Skip to main content

Pas op vir die vals profete; hulle is wolwe in skaapsklere

MATTEUS 7:15-20

15 “Pas op vir die vals profete wat na julle toe kom in skaapsklere, maar binnekant is hulle wrede wolwe.

16 Aan hulle vrugte sal julle hulle herken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van doringstruike of vye van dissels nie?

17 So dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte.

18 ’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie.

19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie word uitgekap en in die vuur gegooi.

20 So sal julle hulle aan hulle vrugte herken.”

Teks en konteks

7:15 Waar Jesus tot hier in dié hoofstuk gefokus het op die persoonlike keuses en vrug van ’n lewe van geregtigheid, waarsku Hy in hierdie paar verse op die effek wat valse profete in die lewe van die geloofsgemeenskap kan hê.  Hulle kom in onskuldige “skaapsklere”, maar is in hulle binneste “wrede wolwe” wat verskeur.

7:16 Die manier om hulle egter uit te ken en aan die kaak te stel, is deur na die vrug op hulle lewe te kyk – spesifiek die kenmerke van ’n lewe van geregtigheid.  Druiwe pluk ’n mens immers nie van doringstruike of vye van dissels nie.

7:17-18 Goeie bome dra goeie vrugte.  Slegte bome dra slegte vrugte.  Moontlik verwys Jesus hier ook terug na sy waarskuwing teen skynheiligheid. ‘n Goeie boom kán nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom nie goeie vrugte nie.

7:19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie word daarom uitgekap en in die vuur gegooi, ‘n onheilspellende verwysing na die oordeel wat God oor valse profete bring.

7:20 Die toets lê dus nie in wat mense sê nie, maar in hoe hulle lewe, d.w.s. die vrug van hulle lewe.

Boodskap en betekenis

Jesus verwys hier na mense wat sy lering bestry, verander en weerspreek. Iets wat nie net deur die Fariseërs en Sadduseërs gedoen is nie, maar uiteindelik ook deur mense wat uit die Christelike geloofsgemeenskap na vore getree het. Paulus spreek dit op talle plekke aan (Gal. 2:1-10; 2 Kor. 11:12-15; Kol. 2:4-5; Ef. 4:1-16; 1 Tim. 1:3-11), so ook Petrus (2 Pet. 2:1-3 – dit gaan eintlik meesal gepaard met seksuele losbandigheid) en Johannes (1 Joh. 4:1-6).

Dit bly ‘n tydige waarskuwing van Jesus dat ‘n mens vir valse profete versigtig moet wees, en sterk moet fokus op die vrug van hulle lering en lewe om hulle te kan vermy. Jesus skryf weer in sy sewe briewe aan die gemeentes in Openbaring hieroor en moedig die gemeentes aan om suiwerheid in leer en lewe te handhaaf deur dwaalleraars soos Isebel aan die kaak te stel (Openb. 2-3).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar