2 Kronieke 6 – Salomo plaas gebed sentraal in die verhouding met God

Die Kronis volg in dié gedeelte sy bron in 1 Konings 8 redelik getrou.  Dit bevat twee gesprekke, die een ‘n toespraak gerig aan die volk (vers 1-11) en die ander ’n gebed gerig aan die Here wat so pas Sy teenwoordigheid in ’n wolk bevestig het (vers 12-42).  Daarmee plaas Salomo gebed sentraal in die verhouding met God, iets wat selfs vir die vreemdelinge sal geld.

Salomo praat met die mense

Dit val op dat Salomo sê dat God in duisternis wil woon.  Daarmee word waarskynlik verwys na die donker wolk wat op die berg Sinaï met God se teenwoordigheid geassosieer is (Eks. 20:21) en wat so pas ook in die tempel gesien kon word.  In Moses se toespraak aan die einde van sy lewe verwys hy na die wolk van God se teenwoordigheid op Sinaï as ’n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het (Deut. 4:11; 5:22).  Ook Dawid verwys in ’n loflied oor die oorwinning wat God in nood gee, na God se verskyning as ’n gebeurtenis waaronder daar duisternis onder sy voete is (Ps. 18:10 soos ook in 2 Sam. 22:10 opgeneem).  God se teenwoordigheid het dus ’n misterieuse kant, uitgedruk met die donkerte van ’n wolk, iets heel anders as die duisternis van dié wat God nie wil dien nie, óf die duisternis van die doderyk (Ps. 88:13).  Vir God is die duisternis natuurlik soos lig (Ps. 139:12).

Salomo fokus in die res van sy toespraak op God se beloftes oor Dawid en Jerusalem en die rol wat hy nou daarin speel. Let op dat hy die ark spesifiek die ark van die verbond noem wat die verhouding met God – wat deur die ark gesimboliseer word – sentraal plaas.

Salomo bid tot God

Na dié seën van die gemeente, bid Salomo tot God namens die volk vanaf die groot brons “preekstoel”.

Hy bring God se beloftes in gebed na Hom toe en vra vir die langtermyn bevestiging daarvan. Dié beloftes is nie net dié van die verbondsverhouding met Israel nie, en die troon opeenvolging van Dawid se nageslag nie, maar ook van gebedsverhoring vir beide 1) vergifnis met oortredings en 2) regstelling met verontregting.

Let ook op dat dit gebid word vir die individuele gelowige sowel as die geloofsgemeenskap. Maar die kersie op die koek van dié gebed is vir my dat Salomo vir gebedsverhoring ook vra vir die vreemdeling wat bid! Daarmee bely hy dat God die God van almal is wat op aarde woon.

Geen wonder dat Jesus die tempel in die NT skoongemaak het van die handelaars omdat hulle van God se “plek van gebed” ’n handelshuis gemaak het (Mark 11:17: – Jesus haal uit Jes. 56:7 aan waar soos volg van die tempel gepraat word: “want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke.”).

Dit beteken ook dat as die kerk in die NT ná Pinkster van die tempel as primêre aanbiddingsplek skuif na die huis van die gelowiges (vgl. die beweging in Hand 2 tot 4 van tempel na huis) en daar van gelowiges se liggame as “tempel van die Heilige Gees” gepraat word (1 Kor. 6:19), gebed een van die primêre dinge is waardeur ons geestelike lewens gestruktureer moet word.

Dat Salomo dié gebede nie as outomaties verstaan nie, val nogal op, sowel as die feit dat hoewel hy baie maak van die bid “na die tempel toe”, hy vra dat God “uit die hemel sal antwoord”. God werk binne ‘n verhouding en vanuit sy eie domein, nie outomaties en aan óns wil onderworpe nie.  Die tempel is daarom net ’n simbool van God se teenwoordigheid. God is oral beskikbaar en teenwoordig.

Hoe mooi sê Salomo nie: “Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.” (6:41).

Die betekenis van beide hierdie toespraak aan die volk en die gebed tot God is dat die kern van God se betrokkenheid by mense in gebedsverhoring verwoord word. Dit is nogal paradigma-skuiwend, as ’n mens dít ter harte neem. Dit nooi ons uit om in ‘n ander tipe verhouding met God te staan, nie net vir jouself nie, maar vir die geloofsgemeenskap sowel as vir die wêreldgemeenskap.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: