Skip to main content

2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie

Die Kronis gee sy oordeel oor koning Amasia reeds in die tweede vers van dié hoofstuk: “Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie met sy hele hart nie.”  Telkens was daar aspekte van sy regering wat ’n mens laat frons en wonder hoe hy dinge só verkeerd kon kry.

Aan die eenkant begin sy regering met positiewe beskrywings, bv. die verwysing na sy ma, Jehoaddan, ’n vrou van Jerusalem, waarmee bevestig word dat die gevaar van die Agabshuis afgeweer is.  Hy bewing homself in sy wraak op sy pa se moordenaars deur hulle kinders te spaar, in gehoorsaamheid aan die wet van Moses (Deut. 24:16) soos Jeremia (Jer. 31:29-31) en Esegiël (Eseg. 18:1,19-24) dit ook later sou eggo.

Terloops: daar was ook ’n ander tradisie in die OT wat met korporatiewe of familie-skuld gewerk het, soos ons ook lees in die wet van Moses, spesifiek in die Tien Gebooie (Deut. 5:9; Eks 20:5), hoewel dit darem ook daar gekontrasteer word met die omvangrykheid van God se korporatiewe genade wat deur die geslagte en families werk.  God se genade is groter as sy oordeel.  Dit is duidelik dat Josua hom aan dié reël in die Tien Gebooie gesteur het toe hy Akan en sy familie uitgewis het na Akan se sonde (Jos 7:24).  Amasia het hom weer aan dié ander tradisie van individuele skuld gesteur (2 Kron. 25:4), ’n tradisie wat uiteindelik die voorrang sou geniet en in die NT die botoon sou voer.

Aan die ander kant oorheers die negatiewe en veral in drie gebeure.

  • Hy soek toenadering tot die noordelike ryk deur soldate van hulle te huur wat die gevaar van die Agabshuis weer onmiddellik in spel gebring het.
  • Hy kies om op heel irrasionele wyse die onnosel ding te doen om die gode van die Edomiete te begin aanbid na sy oorwinning en strooptog teen hulle.  Die Here gee hom oorwinning en hy aanbid die gode van dié oorwonne vyand.  Hoe tragies!
  • En hy werp hom in ’n onlogiese en onvolwasse oorlog teen die noordryk (hy het net tevore hulle soldate gehuur!) waarin hy liederlik die onderspit delf en in oneer teruggebring word na Jerusalem deur sy teenstander Joas van Israel.

Dat die Here ’n man van God in sy eerste oorlog na Amasia stuur om hom te oorreed om nie te veg nie, of ten minste nie met die soldate van Israel saam te span nie, getuig van God se groot en eintlik onnaspeurbare genade.  Dieselfde gebeur in die tweede oorlog met die profeet wat hom kom aanspreek, maar wat Amasia tot sy skande stilmaak.  Die Here gebruik uiteindelik selfs die koning van Israel, Joas, om Amasia van sy oorlogsugtigheid te probeer afsien: “Bly liewer by die huis.”!

Maar Amasia volg sy eie harde onbuigsame kop en kom sterk tweede.  Hy luister net nie en delf daarom telkens die onderspit en word uiteindelik deur ’n sameswering van sy eie mense om die lewe gebring.

Die verhaal word min of meer net so in Konings ook aangetref, hoewel die verhaal van die oorlog teen die Edomiete baie meer uitgebreid in Kronieke vertel word as in Konings.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar