God se goedkeuring optree en waarsku vir Josia: “Moenie in God se pad kom nie.”

Die Kronis interpreteer dit as ’n egte woord van God, omdat dié woord bewaarheid is met Josia se dood in die Egiptiese stryd.  Dit was ’n tragiese dag vir Juda, met Jeremia wat veral swaar gekry het daaronder.  Hy het ’n treurlied oor Josia gedig wat opgeneem is in Die Treurliedere, ’n boek wat ongelukkig vir ons onbekend is.

Egipte is ook by Karkemis verslaan en die Galdeërs onder leiding van Nebukadnesar sou hierna die onbetwiste groot wêreldmoondheid word en Juda in ballingskap wegvoer.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.