Skip to main content

2 Kronieke 8-9 – Salomo het nasionale en internasionale invloed

In die laaste twee hoofstukke wy die Kronis uit op Salomo se statuur in sy land asook in die wêreld.  Die materiaal in 1 Konings 9 en 10 word ingespan met ‘n paar uitbreidings en weglatings.

Salomo se invloed op Israel

In hoofstuk 8 word vier aspekte van die invloed van Salomo se regering op die land Israel beskryf:

  • die uitbreiding van die gebied van sy koninkryk,
  • sy hantering van arbeid,
  • sy hantering van huweliksake, en
  • sy optrede in ‘n priestersrol.

Salomo se bouwerk strek verder as sy werk aan die tempel en sy paleis. Ook die koninkryk word uitgebou.  Volgens 1 Kon. 9 het Salomo stede aan Hiram gegee in ruil vir al die hout wat hy gekry het, maar dié was nie baie tevrede met die nikswerd (“Kabul”) stede nie: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!”.   Salomo het dus dié stede teruggeneem en deur Israeliete laat bevolk.

Die onderskeid in die arbeidsgemeenskap wat hy maak tussen nie-Israeliete as dwangarbeiders en Israeliete as soldate en leiers het egter op die lang duur nie gewerk nie, soos ‘n mens later sien in die skeuring van die ryk onder die leierskap van Jerobeam wat hom juis oor die dwangarbeiders ontferm het.   Die Kronis spreek egter nie hier ‘n oordeel oor Salomo se hantering van sy arbeidsake uit nie, en verkies om eerder sy misnoeë te kenne te gee in die verhaal oor Rehabeam wat in hoofstuk 10 sal volg.

Dit lyk ook of Salomo aanvoel dat sy huwelik met farao se dogter kontensieus is, deurdat hy haar weg van die tempel af uit die Dawidstad na sy paleis laat trek het met die woorde ’n Vrou van my kan nie in die paleis van koning Dawid van Israel woon nie; dit is ’n heiligdom, want die ark van die Here het daar gestaan,” ‘n stukkie detail wat by Konings ontbreek.  Die Kronis spel egter nie veel meer uit oor die versoeking waarvoor die vroue se vreemde godsdiens Salomo geplaas het soos wel in 1 Kon. 11 beskryf is.

Soos Dawid bring Salomo offers vir die Here, anders as Saul wie se koningskap juis van hom weggeneem is oor hy offers aan die Here gebring het.  Omdat die offers egter volgens die voorskrifte van die Here gebring is, word goedkeurend daaroor berig.

Salomo se invloed op die wêreld

Die fokus skuif van Salomo se betekenis en invloed in sy eie land na die invloed wat hy op die wêreld rondom hom gehad het.  Twee perspektiewe word in hoofstuk 9 gegee op sy invloed:

  • die impak wat hy op die koningin van Skeba gehad het (vers 1-12 – vgl. 1 Kon. 10:1-13) en
  • die impak wat hy op al die ander konings van die aarde gehad het (vers 13-28 – vgl 1 Kon. 10:14-25).

Die verhaal oor Salomo word met ‘n epiloog oor sy dood afgesluit (vers 29-31 – vgl 1 Kon. 11:41-43) waarin onder andere vier ander bronne aangedui word waar meer oor hom gelees kan word, bronne wat ons ongelukkig nie vandag beskikbaar het nie.

Die koningin van Skeba

Die koningin van Skeba kom ongeveer 2 000 km vandaar af, waarskynlik van die gebied wat ons vandag ken as Jemen.  Haar naam word nêrens in die Bybel genoem nie en die naam van haar landstreek, Skeba, moet eintlik as Sjeba gespel word.  Só word dit in Hebreeus gespel, soos heelwat Engelse vertalings dit het (Sheba).

Haar landstreek word ook soms as die Suide beskryf (Matt 12:42) en ook met die Sabeërs geïdentifiseer wat nie net aan die Suide van die Arabiese skiereiland by die Rooi See gebly het nie, maar ook reg oorkant die Rooi See op die vasteland van Afrika, die gebied wat ons vandag ken as Somalië en Etiopië, afstammelinge uit die nageslag van Gam en Kus (Gen. 10:28).  Vandaar die Etiopiese tradisie dat sy ‘n kind by Salomo gehad het wat dan ook die eerste heerser van die Etiopiese koningshuis was.

Let op dat sy Salomo met die troon van God identifiseer (vers 8) en nie met Dawid s’n nie, soos dit in die Konings tradisie beskryf is.  Die koningin van Skeba bevestig daarmee Salomo se wysheid en weelde as komende van God.

Die ander konings van die aarde

’n Redelike uitvoerige beskrywing word van Salomo se weelde en rykdom gegee, iets waartoe ander lande asook die lewendige handel bygedra het. Ironies genoeg was sy jaarlikse inkomste aan goud 666 talente, wat 23 ton beloop het.

Nog belangriker as sy rykdom en weelde was sy wysheid, sodat al die konings van die aarde probeer het om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor.  Dit het interessant genoeg sy rykdom verder laat toeneem, omdat elkeen ’n geskenk saamgebring het.  Sy koninkryk het van die Eufraat af tot teen die Middellandse See en tot aan die grens van Egipte gestrek.

Maar, selfs só ’n ryk en suksesvolle man moet uiteindelik sterf.  En soos ons uit die volgende hoofstuk gaan agterkom, dié rykdom het nie gemaak dat sy seun Rehabeam ’n sukses van sy koningskap kon maak nie.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda