2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek
Josia is gebore toe sy pa Amon nog maar 16 jaar oud was. Ses jaar later het Amon sy pa, Manasse, opgevolg, maar is twee jaar later op 24 jarige ouderdom oorlede. Josia word dus koning op die jeugdige ouderdom van 8 jaar.
Van die begin af het Josia gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy voorvader Dawid. Ons hoor nie direk van enige mentors wat Josia gehad het nie, hoewel ’n mens tog aflei dat Safan, die staatsekretaris en Gilkija, die hoëpriester, ’n goeie verhouding met hom gehad het. Hulle deel met hom die vonds van die wetboek in die tempel en ondersteun hom volledig in sy hervormings.
Twee van die Skrifprofete in die Bybel tree ook in sy tyd op, Sefanja en Jeremia, en hoewel ’n mens nie êrens spesifiek van direkte kontak met hulle in Kronieke (of in hulle Bybelboeke) lees nie, het hulle profesieë waarskynlik ’n groot invloed uitgeoefen op die hervormings wat hy onderneem . Jeremia was egter ook duidelik nie tevrede met hoe grondig dié hervormings die volk verander het nie en verskerp sy boodskap van oordeel in die tyd van Josia se nakomelinge. Ek brei verder uit oor Sefanja en Jeremia aan die einde van dié gedeelte.
Die Kronis gee vir ons in hoofstuk 34-35 vyf perspektiewe op die regeringstyd van Josia, waarvan ons die eerste 3 vandag gaan lees:
- Josia suiwer Juda en Jerusalem van afgodery – 2 Kron. 34:1-7
- Josia herstel die tempel – 2 Kron. 34:8-13
- Josia word in sy hart geraak deur die wetboek en begelei die volk tot verbondshernuwing – 2 Kron. 34:14-33
- Josia stel weer die Paasfees in met een van die grootste feeste ooit – 2 Kron. 35:1-19
- Josia laat Egipte nie met rus nie en sterwe in die oorlog – 2 Kron. 35:20-26
Josia suiwer Juda en Jerusalem van afgodery – 2 Kron. 34:1-7
Dit is opmerklik dat die Kronis Josia se hervormings in ’n ander kronologie plaas as die Deuteronomis in die boeke van Konings. 2 Kon. 22-23 vertel die orde van Josia se hervormings soos volg:
- die skoonmaak en herstel van die tempel in die 18de jaar van Josia se regering, d.w.s. toe hy 26 jaar oud was, wat effens korter vertel word as in Kronieke,
- die ontdekking van die wetboek en die sluiting van die verbond,
- die bestryding van afgodery (waar Konings ook spesifiek die verhaal van die bene uit die grafte vertel wat op die altaar van Jerobeam in Bet-El verbrand is, soos die man van God voorspel het 3 eeue tevore [1 Kon. 13:2 – “Altaar, altaar, so sê die Here: Daar sal uit die nageslag van Dawid ’n seun gebore word met die naam Josia en hier op jou sal hy die priesters van die hoogtes slag wat op jou offers bring en hier op jou sal mensbene verbrand word.”], ’n verhaal wat nie in die Kronis voorkom nie) en
- die viering van die Paasfees, wat baie korter vertel word as in Kronieke.
Die Kronis vertel dit weer soos volg:
- die bestryding van afgodery in die 8ste jaar van sy regering, d.w.s. toe Josia 16 jaar oud was, regdeur Juda sowel as in die gebied van die voormalige noordryk (Manassa, Efraim, Simeon, Naftali – selfs by die ruïnes van die omgewing!), waarin ook die verhaal van die verbranding van die bene uit die grafte vertel word, soos vroeër voorspel, maar dit nie aan Bet-El verbind word nie. Let op dat Josia persoonlik daarby betrokke is en dat die grootste deel van albei ryksgebiede betrek word, al is die meeste van die noordryk se mense weggevoer in ballingskap amper ’n eeu tevore in 722 v.C. ,
- die skoonmaak en herstel van die tempel in die 18de jaar van sy regering, d.w.s. toe Josia 26 jaar oud was, net soos Konings dit ook vertel,
- die ontdekking van die wetboek en die sluiting van die verbond wat ’n belangrike geestelike rol gespeel het in die hervormings wat ook hierna plaasgevind het,
- die viering van die Paasfees kort daarna, op die regte tyd in die 1ste maand, anders as sy grootjie Hiskia in die tweede maand, ’n feesverhaal wat ook baie meer uitgebreid vertel word as in Konings – trouens dit is die grootste Paasfees tot op hede, sê die Kronis.
Die skoonmaak van die tempel en die ontdekking van die wetboek stimuleer dus in die Koningsverhaal die hervormings, terwyl die bestryding van afgodery in die Kronistiese Geskiedwerk die skoonmaak van die tempel voorafgaan en lei tot die ontdekking van die wetboek, wat weer die verdere hervormings van die viering van die Paasfees tot gevolg het.
Josia herstel die tempel – 2 Kron. 34:8-13
Die verhaal van die skoonmaak en herstel van die tempel word vertel vanuit die hoek van die groot sorg waarmee dit deur die Leviete uitgevoer is. Die verhaal word ook baie meer uitgebreid deur die Kronis vertel, gegewe sy fokus op die Leviete regdeur sy boek en die doel van sy boek om die teruggekeerde ballinge te motiveer om die Here te dien.
Let ook hier op dat geld by albei dele van Israel ingesamel word, soos dit trouens ook was met die suiwering van die land.
Josia word in sy hart geraak deur die wetboek en begelei die volk tot verbondshernuwing – 2 Kron. 34:14-33
Dit bly vir my ontstellend om te moet lees dat die wetboek van die Here BINNE die tempel kan wegraak. Dit staan so as ’n simbool van enige gemeente/kerk wat nie meer werk met die geopenbaarde waarheid van God soos dit in die kanonieke boeke van die Bybel opgeteken is nie. ’n Mens kan jou fokus verloor sodat die stem van die Here van die eeue kan verstil en verdwyn uit ons bewussyn.
Die koning se reaksie toe hy die wetboek aanhoor is drieërlei.
- Josia verootmoedig hom persoonlik by die aanhoor daarvan.
- Josia gee opdrag dat die Here geraadpleeg word oor die inhoud van die boek, sodat die praktiese betekenis daarvan vir hulle situasie uitgespel kan word. Dit lei tot die boodskap van die profetes Gulda wat die inhoud van die wetboek vir hulle interpreteer en uitspel wat dit vir hulle in die hede inhou. Kort saamgevat: “Ek bring onheil … (maar) Ek (het) daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is … dat jy berou getoon het … Ek sal jou in vrede laat sterwe.”
- Josia kry al die leiers en die mense van Juda bymekaar en laat hulle met die Here ’n verbond sluit op grond van die aanhoor van die “boek van die verbond”. Dit het tot gevolg dat die hervormings wat hy reeds ingevoer het, bestendig is en: ”So lank hy geleef het, het hulle nie weggedraai van die Here, die God van hulle voorvaders, af nie.”
Sefanja en Jeremia se perspektiewe
Die rol van die profete in hierdie tyd word nie deur die Kronis by Josia se verhaal betrek nie, hoewel ons uit Sefanja en Jeremia se boeke kan agterkom dat hulle ’n beduidende rol gespeel het. Ek gee hier ’n kort oorsig daarvan om aan die een kant die raakpunte met Josia se hervormings aan te dui en aan die ander kant, veral in die perspektief wat Jeremia op Josia gee, die gebreke daarvan uit te lig:
- Sefanja spreek hom skerp uit teen die Baäl- en hemelliggame aanbidding (Sef. 1:4-5; vgl. 2 Kon. 23:4-7) en die selftevredenheid van die amptenare, prinse en handelaars wat dink dat die Here hulle nie sal straf oor hulle bygeloof en ongehoorsaamheid nie (Sef. 1:7-11). Jerusalem is vir die Here ’n opstandige besoedelde stad wat mense verdruk en waarin korrupsie gedy: “Die amptenare in die stad is brullende leeus; die regters is wolwe wat snags aas soek en tot die môre nie genoeg kry om aan te knaag nie.” Selfs die profete en priesters spring die oordeel van die Here nie vry nie (Sef. 3:1-4).
Daarom kondig Sefanja aan dat die dag van die Here naby is, dié dag waarop Hy sy toorn oor Juda en Jerusalem sal uitgiet oor hulle afgodsdiens (Sef. 1:14-16) en korrupsie (Sef. 3:1-4). Sefanja hou nog vas aan die hoop dat die volk hulle kan regruk en raai die volk aan om te vra na die wil van die Here (Sef. 2:3), soos Josia inderdaad uiteindelik gedoen het (2 Kron. 34:21). “Miskien bly julle die straf gespaar.” (Sef. 2:3).
Tog is Sefanja realisties oor die waarskynlike reaksie op sy waarskuwings en kyk hy ’n bietjie verder as die huidige chaos en sien ’n tyd waarop die Here self verandering sal bring, die volk se lot sal verander en hulle na Hom toe en hulle land toe sal terugbring (Sef. 3:19). Dit is Sefanja wat daardie pragtige woorde gemunt het: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde!” (Sef. 3:17).
- Jeremia gaan nog verder as Sefanja en verpak sy boodskap in twee oorhoofse perspektiewe: ’n boodskap van oordeel (afbreek, uitroei, vernietig, platslaan) en ’n boodskap van herstel (bou, vestig), soos die Here vir hom reg aan die begin van sy bediening die opdrag gee (Jer. 1:10). Die oordeel oorheers egter in Jeremia se prediking (Jer. 1-38) omdat die volk en sy opeenvolgende leiers net te ver afgedwaal het in hulle verhouding met God (“my volk [het] My jare gelede al vergeet” – Jer. 2:32), wat die besef by Jeremia laat groei het dat die ballingskap onafwendbaar aan die kom is (“Maar Ek gáán jou straf” – Jer. 2:35).
In die tyd van Josia, waarskynlik van die 13de jaar van sy regeringstyd af (Jer. 25:3), het Jeremia spesifiek die volk oor die afgodsbeelde wat die land verontreinig aangespreek, maar sy ervaring was dat die hervormings wat aangebring is oppervlakkig was (Jer. 3:6 vv.). Net so was sy oordeel oor die herstel van die tempel dat dit ’n vals vertroue geskep het dat hulle veilig is, en hulle gevolglik nie hulle lewens en dade regmaak nie (Jer. 7:1 vv.). Die harde woorde van die Here aan Jeremia in dié tyd is dat hy nie verder moet bid vir die volk nie, want Hy gaan nie luister nie (Jer. 7:16 – vgl. Jer. 15:1: “Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie. Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan.”). Die Judeërs het net te ver gegaan met hulle sonde en die Here kon net nie langer wag dat die situasie verbeter nie. Die smeltkroes van die ballingskap is al raad (Jer. 9 vv.). Hy gaan hulle uit hulle land verdryf (Jer. 10:17-18) omdat hulle die verbond verbreek het (Jer. 11 vv.).
Jeremia was dus waarskynlik baie ambivalent oor die verbondsluiting van Josia. Dit lei tot roerende gesprekke tussen Jeremia en die Here, omdat Jeremia net nie kon aanvaar dat die situasie nie beredder kan word nie (Jer. 12 vv.). Hy moes egter uiteindelik die knie buig voor die Here se oordeel: “U was te sterk vir my, U het gewen.” (Jer. 20:7), maar nie sonder dat hy die dag berou waarop hy gebore is om dié boodskap vir die volk te moes oordra nie (Jer. 20:14-18: “Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het … Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het: ’Jy het ‘n seun’ … Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef en my lewe lank verneder te word?”)
Die belofte wat Josia se hervormings ingehou het, het dus net nie ver genoeg gegaan nie en is in elk geval deur sy opvolgers tot niet gemaak wat tot verdere oordeelsprofesieë teen hulle lei (téén Sallum [Joahas] – Jer. 22:11; téén Jojakim – Jer. 22:13-19; téén Jojagin – Jer. 22:24-30; téén Sedekia – Jer. 25 vv.)
Met groot teleurstelling en smart raai Jeremia uiteindelik die volk aan om die ballingskap as ’n feit te aanvaar, want die ballingskap was onafwendbaar (Jer. 21 vv.). Hy wil hê dat hulle besef dit is God se straf, maar ook dat in die straf daar alreeds uitkoms geleë is, want die Here sal hulle seën in ballingskap en weer terugbring (Jer. 29). Daarvoor is Jeremia egter verguis as verraaier en in ’n stadium deur koning Sedekia in ’n put gegooi (Jer. 37:11 vv.). Jeremia se woorde het egter waar geword soos ’n mens lees vanaf Jer. 39.
Natuurlik was daar ook die belofte van herstel in Jeremia se bediening, wat beide die onvergelyklike belofte van ’n nuwe verbond (Jer. 30-31) – bevestig deur die grondkooptransaksie (Jer. 32) – as ’n nuwe koning (Jer. 23) ingesluit het. Maar dit was ’n kleiner deel van Jeremia se boodskap. Ek sal meer daaroor uitbrei wanneer ons DV volgende jaar in die derde kwartaal die boek van Jeremia asook die Klaagliedere sal behandel.
Ná die aanvang van die ballingskap het Jeremia ook volskaals losgetrek teen die nasies, met ’n oorhoofse boodskap van oordeel, soos ’n mens veral lees in Jer. 46-51, afgewissel met enkele hoopvolle elemente van herstel (bv. Jer. 46:26). Daar was natuurlik ook profesieë teen die nasies in die eerste deel van sy bediening (Jer. 25:15-38) met’n paar spatsels hoop (Jer. 16:19-21). Die boodskap teen Israel het egter in daardie deel van sy bediening oorheers.
by Chris van Wyk
View all posts in this series
- Bybelskool oor 1 en 2 Kronieke in die tweede kwartaal 2013 - April 10, 2013
- Bybelskool oor Kronieke - April 11, 2013
- Inleiding op Kronieke
- Geslagsregisters in Kronieke
- Kaarte vir Kronieke
- Program vir leeswerk vir Kronieke
- Leesmetode vir Kronieke
- WEEK 1: 1 Kronieke 1-9
- 1 Kronieke 1 – Identiteit gewortel in Adam en Abraham
- 1 Kronieke 2:1-4:23 – Identiteit gewortel in Juda en Dawid - April 12, 2013
- 1 Kronieke 4:24-5:26 – Verspilde verhouding met God lei tot wegvoering - April 15, 2013
- 1 Kronieke 6-7 – Die prioriteit van geestelik-godsdienstige leiding - April 16, 2013
- 1 Kronieke 8-9 – Die bevestiging van Jerusalem as Judese eerder as Benjaminitiese gebied - April 17, 2013
- WEEK 2: 1 Kronieke 10-21 - April 18, 2013
- 1 Kronieke 10 – Saul se gebrek aan gehoorsaamheid en gebedsafhanklikheid
- 1 Kronieke 11-12 – Dawid word deur God en volk as koning gevestig - April 19, 2013
- 1 Kronieke 13-15 – Dawid raadpleeg die volk en God in die proses om die ark na Jerusalem te bring - April 22, 2013
- 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God - April 23, 2013
- 1 Kronieke 18-21 – Die Here help Dawid net waar hy gaan - April 24, 2013
- WEEK 3: 1 Kronieke 22-29 - April 25, 2013
- 1 Kronieke 22 – Dawid berei Salomo nougeset voor vir die bou van die tempel
- 1 Kronieke 23-24 – Dawid reël die priesterlike en Levitiese bediening - April 26, 2013
- 1 Kronieke 25-26 – Dawid se reëlings vir ’n omvattende Levitiese bediening - April 29, 2013
- 1 Kronieke 27 – Dawid en die leiers in sy diens - April 30, 2013
- 1 Kronieke 28-29 – Dawid motiveer en mentor Salomo vir sy roeping om die tempel te bou - May 1, 2013
- WEEK 4: 2 Kronieke 1-9 - May 2, 2013
- 2 Kronieke 1 – Salomo as wyse man en vernuftige handelaar
- 2 Kronieke 2-5 – Salomo bou die tempel en God se teenwoordigheid vul Sy huis - May 3, 2013
- 2 Kronieke 6 – Salomo plaas gebed sentraal in die verhouding met God - May 6, 2013
- 2 Kronieke 7 – God sit die seël op die tempel-inwyding met hemelse vuur en Sy verskyning aan Salomo - May 7, 2013
- 2 Kronieke 8-9 – Salomo het nasionale en internasionale invloed - May 8, 2013
- WEEK 5: 2 Kronieke 10-16 - May 9, 2013
- Oorsig oor die konings waarvan die Kronis skryf
- 2 Kronieke 10 – Die ryk skeur weens die domastrantheid van Rehabeam
- 2 Kronieke 11-12 – Rehabeam tree met groot oorleg op, maar faal in sy primêre verhouding met God - May 10, 2013
- 2 Kronieke 13 – Abia bevestig Juda se steun op die Here se leierskap - May 13, 2013
- 2 Kronieke 14-15 – Asa doen wat reg is in die oë van die Here - May 14, 2013
- 2 Kronieke 16 – Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte - May 15, 2013
- WEEK 6: 2 Kronieke 17-24 - May 16, 2013
- 2 Kronieke 17-18 – Josafat regeer soos Dawid van ouds, maar begaan ’n oordeelsfout om by Agab betrokke te raak
- 2 Kronieke 19-20 – Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit en behaal ’n groot oorwinning met God se hulp - May 17, 2013
- 2 Kronieke 21 – Joram doen wat verkeerd is in die oë van die Here en word met oorlog en ’n ongeneeslike siekte gestraf - May 20, 2013
- 2 Kronieke 22-23 – Ahasia doen ook wat verkeerd is in die oë van die Here en sy ma Atalia vaar nie beter nie - May 21, 2013
- 2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here - May 22, 2013
- WEEK 7: 2 Kronieke 25-32 - May 23, 2013
- 2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie
- 2 Kronieke 26 – Ussia se voorspoed vang hom en hy raak te ingenome met homself - May 24, 2013
- 2 Kronieke 27-28 – Jotam hou koers, maar Agas verloor dit heeltemal - May 27, 2013
- 2 Kronieke 29-31 – Hiskia vra met sy hele hart na die wil van sy God en is voorspoedig - May 28, 2013
- 2 Kronieke 32 – Hiskia vertrou die Here in konflik en siekte en het berou van sy selfingenomenheid - May 29, 2013
- WEEK 8: 2 Kronieke 33-36 - May 30, 2013
- 2 Kronieke 33 – Manasse is ’n gruwelike koning wat berou het en tot bekering kom
- 2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek - May 31, 2013
- 2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid - June 3, 2013
- 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer - June 4, 2013