Skip to main content

2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid

Ons lees vandag die laaste twee perspektiewe op die regeringstyd van Josia (albei verhale in Konings word baie korter vertel).  Die een verhaal is baie positief, die ander uiters teleurstellend:
  • Josia stel weer die Paasfees in met een van die grootste feeste ooit – 2 Kron. 35:1-19
  • Josia laat Egipte nie met rus nie en sterwe in die oorlog – 2 Kron. 35:20-26

Josia stel weer die Paasfees in met een van die grootste feeste ooit

Dié Paasfees word in die 18de regeringsjaar van Josia gevier.  Hy is maar 26 jaar oud!  Anders as Hiskia kan hy dit op die normale tyd op die 14de van die eerste maand begin.  Let op hoe Josia die priesters nie net indeel in diensbeurte nie, maar hulle ook moed inpraat vir hulle dienswerk.  Net so neem hy leiding om die Leviete familiegewys in  te deel en opdrag te gee om hulle onderrig werk te doen, veral om die volk te leer hoe om die Paasfees te vier.  Dit is ’n rol wat met die verloop van tyd al hoe belangriker sou word (Neh. 8) en die rol as draers van die ark vervang het.

Na Josia die priesters en Leviete onder hande geneem het, sorg hy dat daar genoeg kleinvee en beeste is sodat almal met oorgawe die Paasfees kan vier.  Sy amptenare volg sy voorbeeld en help ook vrywillig om voorsiening vir die volk, die priesters en die Leviete te maak.

Hoewel dié Paasfees net die normale 7 dae geduur het en nie so lank soos die fees van 14 dae wat Hiskia gehou het nie, beskryf die Kronis dit as die grootste Paasfees wat ooit van Samuel se dae af gehou is in Israel.  Geen wonder nie, want daar was kos om te eet, te kus en te keur, dubbeld so veel as in die tyd van Hiskia.  Wonder hoe lyk 30 000 stuks lammers bymekaar en dan nog 3 000 beeste?  Die Kronis oordryf waarskynlik, maar dit was ’n enorme fees!

Interessant is vir my die verwysing na die vinnige diens (vers 13) wat waarskynlik ’n manier was waarop die Leviete uitdrukking gegee het aan die opdrag in Eks. 12:11 om die Paasmaaltyd haastig te eet.

Josia laat Egipte nie met rus nie en sterwe in die oorlog

Die verhaal spring van sy 26ste jaar na die jaar van sy dood, toe Josia 39 jaar oud was (609 v.C.).  Josia word die slagoffer aan die een kant van die internasionale konflik tussen Egipte en die Galdeërs (Babilon) en aan die ander kant van sy eie koppigheid.

Met die opkomende mag van die Galdeërs het hulle Assirië as wêreldmoondheid begin teenstaan en finaal in 605 v.C. by Karkemis verslaan.  In dié tyd wou die Egiptiese leër onder leiding van Neko dus deur Judese gebied trek op pad na dié veldslag.  Josia het geweier en Neko nie met rus gelaat nie, met tragiese gevolge vir homself.  Interessant genoeg maak Neko staat daarop dat hy met God se goedkeuring optree en waarsku vir Josia: “Moenie in God se pad kom nie.”

Die Kronis interpreteer dit as ’n egte woord van God, omdat dié woord bewaarheid is met Josia se dood in die Egiptiese stryd.  Dit was ’n tragiese dag vir Juda, met Jeremia wat veral swaar gekry het daaronder.  Hy het ’n treurlied oor Josia gedig wat opgeneem is in Die Treurliedere, ’n boek wat ongelukkig vir ons onbekend is.

Egipte is ook by Karkemis verslaan en die Galdeërs onder leiding van Nebukadnesar sou hierna die onbetwiste groot wêreldmoondheid word en Juda in ballingskap wegvoer.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms