Skip to main content

1 Kronieke 2:1-4:23 – Identiteit gewortel in Juda en Dawid

Ons lees vandag twee en ‘n halwe hoofstukke:

  • Die geslagsregister van die stamvaders en die nageslag van Juda – 2:1-55.  Die interessante verhale van Genesis 36 en 38, sowel as Rut 4, vorm die agtergrond waarteen ‘n mens dié geslagsregister kan lees.
  • Die geslagsregister van die nageslag van Dawid – 3:1-24.  Die gegewens van 2 Samuel 3 en 5 lê ten grondslag van dié nageslag, hoewel dit baie meer uitgebreid vertel word.
  • Die stam van Juda – 4:1-23.  Die lys van hoofstuk 2 word uitgebrei vanuit ‘n “ou oorlewering”.

Die stamvaders en die nageslag van Juda – 2:1-2

Die Kronis gee net die lys van Israel (Jakob) se 12 seuns, en vervolg dan met die geslagsregister van Juda (wat ook verder in hoofstuk 4:1-23 aan die orde sal kom).  Lea se 6 eie seuns word eerste genoem (Ruben, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon) waarskynlik omdat Levi en Juda ‘n prominente rol in sy verdere verhaal gaan speel.  Dan word Ragel se 4 seuns genoem, waarvan Josef en Benjamin natuurlik haar eie was, en Dan en Naftali die seuns was wat uit haar slavin Bilha se verbintenis met Jakob gebore is (vgl. Gen. 30).  Die lys word afgesluit met Gad en Aser wat die seuns was wat weer uit Lea se slavin Silpa se verbintenis met Jakob gebore is.  Interessant is dat Dan en Sebulon nie verder in die geslagsregisters ‘n rol gaan speel nie.

Die nageslag van Juda – 2:3-55

‘n Paar goed staan uit in hierdie redelik fragmentariese lys waarin inligting verskaf word wat nie altyd maklik met die res van die Bybelse inligting gekoördineer kan word nie.

  • Juda se vrou was ‘n Kanaäniet, Bat-Sua. Bat-Sua beteken “dogter van Sua”. Ons ken Sua uit Gen 38:2 waar Juda se troue met haar beskryf word. Dit wys die gemengde aard van die nageslag van Juda waarin rassuiwerheid duidelik nie ‘n bepalende rol gespeel het nie.
  • Er, Juda se oudste seun, het die Here mishaag en Hy het hom laat sterwe. Dit was omdat Er nie ‘n kind vir sy broer wou gee nie.  Daarmee word die boodskap duidelik onderstreep dat gehoorsaamheid aan die wil van die Here die deurslag gee in Sy verhouding met mense, sowel as met mense in hulle verhoudinge met mekaar.  Dít is ook die geval in die tragiese verhaal van Akan.  Dat Onan se sonde egter nie genoem word nie, val ‘n mens op.  Dit kan wees dat die Kronis dit oorgesien het of volstaan het met die sonde van sy broer Er.
  • Juda se skoondogter Tamar het vir hom twee seuns gegee, waaragter daar ook ‘n hele storie was, soos in Genesis 38 gelees kan word.  Die geslagsregister brei egter nie daarop uit nie.
  • Akan, wat hom aangematig het om van die buit van Jerigo te vat wat aan die Here behoort het en daarom ‘n ramp oor Israel gebring het, word as die seun van Karmi aangedui wat egter nie hier as ‘n seun of kleinseun van Juda aangedui word nie, maar wel in Josua 7:1 as die seun van Sabdi, seun van Serag, seun van Juda gelys word. Miskien het een van die 5 seuns van Juda wat hier genoem word, ook die naam Sabdi gehad. Interessant: in die teks word Akan se naam gespel as Akar, wat beteken: “ramp”. Dit kan ‘n skryffout wees, ipv n is r gebruik, of dit kan ‘n ironisering wees van sy naam.
  • Nagson word as heerser oor die Judeërs uitgelig, wat die koninklikheid van die Juda-geslag bevestig (vgl. Num. 2:3).
  • Dawid en sy familie word baie prominensie gegee in hierdie lys, onder andere deur die 2 susters se name te noem, Seruja en Abigal, sowel as hulle nageslagte.  Dawid word as die sewende seun gelys, hoewel hy in 1 Sam. 16:10 as die agtste seun gelys word.  Dit kan moontlik simbolies wees, omdat drie van die broers wat hier genoem word, nie in die lys van 1 Sam. 16 genoem word nie (Netanel, Raddai, en Osem, die drie wat in hierdie lys net voor Dawid genoem word).  Ons weet egter nie genoeg om dié diskrepansie heeltemal te verklaar nie.  Let op na die naam van Joab wat een van die groot helde was wat saam met Dawid geveg het en sy leërowerste geword het.  Amper terloops word Jeter die Ismaeliet genoem, wat weereens op die kompleksiteit van die onderlinge verhoudinge met die naburige nasies dui.
  • Die NAV lys in vers 18  Jeriot verkeerdelik as ‘n dogter. Jeriot was eerder ‘n ander naam vir Asuba (Net Bible), of ‘n tweede vrou van Kaleb (NIV).
  • Let op na die naam van Segub wat ‘n groot grondbesitter in Gilead was.
  • ‘n Mens wonder oor die verbintenis van Kaleb (nie die spioen van die woestyn nie) met sy pa se vrou, Efrata, darem ná sy pa se dood.  Let op dat sy geslagsregister onderbreek word in vers 24 en weer voortgesit word in vers 42.
  • Let ook op hoe daar soms melding gemaak word van sekere van die nageslag wat kinderloos gesterwe het (bv. Seled, Jeter).  ‘n Nageslag was uiteraard van groot belang.  Daarom neem Sesan, wat net dogters gehad het, ‘n Egiptiese slaaf van hom, Jarga, en laat dié met ‘n dogter van hom trou sodat hy ‘n nageslag deur haar en die slaaf kon hê.
  • Let ook op dat die mense van Jabes as die skrywersgeslagte genoem word.

Die nageslag van Dawid – 3:1-24

Die lys van Dawid se seuns word gegrond op gegewens uit 2 Sam. 3 en 5 wat uit die 2 tydperke van sy koningskap kom: koning oor Juda vanuit Hebron, en koning oor die hele Israel vanuit Jerusalem.  Let weereens op na die gemengde aard van die huwelike van Dawid waaruit sy seuns gebore is (uit Jisreël, Karmel, Gesur).  Een van die name van die seuns wat in Hebron gebore is, verskil (Daniël vs Kitlab hoewel darem van dieselfde vrou) en daar word twee meer seuns in Kronieke genoem as in Samuel (Elpelet en Noga).  Dit is opmerklik dat Batseba se naam in die oorspronklike Hebreeuse teks as Bat-Sua aangedui word (nes dié van die vrou van Juda – 1 Kron. 3:3).  Dit kan aan die een kant wees dat die Kronis haar nie meer prominensie wou gee deur haar regte naam te gebruik nie, óf haar aan die ander kant juis meer prominensie wou gee deur haar te identifiseer met die stammoeder, die vrou van Juda.  Ons weet nie regtig nie.

Dawid se nageslag word daarna gegee via Salomo waarvan die meeste uiteraard konings van Juda was, behalwe Salomo wat nog oor die hele Israel geregeer het.  Die lys sluit natuurlik ook die nageslag van Dawid tydens die ballingskap in – let op dat Jojagin ‘n balling genoem word.

Die stam van Juda – 4:1-23

Die lys van hierdie hoofstuk sluit aan by die gegewens van hoofstuk 2, herhaal sommige van die gegewens en gee meer inligting oor die nageslag van Juda.  Dit word as ‘n “ou oorlewering” beskryf (4:22).

Die verhaal van Jabes in vers 9-10 staan as juweeltjie binne die droër dele van dié geslagslys uit.  Jabes het nie net ‘n beroep op God gedoen om hom te seën deur sy grondgebied te vergroot nie, maar inderdaad verkry wat hy gevra het.  Jabes staan daarom as getuienis vir die krag van gebed.  Die smart en pyn waarmee sy geboorte in sy naam Jabes verewig is deur sy ma en wat hy bang was sy hele lewe sou teken, word deur God heeltemal getransformeer met die seën wat hy in sy volwasse lewe ervaar.  Daarom het hy voorrang geniet bokant sy broers.  Die Kronis bied daarmee getuienis af van die feit dat niemand aan die noodlot uitgelewer is nie, maar in gebedsafhanklikheid van God seën en beskerming kan geniet.

Jabes staan ook in sterk kontras met die verhale van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse wat in hoofstuk 5 vertel sal word.

Ons ken vir Otniël ook Rigters 3 uit, een van die mees voorbeeldigste van die 12 rigters.  Sy naam sou ook die betekenis van getrouheid aan God in herinnering geroep het.

Let op dat Mered ‘n Judese vrou gehad het sowel as ’n dogter van farao.  Let ook op dat daar van vakmanne, linnewerkersgildes en pottebakkers gepraat word, waarmee ’n deel van die nageslag van Juda in terme van hulle beroepe getipeer word.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…