1 Kronieke 18-21 – Die Here help Dawid net waar hy gaan
Die Kronis sit Dawid se verhaal voort in 1 Kron. 18-20 met ‘n fokus op sy oorloë. Let op hoe wyd die gebied is wat Dawid aan homself en Israel onderhorig maak. Trouens dit strek tot aan die Eufraat.
Let egter ook op dat agter dit alles dit die “hand” van die Here was wat Dawid se koninkryk, sy huis, uitgebrei het, presies soos die vorige hoofstuk aan hom belowe het: “Die Here het vir Dawid gehelp net waar hy gegaan het.” Agter Dawid se hand in oorlog was die Here met Sy hand in die geskiedenis besig om Sy belofte aan Dawid te vervul. En dit is wat die Kronis vir sy geslag wil onderstreep, sodat hulle God sal vertrou om op dieselfde wyse in hulle tyd op te tree.
Daarna vertel hy tog een van Dawid se groot sondes met die volkstelling in 1 Kron. 21 wat ’n noodsaaklike stuk agtergrond vir die res van Dawid se verhaal rondom die voorbereidings vir die bou van die tempel is.
Die Kronis gebruik Samuel baie selektief
Die Kronis gebruik die materiaal in Samuel baie selektief deur sekere verhale uit te laat:
- Jonatan se seun, Mefiboset (2 Sam. 9),
- sy owerspel met Batseba en moord van haar man, Urija (2 Sam. 11-12 – interessant genoeg verwys hy wel na Dawid wat in die lente in Jerusalem agterbly op ‘n keer, sonder om te vertel wat toe gebeur het – 1 Kron. 20:1),
- Amnon se ontering van sy suster Tamar (2 Sam. 13),
- die hele ongelukkige geskiedenis rondom Absalom (2 Sam. 14-19),
- en nog ‘n paar ander uitmergelende intriges rondom Seba en Rispa, vrou van Saul (2 Sam. 20-21).
Die verhaal van Mefiboset en Rispa (hy begrawe uit eerbied vir haar lykwaak die bene van haar seuns saam met Saul en Jonatan in die familiegraf, alhoewel hy eintlik verantwoordelik was vir haar seuns se dood) bring ‘n deernisvolle kant van Dawid na vore, maar die res van die verhale wys ‘n onbeholpe kant van hom in die hantering van sy kinders sowel as selfsug en magsmisbruik in die hantering van Batseba en Urija.
Daarom laat die Kronis dié verhale uit omdat die negatiewe kante van Dawid se karakter, alhoewel dit deeglik bekend was, nie by sy doel inpas om die volk te bemoedig en te motiveer om die Here te dien nie, soos Dawid immers hoofsaaklik op weergalose wyse gedoen het. Hy was die beste koning wat Israel gehad het, dié een wat die model was waarvolgens alle ander konings beoordeel is.
Interessant genoeg pas selfs Dawid se deernis met Mefiboset en Rispa nie in by die Kronis se visie op die geskiedenis nie, waarskynlik omdat hulle deel van die nageslag van Saul was, en die Kronis nie baie ooghare gehad het vir dié nageslag wat deur God verwerp is nie.
Dawid se oorloë
Daarom kies die Kronis die verhale uit 2 Sam. uit wat Dawid as oorlogsheld uitbeeld (dele uit 2 Sam. 8; 10; 12; 21) en orden dit min of meer soos dit in Samuel vertel is.
Hoofstuk 18 is ‘n opsomming van die oorloë teen al die nasies wat oorwin is. Tien nasies of groepe uit nasies word hier genoem:
- 2 groepe van die Filistyne [van Geser en van Gat],
- die Moabiete,
- 3 groepe van die Arameërs [van Soba, van Mesopotamië, en van Maäka],
- die Edomiete,
- die Ammoniete, en
- die Amalekiete.
Interessant genoeg vertel die Kronis hier ook die verhaal van Dawid se vriende onder die nasies. Koning Toï van Hamat soek vriendskap met Dawid deur hom geluk te wens met sy oorwinning oor ‘n gesamentlike vyand, Hadad-Eser van Soba. En Dawid verwelkom dit. Dawid het natuurlik ook goeie verhoudinge gehandhaaf met koning Hiram van Tirus wat vir hom materiaal en vakmanne vir die bou van sy paleis gestuur het, soos die Kronis vroeër vertel het
Die Kronis sluit af met ‘n prentjie van die netwerk van leiers en administrateurs wat hy aangestel het om polities en religieus alles regverdig en billik te laat verloop. Interessant genoeg noem die Kronis dat sy kinders in sy persoonlike diens was, terwyl die parallelle teks in 2 Sam. 8:18 hulle as priesters identifiseer. Die Kronis verswyg dié stukkie detail.
Hoofstuk 19-20 brei op van hierdie verhale uit met meer detail.
Waarskynlik in opvolg van die ervaring van koning Toï wat ‘n hand van vriendskap na Dawid uitgesteek het, probeer Dawid dieselfde doen met koning Ganun van die Ammoniete deur te simpatiseer met sy pa Nagas se dood. Dit misluk egter ongelukkig in terme van die gepoogde vriendskapsbande, maar loop op ‘n groot oorwinning uit oor nie net die Ammoniete nie, maar ook 3 groepe van die Arameërs, wat met koning Ganun saamgespan het teen Dawid.
Dit tref my hoe Joab, die nommer een held van Dawid, aan die een kant uiters strategies in die oorlog teen hierdie groot mag optree, saam met sy broer Abisai, en aan die ander kant die Here vertrou. Sy motivering van sy manskappe weerklink vandag nog met dieselfde krag en vertroue: “Wees dapper, ja, laat ons almal dapper wees ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen soos Hy dit goedvind.” Vasberade vertroue op sy beste!
Dit lei daartoe dat Dawid die Ammoniete sowel as die Arameërs kan oorwin en uiteindelik ook die Filistyne die loef kan afsteek.
Dawid se sonde met die volkstelling
Met hoofstuk 21 se verhaal van Dawid se sonde met die volkstelling gebeur ’n baie belangrike ding. Die genade wat die Here bewys aan Dawid en die volk deur die oordeelsvoltrekking voortydig te staak by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet, dié volk wat vroeër Jerusalem beset het, word ’n kragtige simbool van God se versoenende teenwoordigheid. Nadat Dawid die dorsvloer en die omliggende land gekoop het, word dít die plek waar die tempel van die Here gebou word.
Die verhaal begin, anders as in Samuel, met die opmerking van die Kronis dat “Satan was teen Israel.” Let op dat die naam van Satan sonder lidwoord gebruik word wat beteken dat Satan hier as eienaam gebruik word, die eerste en enigste plek in die OT. Satan is die Hebreeuse naam en Duiwel die Griekse naam in die NT. Waar die goeie én die bose vroeër soms beide as die werk van God beskryf is (vgl. Eks. 4:21 – farao se hardkoppigheid word aan God toegeskryf; Eks. 4:24 – die Here wil Moses uitwis omdat sy kind nie besny is nie) word daar hier ‘n groter onderskeid gemaak tussen wat God doen en wat Satan doen, iets wat in die NT met die evangelies ten volle openbaar word.
Om die volk te tel was natuurlik nie noodwendig sonde nie. Die Here het immers in die woestyn die opdrag aan Moses en Aäron gegee om die volk te tel (Num. 1:2 vv). Die punt is dat Dawid egter nie so ’n opdrag van die Here ontvang het nie. Hy het God ook nie daaroor soos met sy oorloë geraadpleeg nie. ‘n Mens vermoed dat Dawid eintlik sy weerbare manne wou tel deurdat hy sy militêre held Joab aangewys het om dit uit te voer, hetsy ter wille van sekerheid óf ter wille van selftevredenheid.
Let op dat Joab net 10 stamme getel het, omdat hy glad nie saamgestem het met die volkstelling nie. Dit kan wees dat die Leviete nie getel is nie, omdat hulle nie militêre diens gedoen het nie, wat ironies genoeg bevestig dat die beweegrede vir Dawid se volkstelling eintlik militêr van aard was. Dat die Benjaminiete nie getel is, kan wees omdat Joab nie Saul se mense wou tel nie, of vanweë die belangrike heiligdom Gibeon wat in hulle gebied was, maar ons weet nie regtig nie.
Hoe dit ook al sy, die volkstelling word ook aan die aanhitsing van Satan toegeskryf. Hoe Dawid tot oortuiging gekom het dat sy volkstelling verkeerd was, word nie deur die Kronis vertel nie, hoewel Samuel sê dat sy gewete hom gepla het.
Dawid word só deur Satan gebruik om die volk in diskrediet by God te bring, hoewel God die hele situasie omkeer met die versoening wat by die dorsvloer van Arauna gebeur. Dit is ook belangrik om te sien dat dit Gód is wat die straf uitdeel, nie die Satan nie. Mense skryf te maklik slegte goed aan die Satan toe – die aanhitsing tot sonde kom hier van Satan af, nie die gevolge daarvan nie.
Dit is ironies dat Dawid wou weet hoeveel weerbare manne hy het, en dat tienduisende van hulle weens sy sondige telling sterwe. Maar Satan het nie met die genade van God rekening gehou nie. Toe Dawid homself aan God se hand oorgee, eerder as aan sy vyande , ervaar hy dat God wel straf maar dat sy genade uiteindelik groter is as sy oordeel. En die plek waar die straf eindig, dít word die plek wat die Here uitkies vir sy woning op aarde.
Hiermee is die prioriteit van Jerusalem as plek vir die tempel ook bevestig. Gibeon, die plek waar die tabernakel was, en wat ook die plek is waar Salomo sy wysheid van die Here sou ontvang, word oorgesien, onder andere omdat Dawid afgeskrik is deur die swaard van die engel van die Here.
by Chris van Wyk
View all posts in this series
- Bybelskool oor 1 en 2 Kronieke in die tweede kwartaal 2013
- Bybelskool oor Kronieke
- Inleiding op Kronieke
- Geslagsregisters in Kronieke
- Kaarte vir Kronieke
- Program vir leeswerk vir Kronieke
- Leesmetode vir Kronieke
- WEEK 1: 1 Kronieke 1-9
- 1 Kronieke 1 – Identiteit gewortel in Adam en Abraham
- 1 Kronieke 2:1-4:23 – Identiteit gewortel in Juda en Dawid
- 1 Kronieke 4:24-5:26 – Verspilde verhouding met God lei tot wegvoering
- 1 Kronieke 6-7 – Die prioriteit van geestelik-godsdienstige leiding
- 1 Kronieke 8-9 – Die bevestiging van Jerusalem as Judese eerder as Benjaminitiese gebied
- WEEK 2: 1 Kronieke 10-21
- 1 Kronieke 10 – Saul se gebrek aan gehoorsaamheid en gebedsafhanklikheid
- 1 Kronieke 11-12 – Dawid word deur God en volk as koning gevestig
- 1 Kronieke 13-15 – Dawid raadpleeg die volk en God in die proses om die ark na Jerusalem te bring
- 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God
- 1 Kronieke 18-21 – Die Here help Dawid net waar hy gaan
- WEEK 3: 1 Kronieke 22-29
- 1 Kronieke 22 – Dawid berei Salomo nougeset voor vir die bou van die tempel
- 1 Kronieke 23-24 – Dawid reël die priesterlike en Levitiese bediening
- 1 Kronieke 25-26 – Dawid se reëlings vir ’n omvattende Levitiese bediening
- 1 Kronieke 27 – Dawid en die leiers in sy diens
- 1 Kronieke 28-29 – Dawid motiveer en mentor Salomo vir sy roeping om die tempel te bou
- WEEK 4: 2 Kronieke 1-9
- 2 Kronieke 1 – Salomo as wyse man en vernuftige handelaar
- 2 Kronieke 2-5 – Salomo bou die tempel en God se teenwoordigheid vul Sy huis
- 2 Kronieke 6 – Salomo plaas gebed sentraal in die verhouding met God
- 2 Kronieke 7 – God sit die seël op die tempel-inwyding met hemelse vuur en Sy verskyning aan Salomo
- 2 Kronieke 8-9 – Salomo het nasionale en internasionale invloed
- WEEK 5: 2 Kronieke 10-16
- Oorsig oor die konings waarvan die Kronis skryf
- 2 Kronieke 10 – Die ryk skeur weens die domastrantheid van Rehabeam
- 2 Kronieke 11-12 – Rehabeam tree met groot oorleg op, maar faal in sy primêre verhouding met God
- 2 Kronieke 13 – Abia bevestig Juda se steun op die Here se leierskap
- 2 Kronieke 14-15 – Asa doen wat reg is in die oë van die Here
- 2 Kronieke 16 – Asa ignoreer die Here se hulp vir dié wat Hom vertrou en sterf aan siekte
- WEEK 6: 2 Kronieke 17-24
- 2 Kronieke 17-18 – Josafat regeer soos Dawid van ouds, maar begaan ’n oordeelsfout om by Agab betrokke te raak
- 2 Kronieke 19-20 – Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit en behaal ’n groot oorwinning met God se hulp
- 2 Kronieke 21 – Joram doen wat verkeerd is in die oë van die Here en word met oorlog en ’n ongeneeslike siekte gestraf
- 2 Kronieke 22-23 – Ahasia doen ook wat verkeerd is in die oë van die Here en sy ma Atalia vaar nie beter nie
- 2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here
- WEEK 7: 2 Kronieke 25-32
- 2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie
- 2 Kronieke 26 – Ussia se voorspoed vang hom en hy raak te ingenome met homself
- 2 Kronieke 27-28 – Jotam hou koers, maar Agas verloor dit heeltemal
- 2 Kronieke 29-31 – Hiskia vra met sy hele hart na die wil van sy God en is voorspoedig
- 2 Kronieke 32 – Hiskia vertrou die Here in konflik en siekte en het berou van sy selfingenomenheid
- WEEK 8: 2 Kronieke 33-36
- 2 Kronieke 33 – Manasse is ’n gruwelike koning wat berou het en tot bekering kom
- 2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek
- 2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid
- 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer
Tags: Kronieke
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Tabita – ek het kennis geneem van sy afsterwe, maar ongelukkig bied ek nie só ‘n kursus aan nie. Jy kan hoor by jou kerk se opleidingsinstansies of daar verdere moontlikhede vir jou is. Jy kan ook by SATS probeer: https://www.sats.edu.za/programmes/undergraduate/higher-certificate-in-christian-counselling/
Tabita
| #
Goeie dag pastoor. My naam is Tabita. Ek het n pastorale kursus gedoen deur past. Chris Mengel. Ongelukig en baie hartseer, aan die einde van my finale jaar het die Here hom kom haal. Bied pastoor sulke kursese aan of weet pastoor dalk waar ek my finale jaar kan voltooi groot asb? Groete en geseende dag vir u.
Chris van Wyk
| #
Klik net op Confirm Follow in die e-pos wat wordpress.com na jou Inbox stuur.
Chris van Wyk
| #
Hi Esmé, ek sal jou e-pos insit op daardie bladsy. Jy moet net die e-pos wat WordPress vir jou stuur goedkeur.
Esme Dorfling
| #
Ek wil graag aansluit by 2021 bybel lees program.
Chris van Wyk
| #
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Yunis Duimpies
| #
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/