1 Kronieke 28-29 – Dawid motiveer en mentor Salomo vir sy roeping om die tempel te bou
Aan die einde van die eerste boekrol waarop 1 Kronieke geskryf is, word Dawid se laaste opdragte oor die bou van die tempel en Salomo se koningskap weergegee. Dit is in die vorm van:
- Dawid se oorleg met al die gesagdraers van die hele Israel (28:1),
- twee toesprake aan die leiers (28:2-8; 29:1-9) en twee gesprekke met Salomo (28:9-10; 28:20-21),
- die voorsiening van ’n model van die tempel aan Salomo (28:11-19) en
- ’n lofprysing aan die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering van leiers (29:10-20).
Die Kronis sluit die verhaal van Dawid en die tempel af met ’n beskrywing van die volk se feesvieringe en ’n eed van getrouheid aan Salomo (29:21-25) sowel as ’n laaste oorsig oor die koningskap van Dawid (29:26-30).
Dawid kry al die gesagdraers van Israel betrokke
Dawid werk met baie oorleg en kry alle gesagsdraers by mekaar om hulle aan God te verbind sowel as aan Salomo vir die groot onderneming om die tempel te bou. Dit staan uit as een van die sleutel eienskappe van sy leierskap dat Dawid baie wyd konsulteer om mense, veral leiers, betrokke en ingekoop te kry. Dit sluit almal wat in die vorige hoofstukke gelys is en gesag gehad het oor die stamme, oor die afdelings in diens van die koning, die leiers oor duisend, die leiers oor honderd, die opsigters van sy besittings en vee, sy seuns, die hoofbeamptes, die oorlogshelde, ja, “al die manne van betekenis”.
In sy eerste toespraak aan die leiers beklemtoon hy in die eerste plek die rol wat God in elke detail van sy eie lewe en in die besluite rondom die tempel en die koningskap gespeel het. God het Salomo nie net as koning gekies nie, maar ook om die tempel te bou. Dawid was ongeskik vir dié rol omdat hy gebruik is om die koninkryk te vestig en baie bloed in die proses vergiet het.
Let op hoe Dawid God se keuse vir Salomo sterk stel en tog nog aan Salomo se gehoorsaamheid sowel as die gehoorsaamheid van die volk verbind in die tweede plek. Daarom roep hy almal op: “Daarom gebied ek, Dawid, julle nou in teenwoordigheid van die hele Israel, die gemeente van die Here en ten aanhore van ons God” om die gebooie van die Here – die bekende opgetekende wil van God in die gesagvolle boeke van die Bybel van daardie tyd – te onderhou en ondersoek. Dit sal ’n langtermyn effek op hulle verbintenis aan God hê en aan die land waar Hy hulle laat woon het.
In die tweede toespraak beklemtoon Dawid sy eie bereidheid om Salomo te ondersteun met die oorvloed van materiaal wat hy “met alles in my vermoë” vir die huis van God in gereedheid gebring het. Daarmee motiveer Dawid die volk op deurslaggewende manier met sy voorbeeld om die bouwerk te ondersteun en dit lei tot ‘n groot betrokkenheid van almal: “Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee. Koning Dawid was ook baie bly.” Let op dat selfs die amptenare in diens van die koning bygedra het.
Dawid motiveer en mentor vir Salomo
In sy twee toesprake aan Salomo fokus Dawid op twee sake: die motivering en mentoring van Salomo.
Die eerste toespraak (28:9-10) gee ’n sinopsis van wat belangrik is in enige verhouding met die Here. Die dinge waarop Salomo moet fokus, is:
- om die Here te ken,
- die Here met sy hele hart te dien en met ’n gewillige gemoed (siel) – ’n mens hoor die Here Jesus se opsomming van die wet hier weerklink,
- deur na Hom te vra en Hom te raadpleeg (met die voorbeeld van Dawid as rigsnoer),
- deur te besef dat die Here hom gekies het om die heiligdom te bou (God se roeping vir Salomo),
- en nou prakties te doen wat God sê: “Pak nou die werk aan en doen dit!”
Dawid motiveer Salomo egter nie net met ’n herinnering aan die in standhou van sy verhouding met God en sy roeping nie. Hy mentor Salomo ook deur aan hom ’n argitektoniese model te gee van die tempel sowel as ’n skriftelike kosteberekening vir die bou daarvan. Let op hoe twee kante in die totstandkoming van Dawid se visie vir die tempel beskryf word:
- Dawid se verbeelding (“Dit is ’n model van alles wat hy hom voorgestel het” – 28:12) en
- God se openbaring (“Dit alles, die hele uitvoering van die werk, het Dawid deur ’n openbaring van God te wete gekom” – 28:19).
Dit is ’n uitstekende illustrasie van hoe God se werk en ons werk saamwerk.
In die tweede toespraak van Dawid aan sy seun fokus hy weer op motivering, maar dié keer meer op wat God vir Salomo sal gee, sowel as op wat die volk se verbintenis is: “Wees sterk, staan vas, begin die werk! Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie, sodat jy al die werk vir die diens in sy huis kan afhandel. Die afdelings priesters en Leviete is gereed vir die volledige tempeldiens, en daar is vakmanne tot jou beskikking wat bedrewe is in al die soorte werk vir elke diens, terwyl die amptenare en die hele volk op jou bevele wag.”
Dawid se lofprysing aan die Here
Dawid praat egter nie net met die leiers en met Salomo nie. Hy praat ook met God in hulle almal se teenwoordigheid. Sy gebed van lof en dank aan God sentreer om die frase: “Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het.” (29:14).
Let op hoe belangrik Dawid die hart van die mens reken in dié gebed. Dit is die een ding wat hy van God vra, dat God wat die harte vir opregtheid ondersoek, vir altyd hierdie gesindheid van vrygewige opregtheid in die gemoed van die volk sal behou: “Rig hulle hart op U” (29:18).
Daarna begelei Dawid die volle vergadering ook in lofprysing en almal het gekniel in huldebetoon voor die Here. Die volgende dag het hulle offers gebring en met uitbundige vreugde geëet voor die Here. Hulle het vir die tweede keer vir Salomo as koning verklaar en aan hom trou gesweer. ’n Ware luisterryke geleentheid.
Die Kronis sluit af met ’n oorsig oor Dawid se “vol lewe, ryk en geëerd.”
by Chris van Wyk
View all posts in this series
- Bybelskool oor 1 en 2 Kronieke in die tweede kwartaal 2013 - Apr 10, 2013
- Bybelskool oor Kronieke - Apr 11, 2013
- Inleiding op Kronieke
- Geslagsregisters in Kronieke
- Kaarte vir Kronieke
- Program vir leeswerk vir Kronieke
- Leesmetode vir Kronieke
- WEEK 1: 1 Kronieke 1-9
- 1 Kronieke 1 – Identiteit gewortel in Adam en Abraham
- 1 Kronieke 2:1-4:23 – Identiteit gewortel in Juda en Dawid - Apr 12, 2013
- 1 Kronieke 4:24-5:26 – Verspilde verhouding met God lei tot wegvoering - Apr 15, 2013
- 1 Kronieke 6-7 – Die prioriteit van geestelik-godsdienstige leiding - Apr 16, 2013
- 1 Kronieke 8-9 – Die bevestiging van Jerusalem as Judese eerder as Benjaminitiese gebied - Apr 17, 2013
- WEEK 2: 1 Kronieke 10-21 - Apr 18, 2013
- 1 Kronieke 10 – Saul se gebrek aan gehoorsaamheid en gebedsafhanklikheid
- 1 Kronieke 11-12 – Dawid word deur God en volk as koning gevestig - Apr 19, 2013
- 1 Kronieke 13-15 – Dawid raadpleeg die volk en God in die proses om die ark na Jerusalem te bring - Apr 22, 2013
- 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God - Apr 23, 2013
- 1 Kronieke 18-21 – Die Here help Dawid net waar hy gaan - Apr 24, 2013
- WEEK 3: 1 Kronieke 22-29 - Apr 25, 2013
- 1 Kronieke 22 – Dawid berei Salomo nougeset voor vir die bou van die tempel
- 1 Kronieke 23-24 – Dawid reël die priesterlike en Levitiese bediening - Apr 26, 2013
- 1 Kronieke 25-26 – Dawid se reëlings vir ’n omvattende Levitiese bediening - Apr 29, 2013
- 1 Kronieke 27 – Dawid en die leiers in sy diens - Apr 30, 2013
- 1 Kronieke 28-29 – Dawid motiveer en mentor Salomo vir sy roeping om die tempel te bou - May 1, 2013
- WEEK 4: 2 Kronieke 1-9 - May 2, 2013
- 2 Kronieke 1 – Salomo as wyse man en vernuftige handelaar
- 2 Kronieke 2-5 – Salomo bou die tempel en God se teenwoordigheid vul Sy huis - May 3, 2013
- 2 Kronieke 6 – Salomo plaas gebed sentraal in die verhouding met God - May 6, 2013
- 2 Kronieke 7 – God sit die seël op die tempel-inwyding met hemelse vuur en Sy verskyning aan Salomo - May 7, 2013
- 2 Kronieke 8-9 – Salomo het nasionale en internasionale invloed - May 8, 2013
- WEEK 5: 2 Kronieke 10-16 - May 9, 2013
- Oorsig oor die konings waarvan die Kronis skryf
- 2 Kronieke 10 – Die ryk skeur weens die domastrantheid van Rehabeam
- 2 Kronieke 11-12 – Rehabeam tree met groot oorleg op, maar faal in sy primêre verhouding met God - May 10, 2013
- 2 Kronieke 13 – Abia bevestig Juda se steun op die Here se leierskap - May 13, 2013
- 2 Kronieke 14-15 – Asa doen wat reg is in die oë van die Here - May 14, 2013
- 2 Kronieke 16 – Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte - May 15, 2013
- WEEK 6: 2 Kronieke 17-24 - May 16, 2013
- 2 Kronieke 17-18 – Josafat regeer soos Dawid van ouds, maar begaan ’n oordeelsfout om by Agab betrokke te raak
- 2 Kronieke 19-20 – Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit en behaal ’n groot oorwinning met God se hulp - May 17, 2013
- 2 Kronieke 21 – Joram doen wat verkeerd is in die oë van die Here en word met oorlog en ’n ongeneeslike siekte gestraf - May 20, 2013
- 2 Kronieke 22-23 – Ahasia doen ook wat verkeerd is in die oë van die Here en sy ma Atalia vaar nie beter nie - May 21, 2013
- 2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here - May 22, 2013
- WEEK 7: 2 Kronieke 25-32 - May 23, 2013
- 2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie
- 2 Kronieke 26 – Ussia se voorspoed vang hom en hy raak te ingenome met homself - May 24, 2013
- 2 Kronieke 27-28 – Jotam hou koers, maar Agas verloor dit heeltemal - May 27, 2013
- 2 Kronieke 29-31 – Hiskia vra met sy hele hart na die wil van sy God en is voorspoedig - May 28, 2013
- 2 Kronieke 32 – Hiskia vertrou die Here in konflik en siekte en het berou van sy selfingenomenheid - May 29, 2013
- WEEK 8: 2 Kronieke 33-36 - May 30, 2013
- 2 Kronieke 33 – Manasse is ’n gruwelike koning wat berou het en tot bekering kom
- 2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek - May 31, 2013
- 2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid - Jun 3, 2013
- 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer - Jun 4, 2013