Skip to main content

1 Kronieke 13-15 – Dawid raadpleeg die volk en God in die proses om die ark na Jerusalem te bring

Die Kronis fokus vervolgens op Dawid en die ark.  Dawid se eerste mislukte poging om die ark na Jerusalem te bring (1 Kron. 13:1-14) – waarvoor die Kronis die eerste deel van die verhaal in 2 Sam 6 gebruik – word opgevolg deur drie verhale uit 2 Sam 5, oor:

  1. die bouwerk aan Dawid se paleis met internasionale erkenning en hulp – 1 Kron. 14:1-2,
  2. die uitbreiding van sy gesin – 1 Kron. 14:3-7 – en
  3. die duidelike leiding van die Here in twee van sy veldslae teen die Filistyne – 1 Kron. 14:8-17.

Al drie hierdie verhale  bevestig aan Dawid dat die Here dit goed bedoel met hom en vir hom op drie vlakke van sy lewe begelei, voorsien en beskerm: as koning  in sy paleis, as pa in sy gesin en as gerekende leier onder die nasies.

Dít gee Dawid die moed om die ark uiteindelik suksesvol terug te bring na Jerusalem terwyl hy uitvoerige voorsorgmaatreëls tref om dit volgens die wil van die Here te doen – 1 Kron. 15 – waarvoor die Kronis die tweede deel van die verhaal in 2 Sam 6 inspan.

Die mislukte poging om die ark na Jerusalem te bring – 1 Kron. 13:1-14

Dit tref my dat Dawid baie moeite doen om almal te raadpleeg, veral die leiers oor 1000 en die leiers oor 100: “As julle dink dit is goed, en as die Here ons God sy goedkeuring gee, laat ons …”  Die onderskeiding van wat God wil is nie net ‘n individuele onderneming nie, maar sluit in dat daar wyd beraadslaag word.  Let op ook op dat hy “ons“-taal gebruik wat inklusief van aard is.

Dawid kontrasteer ook dié onderneming van hom om die ark terug te bring met hulle gebrek aan insig daaroor in die tyd van Saul.  Selfs Samuel het nie daarop gefokus om die ark terug te bring uit Filistynse gebied nie, nadat die ark in die tyd van Eli deur hulle gebuit is.  Dawid wil dit nou regstel.

Eers nadat die hele volk hulle instemming betuig het, sit Dawid die wiele aan die rol om die ark na Jerusalem te bring.  Die tragiese verhaal van Ussa wat dood is toe hy onwetend die reëls vir die vervoer van die ark oortree, illustreer die ontsag wat God vereis van dié wat Hom wil dien wat insluit dat sy bekende wil uitgevoer moet word.  In Ussa se geval was die reël dat die ark nie aangeraak mag word nie (Num. 4:15).

Die verhaal van Obed-Edom, waarskynlik ‘n Leviet (‘n Obed-Edom neem as poortwagter deel aan die prosessie Jerusalem in, soos 1 Kron. 15:24 aantoon, en deur die geskiedskrywer Josefus as dieselfde persoon geëien word),  wat geseën is met die ark se verblyf by sy huis, illustreer egter dat God in Sy diepste wese ‘n seënende God is, indien sy voorskrifte nagekom word.

Daarmee gee die Kronis ‘n baie belangrike boodskap aan die mense van sy tyd, met baie meer detail  as wat die verhaal in Samuel vertel is, dat eenheid net kom as ‘n mens regtig wyd konsulteer en almal betrek by die proses én dit in afhanklikheid van die Here doen.

Die bouwerk aan Dawid se paleis met internasionale erkenning en hulp – 1 Kron. 14:1-2

Koning Hiram van Tirus, die Fenisiese stad noord van Israel, verleen aan Dawid internasionale erkenning en hulp deur nie net vir hom materiaal vir die bouwerk aan sy paleis te stuur nie, maar ook geskoolde skrynwerkers en messelaars.  Dawid lees tereg daarin dat die Here sy koningskap bevestig in die hoë aansien wat sy koningskap begin geniet.  Maar let op dat die Kronis steeds beklemtoon dat hierdie erkenning nie net ter wille van Dawid self is nie, maar ter wille van die volk van God, soos dit Samuel dit ook beklemtoon.

Die uitbreiding van Dawid se gesin – 1 Kron. 14:3-7

God seën ook die uitbreiding van sy gesin.  Die Kronis noem 2 meer kinders as Samuel: Elpelet en Noga.  Net seuns word hier genoem, maar ons weet ten minste van een dogter, Tamar, uit die geslagsregister in hoofstuk 3 en uit die tragiese verhaal daaroor in Samuel.

Die duidelike leiding van die Here in twee van Dawid se veldslae teen die Filistyne – 1 Kron. 14:8-17. 

Let op dat Dawid op geen wyse betrokke raak in die twee veldslae teen die Filistyne sonder om die Here te raadpleeg nie.  Net soos hy die hele volk geken het in die proses rondom die ark, só doen hy dit hier in oorlog.  En die Here gee elke keer duidelike leiding en laat die ontsag van die nasies vir Dawid verder toeneem.  Uiteindelik sou Dawid die Filistyne se mag totaal breek.

Soos in 2 Sam. 2 voor sy verblyf in Hebron, gebeur die raadpleging van die Here in ‘n gesprek, waarin Dawid die Here (in gebed?) vra wat hom te doen staan, en die Here duidelik (hoorbaar?) antwoord.  Só het Saul dit ook gedoen (1 Sam. 14:36) hoewel die Here hom later nie meer geantwoord het toe Saul verwerp is en hy sy toevlug tot nekromansie geneem het (1 Sam. 28:7). Nekromansie of dodebesweerdery het plaasgevind deur mediums en spiritiste wat die geeste van die dooies geraadpleeg het, iets wat Jesaja met minagting ‘n gefluister en gemompel noem – Jes. 8:19.  Die Here het dié praktyke verafsku en ten sterkte verbied (Deut. 18), iets wat ons vandag nog in gedagte moet hou.

Dawid se raadpleging van die Here is in die res van die OT primêr geassosieer met die profete of sieners (1 Sam. 9:9) wat die Here se stem kon hoor en interpreteer.  Soms was die Engel van die Here betrokke, soos by Elia (2 Kon. 1:3).  Ander kere was dit ‘n duidelik herkenbare woord.  God het ook soms só met die konings gepraat, soos Saul en Dawid ervaar het.  Salomo hoor egter weer die Here se stem net in ‘n droom (1 Kon. 3), soos ook Josef vroeër.

Die priesterlike raadpleging van die Here het gewoonlik plaasgevind deur die urim en die tummim  (moontlik 2 edelstene) in die borsplaat van die hoëpriester (Eks. 28:30) waarvan die een steen waarskynlik as ja, en die ander as nee gedien het .

Die Here het dus op verskillende wyses met verskillende mense gewerk, wat gepas het by hulle amp en God se bedoeling daarmee.  Profete en konings het die Here anders geraadpleeg en gehoor as priesters.  Selfs die profete en konings het nie God op dieselfde manier gehoor nie.  Soms wat die kommunikasie selfs sigbaar, ander kere hoorbaar en nog ander kere slegs deur drome.

Maar altyd was die skriftelike Woord van God, oorgedra en bewaar deur die priesters, ‘n belangrike manier van kommunikasie, een wat toenemend deurslaggewend was in die oordrag van God se wil, soos ons ook hier sien in die voorskrifte wat Dawid rondom die ark nakom.  Die punt is dat God Homself op verskillende wyses openbaar het, sodat Sy wil uitgevoer kan word.  Daaroor het Hy sy mense nie in onsekerheid gelaat nie.

Ironies genoeg dat die Filistyne hulle gode in hulle haas met die vlug voor Dawid net daar gelos het! Dít terwyl God persoonlik nie net dáár is nie, maar ook werklik betrokke is en bly, die tweede keer hoorbaar: “in die geritsel in die toppe van die melkbosse”.

Dawid bring die ark op die regte wyse na Jerusalem – 1 Kron. 15:1-29

Die belewenisse van God se sorg en seën bemoedig uiteindelik vir Dawid om die ark se reis na Jerusalem te voltooi, maar dié keer eers nadat hy noukeurig navorsing gedoen het van wat die Here se goedkeuring wegdra.  Dit lei daartoe dat Dawid ‘n reël herbevestig dat net die Leviete met die ark mag werk, en dít op die wyse soos die Here dit in die Skrif beveel het (Eks. 25; 37; Deut. 8).

Soos Dawid dus God vir dinamiese leiding in die oorlog gevra het, en die Here hom geantwoord het, só lees hy hier die geopenbaarde wil van God in die wetboek van Moses (vers 15), en hoor só ook die duidelike stem van God.

Die tent wat Dawid vir die ark van God opgeslaan het, was een wat hy self laat maak het, aangesien die tabernakel op hierdie tydstip in Gibeon was (2 Kron. 1). Die ark en die tabernakel is wel later saam in die tempel deur Salomo gesit (1 Kon. 8:3–6; 2 Kron. 5:4–7).

Daar word ses groepe Leviete genoem wat by die prosessie betrokke was, die drie hoofgroepe: Kehat, Merari, en Gerson (soos in die geslagsregisters) sowel as drie verdere groepe uit die Kehat-groep wat ‘n meer onafhanklike status bereik het, hetsy met getalle of tipe bediening: Elisafan, Hebron, en Ussiël (vgl. die geslagsregisters in hfst. 7 wat hulle deel van die Kehatgroep maak).

Interessant genoeg lyk dit asof Sadok en Abjatar hier gesamentlik die voortou neem as hoëpriesters.  Abjatar se termyn is egter deur Salomo beëindig toe dié sy broer Adonia verkies het in die stryd om Dawid se opvolging (2 Kon. 2) wat die Sadokgroep se voorrang onder die priestersgeslag tot gevolg gehad het.

Daar was twee tipe Levitiese musikante in die liturgiese prosessie: sangers en instrumentaliste.  Die instrumentaliste het met harpe (hoë toon), liere (laer toon) en kopersimbale vir die begeleiding gesorg.  Die priesters het daarby trompette geblaas (ook ramshorings) wat hulle voorreg was volgens die wet van Moses (Num 10).  Om dit alles af te rond was daar Levitiese poortwagte en draers betrokke wat net onderstreep hoe belangrik die volk se gesamentelike geestelike verhouding met God was begelei deur die mense wat amptelik deur God daarvoor gekies is.

Almal was uitbundig en verheug oor die herstel van die simbool van God se teenwoordigheid in Jerusalem, met Dawid wat gespring en gedans het voor almal uit.  Let op dat die Kronis nie die vreugde en feestelike stemming van die geleentheid te veel wil demp met die vertel van die ongelukkige geskiedenis van sy vrou Mikal, dogter van Saul, wat Dawid geminag het nie.  Hy noem dit net in ‘n enkele sin, terwyl daar meer detail in 2 Samuel 6 daaroor beskikbaar was.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.