Skip to main content

2 Kronieke 19-20 – Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit en behaal ’n groot oorwinning met God se hulp

Ons lees vandag twee hoofstukke:

  • In hoofstuk 19 lees ons van Josafat wat korrupsie beveg met regters van integriteit en
  • In hoofstuk 20 lees ons van die groot oorwinning wat hy met God se hulp behaal.


Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit – 2 Kron. 19

Josafat was regtig ’n koning wat omgegee het vir sy mense.  Dit is die motivering agter sy besoek aan sy mense regdeur sy grondgebied van Berseba in die suide tot die Efraimsberge in die noorde.  En die een sleutel hervorming wat hy in dié tyd aanbring is die aanstel van regters wat die regspraak “vir die Here” moes doen, omdat daar by Hom nie onreg, bevoordeling en korrupsie is nie.  Hulle uitsprake moes dus onpartydig wees waarin hulle volksgenote ook gewaarsku moes word om spesifiek nie teen die Here te oortree nie.

Die regters is aangestel uit die Leviete, priesters en familiehoofde met twee “hoofregters”, Amarja as hoëpriester wat die hoogste gesag (’n soort appèlhof) was vir alle sake van die Here, en Sebadja as hoogste gesag vir alle sake van die koning (wat internasionale sake sou insluit).  Hulle opdrag was om sterk te staan en hulle plig te doen in die verwagting dat die Here aan die kant van die goeie is.

Josafat behaal ’n groot oorwinning met God se hulp – 2 Kron. 20

Josafat se volgende uitdaging was die veldtog van die Mobiete, Ammoniete en Meüniete (van die Seïrberge – vers 23) teen Juda.  Let op dat die eerste ding wat Josafat doen, is om hulp by die Here te soek deur ’n vasdag regdeur sy grondgebied uit te roep.  Lees meer oor die doelstellings en waarde van vas in die stuk wat ek onlangs op voetspoor van Calvyn daaroor geskryf het.  Hier dien die vas as openbare gebedsvoorbereiding om die Here se hulp te vra.

Josafat se gebed is besonder treffend en toon interessant genoeg ’n paar ooreenkomste met die aanhef en eerste 3 gebede van die Ons Vader (Matt. 6:9-13).  Vergelyk:

  • “Ons Vader wat in die hemel is” met “Here, God van ons voorvaders, U is God” (vers 6)
  • “Laat u Naam geheilig word” met: ”vir u Naam ’n heiligdom gebou” (vers 8),
  • “Laat u koninkryk kom” met “U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies” (vers 6) en
  • “Laat u wil ook op die aarde geskied” met “Ons weet nie wat om te doen nie.  Ons oë is op U gerig” (vers 12).

Die Here antwoord hulle deurdat die Gees van die Here oor die Leviet Jagasiël uit die nageslag van Asaf kom en bevestig dat dié saak ’n saak vir die Here is.  Die opdrag aan die volk is om nie te veg nie: “neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle.”  Josafat eggo dit in sy opdrag aan die mense in die Tekoawoestyn, dieselfde plek vanwaar die skaapboer Amos as profeet optree, dat hulle hul vertroue in die Here hulle God moet stel.  Dan sal hulle vasstaan.

Twee verdere dinge staan uit: die oorleg wat Josafat deurentyd met die volk pleeg en die geweldige belangrike rol wat lofsang en gebed gespeel het, onder begeleiding van die Kehat- en die Koraggroepe wat die volk uit volle bors die Here laat prys het.  Daarom het hulle die plek waar die verwarring van God hulle teëstanders getref het, Lofdal genoem.

Soos Abia die oorlog teen Jerobeam met ’n preek ingelei het (2 Kron. 13 – die Here werk hier ook deur die priesters se trompette) en Samuel vroeër die Filistyne oorrompel het met kategese (1 Sam. 7 – die Here verwar hulle met donderweer), só wen die volk hier met lofsang en gebed.  Die Kronis wyt die oorwinning aan die rol van God self: “Die Here het onverwagte aanvalle bewerk …” wat verwarring gesaai het en die vyande teen mekaar laat draai het.  Ons weet uiteraard nie presies hoe dít gebeur het nie, maar die klem is op die Here wat oorwinning gee, terwyl die volk hulle verbintenis aan Hom en hulle verering aan Hom uitbasuin.

Dit is dieselfde beginsel wat ons regdeur die Skrif aantref: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees,” sê die Here, die Almagtige (Sag. 4:6).  Dit is die woorde wat vir die goewerneur Serubbabel, kleinseun van Jojagin, en daarom deel van die Dawid-geslag waaruit die Messias gebore sou word (Matt. 1:12-13), die moed gee om teen alle teenstand heen ná die ballingskap die tempel te laat herbou (vgl. ook Esra 2; Nehemia 7; Haggai 2) met Nehemia wat uiteindelik ook die stadsmure herbou het.

Hoofstuk 20 sluit af met ’n opsomming van Josafat se regering sowel as die verhaal van Josafat se mislukte vennootskap met Ahasia van Israel.  Dit verskil redelik skerp van 1 Kon. 22:41-51 se weergawe.  Die verskil in regeringstyd (25 in Kronieke, 22 in Konings) is waarskynlik omdat Josafat saam met sy pa, Asa, geregeer het in die tyd van sy siekte.  Die Kronis verwys ook nie na die tempelprostitute of die ander oorloë van Josafat nie, wat wel in Konings genoem word.

Die grootste verskil is egter in die weergawes van die mislukte vennootskap met die skepe, wat moontlik geharmonieer kan word as ’n mens die weergawe van Konings as ’n verdere poging tot samewerking sien ná die skipbreuk van die skepe uit die aanvanklike ooreenkoms, en Josafat nie die Here hieroor verder wou beproef nie.  Dit kan ook doodgewoon twee weergawes van dieselfde verhaal wees.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders