Skip to main content

2 Kronieke 16 – Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte

In hierdie hoofstuk werk die Kronis met 3 episodes van Asa se lewe waarvan ons 2 ook in 1 Konings 15 vind, wel met beduidende verskille.

  • Asa van Juda word bedreig deur koning Baesa van Israel en sluit teen die Here se sin ’n verdrag met die Arameërs – 2 Kron. 16:1-6 (vgl. 1 Kon. 15:17-22)
  • Asa word deur die siener Ganani bestraf tot Asa se groot ontsteltenis en oordadige optrede teen Ganani– 2 Kron. 16:7-10
  • Asa raak siek, maar raadpleeg nie die Here nie en sterf na 41 jaar se koningskap – 2 Kron. 16:11-14 (vgl. 1 Kon. 15:24)

Asa van Juda word bedreig deur koning Baesa van Israel en sluit teen die Here se sin ’n verdrag met die Arameërs – 2 Kron. 16:1-6

Vyf jaar voor Asa se dood kry hy moeilikheid met koning Baesa van Israel wat onder andere inhou dat die stad Rama, net ’n paar kilometer noord van Jerusalem, in ’n vesting omskep word om beheer uit te oefen oor die beweging van mense uit Juda na Israel en van Israel na Juda.  Met die hervormings wat Asa aangebring het, het daar immers ’n hele klomp immigrante by Juda aangesluit en Baesa wou dit verhoed.  Hoe ironies en tragies is dieselfde proses nie vandag in die beheer wat in die wedersydse beweging in Israel tussen die Israeli’s en die Palestyne toegepas word nie!

Inplaas daarvan om die Here te raadpleeg,  besluit Asa om eerder ’n politieke alliansie met Ben-Hadad van die Arameërs aan te gaan. Hoewel dit geslaagd was en Baesa sy planne laat vaar het, het dit die gramskap van die Here laat ontvlam.

Die inligting kom ooreen met dié van 1 Kon. 15:17-22 met kleiner verskille.

Asa word deur die siener Ganani bestraf tot Asa se groot ontsteltenis en oordadige optrede teen Ganani– 2 Kron. 16:7-10

Die siener Ganani neem Asa erg kwalik omdat hy sy vertroue van God af na ’n politieke alliansie verplaas het en voorspel dat Asa  nie weer sonder oorlog sou wees nie.  Asa is egter briesend vir Ganani en sluit hom op in die tronk.  Dit lei daartoe dat hy aan die einde van sy regering nie meer met oorleg en wysheid optree nie en, soos die Kronis sê, “begin om sommige mense sleg te behandel.”

Wat egter vir my uitstaan tussen die intriges heen, is die beskrywing van God deur Ganani wat ’n baie belangrike beginsel van God se betrokkenheid in die wêreld uitspel: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron. 16:9).

Dié beskrywing van God kom op ’n hele paar plekke in die Bybel voor en teken God in sy alsiendheid.  ‘n Paar Psalms het dié gedagte, soms in ‘n negatiewe betekenis – bv. Ps 14:2; 33:14 – maar ook in ‘n positiewe betekenis soos in Kronieke: bv. Ps 106:44. Jesaja praat ook ‘n keer daarvan dat die Here sy oë juis sal toemaak vir gebede van dié wat nie doen wat Hy vra nie – Jes. 1:15. Habakuk gebruik later dié gedagte om God se optrede in onreg te motiveer, want volgens hom is God se oë te rein om te kyk na wat verkeerd gedoen word.  Hy kan eintlik nie anders om op te tree as Hy onreg sien nie (Hab 1:13). Interessant genoeg word die funksie van God se sig in Esegiël aan die gerubs gekoppel. Hulle lywe, rûe, hande, en vlerke en selfs hulle 4 wiele (wat dit ook al simboliseer!) is “rondom vol oë” soos Esegiël dit in sy gesig beskrywe (Eseg 10:12). Ook Sagaria verwys na die sewe oë van Jahwe op die klip wat die hoëpriester Jesua kry (Sag 3:9; 4:10) wat God se alsiendheid oor die hele wêreld voorstel.

God se alsiendheid word dus hier as motivering vir vertroue op Hom gebruik.  God sien oral raak en kan dus vertrou word om op te tree as Hy dinge sien wat nie reg is nie.  Trouens, sy oë is te rein om iets te sien wat verkeerd is en dan nie op te tree nie.  Iets om oor na te dink en jou eie te maak!

Asa raak siek, maar raadpleeg nie die Here nie en sterf na 41 jaar se koningskap – 2 Kron. 16:11-14

As gevolg van die woede oor Ganani wat vir hom die waarheid kom vertel het, en omdat dit natuurlik makliker is om die boodskapper te skiet as om tot bekering te kom, verhard Asa sy hart en met sy siekte raadpleeg hy wel die dokters, maar nie weer die Here nie (vgl. 1 Kon. 15:24).  Hoe tragies!

Natuurlik is die Bybel nie negatief oor dokters as sodanig nie, maar wel wanneer die Here nie in alles geraadpleeg word nie, soos hier in Kronieke.  God is immers die groot Geneesheer in beide Testamente (Ps. 41:4; 103:3; Mark 3:10).  Daarom kan die profeet Jesaja in opdrag van die Here ’n natuurlike geneesmiddel aanbeveel vir koning Hiskia (Jes. 38:21) en van die ander profete dokters ook as verwysingsbron gebruik (Jer. 8:22; Sag 11:16) hoewel ’n mens nie uit die verwysings kan aflei presies hoe hierdie twee profete oor dokters in die algemeen gedink het nie.  Jesus vergelyk egter Homself en sy bediening met dié van ‘n dokter (Mark 2:17) wat ‘n positiewe betekenis aan die mediese professie gee. Die evangelieskrywer Lukas was ook inderdaad ’n dokter vir wie Paulus baie lief was (Kol 4:14), wat die algemene positiwiteit in die NT teenoor dokters bevestig.

Asa word in ’n graf begrawe wat hyself laat regmaak het en met groot eerbied te ruste gelê in afwagting van sy seun Josafat wat die troon sou bestyg.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda