Skip to main content

1 Kronieke 18-21 – Die Here help Dawid net waar hy gaan

Die Kronis sit Dawid se verhaal voort in 1 Kron. 18-20 met ‘n fokus op sy oorloë.  Let op hoe wyd die gebied is wat Dawid aan homself en Israel onderhorig maak.  Trouens dit strek tot aan die Eufraat.

Let egter ook op dat agter dit alles dit die “hand” van die Here was wat Dawid se koninkryk, sy huis, uitgebrei het, presies soos die vorige hoofstuk aan hom belowe het: “Die Here het vir Dawid gehelp net waar hy gegaan het.”  Agter Dawid se hand in oorlog was die Here met Sy hand in die geskiedenis besig om Sy belofte aan Dawid te vervul. En dit is wat die Kronis vir sy geslag wil onderstreep, sodat hulle God sal vertrou om op dieselfde wyse in hulle tyd op te tree.

Daarna vertel hy tog een van Dawid se groot sondes met die volkstelling in 1 Kron. 21 wat ’n noodsaaklike stuk agtergrond vir die res van Dawid se verhaal rondom die voorbereidings vir die bou van die tempel is.

Die Kronis gebruik Samuel baie selektief

Die Kronis gebruik die materiaal in Samuel baie selektief deur sekere verhale uit te laat:

  • Jonatan se seun, Mefiboset (2 Sam. 9),
  • sy owerspel met Batseba en moord van haar man, Urija (2 Sam. 11-12 – interessant genoeg verwys hy wel na Dawid wat in die lente in Jerusalem agterbly op ‘n keer, sonder om te vertel wat toe gebeur het – 1 Kron. 20:1),
  • Amnon se ontering van sy suster Tamar (2 Sam. 13),
  • die hele ongelukkige geskiedenis rondom Absalom (2 Sam. 14-19),
  • en nog ‘n paar ander uitmergelende intriges rondom Seba en Rispa, vrou van Saul (2 Sam. 20-21).

Die verhaal van Mefiboset en Rispa (hy begrawe uit eerbied vir haar lykwaak die bene van haar seuns saam met Saul en Jonatan in die familiegraf, alhoewel hy eintlik verantwoordelik was vir haar seuns se dood) bring ‘n deernisvolle kant van Dawid na vore, maar die res van die verhale wys ‘n onbeholpe kant van hom in die hantering van sy kinders sowel as selfsug en magsmisbruik in die hantering van Batseba en Urija.

Daarom laat die Kronis dié verhale uit omdat die negatiewe kante van Dawid se karakter, alhoewel dit deeglik bekend was, nie by sy doel inpas om die volk te bemoedig en te motiveer om die Here te dien nie, soos Dawid immers hoofsaaklik op weergalose wyse gedoen het.  Hy was die beste koning wat Israel gehad het, dié een wat die model was waarvolgens alle ander konings beoordeel is.

Interessant genoeg pas selfs Dawid se deernis met Mefiboset en Rispa nie in by die Kronis se visie op die geskiedenis nie, waarskynlik omdat hulle deel van die nageslag van Saul was, en die Kronis nie baie ooghare gehad het vir dié nageslag wat deur God verwerp is nie.

Dawid se oorloë

Daarom kies die Kronis die verhale uit 2 Sam. uit wat Dawid as oorlogsheld uitbeeld (dele uit 2 Sam. 8; 10; 12; 21) en orden dit min of meer soos dit in Samuel vertel is.

Hoofstuk 18 is ‘n opsomming van die oorloë teen al die nasies wat oorwin is.  Tien nasies of groepe uit nasies word hier genoem:

  • 2 groepe van die Filistyne [van Geser en van Gat],
  • die Moabiete,
  • 3 groepe van die Arameërs [van Soba, van Mesopotamië, en van Maäka],
  • die Edomiete,
  • die Ammoniete, en
  • die Amalekiete.

Interessant genoeg vertel die Kronis hier ook die verhaal van Dawid se vriende onder die nasies. Koning Toï van Hamat soek vriendskap met Dawid deur hom geluk te wens met sy oorwinning oor ‘n gesamentlike vyand, Hadad-Eser van Soba.  En Dawid verwelkom dit.  Dawid het natuurlik ook goeie verhoudinge gehandhaaf met koning Hiram van Tirus wat vir hom materiaal en vakmanne vir die bou van sy paleis gestuur het, soos die Kronis vroeër vertel het

Die Kronis sluit af met ‘n prentjie van die netwerk van leiers en administrateurs wat hy aangestel het om polities en religieus alles regverdig en billik te laat verloop.  Interessant genoeg noem die Kronis dat sy kinders in sy persoonlike diens was, terwyl die parallelle teks in 2 Sam. 8:18 hulle as priesters identifiseer.  Die Kronis verswyg dié stukkie detail.

Hoofstuk 19-20 brei op van hierdie verhale uit met meer detail.

Waarskynlik in opvolg van die ervaring van koning Toï wat ‘n hand van vriendskap na Dawid uitgesteek het, probeer Dawid dieselfde doen met koning Ganun van die Ammoniete deur te simpatiseer met sy pa Nagas se dood.  Dit misluk egter ongelukkig in terme van die gepoogde vriendskapsbande, maar loop op ‘n groot oorwinning uit oor nie net die Ammoniete nie, maar ook 3 groepe van die Arameërs, wat met koning Ganun saamgespan het teen Dawid.

Dit tref my hoe Joab, die nommer een held van Dawid, aan die een kant uiters strategies in die oorlog teen hierdie groot mag optree, saam met sy broer Abisai, en aan die ander kant die Here vertrou.  Sy motivering van sy manskappe weerklink vandag nog met dieselfde krag en vertroue: “Wees dapper, ja, laat ons almal dapper wees ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen soos Hy dit goedvind.”  Vasberade vertroue op sy beste!

Dit lei daartoe dat Dawid die Ammoniete sowel as die Arameërs kan oorwin en uiteindelik ook die Filistyne die loef kan afsteek.

Dawid se sonde met die volkstelling

Met hoofstuk 21 se verhaal van Dawid se sonde met die volkstelling gebeur ’n baie belangrike ding.  Die genade wat die Here bewys aan Dawid en die volk deur die oordeelsvoltrekking voortydig te staak by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet, dié volk wat vroeër Jerusalem beset het, word ’n kragtige simbool van God se versoenende teenwoordigheid.  Nadat Dawid die dorsvloer en die omliggende land gekoop het, word dít die plek waar die tempel van die Here gebou word.

Die verhaal begin, anders as in Samuel, met die opmerking van die Kronis dat “Satan was teen Israel.”  Let op dat die naam van Satan sonder lidwoord gebruik word wat beteken dat Satan hier as eienaam gebruik word, die eerste en enigste plek in die OT.  Satan is die Hebreeuse naam en Duiwel die Griekse naam in die NT.    Waar die goeie én die bose vroeër soms beide as die werk van God beskryf is (vgl. Eks. 4:21 – farao se hardkoppigheid word aan God toegeskryf; Eks. 4:24 – die Here wil Moses uitwis omdat sy kind nie besny is nie) word daar hier ‘n groter onderskeid gemaak tussen wat God doen en wat Satan doen, iets wat in die NT met die evangelies ten volle openbaar word.

Om die volk te tel was natuurlik nie noodwendig sonde nie. Die Here het immers in die woestyn die opdrag aan Moses en Aäron gegee om die volk te tel (Num. 1:2 vv). Die punt is dat Dawid egter nie so ’n opdrag van die Here ontvang het nie.  Hy het God ook nie daaroor soos met sy oorloë geraadpleeg nie.  ‘n Mens vermoed dat Dawid eintlik sy weerbare manne wou tel deurdat hy sy militêre held Joab aangewys  het om dit uit te voer, hetsy ter wille van sekerheid óf ter wille van selftevredenheid.

Let op dat Joab net 10 stamme getel het, omdat hy glad nie saamgestem het met die volkstelling nie.  Dit kan wees dat die Leviete nie getel is nie, omdat hulle nie militêre diens gedoen het nie, wat ironies genoeg bevestig dat die beweegrede vir Dawid se volkstelling eintlik militêr van aard was.  Dat die Benjaminiete nie getel is, kan wees omdat Joab nie Saul se mense wou tel nie, of vanweë die belangrike heiligdom Gibeon wat in hulle gebied was, maar ons weet nie regtig nie.

Hoe dit ook al sy, die volkstelling word ook aan die aanhitsing van Satan toegeskryf. Hoe Dawid tot oortuiging gekom het dat sy volkstelling verkeerd was, word nie deur die Kronis vertel nie, hoewel Samuel sê dat sy gewete hom gepla het.

Dawid word só deur Satan gebruik om die volk in diskrediet by God te bring, hoewel God die hele situasie omkeer met die versoening wat by die dorsvloer van Arauna gebeur.  Dit is ook belangrik om te sien dat dit Gód is wat die straf uitdeel, nie die Satan nie. Mense skryf te maklik slegte goed aan die Satan toe – die aanhitsing tot sonde kom hier van Satan af, nie die gevolge daarvan nie.

Dit is ironies dat Dawid wou weet hoeveel weerbare manne hy het, en dat tienduisende van hulle weens sy sondige telling sterwe.  Maar Satan het nie met die genade van God rekening gehou nie.  Toe Dawid homself aan God se hand oorgee, eerder as aan sy vyande , ervaar hy dat God wel straf maar dat sy genade uiteindelik groter is as sy oordeel.  En die plek waar die straf eindig, dít word die plek wat die Here uitkies vir sy woning op aarde.

Hiermee is die prioriteit van Jerusalem as plek vir die tempel ook bevestig.  Gibeon, die plek waar die tabernakel was, en wat ook die plek is waar Salomo sy wysheid van die Here sou ontvang, word oorgesien, onder andere omdat Dawid afgeskrik is deur die swaard van die engel van die Here.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms