Skip to main content

1 Kronieke 8-9 – Die bevestiging van Jerusalem as Judese eerder as Benjaminitiese gebied

Hierdie twee hoofstukke behels die volgende vier geslagsregisters:

  • Die stam Benjamin – 8:1-40.
  • Die Israelitiese families in Jerusalem na die ballingskap – 9:1-9.
  • Die priesters en Leviete in Jerusalem – 9:10-34.
  • Die afkoms en geslag van Saul – 9:35-44.

Die stam Benjamin – 8:1-40

Die sirkelgang van die Kronis se beskrywing van die stamme van Israel in hoofstukke 2-8 word afgesluit met die verdere beskrywing van die stam van Benjamin, die stam wat net noord van Juda gelê het.

Benjamin se afstammelinge is reeds in die vorige hoofstuk genoem, maar word hier meer volledig aangegee om as inleiding tot die geskiedenis van Saul te dien sowel as om die keuse van Jerusalem as hoof- en tempelstad van die ná-ballingskapse Judese gemeenskap te bevestig wat tradisioneel met Benjamin se stamgebied geassosieer was (Jos. 18:28; 1 Kron. 8:28).

Terloops: As jy die patroon van die Kronis se beskrywing volg op ‘n kaart sal jy sien dat sy beskrywing merendeels anti-kloksgewys in ‘n sirkel aangebied word.  Hy het met Juda begin meer in die suide (hfst. 2-4:23), en toe na Simeon geskuif in die verre suide.  Daarna het hy anti-kloksgewys van suid na noord die drie stamme aan die oostekant van Israel (ook oos van die Jordaan) beskrywe: Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse (hfst. 4:24 – hfst. 5).  Daarna het hy aandag gegee aan die stam van Levi wat in die sentrum van dié geslagsregisters staan en wat stede reg oor die hele Israelitiese grondgebied gehad het (hfst. 6).  Die laaste stamme van Israel het vervolgens aan die orde gekom: Issaskar en Naftali in die noorde – tussen die halwe stam van Manasse in die noord-ooste en Aser in die noord-weste –en Manasse en Efraim aan die westekant van die land, met net Benjamin wat nie in die patroon ingepas is nie.  Daarna het hy die patroon verder verbreek deur Aser wat heel noord-wes lê, tweede laaste te beskrywe (alles nog in hfst. 7), om laastens die sirkel te voltooi met sy verdere beskrywing van Benjamin wat net bokant Juda lê (hfst. 8).  Dan en Sebulon is in hierdie beskrywing uitgelaat, soos ons reeds gesien het.

Die geslagsregisters van Benjamin en Saul toon ooreenkomste met materiaal uit Numeri, Josua en Samuel, maar ‘n vergelyking sal, soos met die vorige hoofstuk se 6 stamme, te tegnies en akademies van aard vir ons doel wees.  Hier word bv. meer seuns van Benjamin aangegee as in hfst. 7 en van die name verskil.  Ek volstaan met drie opmerkings:

  • Die Managat waarheen die inwoners van Geba weggevoer is kan óf die Israelitiese dorp Managat wees wat op ‘n interne struweling sou dui óf die Edomitiese dorp Managat wees wat op ‘n stryd met Edom veronderstel.  Laasgenoemde is meer waarskynlik omdat die werkwoord “weggevoer” gewoonlik met ballingskap geassosieer word.
  • Let op dat Sagarajim van Benjamin eers in Moabitiese gebied kinders gekry het, die gebied vanwaar Rut gekom het.  En dit nádat hy van sy vroue, Gusim en Baära, geskei is (of hulle verstoot het – die Hebreeuse woord kan ook dít beteken).  Sonder dat die redes vir sy egskeiding (of verstoting) uitgespel word, het hy weer sy voete in Moab gevind en kinders gehad by Godes en Gusim.  Indien dié twee Gusims dieselfde persoon is, veronderstel dit dat hulle twee weer by mekaar uitgekom het, wat moontlik beteken dat hy haar eerder verstoot as geskei het, omdat daar streng wette teen hertrou was.  Ek weet ek spekuleer, maar dit sou nogal ‘n mooi storie wees!  Nietemin het hy uiteindelik ‘n groot nageslag gehad wat nie net dorpe gebou het nie, maar ook hulle vyand op die vlug laat slaan het.
  • Die nageslag van Saul wat in vers 33 en verder beskrywe word, sal weer herhaal word in hoofstuk 9.

Die Israelitiese families in Jerusalem na die ballingskap – 9:1-9

Die fokus op die identiteit van die na-ballingskap gemeenskap word afgesluit met ‘n lys van die Israelitiese en priesterlike en Levitiese families in hulle geslagte.  Net ’n kort opmerking oor die troubreuk wat die gevolg vir die ballingskap is, word as inleiding gemaak, waarna die hervestiging in Jerusalem aan die orde kom.

Hierdie lys van Israelitiese families sowel as die lys van priesters en Leviete hierna kom grootliks ooreen met die soortgelyke lys in Nehemia 11:1-24.  Let op dat die gewone families wat hier genoem word nie net uit die stam van Juda gekom het nie, maar ook uit Benjamin, Efraim en Manasse.  Maar Jerusalem sou hierna nie meer primêr aan Benjamin gekoppel word nie, maar aan die ná-ballingskapse Judese gemeenskap, soos dit alreeds begin gebeur het met die koningskap van Dawid en sy keuse van Jerusalem as hoofstad.

Die priesters en Leviete in Jerusalem – 9:10-34

Die priesterlike en Levitiese families word met meer detail weergegee as die gewone Israeliete se families.  Waar daar egter net ‘n kort mededeling oor die bekwaamheid van die priesters vir hulle werk gemaak word, word meer uitvoerig oor die drie Levitiese groepe geskryf: die sangleiers (net Merari se nageslag word interessant genoeg hier genoem), die poortwagte met die vier hoofwagte en dan laastens die ander Leviete wat vir ’n verskeidenheid ander take verantwoordelik was.

Dawid het 4 000 poortwagte aangestel (1 Kron. 23:5) en hulle het uitgebreide verantwoordelikhede gehad wat selfs die beveiliging van die stadspoorte ingesluit het.  Hulle het die volk gehelp om op die regte wyse voor God te verskyn (Ps. 15 en 24) reg van die woestyntyd af waar hulle tente rondom die tabernakel opgeslaan moes word ter wille van beskerming (Numeri 1:50-53).  Dawid (en Samuel voor hom – let op dat Samuel ’n siener, d.w.s. ‘n profeet genoem word) het dus by ’n ou tradisie aangesluit en dit nuut ingeklee met die oog op die nuwe werklikheid rondom die tempel wat Salomo sou bou.  En dié reëling het die toets van die tyd deurstaan, selfs ná die ballingskap met die heropbou van die geloofsgemeenskap terug in Jerusalem.

Let ook op die kort opmerking oor Pinehas dat die Here by hom was.  Dít is na alles waarom die tempel en die diens in die tempel gegaan het, die Here en sy teenwoordigheid by die mense.  Pinehas het dié verantwoordelikheid op voortreflike wyse nagekom en verdien daarom die beskrywing.

Laastens word dan aandag gegee aan die ander take van die Leviete wat die hantering van die offergereedskap sowel as die meel, wyn, olie, wierook en speserye (wat ook vir salf gebruik is) wat benodig is, ingesluit het.  Veral die offerbrood was belangrik omdat dit op die Sabbat gebruik is.

Let ook op dat dié mense volledig afgesonder is vir hulle take.  Sal dit nie wonderlik wees as koorlede en sangleiers hulle volledig kon toespits op die begeleiding van die geloofsgemeenskap in sang en liturgie vandag nie. ’n Mens kan droom!

Die afkoms en geslag van Saul – 9:35-44

Die geslagsregister van Saul word weer hier aangedui, waarskynlik as inleiding tot die verhaal van sy dood in die volgende hoofstuk.  Dit kom ooreen met die soortgelyke lys in hoofstuk 8, maar sonder die laaste twee verse (8:39-40).

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders