2 Kronieke 16 – Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte

In hierdie hoofstuk werk die Kronis met 3 episodes van Asa se lewe waarvan ons 2 ook in 1 Konings 15 vind, wel met beduidende verskille.

  • Asa van Juda word bedreig deur koning Baesa van Israel en sluit teen die Here se sin ’n verdrag met die Arameërs – 2 Kron. 16:1-6 (vgl. 1 Kon. 15:17-22)
  • Asa word deur die siener Ganani bestraf tot Asa se groot ontsteltenis en oordadige optrede teen Ganani– 2 Kron. 16:7-10
  • Asa raak siek, maar raadpleeg nie die Here nie en sterf na 41 jaar se koningskap – 2 Kron. 16:11-14 (vgl. 1 Kon. 15:24)

Asa van Juda word bedreig deur koning Baesa van Israel en sluit teen die Here se sin ’n verdrag met die Arameërs – 2 Kron. 16:1-6

Vyf jaar voor Asa se dood kry hy moeilikheid met koning Baesa van Israel wat onder andere inhou dat die stad Rama, net ’n paar kilometer noord van Jerusalem, in ’n vesting omskep word om beheer uit te oefen oor die beweging van mense uit Juda na Israel en van Israel na Juda.  Met die hervormings wat Asa aangebring het, het daar immers ’n hele klomp immigrante by Juda aangesluit en Baesa wou dit verhoed.  Hoe ironies en tragies is dieselfde proses nie vandag in die beheer wat in die wedersydse beweging in Israel tussen die Israeli’s en die Palestyne toegepas word nie!

Inplaas daarvan om die Here te raadpleeg,  besluit Asa om eerder ’n politieke alliansie met Ben-Hadad van die Arameërs aan te gaan. Hoewel dit geslaagd was en Baesa sy planne laat vaar het, het dit die gramskap van die Here laat ontvlam.

Die inligting kom ooreen met dié van 1 Kon. 15:17-22 met kleiner verskille.

Asa word deur die siener Ganani bestraf tot Asa se groot ontsteltenis en oordadige optrede teen Ganani– 2 Kron. 16:7-10

Die siener Ganani neem Asa erg kwalik omdat hy sy vertroue van God af na ’n politieke alliansie verplaas het en voorspel dat Asa  nie weer sonder oorlog sou wees nie.  Asa is egter briesend vir Ganani en sluit hom op in die tronk.  Dit lei daartoe dat hy aan die einde van sy regering nie meer met oorleg en wysheid optree nie en, soos die Kronis sê, “begin om sommige mense sleg te behandel.”

Wat egter vir my uitstaan tussen die intriges heen, is die beskrywing van God deur Ganani wat ’n baie belangrike beginsel van God se betrokkenheid in die wêreld uitspel: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron. 16:9).

Dié beskrywing van God kom op ’n hele paar plekke in die Bybel voor en teken God in sy alsiendheid.  ‘n Paar Psalms het dié gedagte, soms in ‘n negatiewe betekenis – bv. Ps 14:2; 33:14 – maar ook in ‘n positiewe betekenis soos in Kronieke: bv. Ps 106:44. Jesaja praat ook ‘n keer daarvan dat die Here sy oë juis sal toemaak vir gebede van dié wat nie doen wat Hy vra nie – Jes. 1:15. Habakuk gebruik later dié gedagte om God se optrede in onreg te motiveer, want volgens hom is God se oë te rein om te kyk na wat verkeerd gedoen word.  Hy kan eintlik nie anders om op te tree as Hy onreg sien nie (Hab 1:13). Interessant genoeg word die funksie van God se sig in Esegiël aan die gerubs gekoppel. Hulle lywe, rûe, hande, en vlerke en selfs hulle 4 wiele (wat dit ook al simboliseer!) is “rondom vol oë” soos Esegiël dit in sy gesig beskrywe (Eseg 10:12). Ook Sagaria verwys na die sewe oë van Jahwe op die klip wat die hoëpriester Jesua kry (Sag 3:9; 4:10) wat God se alsiendheid oor die hele wêreld voorstel.

God se alsiendheid word dus hier as motivering vir vertroue op Hom gebruik.  God sien oral raak en kan dus vertrou word om op te tree as Hy dinge sien wat nie reg is nie.  Trouens, sy oë is te rein om iets te sien wat verkeerd is en dan nie op te tree nie.  Iets om oor na te dink en jou eie te maak!

Asa raak siek, maar raadpleeg nie die Here nie en sterf na 41 jaar se koningskap – 2 Kron. 16:11-14

As gevolg van die woede oor Ganani wat vir hom die waarheid kom vertel het, en omdat dit natuurlik makliker is om die boodskapper te skiet as om tot bekering te kom, verhard Asa sy hart en met sy siekte raadpleeg hy wel die dokters, maar nie weer die Here nie (vgl. 1 Kon. 15:24).  Hoe tragies!

Natuurlik is die Bybel nie negatief oor dokters as sodanig nie, maar wel wanneer die Here nie in alles geraadpleeg word nie, soos hier in Kronieke.  God is immers die groot Geneesheer in beide Testamente (Ps. 41:4; 103:3; Mark 3:10).  Daarom kan die profeet Jesaja in opdrag van die Here ’n natuurlike geneesmiddel aanbeveel vir koning Hiskia (Jes. 38:21) en van die ander profete dokters ook as verwysingsbron gebruik (Jer. 8:22; Sag 11:16) hoewel ’n mens nie uit die verwysings kan aflei presies hoe hierdie twee profete oor dokters in die algemeen gedink het nie.  Jesus vergelyk egter Homself en sy bediening met dié van ‘n dokter (Mark 2:17) wat ‘n positiewe betekenis aan die mediese professie gee. Die evangelieskrywer Lukas was ook inderdaad ’n dokter vir wie Paulus baie lief was (Kol 4:14), wat die algemene positiwiteit in die NT teenoor dokters bevestig.

Asa word in ’n graf begrawe wat hyself laat regmaak het en met groot eerbied te ruste gelê in afwagting van sy seun Josafat wat die troon sou bestyg.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: