Skip to main content

Jesaja 56-57 – Almal is welkom by God

Jesaja borduur voort op die tema van die nasies en:

  1. wys hoe ander mense ingesluit word in die gemeenskap van die gelowiges – 56:1-8 en
  2. spreek ‘n skerp oordeel oor lui leiers uit – 56:9-12.  Dit volg hy op met
  3. ‘n ongelooflike diepsinnige bespreking van die voorkoms van boosheid in die wêreld, wat manifesteer in die wellustige dien van afgode – 57:1-13 en
  4. ‘n oproep op die regverdiges om gereed te maak vir die uitkoms wat God gaan bring – 57:14-21.

Hoofstuk 56

56:1-8: Dit is darem ongelooflik dat die Here soveel moeite moet doen om mense te oortuig om die regte ding te doen!  ‘n Mens sou dink dat dit ‘n natuurlike keuse moes wees, om die regte ding eerder as die verkeerde te doen!  Maar, helaas, dit is nie so nie, wat aandui dat daar so iets soos die sondeval moes wees wat dié geneigdheid van mense om die verkeerde doelbewus te kies, kan verklaar.

Let op dat regdoen hier nie ‘n verdienstelike karakter aanneem nie, maar ‘n voorbereidende karakter, soos ons dit reeds in hoofstuk 40 aangetref het.  Omdat God se verlossing aan die kom is, roep die profeet die volk op om reg te laat geskied in die gemeenskap en self reg te doen.

Regdoen word hier uitgespel as die onderhouding van die sabbat (56:2 [vir almal], 4 [vir die ontmandes], 6 [vir die nie-Israeliete]), die eerste keer dat ons dit in Jesaja aantref.  Dit speel ook ‘n belangrike rol in 58:13 as deel van die proses om vreugde in die Here te vind en die land weer in besit te neem.  En in 66:23 word dit (saam met die nuwemaansfees) as ‘n simbool van die gefokusde aanbidding van God in die bedeling van die nuwe hemel en aarde gebruik.

Let ook op die verstommende hoopvolle belofte wat oor die nie-Israeliete sowel as die ontmandes uitgespreek word.  Nie-Israeliete is baie keer uitgesluit  van die volk en die tempelgemeenskap weens die gevaar van afgodsdiens (Esra 9:1; Neh 9:2), hoewel mense soos Rut en Ragab wel weens hulle verbintenis aan God toegelaat is in die volk.  Nou word hulle volledig toegelaat.

Ontmandes is egter altyd uitgesluit (Deut 23:1; Lev 21:20).  Teenoor die voorskrifte van die wet word hulle dus nou ingesluit in die verbond. In taal wat herinner aan wat Johannes veel later in Openbaring sou skryf (bv. 2:17; 3:5, 12 [“Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.”]; 20:15; 22:4) word hulle nou deel van die volk van God.  In die Nuwe Testament word die Etiopiese finansiële amptenaar dus sonder enige probleem ingesluit in die gemeenskap van die gelowiges (Hand 8).

Dit tref my hoe die tempel – met al die nie-Israeliete en al die ontmandes daar – tot ‘n huis van gebed vir al die volke uitgeroep word, wat vreugde aan hulle sal verskaf (56:7 – vgl Salomo wat alreeds hieroor gepraat het in sy gebed by die inwyding van die tempel en eintlik gebed as die primêre funksie van die tempel uitgespel het).  En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus se woede met die tempelreiniging waar  hy die handelaars verkwalik het dat hulle dié droom van God in gevaar gestel het (Matt 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46).

Ekskursus oor die sabbat

Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1).  Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Deut 5).  Dit was dus die teken van die verbond (Eks 31:16).  Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev 23).

Die sabbat is met nuwe inhoud gevul in die tyd van die ballingskap, waar dit eintlik ‘n nog meer prominente betekenis gekry het as van te vore, veral omdat Israeliete nie meer by die tempel kon kom nie.  Die sabbat het dus ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk saamgebind is, sowel as ‘n godsdiensbevestigende funksie, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie.  Vandaar die baie belangrike opdrag in Jesaja hier rondom.

Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En oor die volgende paar eeue het die Fariseërs ‘n magdom wette van die korrekte nakoming van die sabbat geskep.

In die Nuwe Testament relativeer Jesus hierdie reëlbeheptheid deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark 2:27; Joh 5 [genesing van die man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag]).  Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word.

Daarom is die sabbat ook nie voorskriftelik gemaak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand 15), omdat dit van heidense gelowiges Jode sou maak, en die evangelie daardeur ingeperk en eksklusief gemaak sou word.  Paulus het daarom gelowiges aangeraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak  nie (Kol 2:16), ‘n opdrag wat ons gerus vandag ook kan handhaaf wanneer mense hieroor verkeerde interpretasies versprei:

16Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie a, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.” (NAV) Vgl. ook Rom. 14:1–14:12.

Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark 16:2; Matt 28:1; Luk 24:1; Joh 20:1) te vier.

Terloops, Johannes het die eerste dag van die week die eerste keer “die dag van die Here”(Open 1:10) genoem, wat deur latere vroeg-kerklike geskrifte verklaar is as die eerste dag van die week (bv. die Didage), en wat later Sondag genoem is op voetspoor van die Romeine.

Die Christene het dus begin om die nagmaal op Sondae te vier (Hand 20:7) en die dankoffer in te samel (1 Kor 16:2).  Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword, ‘n gebruik wat tot vandag toe die hoofstroom keuse is.

56:9-12: Laat alle leiers kennis neem van dié gedeelte!  Let op dat Jesaja leiers (herders) oproep om 1) te waak oor volgelinge, 2) insig te bekom oor die beste pad vorentoe, en 3) nie op eie voordeel ingestel te wees nie.  Luiheid – soos Karl Barth gesê het – is die primêre sonde (hoewel ek dink Jesaja sê hoogmoed troef dit).

Hoofstuk 57

57:1-13

Ek kan nie onthou wanneer ek laas so ‘n helder uitspraak gelees het oor hoekom sleg goed met goeie mense gebeur nie.  Kort en kragtig sê Jesaja dat dit  “deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf.” (57:1).  Dit is nie hulle eie skuld nie, en dit is nie vanweë die Here nie.

En die hoop waarmee hulle sterf word net so kort en kragtig uitgespel: “dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf” (57:2).  God bewaar hulle nie noodwendig van die gevolge van die boosheid nie, maar in die ongeluk wat hulle tref.

Laat my dink aan Jesus se saligspreking: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”.

En na die diep hoopvolle uitspraak word die probleme van goddelose rebelle en wellustige afgodsdienaars uitgespel (wat selfs nie terugdeins van kinderoffers vir Molek [’n oud-Semitiese en ook Feniciese god] nie) – niemand kan hulle van hul eie boosheid red nie, omdat hulle God versaak het.  Watts noem dié uitsprake oor hulle: The Dark Side of Jerusalem.

Let op dat hulle soektog na sin en betekenis vrugteloos is, maar dat die feit steeds nie genoeg is vir hulle om daarvan afstand te doen nie. Die rede?  Die gratifikasie van wellus (vers 10) en vrees (vir die afgode se wraak) wat hulle vals gemaak het (11).

57:14-21

Maar vir dié wat in nederigheid hulle aan God onderwerp, is daar uitkoms.  Let op dat hulle gereed moet maak vir die uitkoms deur struikelblokke te verwyder.

God word hier geteken as die vergewensgesinde en genesende God, wat sondes nie vir altyd toereken nie, en nie vir altyd toornig bly nie.  Anders sou mense dit nie gemaak het nie!  Sy krag verander hulle lot, en gee aan hulle vrede, terwyl die goddelose verder sal krepeer in onvrede.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jesaja, Sabbat


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.