Skip to main content

1 Kronieke 2:1-4:23 – Identiteit gewortel in Juda en Dawid

Ons lees vandag twee en ‘n halwe hoofstukke:

  • Die geslagsregister van die stamvaders en die nageslag van Juda – 2:1-55.  Die interessante verhale van Genesis 36 en 38, sowel as Rut 4, vorm die agtergrond waarteen ‘n mens dié geslagsregister kan lees.
  • Die geslagsregister van die nageslag van Dawid – 3:1-24.  Die gegewens van 2 Samuel 3 en 5 lê ten grondslag van dié nageslag, hoewel dit baie meer uitgebreid vertel word.
  • Die stam van Juda – 4:1-23.  Die lys van hoofstuk 2 word uitgebrei vanuit ‘n “ou oorlewering”.

Die stamvaders en die nageslag van Juda – 2:1-2

Die Kronis gee net die lys van Israel (Jakob) se 12 seuns, en vervolg dan met die geslagsregister van Juda (wat ook verder in hoofstuk 4:1-23 aan die orde sal kom).  Lea se 6 eie seuns word eerste genoem (Ruben, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon) waarskynlik omdat Levi en Juda ‘n prominente rol in sy verdere verhaal gaan speel.  Dan word Ragel se 4 seuns genoem, waarvan Josef en Benjamin natuurlik haar eie was, en Dan en Naftali die seuns was wat uit haar slavin Bilha se verbintenis met Jakob gebore is (vgl. Gen. 30).  Die lys word afgesluit met Gad en Aser wat die seuns was wat weer uit Lea se slavin Silpa se verbintenis met Jakob gebore is.  Interessant is dat Dan en Sebulon nie verder in die geslagsregisters ‘n rol gaan speel nie.

Die nageslag van Juda – 2:3-55

‘n Paar goed staan uit in hierdie redelik fragmentariese lys waarin inligting verskaf word wat nie altyd maklik met die res van die Bybelse inligting gekoördineer kan word nie.

  • Juda se vrou was ‘n Kanaäniet, Bat-Sua. Bat-Sua beteken “dogter van Sua”. Ons ken Sua uit Gen 38:2 waar Juda se troue met haar beskryf word. Dit wys die gemengde aard van die nageslag van Juda waarin rassuiwerheid duidelik nie ‘n bepalende rol gespeel het nie.
  • Er, Juda se oudste seun, het die Here mishaag en Hy het hom laat sterwe. Dit was omdat Er nie ‘n kind vir sy broer wou gee nie.  Daarmee word die boodskap duidelik onderstreep dat gehoorsaamheid aan die wil van die Here die deurslag gee in Sy verhouding met mense, sowel as met mense in hulle verhoudinge met mekaar.  Dít is ook die geval in die tragiese verhaal van Akan.  Dat Onan se sonde egter nie genoem word nie, val ‘n mens op.  Dit kan wees dat die Kronis dit oorgesien het of volstaan het met die sonde van sy broer Er.
  • Juda se skoondogter Tamar het vir hom twee seuns gegee, waaragter daar ook ‘n hele storie was, soos in Genesis 38 gelees kan word.  Die geslagsregister brei egter nie daarop uit nie.
  • Akan, wat hom aangematig het om van die buit van Jerigo te vat wat aan die Here behoort het en daarom ‘n ramp oor Israel gebring het, word as die seun van Karmi aangedui wat egter nie hier as ‘n seun of kleinseun van Juda aangedui word nie, maar wel in Josua 7:1 as die seun van Sabdi, seun van Serag, seun van Juda gelys word. Miskien het een van die 5 seuns van Juda wat hier genoem word, ook die naam Sabdi gehad. Interessant: in die teks word Akan se naam gespel as Akar, wat beteken: “ramp”. Dit kan ‘n skryffout wees, ipv n is r gebruik, of dit kan ‘n ironisering wees van sy naam.
  • Nagson word as heerser oor die Judeërs uitgelig, wat die koninklikheid van die Juda-geslag bevestig (vgl. Num. 2:3).
  • Dawid en sy familie word baie prominensie gegee in hierdie lys, onder andere deur die 2 susters se name te noem, Seruja en Abigal, sowel as hulle nageslagte.  Dawid word as die sewende seun gelys, hoewel hy in 1 Sam. 16:10 as die agtste seun gelys word.  Dit kan moontlik simbolies wees, omdat drie van die broers wat hier genoem word, nie in die lys van 1 Sam. 16 genoem word nie (Netanel, Raddai, en Osem, die drie wat in hierdie lys net voor Dawid genoem word).  Ons weet egter nie genoeg om dié diskrepansie heeltemal te verklaar nie.  Let op na die naam van Joab wat een van die groot helde was wat saam met Dawid geveg het en sy leërowerste geword het.  Amper terloops word Jeter die Ismaeliet genoem, wat weereens op die kompleksiteit van die onderlinge verhoudinge met die naburige nasies dui.
  • Die NAV lys in vers 18  Jeriot verkeerdelik as ‘n dogter. Jeriot was eerder ‘n ander naam vir Asuba (Net Bible), of ‘n tweede vrou van Kaleb (NIV).
  • Let op na die naam van Segub wat ‘n groot grondbesitter in Gilead was.
  • ‘n Mens wonder oor die verbintenis van Kaleb (nie die spioen van die woestyn nie) met sy pa se vrou, Efrata, darem ná sy pa se dood.  Let op dat sy geslagsregister onderbreek word in vers 24 en weer voortgesit word in vers 42.
  • Let ook op hoe daar soms melding gemaak word van sekere van die nageslag wat kinderloos gesterwe het (bv. Seled, Jeter).  ‘n Nageslag was uiteraard van groot belang.  Daarom neem Sesan, wat net dogters gehad het, ‘n Egiptiese slaaf van hom, Jarga, en laat dié met ‘n dogter van hom trou sodat hy ‘n nageslag deur haar en die slaaf kon hê.
  • Let ook op dat die mense van Jabes as die skrywersgeslagte genoem word.

Die nageslag van Dawid – 3:1-24

Die lys van Dawid se seuns word gegrond op gegewens uit 2 Sam. 3 en 5 wat uit die 2 tydperke van sy koningskap kom: koning oor Juda vanuit Hebron, en koning oor die hele Israel vanuit Jerusalem.  Let weereens op na die gemengde aard van die huwelike van Dawid waaruit sy seuns gebore is (uit Jisreël, Karmel, Gesur).  Een van die name van die seuns wat in Hebron gebore is, verskil (Daniël vs Kitlab hoewel darem van dieselfde vrou) en daar word twee meer seuns in Kronieke genoem as in Samuel (Elpelet en Noga).  Dit is opmerklik dat Batseba se naam in die oorspronklike Hebreeuse teks as Bat-Sua aangedui word (nes dié van die vrou van Juda – 1 Kron. 3:3).  Dit kan aan die een kant wees dat die Kronis haar nie meer prominensie wou gee deur haar regte naam te gebruik nie, óf haar aan die ander kant juis meer prominensie wou gee deur haar te identifiseer met die stammoeder, die vrou van Juda.  Ons weet nie regtig nie.

Dawid se nageslag word daarna gegee via Salomo waarvan die meeste uiteraard konings van Juda was, behalwe Salomo wat nog oor die hele Israel geregeer het.  Die lys sluit natuurlik ook die nageslag van Dawid tydens die ballingskap in – let op dat Jojagin ‘n balling genoem word.

Die stam van Juda – 4:1-23

Die lys van hierdie hoofstuk sluit aan by die gegewens van hoofstuk 2, herhaal sommige van die gegewens en gee meer inligting oor die nageslag van Juda.  Dit word as ‘n “ou oorlewering” beskryf (4:22).

Die verhaal van Jabes in vers 9-10 staan as juweeltjie binne die droër dele van dié geslagslys uit.  Jabes het nie net ‘n beroep op God gedoen om hom te seën deur sy grondgebied te vergroot nie, maar inderdaad verkry wat hy gevra het.  Jabes staan daarom as getuienis vir die krag van gebed.  Die smart en pyn waarmee sy geboorte in sy naam Jabes verewig is deur sy ma en wat hy bang was sy hele lewe sou teken, word deur God heeltemal getransformeer met die seën wat hy in sy volwasse lewe ervaar.  Daarom het hy voorrang geniet bokant sy broers.  Die Kronis bied daarmee getuienis af van die feit dat niemand aan die noodlot uitgelewer is nie, maar in gebedsafhanklikheid van God seën en beskerming kan geniet.

Jabes staan ook in sterk kontras met die verhale van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse wat in hoofstuk 5 vertel sal word.

Ons ken vir Otniël ook Rigters 3 uit, een van die mees voorbeeldigste van die 12 rigters.  Sy naam sou ook die betekenis van getrouheid aan God in herinnering geroep het.

Let op dat Mered ‘n Judese vrou gehad het sowel as ’n dogter van farao.  Let ook op dat daar van vakmanne, linnewerkersgildes en pottebakkers gepraat word, waarmee ’n deel van die nageslag van Juda in terme van hulle beroepe getipeer word.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.