1 Kronieke 25-26 – Dawid se reëlings vir ’n omvattende Levitiese bediening

Hierdie twee hoofstukke fokus op Dawid se reëlings in terme van die liturgiese en profetiese funksies van die drie Levitiese bedieningsgroepe (hfst. 25) en die Leviete se funksies as poortwagte, toesighouers oor die tempelskatte en handhawers van die orde en regspraak (hfst. 26).  Die Leviete het regtig ’n omvattende bediening gehad wat selfs sekere meer “sekulêre” funksies ingesluit het.

Dawid reël die liturgiese en profetiese funksies van die Leviete

Hoofstuk 25 fokus op die drie Levitiese bedieningsgroepe uit die Kehatgroep, die bekende groepe van Asaf, Heman en Jedutun (waarskynlik ’n ander naam vir Etan).  Interessant genoeg word hierdie keer bygevoeg dat hulle mense was wat onder begeleiding van die liere, harpe en simbale as profete opgetree het.  Hulle het dus nie net ’n funksie in terme van die begeleiding van die liturgie in die tempel en die geloofsgemeenskap nie, maar ook ’n funksie in terme van die begeleiding van die geloofsgemeenskap om God se wil te hoor en te interpreteer.

Hulle het dus in ’n spesiale verhouding tot God gestaan, soos dit van die Skrifprofete (bv. Jesaja, Jeremia en Esegiël) en die profeteskole waar was (bv. Elisa).  Die Asafgroep  word hierin uitgesonder as profeties in diens van die koning, die Jedutungroep as profeties in die dank en lof aan die Here en van die Hemangroep dat Heman ’n siener was wat die koning in godsdienstige sake begelei het.

Die droom van God in Eksodus begin hier dus ’n al hoe groter vorm aanneem: As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.” (Eks. 19:5–6).  Ook Moses het sy versugting na dié spesiale verhouding met God uitgespreek: Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” (Num. 11:29).

Dit is ’n droom wat uiteindelik in die NT volledig waar sou word: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.” (1 Pet. 2:9).  Let op hoe die NT ook die profetiese funksie van gelowiges by die koninklike en priesterlike byvoeg: “die verlossingsdade moet verkondig”.

Wat van die Hemangroep egter nog meer verrassend is vir my, is dat hulle waarskynlik vroue gebruik het in die tempeldiens.  Daarom staan daar, ná Heman se veertien seuns en drie dogters gelys is: “Hulle het almal onder leiding van hulle pa die sang in die huis van die Here begelei …” (1 Kron. 26:6).  Omdat Heman ’n siener was en groot aansien weens sy baie seuns geniet het, het dit hom waarskynlik die vryheid gegee om sy dogters ook in te span, ’n man so na my hart!

Daarom praat Ps 68:26-27 van meisies wat tamboeryne slaan: vooraan die sangers, agteraan dié wat snaarinstrumente speel, en tussenin, meisies wat tamboeryne slaanHulle loof God in kore, die nasate van Israel loof die Here.” Die gebruik om ná die ballingskap al hoe meer vroue in die tempel as sangeresse te gebruik (Esra 2:65; Neh. 7:67) kom dus van dié ontwikkeling van Heman af. Hy was nie net sy tyd vooruit nie, maar het dinge met sy optrede vir altyd verander, al was die ontwikkelinge stadig.

Dit tref ook dat oud en jonk saam in die dienswerk gebruik word op ’n volledig gelyke basis en dat selfs opleiding nie onderskeiding gebring het tussen opgeleides en leerlinge nie (1 Kron. 25:8).  Oud en jonk en gevorderdes en beginners het gelyke status gehad in die dienswerk.  Dit wys op ‘n diep insig in en keuse vir die noodsaaklike inter-generasionele en mentors dinamiek van die geloofsgemeenskap.  Oud en jonk moes by mekaar leer.  Gevorderdes en beginners moes by mekaar leer.

O, hoe nodig het ons nie om dié boodskap vandag weer te hoor vir wat in ons kerke gebeur nie.  Alle ouderdomme móét deel wees van die erediens, en mense van alle vaardigheidsvlakke móét ingetrek en gebruik word in die diens aan God.  Ons het dringend nodig om dié dinamiek uit ons geloofsgeskiedenis in Kronieke te herontdek en ons kerkwees op dié basis te herontwerp en uit te voer.

Die poortwagte, toesighouers en handhawers van orde en die regspraak

Hoofstuk 26 fokus op drie verdere groepe van die Leviete, die poortwagte, die toesighouers van die tempelskatte en die handhawers van die orde en die regspraak, funksies wat voorheen met die Rigters geassosieer is.

Die poortwagte

Uit die Asafgroep was daar ook die Koragiete onder die poortwagte waarvan ons ’n versameling Psalms het (Ps. 42-50; 73-88).  Obed-Edom, van “ark-oppas” faam, val ook op, veral met die aantekening dat die Here hom besonderlik geseën het en hulle as groep baie bekwaam was.  Hulle was onder andere verantwoordelik om gelowiges te help verstaan wat die korrekte manier is om by die tempel as deel van die geloofsgemeenskap op te tree (vgl. Ps. 15 en veral Ps. 24 waar die toegangsvereistes deur die “poorte” uitgespel word).  Weereens is oud en jonk gelyk geag in die dienswerk.

Die toesighouers oor die tempelskatte en wydingsgeskenke

Sommige van die Leviete het die taak gehad om toesig te hou oor die tempelskatte sowel as die wydingsgeskenke.  Dié geskenke het veral van die konings en ander leiers gekom.  Dit val onder andere op dat Samuel en Saul (ironies!) in die lysie donateurs genoem word.  Baie van dié skatte het natuurlik van oorlogsbuit gekom.

Die handhawers van die orde en die regspraak

‘n Ekstra funksie van die Leviete word hier uitgespel, die handhawing van orde in Israel en die verantwoordelikheid vir die regspraak.  Die omvang van dié werk het alles ingesluit wat verband hou met die diens aan God en met die diens aan die koning.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: