2 Kronieke 19-20 – Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit en behaal ’n groot oorwinning met God se hulp
Ons lees vandag twee hoofstukke:
- In hoofstuk 19 lees ons van Josafat wat korrupsie beveg met regters van integriteit en
- In hoofstuk 20 lees ons van die groot oorwinning wat hy met God se hulp behaal.
Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit – 2 Kron. 19
Josafat was regtig ’n koning wat omgegee het vir sy mense. Dit is die motivering agter sy besoek aan sy mense regdeur sy grondgebied van Berseba in die suide tot die Efraimsberge in die noorde. En die een sleutel hervorming wat hy in dié tyd aanbring is die aanstel van regters wat die regspraak “vir die Here” moes doen, omdat daar by Hom nie onreg, bevoordeling en korrupsie is nie. Hulle uitsprake moes dus onpartydig wees waarin hulle volksgenote ook gewaarsku moes word om spesifiek nie teen die Here te oortree nie.
Die regters is aangestel uit die Leviete, priesters en familiehoofde met twee “hoofregters”, Amarja as hoëpriester wat die hoogste gesag (’n soort appèlhof) was vir alle sake van die Here, en Sebadja as hoogste gesag vir alle sake van die koning (wat internasionale sake sou insluit). Hulle opdrag was om sterk te staan en hulle plig te doen in die verwagting dat die Here aan die kant van die goeie is.
Josafat behaal ’n groot oorwinning met God se hulp – 2 Kron. 20
Josafat se volgende uitdaging was die veldtog van die Mobiete, Ammoniete en Meüniete (van die Seïrberge – vers 23) teen Juda. Let op dat die eerste ding wat Josafat doen, is om hulp by die Here te soek deur ’n vasdag regdeur sy grondgebied uit te roep. Lees meer oor die doelstellings en waarde van vas in die stuk wat ek onlangs op voetspoor van Calvyn daaroor geskryf het. Hier dien die vas as openbare gebedsvoorbereiding om die Here se hulp te vra.
Josafat se gebed is besonder treffend en toon interessant genoeg ’n paar ooreenkomste met die aanhef en eerste 3 gebede van die Ons Vader (Matt. 6:9-13). Vergelyk:
- “Ons Vader wat in die hemel is” met “Here, God van ons voorvaders, U is God” (vers 6)
- “Laat u Naam geheilig word” met: ”vir u Naam ’n heiligdom gebou” (vers 8),
- “Laat u koninkryk kom” met “U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies” (vers 6) en
- “Laat u wil ook op die aarde geskied” met “Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig” (vers 12).
Die Here antwoord hulle deurdat die Gees van die Here oor die Leviet Jagasiël uit die nageslag van Asaf kom en bevestig dat dié saak ’n saak vir die Here is. Die opdrag aan die volk is om nie te veg nie: “neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle.” Josafat eggo dit in sy opdrag aan die mense in die Tekoawoestyn, dieselfde plek vanwaar die skaapboer Amos as profeet optree, dat hulle hul vertroue in die Here hulle God moet stel. Dan sal hulle vasstaan.
Twee verdere dinge staan uit: die oorleg wat Josafat deurentyd met die volk pleeg en die geweldige belangrike rol wat lofsang en gebed gespeel het, onder begeleiding van die Kehat- en die Koraggroepe wat die volk uit volle bors die Here laat prys het. Daarom het hulle die plek waar die verwarring van God hulle teëstanders getref het, Lofdal genoem.
Soos Abia die oorlog teen Jerobeam met ’n preek ingelei het (2 Kron. 13 – die Here werk hier ook deur die priesters se trompette) en Samuel vroeër die Filistyne oorrompel het met kategese (1 Sam. 7 – die Here verwar hulle met donderweer), só wen die volk hier met lofsang en gebed. Die Kronis wyt die oorwinning aan die rol van God self: “Die Here het onverwagte aanvalle bewerk …” wat verwarring gesaai het en die vyande teen mekaar laat draai het. Ons weet uiteraard nie presies hoe dít gebeur het nie, maar die klem is op die Here wat oorwinning gee, terwyl die volk hulle verbintenis aan Hom en hulle verering aan Hom uitbasuin.
Dit is dieselfde beginsel wat ons regdeur die Skrif aantref: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees,” sê die Here, die Almagtige (Sag. 4:6). Dit is die woorde wat vir die goewerneur Serubbabel, kleinseun van Jojagin, en daarom deel van die Dawid-geslag waaruit die Messias gebore sou word (Matt. 1:12-13), die moed gee om teen alle teenstand heen ná die ballingskap die tempel te laat herbou (vgl. ook Esra 2; Nehemia 7; Haggai 2) met Nehemia wat uiteindelik ook die stadsmure herbou het.
Hoofstuk 20 sluit af met ’n opsomming van Josafat se regering sowel as die verhaal van Josafat se mislukte vennootskap met Ahasia van Israel. Dit verskil redelik skerp van 1 Kon. 22:41-51 se weergawe. Die verskil in regeringstyd (25 in Kronieke, 22 in Konings) is waarskynlik omdat Josafat saam met sy pa, Asa, geregeer het in die tyd van sy siekte. Die Kronis verwys ook nie na die tempelprostitute of die ander oorloë van Josafat nie, wat wel in Konings genoem word.
Die grootste verskil is egter in die weergawes van die mislukte vennootskap met die skepe, wat moontlik geharmonieer kan word as ’n mens die weergawe van Konings as ’n verdere poging tot samewerking sien ná die skipbreuk van die skepe uit die aanvanklike ooreenkoms, en Josafat nie die Here hieroor verder wou beproef nie. Dit kan ook doodgewoon twee weergawes van dieselfde verhaal wees.
by Chris van Wyk
View all posts in this series
- Bybelskool oor 1 en 2 Kronieke in die tweede kwartaal 2013 - Apr 10, 2013
- Bybelskool oor Kronieke - Apr 11, 2013
- Inleiding op Kronieke
- Geslagsregisters in Kronieke
- Kaarte vir Kronieke
- Program vir leeswerk vir Kronieke
- Leesmetode vir Kronieke
- WEEK 1: 1 Kronieke 1-9
- 1 Kronieke 1 – Identiteit gewortel in Adam en Abraham
- 1 Kronieke 2:1-4:23 – Identiteit gewortel in Juda en Dawid - Apr 12, 2013
- 1 Kronieke 4:24-5:26 – Verspilde verhouding met God lei tot wegvoering - Apr 15, 2013
- 1 Kronieke 6-7 – Die prioriteit van geestelik-godsdienstige leiding - Apr 16, 2013
- 1 Kronieke 8-9 – Die bevestiging van Jerusalem as Judese eerder as Benjaminitiese gebied - Apr 17, 2013
- WEEK 2: 1 Kronieke 10-21 - Apr 18, 2013
- 1 Kronieke 10 – Saul se gebrek aan gehoorsaamheid en gebedsafhanklikheid
- 1 Kronieke 11-12 – Dawid word deur God en volk as koning gevestig - Apr 19, 2013
- 1 Kronieke 13-15 – Dawid raadpleeg die volk en God in die proses om die ark na Jerusalem te bring - Apr 22, 2013
- 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God - Apr 23, 2013
- 1 Kronieke 18-21 – Die Here help Dawid net waar hy gaan - Apr 24, 2013
- WEEK 3: 1 Kronieke 22-29 - Apr 25, 2013
- 1 Kronieke 22 – Dawid berei Salomo nougeset voor vir die bou van die tempel
- 1 Kronieke 23-24 – Dawid reël die priesterlike en Levitiese bediening - Apr 26, 2013
- 1 Kronieke 25-26 – Dawid se reëlings vir ’n omvattende Levitiese bediening - Apr 29, 2013
- 1 Kronieke 27 – Dawid en die leiers in sy diens - Apr 30, 2013
- 1 Kronieke 28-29 – Dawid motiveer en mentor Salomo vir sy roeping om die tempel te bou - May 1, 2013
- WEEK 4: 2 Kronieke 1-9 - May 2, 2013
- 2 Kronieke 1 – Salomo as wyse man en vernuftige handelaar
- 2 Kronieke 2-5 – Salomo bou die tempel en God se teenwoordigheid vul Sy huis - May 3, 2013
- 2 Kronieke 6 – Salomo plaas gebed sentraal in die verhouding met God - May 6, 2013
- 2 Kronieke 7 – God sit die seël op die tempel-inwyding met hemelse vuur en Sy verskyning aan Salomo - May 7, 2013
- 2 Kronieke 8-9 – Salomo het nasionale en internasionale invloed - May 8, 2013
- WEEK 5: 2 Kronieke 10-16 - May 9, 2013
- Oorsig oor die konings waarvan die Kronis skryf
- 2 Kronieke 10 – Die ryk skeur weens die domastrantheid van Rehabeam
- 2 Kronieke 11-12 – Rehabeam tree met groot oorleg op, maar faal in sy primêre verhouding met God - May 10, 2013
- 2 Kronieke 13 – Abia bevestig Juda se steun op die Here se leierskap - May 13, 2013
- 2 Kronieke 14-15 – Asa doen wat reg is in die oë van die Here - May 14, 2013
- 2 Kronieke 16 – Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte - May 15, 2013
- WEEK 6: 2 Kronieke 17-24 - May 16, 2013
- 2 Kronieke 17-18 – Josafat regeer soos Dawid van ouds, maar begaan ’n oordeelsfout om by Agab betrokke te raak
- 2 Kronieke 19-20 – Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit en behaal ’n groot oorwinning met God se hulp - May 17, 2013
- 2 Kronieke 21 – Joram doen wat verkeerd is in die oë van die Here en word met oorlog en ’n ongeneeslike siekte gestraf - May 20, 2013
- 2 Kronieke 22-23 – Ahasia doen ook wat verkeerd is in die oë van die Here en sy ma Atalia vaar nie beter nie - May 21, 2013
- 2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here - May 22, 2013
- WEEK 7: 2 Kronieke 25-32 - May 23, 2013
- 2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie
- 2 Kronieke 26 – Ussia se voorspoed vang hom en hy raak te ingenome met homself - May 24, 2013
- 2 Kronieke 27-28 – Jotam hou koers, maar Agas verloor dit heeltemal - May 27, 2013
- 2 Kronieke 29-31 – Hiskia vra met sy hele hart na die wil van sy God en is voorspoedig - May 28, 2013
- 2 Kronieke 32 – Hiskia vertrou die Here in konflik en siekte en het berou van sy selfingenomenheid - May 29, 2013
- WEEK 8: 2 Kronieke 33-36 - May 30, 2013
- 2 Kronieke 33 – Manasse is ’n gruwelike koning wat berou het en tot bekering kom
- 2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek - May 31, 2013
- 2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid - Jun 3, 2013
- 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer - Jun 4, 2013